Welkom!

Ek is nie 'n teoloog, sielkundige of berader van enige aard nie. Wat ek wel het, is 'n onbeskryflike liefde vir my Here en met Jesus langs my (meestal in sy arms, omdat ek te swak was om self te loop) het ek al 'n hele paar kursusse aan die universiteit van die lewe voltooi.

Wat is my oogmerk met hierdie persoonlike webwerf? Ek het altyd maar dinge wat my hartseer of bly gemaak, my laat terugdink of laat wonder het, in die vorm van "laatnaggedagtes" neergeskryf en dit op daardie manier probeer verwerk. Verder het ek deur die jare vele treffende vonkposboodskappe ontvang wat my diep geraak het, en ek dit bewaar het om eendag weer met iemand te deel. Miskien lees jy dalk iets tussen dit alles raak wat net met jou praat; in daardie geval (al weet ek nie eens daarvan nie) het hierdie webwerf vir seker sy doel gedien. 

Om te kan praat, het mens tog woorde nodig. Ek het op 'n stadium gelees dat klank nie vergaan nie: dit bly vir ewig. Elke woord wat ons uiter, bly gevolglik daar buite in die kuberruim swerf totdat ons eendag voor God daarvoor rekenskap moet gee. Watter ontstellende gedagte is dit nie! Om die krag van woorde werklik te illustreer, sluit ek 'n kort video in wat ek van my vriendin Linda ontvang het.      

Indien jy, of iemand na aan jou op hierdie oomblik deur 'n hartseertyd gaan en jy net nie anders kan nie as om die eeue-oue vraag te vra:  As God dan vir my lief is, waarom het hierdie ding tog nog gebeur?! wil ek jou ernstig aanmoedig om in Gedagtes 3 "Wie is REGTIG in beheer?" te lees. In vyf opeenvolgende dagstukkies neem die baie bekende Riekert Botha jou stap vir stap tot by die ware antwoord. Hy is 'n merkwaardige skrywer wat werklik deur die Heilige Gees toegerus word om moeilike kwessies so te verduidelik dat elkeen dit kan verstaan.  

Verder het ek die afgelope tyd al meer die behoefte gehad om oor Bybelkarakters na te lees en dan oor hulle te skryf. Mense wat moontlik net in 'n enkele vers genoem is, maar tog belangrik genoeg was om in die Bybel opgeneem te word. Volgens die statistieke deur my webmeester verskaf, bly dit die afdeling wat die tweede meeste besoeke ontvang. Lees gerus saam, en laat asb jou mening!

Genadiglik bestaan die lewe nie net uit ernstige dinge nie en om die balans te behou, is 'n Humor-afdeling bygevoeg. Ek is vir seker iemand wat met C. J. Langenhoven saamstem wanneer hy sê: Verbeel jou ‘n wêreld sonder ‘n skaterlag, sonder eens ‘n glimlag. ‘n Hemel op aarde, sal die Fariseërs sê. Uit só ‘n hemel sou ek wou wegloop hel toe.

Die Foto-album bevat foto's van die natuurtuin wat ons in Ellisras gehad het. Oor 'n tydperk van meer as dertig jaar het dit ontwikkel en verander uit 'n gewone tuin met grasperke en 'n randakker tot dit wat jy in die foto's sal sien: veral dogtertjies het gewoonlik grootoog vir hul mammas gefluister dat dit 'n feetjie-tuin is! Volgens statistieke is dit dan ook die heel gewildste afdeling.

Hierdie webblad bestaan reeds sedert April 2014, al is die vroegste Gedagtes lank voor daardie datum geskryf. Intussen het daar baie dinge verander, soos dat ons in 2018 - na bykans 38 jaar in die Bosveld - na die Vrystaat verhuis het. Hier het nuwe omstandighede en uitdagings op ons gewag, wat mettertyd in die onderskeie Gedagtes oorgedra word. Een van die mees dramatiese uitdagings was die Covid-19 pandemie wat letterlik niemand op aarde onaangeraak gelaat het nie. Dit het tot gevolg gehad dat ek 'n Covid-19 Gedagtes ook ingevoeg het. Ek wil net graag noem dat die stukke chronologies geplaas word met die jongste eerste. 

Asof die virus nie genoeg is nie, het ons mense al meer die slagoffer van ernstige misdaad, veral plaasmoorde, geword. Te midde daarvan hoor mens die wonderlikste getuienisse hoe God ingegryp en gehelp het. Dis werklik belangrik dat ons dit met mekaar deel, want ons mag nooit vergeet dat Hy altyd daar vir sy kinders is nie! Ek ontvang graag sulke ondervindings vir plasing onder Getuienisse en dit kan anoniem gehou word, indien verkies.   

As jy dalk oor iets wat jy raaklees (of enigiets anders) met my wil gesels, kan jy my gerus by anebotha8@gmail  kontak. Ek antwoord graag en dit bly vanselfsprekend vertroulik! Ek waardeer ook die kommentaar wat onderaan elke blad gelaat kan word.

 Annatjie Botha.

Bloemfontein. 

Comments

21.11.2014 15:54

Annatjie

Petra, ek vertrou jy sal lekker lees!

21.11.2014 06:13

Petra Besseling

Ek het gou vanoggend hier begin, ek is gretig om verder te lees soos die dag my toelaat

23.05.2014 15:27

Hannes Janse van Rensburg

Ek gaan beslis bietjie op hierdie webblad rondkuier.