Vermommings
Toe ek vanoggend ds. Jaco se boodskap op my selfoon oopmaak, het dit my dadelik opgeval dat hy sy baard afgeskeer het. Ek het hom immers twee jaar gelede – toe hy, net nadat ons hier ingetrek het, kom huisbesoek doen het – met die modieuse kort baardjie leer ken. (Altans, dis soos ek dit onthou, maar my geheue laat my dikwels in die steek wanneer dit by fyner detail kom.) Al pas ‘n netjies-geknipte (kort) baard by die meeste mans, het ek nog altyd van ‘n skoongeskeerde gesig gehou – ‘n snor of baard herinner my altoos aan ‘n vermomming. At wou ook eenmaal, toe ons nog kort getroud was, ‘n snor kweek en ek was baie verlig toe dit na ‘n dag of twee, drie, so gejeuk het dat hy dit liewer afgeskeer het!
So is ‘n bril ook maar 'n vorm van "vermomming": ek het vir presies vyftig jaar lank (van 1968 – ná twee mislukte oogoperasies – tot 2018) permanent bril gedra en ek het vas geglo dat ek daarmee opgesaal sal sit solank ek leef. Twee weke voordat ons Bloemfontein toe sou trek, val ek op my gesig oor ‘n “bekende” klip in ons tuin terwyl ek besig was om die sproeiers te stel en ek breek my bril. Gelukkig het ek nog ‘n ou een in ‘n laai ontdek en kon ek darem op ‘n manier aangaan, maar dié was lankal nie meer sterk genoeg om mee te lees nie. Dit was dus my eerste prioriteit nadat ons in ons nuwe tuiste nes geskrop het: ek moet ‘n nuwe bril kry! Anneli het my deur die nuwe, vreemde strate tot by ‘n bekende oogkundige gebring waar my uitsien spoedig gedemp is: hy bevind dat ‘n nuwe bril nie regtig my probleem sou oplos nie, aangesien hy duidelik ‘n katarak agter die linkeroog sien. Hy beveel dr. Cobus du Plessis, ‘n oftalmoloog, aan om dié probleem op te los en dáár, in sy spreekkamer, het ‘n splinternuwe lewe vir my begin: die aangename jong oogspesialis beveel laserchirurgie aan om beide die katarak te verwyder en ‘n lensinplanting te doen – en daarmee is dit totsiens, bril! Sover dit die lense betref, kies ek dié vir naby-sien en nooit weer hoef ek na my bril te soek wanneer ek wil lees nie; ek kan ‘n kastrol op die stoof se deksel oplig sonder om toegewasem te wees, selfs hardloop deur ‘n onverwagte reënbui is nie meer ‘n probleem nie en wanneer dit kom by foto’s neem, hoef ek nie meer haastig my bril af te haal omdat ek bang is vir die weerkaatsing op ‘n brillens nie. Uiteindelike bevryding, ook van ‘n vorm van vermomming!
Ek het male sonder tal deur die jare vir my twee meisiekinders gesê dat ek nog nooit ‘n vrou sónder grimering beter sien lyk het as een mét grimering nie. Dit was egter nooit vir hulle ‘n aansporing nie – hulle weier nog altyd om “oorlogsverf” aan te wend! ‘n Netjies-gegrimeerde vrou is regtig vir my baie mooi, maar is dit nie ook maar weer ‘n vorm van “vermomming” nie? Wanneer mens soms (bitter selde!) foto’s van beeldskone aktrises sonder hul noodsaaklike grimering aan sien, kan jy regtig nie anders as om te dink dat hulle eintlik maar net doodgewoon is nie...
Lang, gesonde, blink hare aan ‘n meisie of vrou is vir my pragtig. Ongelukkig is myne só fyn dat dit nooit so kon lyk nie.. Ek het dit tot drie jaar ná matriek skouerlengte gedra en toe, die Maandag na ons troue, dit sonder versuim kort laat sny en my ou haartjies lyk vandag nog so. Ongelukkig trou ek toe met ‘n man met net sulke fyn hare, met die gevolg dat ons nie werklik kon hoop op kinders met sterk, dik hare nie! Anneli het haar pa gelukkig gehou met haar stertjies en vlegseltjies tot haar tiende jaar, maar toe word die geween en gekners van tande soggens wanneer dit voor skool uitgeborsel moes word, vir ons albei net te veel en die lang haartjies spat. Sy het egter die haarkapster gevra om dit net eers in ‘n enkele vlegsel vir Pappa te vleg, en hy bewaar dit tot vandag in die blikkie bo in sy kas waar sy “kosbaarhede” weggebêre is. By Eldaleen was daar nooit enige begeerte om lang hare te hê nie; sy het ses jaar lank haar sussie se marteling aanskou en dit was vir haar ‘n groot genoeg afskrikmiddel.
In Paulus se dae was dit vir ‘n vrou “‘n skande” om kort hare te hê (1Kor. 11:6) en eweneens was dit vir ‘n man “nie eerbaar” om lang hare te dra nie. Hoe dit ookal sy: of mens lang hare gehad het en dit dan kort sny, of altyd met kort hare deur die lewe gegaan het en dit dan laat groei, jy gaan ánders lyk na dit transformasie – met ander woorde ook dit is maar ‘n vorm van vermomming, wat steeds meer effektief raak wanneer daardie hare nog gekleur word ook!
Ek het in “Die eindtyd” redelik uitvoerig geskryf oor Tim LaHaye en Jerry B. Jenkins se Left Behind-reeks. Die eerste boek begin met die Wegraping, wanneer almal wat Jesus as hul Verlosser en Saligmaker aanvaar het, na Hom toe weggeruk word. Daar word dan beskryf wat van hulle agterbly: kunstande, brille, pasaangeërs, selfs die hopie klere wat hulle laaste aangehad het. Ons kan met vrymoedigheid aanvaar dat al ons “vermommings” (selfs noodsaaklikhede soos prosteses, brille, lense en pasaangeërs) agtergelaat sal word, want ons sal niks daarvan nodig hê wanneer ons ons Here tegemoet gaan nie. Waarom sou ons? Hy het ons geskep en niemand – nie eens onsself – ken ons soos Hy nie. Die uiterlike maak immers nie vir Hom saak nie, ons hart is al wat vir Jesus belangrik is!
Laat ons dus maar ons baarde kweek, ons grimering dra en met ons hare doen net wat ons wil, solank dit nie vir ons allerbelangrik word nie. Ons liggame bly tog maar net sterflik en verganklik! Solank ons net onthou waaroor en oor Wie ons hele lewe moet gaan. Petrus maan ons in 1 Pet. 13-16: Wees daarom verstandelik wakker en nugter, en vestig julle hoop volkome op die genade wat julle deel sal word by die wederkoms van Jesus Christus. As gehoorsame kinders moet julle nie julle lewe inrig volgens die begeertes wat julle vroeër gehad het toe julle God nie geken het nie. Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet ook julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees. Daar staan immers geskrywe: “Wees heilig, want Ek is heilig.”
Bloemfontein.
13 Augustus 2020.
Ons gebede
Nina Smit sê in haar boek “‘n Keur van wysheid. Woordskakels wat mense oor eeue heen bind”(CUM 1996) die volgende oor “Gebed”:
Daar bestaan nie kitskursusse in gebed nie. Net soos skryf, kom dit met oefening. Om te léér bid moet jy bíd. Gebed is ‘n gesprek tussen jou en God. Maar gebed is nooit nét praat nie, gebed is ook om baie stil te word en na God se stem te luister.
Rosalind Rinker, die inisieerder van gespreksgebed het ‘n hele paar boeke oor gebed geskryf. “Gebed,” sê sy, “is ‘n gesprek tussen twee persone wat mekaar liefhet.” Dit is mos haas onmoontlik om met jou mond vol tande te sit wanneer jy met iemand gesels wat jy baie liefhet. Met so iemand kan jy eerlik praat, met so iemand kan jy jou diepste geheime en drome deel, vir so iemand kan jy die luike van jou lewe oopgooi.
Mense wat erns maak met gebed behoort een ding te besef: ons moet bereid wees om te wag op God se antwoord. Ons kry dit nie altyd onmiddellik nie, en baie maal is God se antwoord nie dié antwoord wat jy graag wou hê nie, máár, en daarvan kan jy seker wees, dit is altyd die regte antwoord vir jou.
Wil jy graag leer bid? Maak dan tyd om met God te gesels oor jou lewe, oor die mense wat jy liefhet, oor jou probleme. Hy ken reeds ál die feite, maar Hy wil dit graag van jou self hoor. Sorg ook dat jy dikwels in God se teenwoordigheid stil word.... totdat jy sy stem kan hoor.
Dit het my dadelik aan my eie gebedslewe laat dink: Ek moet erken dat ek al sovele kere teenoor die Here bely het dat dit na my mening hopeloos ontoereikend is. Daar is soveel mense wat “mooi” kan bid: by die aanhoor daarvan ervaar mens dadelik dat dié gebed ook (soos die psalmis in Psalm 119:108 vra: “Laat tog die vrywillige offerhandes van my mond U behaag, o Here” (OAV)), ‘n ware offerhande aan ons enigste, allerheiligste God is. Dit is totdat Vader my daarop gewys het dat ek ons gesprekke met dié van ander mense vergelyk (soos my oorlede oom Loet en tannie Emmie, byvoorbeeld: Hulle het soggens vieruur opgestaan en dan ure in gebed deurgebring. Twee ware gebedstryders...) en dit is tog nie waaroor dit gaan nie. Hy het my daarop gewys dat ons nie almal dieselfde is nie – elkeen het tog sy eie, unieke gawe(s) gekry!
Gebed is vir my regtig ‘n deurlopende gesprek omdat ek intens bewus van Jesus se teenwoordigheid hier by my is, maar ek besef deeglik dat ons as mense almal verskil en dit is goed so.
Om hierby aan te sluit: Ek het die afgelope tyd die allermooiste boodskappies van my WhatsApp-vriende ontvang, almal met gebed as tema. Die oorspronklike skrywers word ongelukkig nie altyd genoem nie, maar dit maak geen afbreuk aan die inhoud daarvan nie! Celia se boodskappie voorverlede week was so een:
Wasgoedgebed
Ek staan voor U, Here, met my bondeltjie geestelike wasgoed. My mandjie loop oor.
Here, help my asb sorteer?
Met U hoef ek nie vlekverwyderaars te koop nie, want U bloed was my witter as sneeu. U ken my hart, was my en hang my in U sonlig van geregtigheid, en al wapper ek soms teësinnig in U winde van verandering, moet my asb nie van die lyn afhaal voordat ek skoon en droog, en bruikbaar in U diens is nie.
Here, stryk al die kreukels van depressie, selfbejammering, bitsigheid en alle sondes uit met U strykyster van liefde, vergifnis en genade.
En as U met my klaar is, hang my op sodat almal U in my kan sien...
Amen.
Treffend, is dit nie? Elkeen wat al op ‘n wasdag met ‘n yslike bondel wasgoed gespook het, kan daarmee identifiseer! Ongelukkig verskyn daar net die voorletters “m j” (dat kan dalk ‘n “i” wees) by. Wens ek het geweet wie die onbekende skrywer is – ek sou graag vir haar (want dit kan net ‘n “haar” wees) dankie sê. Ná vandag se bondel verstaan ek haar gedagte presies!
In dieselfde trant is die pragtige gebed wat ek van Lynette ontvang het. Wie die onbekende “Katrienkie” is, weet ek ongelukkig nie, maar dis werklik so roerend dat ek dit net moet deel:
‘n Katrienkie-gebed... vir elkeen wat deur ‘n storm gaan.
Ek en Noag stoei baie met mekaar die afgelope tyd, Here.
Wanneer ek so deur my werk stap, dan wonder ek oor Noag. Sy storm het effens anders gelyk as die storms wat ek elke dag sien. Sy storm was wind en reën en vloede. Sy storm het gedreig om almal te verdrink. Almal kon sy storm sien.
Die storms wat ek elke dag sien lyk anders, Here. Dit kruip weg in mense se harte en huise, waar amper niemand dit kan sien nie. Dit is ‘n mamma wat huil oor haar kind. ‘n Huwelik wat net nie meer wil werk nie. Oë wat donker geword het, want depressie het al U lig gesteel. Dit is bangwees vir finansies wat nie meer wil klop nie. Dit is kwaadwees vir hulle wat ons seergemaak het.
Die storms wat ons elke dag ervaar, lyk anders as Noag s’n, Here. Sy storm het gereën en gehael en gewaai. Ons storms kruip diep binne-in ons weg. Dit maak dat ons nie meer deel voel van die lewe om ons nie. Dit maak ons alleen. Dit maak dat ons oë nie meer saam met ons mond wil glimlag nie. Dit maak dat ons party dae sukkel om aan te gaan.
Ons storm is anders as Noag s’n. Maar U is nog dieselfde, nè, Here? U liefde is die Ark waarnatoe ons kan hardloop as die reën begin val. U liefde hou ons veilig wanneer dit voel asof alles om en in ons uitmekaar val.
U liefde sê: “Kom na My toe, as jou storm te groot raak. Kom na My toe as die alleenwees en hartseer jou wil oorweldig. Ek is die Ark wat jou veilig hou. Ek is die Ark wat jou toevou en dra teen die stormwinde wat jou wil omwaai. Kom kruip weg hier by my... hier in My. Ek wil jou rus gee.”
Ek sukkel om soos Noag te glo, Here. Ek sukkel partydae om U Ark raak te sien en daarin weg te kruip. U weet dit, nè, Here? U weet van my alleen-baklei teen dít wat my bangmaak. U weet van al die kere wat U so ver voel. Dankie dat U my op daardie dae kom haal, my optel en dra na U Ark toe. Dankie dat U my op daardie dae, wanneer ek koud en natgereën is, bring na die warmte van U liefde. Dankie vir die deernis waarmee U my versorg en sterk maak. Dankie....
En dan is daar die volgende stukkie wat ek van ds. Chantel ontvang het – in hierdie geval is die skrywer Pierre Cronjé. Dis so wonderlik dat die begaafde mense hul gebede en gedagtes daaroor met ons deel sodat ons ook daardeur versterk kan word!
Amen en koebaai...
Ek weet nie van jou nie, maar ek het twee soorte bid in my lewe: die een is sommer die gewone praat met God, geliefdes voor Sy voete lê, Hom aanbid vir Sy liefde en sorg, en dan opstaan en die dag voluit aanpak...
En dan is daar die amen en koebaai bid. Daardie oggende wat jou bid nie woorde wil kry nie, en sommer net rou emosie is: verlang wat te veel word, vrees vir dinge wat wag, hartseer oor dinge wat gebeur het. En as mens so voor die Here ‘voel’, wil mens nie amen sê nie. Want amen voel partydae soos koebaai, so al asof jy en God julle eie koers gaan inslaan, tot die volgende gebed natuurlik. Op sulke dae klou jy wanhopig aan die Here vas, weet jy met kinderlike geloof dat die Here jou nie mag los nie. Nie op daardie oomblik nie. Nooit nie.
Iemand het eendag gesê dat mens soms moet bid, en ander kere net moet toelaat dat die Here jou liefhê... Op amen en koebaai dae, mag jy maar net stil by Hom sit en Hom vra om vir jou lief te wees. Op amen en koebaai dae mag jy jou oë toemaak en in jou gedagtes voel hoe die Here jou styf vashou. Op amen en koebaai dae mag jy maar jou kop teen Sy bors laat sak, en jou huile huil. Op amen en koebaai dae maak dit nie saak of jy amen sê nie, want die Een wat jou naam in Sy handpalm geskryf het, het gesê: “Moenie bang wees nie (nie vir die hartseer van verlang na ‘n geliefde nie, nie vir die spoke van die verlede of die uitdagings wat voorlê nie), want Ek is by jou. Altyd”
Onbeskryflik kosbaar, Pierre!
Hoe jou gebedslewe ookal daaruit sien – of jy nog sukkel om jou spreekwoordelike voete te vind en of of jy reeds ‘n regte voorbidder is – elkeen van ons het soms maar ‘n probleem om wat ons wil sê, korrek te verwoord. Vir ons is daar troos in Paulus se woorde in Romeine 8:26, 27:
Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges.
Bloemfontein.
18 Maart 2019.
Oupa se laaste brief
Dit gebeur dikwels dat ouers arm leef om ryk dood te gaan, sodat hulle kinders goed kan erf. ‘n Mens kan vra wat die belangrikste is: Baie geld, of ‘n skat aan lewenswysheid.. Die 72-jarige Amerikaanse oupa (James K. Flanagan van New Jersey) wat vyf maande voor sy onverwagse dood aan ‘n hartaanval op 3 September 2012 die onderstaande brief aan sy vyf kleinkinders geskryf het, het sonder twyfel geweet dat geen geld lewenswysheid kan koop nie. Lizette Pretorius het die oorspronklike vonkpos met my gedeel:.
Liewe Ryan, Conor, Brendan, Charlie en Mary Catherine,
My wyse en bedagsame dogter, Rachel, het my aangemoedig om ‘n paar belangrike dinge wat ek in die lewe geleer het, vir julle neer te skryf.
- Elkeen van julle is ‘n wonderlike geskenk van God aan nie alleen julle familie nie, maar aan die hele wêreld. Onthou dit altyd, veral wanneer die yswinde van twyfel en ontmoediging dreig om julle om te waai.
- Moet nooit bang wees nie....vir niks en niemand wanneer jy jou lewe voluit wil leef nie. Volg jou drome na; maak nie saak hoe moeilik of vreemd dit vir ander mense mag wees nie. Veels te veel mense doen nie wat hulle wou of moes nie, omdat hulle bekommerd was oor wat ander mense sou dink of sê. Onthou, as húlle nie vir jou hoendersop bring wanneer jy siek is, of jou bystaan wanneer jy in die moeilikheid is nie, maak húlle nie saak nie. Bly weg van daardie suurgesig pessimiste wat na jou drome luister en dan sê: “Ja, maar wat as....”? Vergeet van “wat as...?” Doen dit! Die heel ergste ding is om terug te kyk oor jou lewe en te sê: Ek sou; ek kon; ek moes”. Neem die risiko en maak gerus maar foute!
- Elke persoon op aarde is maar net ‘n gewone mens. Party dra deftige klere, sommige het vername titels of (tydelike) mag en wil graag hê jy moet dink hulle is bo ander mesne verhewe. Moenie dit glo nie. Hulle het maar net dieselfde twyfel, vrese en hoop: hulle almal eet, drink, slaap en gaan toilet toe soos enigiemand anders. Bevraagteken altyd gesag maar wees versigtig hóé jy dit doen.
- Maak ‘n Lewenslys van al die dinge wat jy graag wil doen: reis na verre plekke; leer ‘n vaardigheid; leer ‘n vreemde taal aan; ontmoet iemand spesiaal. Sorg dat dit ‘n lang lys is en doen elke jaar iets wat daarop verskyn. Moenie sê ek sal dit môre (of volgende maand of volgende jaar) doen nie. Dit is die sekerste manier om te misluk. Daar is nie ‘n môre of ‘n “regte” tyd om iets te doen nie, daar is net ‘n nou.
- Leef die ou Ierse spreekwoord uit: Moi an olge agus tiocgaidh si. (Prys die kind en sy sal floreer).
- Wees goed vir ander en gaan uit jou pad om hulle te help; veral die swakkes, die wat bang is en kinders. Elkeen dra sy eie hartseer saam met hom en het ons omgee bitter nodig.
- Moenie by die weermag of enige ander organisasie aansluit wat jou leer om dood te maak nie. Oorlog is boos. Alle oorloë word deur ou mans begin wat jong mans dwing of paljas om ander te haat en dood te maak. Die ou mans oorleef en, soos hulle die oorlog begin het, eindig hulle dit ook: met pen en papier. Soveel goeie, onskuldige mense verloor hulle lewens. As oorloë dan so goed en edel is, waarom veg die leiers wat dit begin, nie aan die voorpunt nie?
- Lees soveel boeke as wat jy kan. Boeke is ‘n wonderlike bron van vreugde, wysheid en inspirasie. Hulle het nie batterye of konneksies nodig nie en kan oral saam met jou gaan.
- Wees eerlik.
- Reis! – altyd, maar veral terwyl jy nog jonk is. Moenie wag totdat jy “genoeg” geld het of alles “net reg” is nie. Dit gebeur nooit nie. Kry vandág jou paspoort reg.
- Kies jou werk of beroep omdat jy dol is daaroor. Daar sal natuurlik soms dingetjies wees waarvan jy nie hou nie, maar mens se werk moet ‘n vreugde wees. Waak daarteen om ‘n werk te kies net ter wille van die betaling – dit sal jou gees op die ou einde knak.
- Moenie skree nie. Dit werk nooit nie en maak net jouself en ander seer. Elke keer wat ek geskree het, het ek misluk.
- Hou altyd jou beloftes aan ‘n kind. Moenie sê “Ons sal sien” as jy eintlik “Nee” bedoel nie. Kinders verwag die waarheid: gee dit liefdevol en met deernis aan hulle.
- Moet nooit vir iemand sê jy is lief vir hom of haar en dit nie bedoel nie.
- Leef in harmonie met die natuur: kom uit in die buitelug, die bosse, berge, die see en die woestyn. Dis noodsaaklik vir jou siel en gees.
- Deel drukkies uit aan jou geliefdes. Vertel nóú vir hulle hoe belangrik hulle vir jou is – moenie wag totdat dit te laat is nie.
- Wees dankbaar. Daar is ‘n ou Ierse spreekwoord wat sê: Hierdie is een dag in ons lewe, en dit sal nooit weer terugkom nie. Leef elke dag daarmee in gedagte.
Bron: “Grandfather’s Brilliant Final Letter To His Grandkids Offers Life Lessons For The Rest Of Us”
vanafhuffingtonpost.com
Net maar terroriste?
Abdirahman Sheikh Mohamed
Anneli se werk het my nog altyd gefassineer. Dit was net asof ek, deur haar, aan ‘n heel ander wêreld bekend gestel word. ‘n Wêreld wat ligjare verwyderd is van die bekende huis- en kerkwerk met, net vir afwisseling, ‘n bietjie tuinmaak nou en dan. Deur middel van alles wat sy geskryf het, kon ek leer dat terreur vele gesigte het. Dit het ook vir my duidelik geword dat elkeen van die onderskeie groeperinge se uiteindelike doelstelling dieselfde was, naamlik om soveel moontlike publisiteit te kry – en sou dit dade verg wat Jan en San Alleman tot in hul siele skok, soveel beter: Die wêreld daarbuite het deur middel van elke selfmoordbomaanval, elke kaping en ontvoering, elke onthoofding, ens. weer eens kennis geneem van al-Qaeda, Boko Haram, al-Shabaab, of wie ookal!
Dit was egter toe sy regtig begin vrae vra het (al was sy altydmaar geïnteresseerd in die psige van die terreurverdagte) dat haar navorsing ook vir my ‘n fees geword het. Ek is innig dankbaar dat al haar harde werk, die navorsing wat soveel tyd en energie geverg het, my gespaar gebly het; ek hoef maar net die eindproduk te lees!
Ná haar navorsing in Kenia en Uganda, was ek saam met haar bly toe die UNDP (United Nations Development Program) en die Finn Church Aid haar nader om haar navorsing uit te brei na ander state in Oos-Afrika, en in besonder Somalië. Toe sy dié land die eerste keer moes besoek, was hierdie arme ma behoorlik in ‘n toestand: Moet jy regtig self gaan, ou Poppa – kan die mense dáár nie maar jou vraelyste hanteer nie? Ek het egter geweet wat haar antwoord sou wees: dis háár navorsing en sy weet wat sy gedoen wil hê...
Tot op daardie stadium was Somalië vir my die sinnebeeld van ‘n “failed state” waar die regering weinig kon vermag om wet en orde te handhaaf. Ook maar deur haar het ek geweet dat die “clans” eintlik maar die hef in die hand het en die hoofde feitlik soos mafiabase regeer het. Verder was daar die nagmerrie van alle buitelanders, hetsy toeriste of hulpverleners: al-Shabaab, of letterlik vertaal, “die Jeug”. In Engels staan dit ook bekend as die “Mujahideen Youth Movement” en is sedert 2012 by al-Qaeda geaffilieer – ‘n feit wat hulle, vir Westerlinge altans, ‘n net soveel groter bedreiging maak.
Nou waaroor – of waarvoor – veg die duisende jongmanne en -vroue dan? kan mens tereg vra. Vir elkeen van die meer as 9 000 al-Shabaab-lede is hul vyande die Somaliese regering, Ethiopië, AMISOM (die African Union Mission to Somalia) met Die Groot Vyand die Weste: maak nie saak vanwáár in die Weste nie – of laat ek liewer kwalifiseer: Amerika is Vyand Nr 1, met al die ander lande net ‘n kortkop agter! Die Westerse lande bedreig hul geloof (Islam), hul gepaardgaande tradisies waarvolgens vroue feitlik tot blote gebruiksgoed gereduseer word: meisies mag nie skoolopvoeding ontvang nie, vroue moet altyd die tradisionele “burka” dra, sy mag nie sonder haar man in die openbaar verskyn nie – en dan altyd ‘n paar treë agter hom, – ens.
Sussa se navorsing het ten doel om te bepaal wat die redes is waarom ‘n persoon sodanig geradikaliseer word dat hy (of in ‘n mindere mate sy) bereid is om ander mense op die gruwelikste moontlike wyses dood te maak. Dan werk sy verder veral saam met AMISOM onder die al-Shabaab gevangenes om te bepaal wat die moontlikheid is dat hulle ná ‘n uitgebreide de-radikaliseringsproses, weer in die samelewing opgeneem kan word.
Ek kon haar ompraat om van die profiele waaraan sy werk vir my aan te stuur sodat ek daar mee kon help – dit was eintlik maar roetinewerk en ek behoort dit maklik onder die knie te kry – en dit was tydens die rekenaartoevoere dat ek net weer besef het hoe maklik ‘n mens bevooroordeeld kan raak: tot op daardie stadium was Somalië vir my ‘n land doer ver – weliswaar op dieselfde kontinent as ek, maar dit kon net sowel nie gewees het nie – waar die inwoners (terroriste almal van hulle!) mense wat nie soos hulle glo nie, lukraak martel en vermoor. Sommige van hulle het dalk hul redes gehad, maar dit sou – in my oë altans – niksseggend gewees het. Met die deurlees van die vraebank (‘n hele 45 bladsy per geval) het ek egter besef dat mens hier met egte, lewendige mense te doen het. Mense, elkeen met ‘n eie agtergrond, verwagtings en frustrasies...
Die een geval wat my geruk het, was dié van Abdirahman Sheikh Mohamed. Waar die ander gevalle almal tussen 20 en 28 jaar oud was, was hierdie een maar net ‘n skrale 14. Dit was egter sy agtergrondsgeskiedenis wat dinge vir my in plek laat val het: sy ma was sy pa se vierde vrou en hy was die jongste van haar drie kinders. Met ander woorde, die arme kind – want dis presies wat hy was – het in ‘n wêreld gekom waar alles moontlik téén hom was. Hy het dan ook net vir een jaar formele staatskoolopleiding gehad alvorens hy weens “huishoudelike omstandighede” moes terugkeer huistoe. Hy het egter sewe jaar lank onderrig in ‘n madrassa (Islamitiese skool vir seuns) gehad waar hy al 114 hoofstukke (of juz) van die Koran gememoriseer het. Hy het gevolglik geen blootstelling aan die groot wêreld daar buite gehad nie; al wat hy wel ontvang het, was die imams se indoktrinering.
Een van die vrae in die vraebank is: “Wie het jy as kind nageboots?” waarop die logiese antwoord in sy geval dan ook “my geestelike onderwyser” was. Hy was net tien jaar oud toe hy dit begin oorweeg het om by al-Shabaab aan te sluit, ‘n stap wat hy op elf-jarige leeftyd dan ook geneem het.
Op die vraag waarom hy wel by al-Shabaab aangesluit het, was daar spasie vir ‘n hele paar redes. Al die redes wat hy verstrek het, was verwant aan persoonlike stabiliteit: behuising, water en elektrisiteit, ‘n vaste werk – maar heel eerste (en dus vir hom die belangrikste) was die behoefte aan onderwys (Education). Hy het dus by die terreurorganisasie aangesluit om die uitsluitlike rede dat hy vir homself ‘n lewe (in die ware sin van die woord) wou verseker...
Een van die laaste vrae hanteer die moontlike lewe ná al-Shabaab en die moontlike gevangenisstraf wat op hom wag: Sy ideaal was om terug te keer “huistoe”, maar hy was ook nugter genoeg om te besef dat die organisasie dit nooit sou toelaat nie. Wanneer ‘n voormalige lid sy rug op hul keer, kan daar vir hom maar net een straf wees: vir sy verraad sal daardie gewese lid gesoek en gedood word! Ek het daardie nag bitter sleg geslaap, want die arme mens se lot het by my bly spook. Toe ek met Anneli daaroor praat, het sy ingestem dat dit ‘n baie moeilike geval is: AMISOM doen wel geweldig moeite om aan die gevangenes nuwe vaardighede, soos om te boer, te bou, vis te vang, ens. te leer sodat hulle ná hul vrylating vir hulself en hul gesinne kan sorg. Hulle kan egter nie langtermyn opleiding, soos om te lees, te skryf of verdere kwalifikasies verwerf, onderneem nie. Daar is eenvoudig nie genoeg tyd daarvoor nie en verder groei die aantal gevangenes en verhoorafwagtendes feitlik daagliks. Die owerhede kan net eenvoudig nie aan elke behoefte voldoen nie!
Ek het onvermydelik vergelykings tussen hom en die straatkinders, wat so volop in ons land voorkom, begin tref: hier word kinders volgens wet verplig om van die ouderdom 7 tot 15 op die skoolbanke te bly. Ongelukkig maak soveel van daardie kinders nie gebruik van die wonderlike geleentheid nie: hulle loop liewer van die huis af weg, net om êrens op straat te eindig. Daar bedel hulle, raak dikwels met dwelms en prostitusie deurmekaar en eindig op die ou einde naamloos in die staatslykhuis: nóg ‘n kosbare lewe sinloos verspil...
Wat sou Abdirahman Sheikh Mohamed met sy lewe gemaak het as skoolonderrig in sý land verpligtend was – of sou sy pa die wet nietemin geïgnoreer, en hom in elk geval by die huis gehou het om “huishoudelike verpligtinge” na te kom? Ek gesels met Sussa oor dié klein Sheikh (wat heel ironies “leier” in Arabies beteken) en sy stem saam dat dit ‘n hartverskeurende geval is. Sy voeg by: “Die mense wat met die de-radikaliseringsproses gemoeid is, sal baie mooi na hom moet kyk. Ondervinding het geleer dat daar vir daardie soort kinders net een ding oorbly: om ‘n selfmoordbomdraer te word en daardeur – soos hulle glo – hemel toe te gaan.”
‘n Seker manier om tóg sin en betekenis aan sy lewe te gee...?
Abdullahi Ahmed Ibrahim
Ek was oneindig verlig toe ek die laaste van my paar toevoere vir Anneli kon stuur. Nie soseer oor die hoeveelheid werk wat dit vereis het nie, al het ek meer as een keer gewens dat ek so bedrewe soos sy was! Sy het teen daardie tyd al dosyne en nogmaals dosyne van die dokumente afgehandel gehad en kon dit amper toe-oë doen – as so-iets moontlik was. Ek moes eers vir my ‘n werkwyse kry waarmee ekself gemaklik was en dit het ongelukkig eers teen die tweedelaaste toevoer gebeur!
So mettertyd kon ek ook uit die antwoorde wat op die vaste formaat vrae verstrek is, begin om ‘n redelik duidelike aanduiding te kry van wie die respondent moontlik kon wees. Sussa het die vraebank só geformuleer dat mens gou kon agterkom of die persoon bloot antwoorde verstrek om hom beter te laat lyk (hulle word immers aan die hand van dié profiele deur ‘n span kenners gekeur om óf die deradikaliseringsproses te deurloop – waarna hul teruggeplaas word in die samelewing – óf voortgaan om hul opgelegde gevangenisstraf uit te dien), en of hy werklik eerlik is.
Die antwoorde spreek dan ook duidelik van die respondent se opvoedingspeil, sy intelligensievlak, asook sy huislike agtergrond: die hele veld word gedek...
Só “ontmoet” ek toe die volgende al-Shabaab-volgeling, en toevallig die laaste een van my paar profiele: Abdullahi Ahmed Ibrahim. Hy het aanvanklik nie veel anders as die ander voorgekom nie: 26 jaar oud; het op ouderdom 18 by die organisasie aangesluit en het nooit geveg nie, maar as hul belastinginvorderaar gewerk. (Hoeveel geweld dié werk ingehou het, sal mens sekerlik ook nooit weet nie; jy kan maar net raai!). Hy was getroud, het een kind en was op daardie stadium al drie jaar lank in die tronk nadat hy deur die Somaliese polisiediens in hegtenis geneem is.
Dit was egter by die lees van sy vroeë geskiedenis, dat mens van die onbeskryflike hartseer bewus raak: hy is die jongste van drie kinders en beide sy pa en sy ma is binne vyf dae ná mekaar oorlede toe hy maar net twaalf jaar oud was. Sy twee ouer sibbe het van daardie oomblik af sy versorging oorgeneem en dit is dus gladnie vreemd dat hy hoegenaamd geen formele skoolopleiding ontvang het nie. Hy was selfs minder as ses maande in die madrassa, die godsdienstige skool waar Moslemseuns deur imams in die Koran onderrrig word.
Vrae in een van die afdelings bepaal die ouers se betrokkenheid by die kind se grootwordproses. Daar word ondermeer gevra of die kind ooit ná oortredings gestraf is; watter tipe straf (verbale- of lyfstraf) opgelê, en deur wie dit toegepas is. Dit was dus ook glad nie snaaks dat die jonge Abdullahi nooit enige straf ontvang het nie – niemand het genoeg in hom – of wat van hom gaan word – belanggestel nie.
Om by die “magtige” al-Shabaab aan te sluit was vir hom duidelik ‘n uitkoms; dáár kon hy ‘n werk kry en daar sou hy aanvaar word! Hy bereken dan ook sy gevoel van “behoort” in die organisasie die hoogste in sy hele lewe tot op daardie stadium.
Die laaste gedeelte vrae handel oor die respondent se drome en ideale vir wanneer hy eendag weer vrygelaat word: wat hy graag met sy lewe sou wou doen en wat hy alles nodig sou hê om daardie drome te verwesenlik. Abdullahi Ahmed Ibrahim het die hele afdeling blanko gelaat... Beteken dit dat, toe hy drie jaar tevore deur die Somaliese Polisie in hegtenis geneem is, sy lewe vir hom eintlik maar tot ‘n einde gekom het? Dat al-Shabaab vir hom alles was; dat selfs sy vrou en kind wat vir hom wag, eintlik maar ondergeskik aan sy betrokkenheid by die organisasie is – of is dit omdat hy glo slegs al-Shabaab vir hom ‘n werk, en gevolglik ‘n inkomste, kan verseker? Ek sou bitter graag wou weet.
My hart breek oor die jonge Sheikh, Ahmed en talle ander soos hulle in die verre Somalië. Maar meer, ver meer as hulle tydelike nood, gryp die feit dat hulle ongered is, my aan. Hoe anders sou hulle nie op hul omstandighede gereageer het as hulle Jesus Christus as hul Redder geken en aanvaar het nie? As hulle kon weet dat ons aardse verblyf maar net tydelik is en dat daar ‘n volmaakte lewe saam met Hom in die ewigheid wag, soos Paulus in 2 Kor. 4:17 sê: “Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.” Nie ‘n jannah (hemel) wat deur Allah gereserveer word vir diegene wat dit verdien het nie, maar een wat hulle reeds uit genade verkry het die dag toe hulle Jesus as hul Verlosser en Saligmaker aanvaar het....
Onverwacht.
Julie 2016
Ek is ‘n “lefty” (en trots daarop!)
Ek het nog altyd gedink dat om linkshandig te wees, mens half eenkant van die meerderheid plaas – slegs sowat 10% (‘n proporsionele verspreiding wat al vir langer as 30 000 jaar dieselfde bly) van die wêreldbevolking is immers “lefties”. Dit is die een kenmerk wat ek dadelik in ‘n persoon raaksien en wanneer twee sportmanne (of vroue) – van wie een links is – in ‘n tweestryd gewikkel is, sal ek onmiddellik laasgenoemde ondersteun.. Net omdat daar op elke moontlike gebied deur die res teen ons gediskrimineer word!
Al het ons ons eie dag – 13 Augustus – het net die blote gedagte dat dit juis op die dertiende dag van die maand gehou word, reeds ‘n negatiewe konnotasie. Dit spoor my aan om verder op die internet na te lees oor die bevindings van navorsing – en daar word ek gekonfronteer met hoofsaaklik negatiewe inligting. In ‘n artikel getiteld “56 Interesting Facts About Left-Handedness and Left-Handed People” verskyn die volgende:
- The word left in English comes from the Anglo-Saxon word lyft, which means weak or broken. The Oxford English Dictionary defines left-handed as meaning crippled, defective, awkward, clumsy,(hiermee kan ek identifiseer: albei my hande is oortrek met littekens van brand- en snywonde - 'n duidelike bewys dat die uwe 'n ongeluk is wat 'n plek soek om te gebeur) inapt, characterized by underhanded dealings, ambiguous, doubtful, questionable, ill-omened, inauspicious, and illegitimate.
- Phrases in English suggest a negative view of left-handedness. For example, a “left-handed complement” is actually an insult. A “left-handed marriage” is not a marriage but an adulterous sexual liaison, as in a “left-handed honeymoon with someone else’s husband.” A “left-handed wife” is actually a mistress.
- The German for “left-handed’ is linkisch, which means awkward, clumsy, and maladroit. In Italian, the word is mancino, which is derived from “crooked” or “maimed” (mancus) and is also used to mean deceitful or dishonest. In Russian, to be called a left-hander (levja) is a term of insult.
- Both the Jewish and Christian traditions are strongly right-handed in their nature and practices. For Catholics, Anglicans, Episcopalians, and other denominations, the priest must present the communion wafer with the right hand, and the communicant accepts it with the right hand. All benedictions must be made with the right hand, and a priest symbolizes the “strong right hand of God.”
- In many Islamic countries, people are forbidden to eat with their left hand, which is considered “unclean” because it is used for cleaning the body after defecation. Additionally, “public display” or use of the left hand is against the law in some Islamic countries, including Saudi Arabia.
- In witchcraft texts in medieval Europe, it was the left hand that was used to harm or curse another person. To affect a curse, witches were instructed to silently touch the recipient with the left hand, which would convey the curse. Additionally, the devil supposedly gives the gathering a benediction with the left hand, as opposed to the right-handed blessing of the Christian church. He would also baptize or anoint with his left hand.
- In the Talmud, the Chief of Satans or Prince of Demons is named Samael, which is associated with the Hebrew word for left side, se’mol. The angel Michael sits on God’s right-hand side, while Samael is on his left-hand side. This attribution of evil to the left and good to the right appears in various forms throughout the world.
Voeg daarby statistiek wat aantoon dat linkshandige mense meer geneig is om te hakkel, alkoholiste, skisofrenies, outisties en disleksies te wees asook gemiddeld nege jaar vroeër as regshandiges te sterf, dan lyk die bewys (deur studies wat deur die St Lawrence University in New York uitgevoer is) dat daar meer linkshandiges is met ‘n IK van 140 en hoër as regses redelik niksseggend...
Linkshandigheid is geneties in sommige families, soos in die huidige Britse koningshuis waar die Koninginmoeder, Koningin Elizabeth die Tweede, Prins Charles en Prins William almal links was of nog is. Navorsing het verder aangetoon dat moeders wat ouer as 40 is tydens hul babas se geboorte,’n 128% groter kans het om ‘n linkshandige kind te hê as mammas in hul twintigs.
Bekende linkshandiges sluit Leonardo da Vinci, Michaelangelo, Alexander die Grote, Julius Caesar, Isaac Newton, Benjamin Franklin, Albert Schweitzer, Beethoven, Mozart, Rachmaninoff, Paganini, Bill Gates en talle vermaaklikheidsterre soos Julia Roberts, Tom Cruise, Brad Pitt, Angelina Jolie, Celine Dion, Drew Barrymore en Robert Redford in, asook die meeste Amerikaanse presidente – maar so ook die Boston Strangler, Jack the Ripper en Osama bin Laden.
Om links te wees in ‘n dominant-regshandige samelewing, is alles behalwe ‘n grap. Toerusting, selfs katoeters (gadgets) word vir die grootste persentasie van die bevolking gemaak en ons moet maar aanpas. Só is een van die min dinge wat ek regs doen, sny met ‘n skêr – eenvoudig omdat daar nog nie skêre vir linkshandiges beskikbaar was toe ek begin het om prentjies uit te knip nie. ‘n Doodgewone bliksnyer was iets wat ek nie voor ander (selfs my huismense) wou hanteer nie – bloot omdat die aanmerkings (Gee tog hier, jy gaan jouself verongeluk!) later net nie meer snaaks was nie. Genadiglik het vriendin Annatjie my dilemma raakgesien en een Kersfees vir my ‘n elektriese een gegee. Dis tot vandag toe nog een van my onontbeerlikste apparate in die kombuis.
Ons het ‘n keer ‘n reuse vleisrolletjiebak, waar alles soos ‘n goedgeoliede masjien moes verloop, onderneem. Vir ‘n oomblik het ek gedink iets eienaardig is aan die gang omdat ek nie, soos gewoonlik, met die deeg se uitrollery teen die persoon langs my gestamp het nie – totdat ek die rede daarvoor ontdek het: Dit was Marli en Willemien wat weerskante van my met húl rolstokke laat waai het ... Al drie van ons links!
Aangesien om links te wees, volgens die ander 90% van die bevolking klaarblyklik ‘n veel meer negatiewe as positiewe eienskap is, is ek regtig nog trots om ‘n “lefty” te wees? Natuurlik! In ‘n wêreld waar mense enigiets sal doen om by die res in te pas, is dit verfrissend anders om nie maar net saam met die stroom te gaan nie. Ek is half geneig om te dink dat Jesus, toe Hy op aarde geleef het, ook linkshandig kon wees. Is Hy nie die groot nonkonformis wat al die skynheilige vooroordele en taboes van sy tyd met minagting behandel het nie? Vir Hom was daar nie (en is daar vandag nog steeds nie) mense wat weens hul afkoms of woonplek (soos die Samaritane) slegter of minderwaardig as ander was nie – beslis ook nie omdat hulle voorkeur aan ‘n ander hand as die oorgrote meerderheid gee nie. Net so is ander nie as gevolg van hul geloofsoortuiging (soos die Fariseërs en Skrifgeleerdes) of finansiële posisie meerderwaardig nie – en sekerlik ook nie omdat hulle regshandig is nie. Vir Hom is ons almal dieselfde, maar tog ook uniek – want dit is hoe Hy ons geskape het. Wat vir Hom van belang is, is of ons Hom as ons persoonlike Verlosser en Saligmaker aanvaar – nie watter hand ons dominante een is nie!
Mei 2014.
Die storie van ‘n duisend albasters
"Hoe ouer ek word, hoe meer geniet ek Saterdagoggende. Miskien is dit die stil alleenheid wat daarmee kom om eerste op te staan, of miskien die uitbundige vreugde om nie werk toe te gaan nie. Hoe dit ookal sy, die eerste paar ure op 'n Saterdagoggend
is die lekkerste.
"'n Paar weke gelede was ek op pad na die motorhuis met 'n stomende koppie koffie in die een hand en die oggendkoerant in die ander hand.
Wat as 'n tipiese Saterdag begin het sou draai in een van daardie lesse wat die lewe
van tyd tot tyd vir 'n mens gee. Laat ek vir jou hiervan vertel.
"Ek is 'n radioamateur en het my ontvangstoestel ingeskakel op die telefoniese band om na die Saterdagoggend gesprekke te luister. Met die luister na die gesprekke kom ek af op 'n
man wat ouerig klink, met 'n sterk sein en 'n goue stem. Jy weet 'n stem wat klink of hy in die uitsaaiwese hoort. Hy was besig om te vertel, wie ookal wou luister van 'n ding met 'n duisend albasters. Ek was skielik geïnteresseerd en besluit om te luister
na wat hy te sê het.
"'Wel Tom, dit klink sekerlik dat jy baie besig is in jou werk. Ek is seker dat hulle jou goed betaal, maar dit is hartseer dat jy soveel weg is van die huis en jou gesin. Dit is moeilik om te glo dat 'n jong man sestig
tot sewentig uur 'n week moet werk om deur te kom. Dit is hartseer dat jy jou dogter se dansopvoering gemis het. Maar laat ek jou iets vertel wat my gehelp het om my prioriteite reg te hou.'
"Dit is toe wat die man sy teorie van 'n duisend albasters
verduidelik.
"'Jy sien, ek het eendag gesit en 'n bietjie somme gemaak. Die gemiddelde persoon leef 75 jaar. Ek weet, sommige leef meer en sommige minder, maar gemiddeld, leef mense ongeveer 75 jaar.
"'Wat ek toe doen is om 75 te vermenigvuldig
met 52 en ek het die getal 3900 gekry - dit is die aantal Saterdae wat die gemiddelde mens in sy hele leeftyd het. Hou nou net 'n bietjie uit, Tom, ek kom nou by die belangrike deel. Ek het eers op die ouderdom van 55 jaar begin dink aan hierdie detail, en
teen daardie tyd het ek reeds deur meer as 2800 Saterdae geleef.
Ek had nog ongeveer 'n duisend Saterdae oor om te geniet. So het ek na die speelgoedwinkel gegaan en al die albasters in die winkel gekoop.
Uiteindelik moes ek by nog twee speelgoedwinkels
ingaan om by 'n 1000 albasters uit te kom. Ek het die albasters huis toe geneem en hulle in 'n groot, helder deursigtige plastiese fles geplaas - alles hier in my stoorkamer langs al my goed.
"'Van daardie dag af het ek elke Saterdagoggend een albaster
uitgehaal en weggegooi. Ek het agtergekom soos ek die albasters sien minder raak, ek al meer gefokus het op die regtige belangrike dinge in die lewe.
"'Daar is niks soos om te sien hoe jou tyd op die aarde besig is om uit te loop, om jou te help
om jou prioriteite reg te kry nie.
"'Wel, laat ek jou vertel voordat ek van die lug afgaan om my lieflike vrou vir ete uit te neem. Vanoggend het ek die laaste albaster uit die fles gehaal. Ek reken indien ek dit volgende Saterdag maak, is ek 'n
klein bietjie ekstra tyd gegun. En die een ding wat ons almal kan gebruik is 'n klein bietjie ekstra tyd.
"'Dit was lekker om met jou te kon gesels, Tom, ek hoop jy spandeer meer tyd met jou gesin, en ek hoop ons ontmoet weer hier op die lug. Dit
is 'n 75-jarige ou man, K9NZQ wat groet, oor en uit.'
"Jy kon 'n speld op die lug hoor val toe die man van die lug afgaan.
Ek reken hy het vir ons almal iets gegee om oor na te dink. Ekself het beplan om die oggend te werk aan die antenna van
my radio, en daarna was ek van plan om met 'n paar van die ander radioamateurs saam te werk aan ons klub se nuusbrief.
"Ek het egter - instede daarvan om dit te doen - die trappe opgeklim na ons slaapkamer en my vrou met 'n soen wakker gemaak. 'Komaan
my vroutjie, ek neem jou en die kinders uit vir ontbyt.’ Sy het regop gesit en geglimlag: 'Waaraan is dit te danke?' Ek het na haar gekyk en gedink hoe gelukkig ek is. 'Ag wat, niks besonders nie. Ons het net lanklaas 'n Saterdagoggend saam
en met die kinders spandeer. En terwyl ons nou uitgaan, kan ons by die speelgoedwinkel stop? Ek moet albasters koop.'"
(Aangestuurde e-pos)
Aan die Musiek (met erkenning aan Schubert)
Miera kom vanaand tuis ná ‘n langnaweek-kuier by Ousa, waartydens hulle ondermeer ‘n rock-konsert bygewoon het. Terwyl sy probeer om die “vibe” d.m.v. kort videogrepe op haar selfoon aan my oor te dra, vertel sy “woorde kan dit nie beskryf nie – ek weet net dat ek, elke keer wanneer ek daardie spesifieke liedjies hoor, weer terug sal wees in die Dome, saam met die res van die 50 000 toeskouers; terwyl helderkleurige ligte flits en die klank regdeur my klere en my liggaam vibreer.."
Ek verstaan, o, ek verstaan wat jy bedoel, my kind! My vroegste herinnering van ‘n liedjie en die indrukke om dit heen, dateer uit my standerd vier-jaar: die skoolkonsert, om presies te wees. Die jaar was 1960 en dit was winter in Johannesburg. Ons klas moes “Little Red Wing” opvoer, die meisies geklee in kort jurke – geprakseer uit goiingsak, met “wig-wams” en vure opgeverf – en elk met ‘n parmantige veer in ‘n kopband. Die seuns, weliswaar met kaal bolywe, kon darem hulle langbroeke dra. Telkens wanneer ek dié ou hartseer-liedjie hoor, onthou ek die bittere koue op die verhoog van die Laerskool Johann Rissik en hoe ons elke aand vir die duur van die konsert, ons truie aangehou het tot net vóór ons moes optree....maar ons was dapper Rooihuide, wat beslis nie skrik vir die hoëveldse winter nie!
My volgende helder herinnering koppel ek nie aan ‘n spesifieke werk nie – ek kan trouens nie eens onthou watter werke uitgevoer is nie, moontlik die “Firebird?” – maar aan die term “Simfoniekonsert”. Die jaar was óf 1959 óf 1960, weereens in Johannesburg toe Katie die dag by die huis kom en aankondig dat sy vir ons twee kaartjies gekry het vir ‘n konsert waartydens die besoekende Russiese komponis, Igor Strawinski, van sy eie werke sou dirigeer. Ek, ‘n laerskooldogtertjie het nie geweet wat om te verwag nie, maar het alle vertroue in my rolmodel-sussie gehad: Sy weet alles!!
Die Nasionale Simfonie-orkes is vir die eerste deel van die program deur hul vaste dirigent gedirigeer, maar ná pouse is die maestro na die podium begelei: ‘n Klein figuurtjie, kromgetrek deur die ouderdom (hy was op daardie stadium al diep in die tagtig) met woeste grys hare. Toe hy egter sy dirigeerstokkie optel en daar ‘n werklik doodse stilte in die stadsaal neerdaal, het selfs ék besef dat iets aan die gebeur was – en dié gewaarwording het bly voortduur vir die res van die konsert. Die dawerende applous wat aan die einde losgebars het, het my vertel dat almal teenwoordig dieselfde ervaring gehad het. Hoeveel keer hy vir ‘n buiging teruggeroep is, kan ek nie onthou nie; net dat die konsertmeester later om verskoning gevra en verklaar het dat die maestro te moeg was. ‘n Onbeskryflike, eenmaal-in-‘n-leeftyd-ervaring en een wat my sal bybly vir die res van my lewe!
Dieselfde sus van my het my ook aan die opera bekend gestel, en wel met ‘n uitvoering van Puccini se Madame Butterfly. Nodeloos om te sê dat ek daarna beter verstaan het wat “Een skone dag” en die “Neuriekoor” beteken, al verstaan ek glad nie Italiaans nie.
Beethoven se “Für Elise” verplaas my ook na ‘n skoolverhoog, hierdie keer dié van die Kensingtonse Hoërskool, Johannesburg. Dis 1962, en die geleentheid: ons Groentjiekonsert – en tyd vir my klaviersolo. Ek was vreeslik benoud om voor die vreemde onderwysers en die “groot kinders” op te tree....maar die oomblik toe ek die eerste bekende note speel, het alle vrees gewyk en kon ek my weer eens in my musiek verloor.
Die Staccatos het in 1967 ‘n treffer in “Cry to me” gehad – en dit was my en ou Pa, destyds besig met sy verpligte militêre opleiding aan die Leërgimnasium op Voortrekkerhoogte, se spesiale liedjie. Ek onthou hoe ek destyds Sondagaande na die “Hit Parade” geluister het, en telkens wanneer dié plaat draai, my oë amper uitgehuil het oor my geliefde. Tot vandag toe ervaar ek daardie selfde matelose verlange en hartseer telkens wanneer dié ou liedjie onverwags gehoor kan word.
Saterdag, 1 Maart 1969, net kort ná 18:00, en ons troudag! Die plek: Die kerkgebou van Gemeente Hartbeespoort, Brits en ek, met my hele gevolg, staan en wag dat Gerrie Boot, die orrelis, die eerste note moet begin speel. “My hele gevolg” bestaan uit al die dogtertjies uit my en At se families – al AGT van hulle! Toe hulle hoor dat hulle Oom At en Tannie Annatjie (vir dié aan sy kant; vir diegene aan my kant was ek altyd maar net Annatjie) uiteindelik tot trou gaan kom, was hulle een-en-almal so opgewonde: Hulle gaan saam trou! Hoe kon ek vir sommige “ja” sê, en vir die ander nie?! Dus het ons op hierdie herfsmiddag agt dogtertjies in eenderse vollengte rokkies – die helfte suurlemoengeel en die ander helfte appelgroen – met madeliefies in die haartjies en elk met ‘n mandjie vol konfetti in die hand. Bets, veel nader aan ‘n kleiner sussie as ‘n niggie vir my, is my strooimeisie. Haar rok, op basies dieselfde patroon as myne (en die konfetti-meisies s’n) gemaak, is ‘n diep roesoranje wat te pragtig by haar soel gelaatskleur pas. En dan is daar my pa: So statig in sy aandpak!; gereed om sy laatlam voor die kansel af te gee.
Die volgende oomblik begin die orrel speel....en tot vandag is dit die hoor van Liszt se “Liebestraume”, (waarop die dogtertjies ingestap het) veel meer as die troumars, wat my terugverplaas na my mooiste dag.
Oujaarsdag, 1984. Ons vier kuier by Dad, Moekie en Katryn waar hulle by laasgenoemde in Wilhelmstraat, Booysens, gebly het. Dad was sedert hulle 60e huweliksherdenking op die 24e Oktober nie gesond nie, maar mens kan nie regtig ‘n vinger op die probleem lê nie: dalk maar net ‘n bietjie moeg, dié dat hy vroeg-vroeg ingekruip het. Ons ander het soos gewoonlik om die kombuistafel gesit en ginnegaap terwyl die draagbare radio tipiese Oujaarsmusiek speel. Ek weet nie wie eerste opgespring en begin dans het nie, maar gou het ek, Kaai, Ousa en Mierkind ons eie Oujaarsdans gehou terwyl Moekie en At laggend toekyk. Vandag nog laat “Agga Doo” en “Obla Dee Obla Da” my dink aan ons amper frenetiese vrolikheid van daardie aand – asof ons ‘n voorkennis gehad het van wat voorlê:
Net ‘n bietjie langer as twee weke later, op 18 Januarie 1985, is Dad oorlede en slegs tien maande later, op 7 November 1985, het Moekie hom gevolg.
Dis darem nie altyd hartseer herinneringe wat musiek by my opwek nie: Dire Straits se “Walk of Life” laat my voete nou nog net so jeuk soos destyds toe ons in Naboomstraat 10 gebly het en Miera my aan die hand gegryp het om die gang op en af saam met haar te sokkie!
My volgende herinnering lê in Kaapstad, 2003. Sussa het vir my en haar kaartjies vir Josh Groban se vertoning gekry en ek moes net daar wees – dis een kans in ‘n leeftyd! Die uitvoering is in die Kirstenbosch-tuine gehou en sou om 20:00 begin. Die duisende toeskouers het hulle plat op die gras, sommige op reisdekens, tuisgemaak terwyl die laaste sonstrale die berg hier reg voor ons goud geverf het. Die atmosfeer was ontspanne (soos die Kapenaars mos maar is) maar tog elektries gelaai terwyl ons op Josh gewag het. Ag, dit was alles net só perfek: die orkes – veral die jong violis wat hom vergesel het – die koor, bestaande uit plaaslike sangers en natuurlik Josh se ongelooflike baritonstem! Elke nommer wat hy gelewer het, was onbeskryflik mooi – maar die oomblik toe die eerste note van “You Raise Me Up” opklink, het ek maar ewe gedwee my handevol snesies uit my handsak opgediep – ek het geweet wat kom! Ek en Sussa het albei later ophou probeer om die trane af te vee en maar net toegelaat dat dit vryelik loop – sy vertolking is tot vandag die mees gevoelvolle, die aangrypendste wat ek nog gehoor het.
Ek hoef vandag maar net my Closer-CD in die speler te sit en na die betrokke snit te luister om dadelik weer daar in die Tuine te wees, met die berg hier voor my en Sussa langs my...
Ek weet nie hoeveel herinneringe daar nog in die toekoms wag om deur melodieë opgeroep te word nie; wat ek wel weet, is dat dit ‘n onuitspreeklike voorreg is om wel te kan hoor en die musiek te waardeer...My lewe sou sonder enige twyfel brandarm en sonder vreugde daarsonder wees!
23 April 2007
Geluk = ???
My telefoongesprek met Hanro die afgelope naweek het my aan die dink gesit...
Hy moes vandag sy eerste Engelse “speech” in die hoërskool lewer en hy wou regtig indruk maak – nie dat hy ooit afskeepwerk sal lewer nie! Die onderwerpe was almal half filosofies; dus kon ons lekker gedagtes ruil. Hy het toe besluit op iets soos ‘What brings happiness into my life?’ en uit die uiteindelike produk wat hy later vir my voorgelees het, kon ek weereens duidelik hoor dat hy uiters volwasse vir sy ouderdom is.
Wát bring dan geluk in mense se lewens? Daar is ‘n ou liedjie wat lui “Happiness is... different things to different people” en niks is meer beskrywend nie:
- Vir ‘n boer is dit die rekord-oes op die land wat wag om ge-oes te word
- Vir ‘n onderwyser ‘n pak vraestelle, klaar nagesien, en die vér bo- gemiddelde punte wat dit oplewer
- Vir ‘n huisvrou ‘n blink skoon huis, wasgoed gewas en gestryk en die kos op die stoof
- Vir ‘n skoolgaande kind of student die aanbreek van ‘n vakansie ná ‘n uitputtende kwartaal of semester
- Vir ‘n wildboer die skaars wildspesie wat hy pas aangekoop het
die lys is eindeloos. Is ek self GELUKKIG wanneer ek nog ‘n projek suksesvol afgehandel sien; of is dít wat ek ervaar bloot dankbaarheid en tevredenheid?
Dit het my weer eens gedwing om goed om my heen te kyk...en ek het tot die besef gekom dat ons so maklik geluk aan 'n spesifieke "iets" kan koppel:
- As ek tien kg gewig verloor het , .......
- As ek genoeg geld in die bank het, .......
- As ek net werk kan kry,.....
- As ek net ‘n ander werk kan kry.....
- As ek net ‘n goeie lewensmaat kan kry.....
- As my kinders elkeen gevestig kan wees.....
dan sal ek gelukkig wees!
Nog eens ‘n eindelose lys, en weer die vraag: Is dit regtig Geluk?
Ek glo nie so nie – daar sal altyd weer iets wees waarna jy hunker en wat jou bly ontwyk. Verder is die probleem dat al hierdie dinge blote veranderlikes is: Jy kan weer daardie gewig optel; jy kan jou geld op soveel maniere verloor- en so ook ‘n betrekking of‘n lewensmaat. En dan? Is jy jou geluk ook daarmee kwyt en is jy weereens ON-gelukkig?
Nou waar vind mens dan ware geluk?? Ek dink mens moet allereers jouself leer ken: wie jy is en waarheen jy oppad is. Kyk om jou rond na die dinge wat jy self nie kan (of moontlik wil) verander nie...en maak vrede daarmee!
As jou hoeveelste dieet misluk het, probeer weer – maar moenie toelaat dat jou figuur ‘n obsessie raak nie. Daar is geen groter pyn nie as dié wat vir die hele wêreld verkondig dat sy ‘n halwe kilo opgetel het en dit is nou die einde van haar wêreld! Goed, gewigsverlies laat mens beter voel oor jouself, maar dit gaan nie van jou ‘n beter mens maak; of jou in die hemel kry nie!
Genoeg geld in die bank? Wanneer het mens ooit genoeg geld?? Nooit nie – daar kom altyd net weer nuwe vereistes by. Geld bring in elk geval net bekommernis – al is dit net die baie belasting wat jy moet betaal!
En werk? Wie was al ooit een honderd persent gelukkig in sy/haar werksituasie? Bitter min, indien enige! Daar sal altyd iets haper: As dit nie die werk self is nie, is dit jou kollegas, die ver afstande wat afgelê moet word, of wat ook al. As jy dringend werk soek, begin op jou knieë – en vra die Here om vir jou die betrekking te gee wat Hý weet vir jou die beste is – en dit op sy tyd!
As jy sielsongelukkig is in jou huidige posisie, doen bietjie selfondersoek en kyk of jy nie self ook maar skuld het aan jou omstandighede nie – en wend ‘n daadwerklike poging aan om dit te verander. ‘n Blote gesindheidsverandering kan al baie help: Sê vir die Here jy besef jy is waar Hy jou op daardie stadium van jou lewe wil hê; en vra Hom die leiding en insig om waarlik vir Hom en jou medemens, met wie jy daagliks in aanraking kom, die beste te kan gee en beteken.
Dieselfde geld vir die eensames en dié wat hulle oor hul kinders bekommer. Hou op stres en gee jou probleem biddend vir die Here – en los dit dan daar by Hom! Hý alleen kan iets aan die situasie verander, as dit sy Wil is....Glo en vertrou net dat Hy jou beswil altyd in gedagte het; en dat Hy, op sý regte tyd, die uitkoms sal gee.
Is dit dan die resep vir ware, blywende Geluk? Ek dink so. Leer jouself ken: Jou goeie punte (en moenie beskeie wees nie – jy mag maar erken jy hét wel goeie punte, en baie ook – jy het nie ‘n groot ego nie! Weet net God wat jou geskape het, maak nie foute nie, en wat meer is jy is ‘n Koningskind! Dit alleen maak van jou ‘n prins of ‘n prinses) maar veral ook die negatiewes, en maak vrede met elke faset van wie jy is. Die pragtige, waar uitdrukking Let go and let God sê vir my alles.
Dit bring my dan ook by die tweede en vernaamste vereiste vir ware, blywende geluk in elke aspek van jou menswees: Leer die Here ken! Nie net die “Liewe Jesus” van jou kleintyd nie, maar die Almagtige Skepper-God vir Wie niks onmoontlik is nie; Hý wat alles gemaak het: soveel sonnestelsels dat ons nog nie eens ‘n vae idee het van hoeveel onontdektes daar buite wag nie...en Hy stel soveel belang in jou – nee, het jou so lief! – dat Hy presies weet hoeveel hare daar op jou kop is. Hy het jou werklik so lief asof jy sy enigste kind is en daarom is jou GELUK ook net so belangrik vir Hom.
Leer Hom ook ken as jou beste Vriend wat graag alles met jou wil deel: Vind jou vreugde in Hom: “Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelyk maak” is die belofte wat ons in sy Woord kry – en dit sluit die vind van ware geluk ook in!
Dus: die altyd-ontwykende GELUK is nie te vind in eksterne faktore nie; ware, blywende geluk wag binne-in jou om ontdek te word. Dis regtig oor-en-oor die soeke werd, want saam met geluk sal jy vrede ook kry... hulle is pasmaats.
Maandag, 22 Januarie 2007
Respek
Ek luister na ‘n gesprek oor die radio wat handel oor die geweldige probleme waarmee opvoeders vandag te kampe het. Dat daar ‘n hele verskeidenheid vraagstukke is, ly geen twyfel nie, maar deelnemers aan die program was dit eens dat alles teruggelei kan word na één aspek: Kinders en jongmense (ek wil “en die meeste volwassenes” byvoeg) het nie respek nie; weet selfs nie wat dit is nie.
Waar het dinge dan in ons samelewing skeefgeloop? Die regering stel miljoene rande tot die beskikking van programme om respek en moraliteit te herstel, en impliseer daardeur dat dié deugde wel op ‘n tydstip aan die orde van die dag was, maar geleidelik deur die jare verwater, en daarna net verdwyn het. Vyftig, sestig jaar gelede toe ek op die skoolbanke gesit het (ek wil my daarvan weerhou om daarna te verwys as “die goeie ou dae”, want hulle was nie regtig in elke opsig nét goed nie) was respek vir ouers, onderwysers en jouself ononderhandelbaar. Toegegee, daar sou sekerlik individue, selfs groepe, gewees het vir wie dit nie ‘n lewenswyse – of selfs net belangrik – was nie. Hulle was egter ver in die minderheid; in elk geval in die konderwatiewe, middelklas-omgewing waarin ek en my vriende grootgeword het. “Grootgeword” sê hier vir my alles – want sien, ons is so grootgemaak: EK is nie ‘n eiland, afgesny van ander mense, waar net ek alleen van belang is nie. Ons leef tussen en saam met miljoene ander mense en as elkeen sou reken dat net hy of sy belangrik is, sou die lewe een groot chaos wees – en dis presies waar ons vandag is!
Ek sou my verstout om vir die regering te sê dat hulle daardie miljoene beter kan bestee deur in die armstes se basiese behoeftes te voorsien. Gaan liewer terug na daar waar alles begin: die gesin. Of dit die ideale gesin met ‘n pa, ma en kinders is, ‘n enkelouer-gesin, een waar grootouers of selfs sibbe die opvoedingstaak het, maak geensins saak nie. Wanneer daardie kind gereed is om met ander in aanraking te kom, moet hy reeds die basiese reël ken: hy is nie belangriker as enige ander lewende wese wat oor sy pad mag kom nie! Of dit nou ‘n mens – groot, klein, ryk, arm, invloedryk of deur die gemeenskap verwerp – of diere, voëls of selfs insekte is: elkeen het sy eie, unieke plek in die groot bestel en is dus ewe belangrik. Geen mens kan lewe gee nie; God alleen kan dit doen en daarom mag geen mens net lukraak lewe neem nie. Leer die kind uit die staanspoor om nie met ‘n rekker voëltjies te skiet of vlinders se vlerkies uit te trek nie (nee, “seuntjies is maar so” is nie die waarheid nie – hulle word so wanneer hulle nie die regte leiding kry nie!) en daardeur later glo dat hy verhewe is omdat hy die “mag” het nie. Daardie kind gaan grootword met die idee dat hy “master of his universe” is, dat net hy (of sy, dogtertjies word nie uitgesluit nie!) van belang, en gevolglik geen respek aan ‘n ander verskuldig is nie.
Wanneer die kind van “respek” geleer word, wys hom daarop om eerste Boontoe te kyk: God is die heel belangrikste en verdien elke greintjie van die mens se respek en eerbied. Kyk daarna óm jou na elke vorm van lewe en betoon dit al die respek waaroor jy beskik. (Toe God die mens geskep het, was sy opdrag nie om oor die skepping te heers nie, maar om dit te bestuur. Die verskil tussen die twee is: respek.) Kyk eers daarna na jouself in die besef dat, indien jy nie selfrespek het nie, jy niks en niemand anders sal kan respekteer nie.
Vir ‘n geskrewe handleiding oor respek en moraliteit hoef ouers en ander opvoeders nie verder as Eksodus 20: 1-17 in die Bybel te gaan soek nie. Die gevaar lê egter in die oorbekendheid van die Tien Gebooie. Die meeste mense kan dit soos ‘n rympie aframmel, sonder om werklik die inhoud in die konteks van ons daaglikse bestaan te sien. Daarom is dit dalk nodig om die Here se aanwysings nie as tien “jy mag nie’s” te ervaar nie, maar as tien beloftes wat Hy aan elkeen van ons gee:
Tien beloftes
Eerste belofte:
As Ek die eerste plek in jou lewe inneem, sal jy geen ander gode wil dien nie, want Ek sal die ereplek in jou lewe hê.
Tweede belofte:
As Ek in jou hart woon, sal dit nie nodig wees om gesnede beelde van My te maak nie, want jy sal self my beeld dra.
Derde belofte:
As jy My liefhet, sal my naam nooit ‘n vloekwoord oor jou lippe kan wees nie, maar in alle omstandighede deur jou eerbiedig en gerespekteer word.
Vierde belofte:
As Ek die ereplek in jou lewe het, sal Sondag die hoogtepunt van die week vir jou wees. Dit sal vir jou ‘n vreugde wees om My in die gemeenskap van gelowiges te aanbid: ‘n Dag om na uit te sien, en nie om teen op te sien nie!
Vyfde belofte:
As Ek in jou lewe is, sal dit vir jou ‘n voorreg wees om jou ouers te eer en lief te hê. Dit sal nie vir jou moeilik wees nie, want agter hulle sal jy My sien wat hulle vir jou uitgesoek het.
Sesde belofte:
As jy my liefde jou eie gemaak het, sal jy nooit iemand wil seermaak of haat nie, wat nog te sê doodmaak!
Sewende belofte:
As jy My liefhet, sal dit nie moeilik wees om aan jou lewensmaat getrou te wees nie. As Ek ‘n plek in jou huwelik het, sal julle vir mekaar lief wees en Ek sal julle geluk in my hande vashou en bewaar.
Agtste belofte:
As Ek op die troon van jou lewe sit, sal jy daagliks vra: Aan wie en waar kan ek aan ‘n ander iets gee en jy sal nooit iets van ‘n ander wil neem nie.
Negende belofte:
As Ek in jou lewe is, sal dit nie meer vir jou lekker wees om van ‘n ander kwaad te praat nie. Deur my Gees sal jy ‘n mens wees wat van ‘n ander niks sal sê as dit nie iets goeds is nie!
Tiende belofte:
As jy een met My is, sal my Gees jou tevredenheid gee om vergenoegd te wees met wat jy het, met die besef dat God gee soos jy nodig het en wat Hy gee, is altyd genoeg sodat jy niks sal kortkom nie.
(Ek het die bostaande redelik lank gelede in pdf-formaat per vonkpos ontvang, maar die samesteller se naam was ongelukkig nie by nie).
Alles is egter nie verlore nie: nie in die onderwys en ook nie in ons samelewing nie. Dit vra net om 'n doelbewuste terugkeer na die Een wat die aanwysings vir 'n gesonde, goed aangepaste lewe millenia gelede reeds vir ons gegee het. Die arrogante mens het egter besluit dat hy dit nie nodig het nie; al die ou wette is tog uitgedien! Dus maak elkeen maar sy eie en leef daarvolgens, met die gevolg dat ons met 'n korrupte, choatiese samelewing sit waar gewone mense net maar na lankverlore deugde soos liefde, vrede en ja, respek, kan hunker.
27 April 2014 (Vryheidsdag).
Rotskoekies en 'n klein verraad
Ek weet nie wat my vanaand skielik aan “rotskoekies” laat dink het nie – ek het dit immers net eenmaal in my lewe gemaak en nooit weer nie:
Dis die jaar 1961, en ek is in standerd vyf aan die Laerskool Johann Rissik in Fairview, Johannesburg. Die skool het ‘n reëling met die Tegniesekollege gehad dat die St. 5-dogters vir die eerste paar periodes op ‘n Maandagoggend kookkunsklasse in die kollege se kombuis ontvang. Die klasse is deur ‘n befoeterde, middeljarige Engelse dosent aangebied wie se Afrikaans gangbaar, maar nie vlot nie, was. Dit het meegebring dat sy ‘n paar uitdrukkings gehad het wat sy tot vervelens toe gebruik het: Sou mens enigiets goed gedoen het – wat maar bitter selde was – is dit met ‘n “Mooi so! “ beloon; wat dan ook tot haar bynaam van “Ou Mooi So” gelei het. Sou jy aan die ander kant iets verkeerd of dom aanvang – wat maar meestal die geval was – is jy uitgekryt as “Jou mamparra kind!”
Ons moes regtig vróég by die Kollege aanmeld. Gelukkig was dit nie nodig om eers skooltoe te gaan nie, maar ons moes wel sonder versuim direk ná die klas máák vir die skool; ‘n laatkommery is nie geduld nie.
(Dit was dan juis op een so ‘n Maandagoggend dat ek die naaste aan flouword in my lewe gekom het: Die sypaadjie was nat ná ‘n reënbui die vorige nag en in my haas om die bus te haal, het ek nie die piesangskil gesien nie. Ek het gevolglik vir my ‘n stuk sypaadjie gekoop en in ‘n poging om my val te keer, op my linkergewrig te lande gekom. Hoewel seer, was my ego op daardie tydstip meer gekneus en ek het my nie verder aan die arm gesteur nie. By die Kollege moes ons soos gewoonlik in ‘n ry wag vir ou Mooi So om toestemming te gee om in te gaan en daar begin my ore sing, die wêreld kantel gevaarlik en ek voel hoe ek in ‘n diep gat wegsink... Die volgende oomblik is ek bewus van my maats om my wat almal probeer help en ou Mooi So se stem wat kwaai vra of ek die oggend geëet het. Op my antwoord dat ek nooit ontbyt eet nie, was haar reaksie heel voorspelbaar: “Jou mamparra kind! Hoeveel keer moet ek nog sè dat ontbyt die belangrikste ete van die dag is?!” Ek is gevolglik summier teruggestuur skooltoe waar die kantoor-tannie vir Moekie gebel het om my te kom haal . Daarvandaan is ons Kinderhospitaal toe waar x-strale gewys het dat my linkerarm mooi in die gewrig gekraak is, wat ses weke in gips tot gevolg gehad het en verder moes ek vinnig leer om regs te skryf...)
Die resultate van ons pogings in die kookkunsklas kon ons saamneem huis toe: Indien dit regtig geslaagd was, het dit wel by die huis uitgekom; die wat minder suksesvol was is maar net te geredelik deur die seuns in die klas verorber. Hulle was altyd honger en beslis nie kieskeurig nie!
Die heel eerste “gereggie” wat ons geprakseer het, was rotskoekies. Voor dié spesifieke dag het ek nog nooit daarvan gehoor nie – dit was beslis nie in Moekie se resepteboek nie! (Ek het veel later eers besef dat, siende dat die Kollege net Engels was, daar uiteraard tradisioneel Engelse geregte – waarvan “rock cookies” of “raisin rocks” vir seker een is – voorberei sou word. Die resepte is vir die paar Boerdogtertjies se onthalwe bloot in Afrikaans vertaal.) My rotskoekies was, tot my verbasing, ‘n sukses en Moekie het later die middag ook so gesê! Heel anders as my koffiekoek later in die jaar: Toe ou Mooi So die voltooide produk beoordeel, was haar reaksie dat die tekstuur mooi fyn is, die koek het pragtig gerys, maar die koffiesmaak is heeltemal oorweldigend. Navraag bring toe aan die lig dat die resep vra vir ‘n kwart koppie sterk koffie... en ek gebruik toe ‘n kwart koppie koffie-ekstrak! Jou mamparra kind!!
1961 was om verskeie redes een van die hoogtepunte van my kinderjare. Ek “Google” nou “Republiekwording” en sien verskeie foto’s van ‘n skare mense onder sambrele op Kerkplein, waar hulle op 31 Mei 1961 in die reën wag vir die verskyning van ons eerste staatspresident, Charles Roberts Swart. Van Republiekwording onthou ek hoe ons, saam met ‘n geweldige aantal patriotiese Afrikaners op Gillooly’s Farm, Bedfordview, met reisdekens en piekniekmandjies saamgetrek het om die statige “Oom Blackie”, geklee in sy pluiskeil en manél, te sien.
Mnr “Twakkies” du Toit, ons skoolhoof, was betrokke by al wat ‘n kultuurorganisasie is en hy het gevolglik gesorg dat “sy kinders” oral goed aangewend is: Daar was die mini-dorpie Unika waar uitstallers van ‘n menigte lande stalletjies gehad het om hul eie unieke, tradisionele ware aan belangstellendes te vertoon. Natuurlik is ons by Suid-Afrika se stalletjie ingespan om al die skoonhoutakies te verrig – maar dit was ‘n fees, want ons was ‘n regte, volwaardige republiek! Dit was wat ons geglo het; die werklikheid van sanksies het baie jare later eers tot ons deurgedring.
As deel van die feesvieringe het ons skool ook aan ‘n massa-gimnastiekvertoning deelgeneem. Ek glo dit moes ‘n pragtige gesig gewees het om die kinders, verteenwoordigend van die meeste skole in Johannesburg, van die pawiljoen af ons deur ons passies te sien gaan. Ons was nie toegelaat om ons drag, oranje hempies en swart broekies, ná ons kleedrepetisie huis toe te neem nie. Die onderwysers het goed geweet dat die drama van kledingstukke wat net wegraak, daardeur voorkom word. Ons moes dus ons gimnastiekklere na die oefening netjies opvou en dit dan by die onderwyseres inhandig – in volgorde soos ons sou optree: die kleintjies eerste, en die grotes laaste. Dit het heel jolig gegaan met ‘n gerumoer van ‘n ander wêreld, soos net ‘n klomp laerskoolkinders wat buite hul bekende omgewing losgelaat is, kan. Ek sal nooit, so lank ek leef, my gewaarwording vergeet toe ek omdraai om my hopie klere te neem en ek ontdek dat net my hempie daar lè. Iemand het my broekie net eenvoudig gevat terwyl my rug gedraai was..! Wat nou? Ek kan tog nie vir die Juffrou gaan sè my broekie is nou skielik weg nie? – sy sal net eenvoudig sè dat ek nie verder kan deelneem nie! ... en daar het die oomblik van my Klein Verraad aangebreek: Ek het rondgekyk na die hopies klere van meisies, almal so groot soos ek, en ongemerk een van die broekies geneem . Ek kan onthou hoe een van die ander dogters die woorde wat ék moes sê, ontsteld uitgeroep het, maar wat daarná gebeur het, is genadiglik uit my geheue gewis.
Ek is – dankie tog! – nie grootgemaak met die idee van ‘n alsiende God wat net wag vir die oomblik wanneer jy iets verkeerd doen en dan op jou neerkom met straf op straf nie. Ek het wel geweet dat wat ek doen, verkeerd en definitief nie binne sy Wil is nie. Jare later het ek gelees van Petrus se verraad; hoe hy sy (en my) Meester drie maal verloën (alles wat hy geglo het, verraai?) het, maar ook hoe Jesus hom kort daarna die geleentheid gegee het om drie maal sy liefde vir Hom te bely en sodoende sy Groot Verraad te kanselleer. Nie dat ek my daad enigsins met dié van Petrus wil vergelyk nie, maar vir my was daar ook die ontsetting na die tyd, toe ek besef dat geen mens my gesien het nie, maar die Here wel – en dit is veel erger: Ek, as sy kind, doen tog nie so-iets nie?! Die gebeurtenis het my deur my lewe heen bygebly en oneerlikheid – en hoe maklik mens daaraan kan toegee – was altyd maar ‘n verskrikking. Dit is waarom ek altyd ‘n winkelkassier daarop sal wys dat ek te veel kleingeld gekry het, of dat twee identiese artikels verskillende pryse het en hy/sy moet seker maak watter een die korrekte is, en nie sommer net aanneem dat dit goedkoper een van die twee sal wees nie.
Of my daad van oneerlikheid nou al gekanselleer is? Genadiglik het ek ook deur die jare geleer dat daar in ons Here se oë nie klein of groot sondes is nie, maar dat Jesus reeds die straf op al myne aan die kruis gedra het. Ek hoef dus nie meer daaroor te tob nie; net maar in stille erkentlikheid “Dankie, Heer Jesus!” te fluister en voort te leef, steeds bedag daarop dat ek maar net ‘n mens, en gevolglik geneig is om te sondig. Juis omdat ek dit besef, kan ek maar net by die Heilige Gees pleit om my op al die struikelblokke op my pad te wys wat my kan verhinder om binne sý Wil te leef en my dan die nodige krag en leiding te gee om dit te vermy.
30 Maart 2011.
Die grootste vyand
Dit was my jongste, Eldaleen, wat eendag – ná ‘n gesprek oor Satan se listigheid – my verras het met die opmerking dat sy nie glo hy die mens se grootste vyand is nie. Dat Satan dié “grootste vyand” baie goed in sy werkinge inspan en dat dit sekerlik een van sy vernaamste wapens is, is egter gewis. Vir haar is die mens se Grootste Vyand sy selfgesentreerdheid/egoïsme/ego/ek.
Hoe meer ek daaraan gedink het, hoe meer het dit sin gemaak. Wat lê aan die wortel van alle sonde?
- Waarom kan jy so ‘n pragvoertuig/huis/meubels bekostig en ek nie – wat is jy dan beter as ek? Al beteken dit dat ek geld by die werk moet verduister of ons laaste paar rand by die casino gaan uitdobbel, ek sal wel die geld, en alles wat dit kan koop, kry!
- Ek kan nie verstaan nie waarom jy so ‘n aantreklike, oulike man het, terwyl ek met so ‘n ou valetjie opgeskeep moet sit... Dit, terwyl dit so maklik is om joune te steel. Ons sal gou sien wie die een is wat sal spog!
- Of: waarom beklee jou seun so ‘n toppos, terwyl myne maar sukkel om ‘n werkie te kry... En wanneer hy wel iets kry, sukkel hy om dit te behou? Of, waarom het jou dogter die volmaakte huwelik, terwyl myne pas haar tweede egskeiding agter die rug het? Dan doen ek maar wat so maklik en selfs natuurlik is: Ek begin stories versprei, al is dit nie heeltemal die waarheid nie. Dis so maklik om te laat val dat “ek gehoor het” jou seun in die hoë pos het maar ‘n dwalende oog, of dat “die mense sê” jou dogter se man het haar al ‘n paar keer goed ge-panel beat... en net so vinnig word ‘n hoogsbegaafde, talentvolle, kunstige seun sommer gou gay, of ‘n meisie met ‘n veeleisende beroep wat nie kans sien vir ‘n huwelik wat in elke geval nie die druk sal kan verduur nie, summier as skeef gebrandmerk. Al is daar geen grond vir my verdagmakery nie, en al word die betrokke persone onberekenbare skade berokken – ek voel darem soveel beter!
Dit is egter nie waar dit eindig nie.
- Iemand – of dit ‘n familielid of ‘n bekende is, maak nie saak nie – het my gevoelens seergemaak, en ek sien regtig nie kans om hom/haar te vergewe nie. Ek wéét ons moet vergeef soos ons vergewe is, maar hierdie is regtig ‘n ander saak... Ek het hoegenaamd geen skuld hieraan nie, en as die ander persoon nie om verskoning gaan vra nie – ek ook nie! Al is die bitterheid en skuldgevoel oor my onvergewensgesindheid besig om my hele menswees te vergiftig, ek gaan nie die eerste tree op die versoeningspad gee nie. Hoekom moet ek myself verneder?
- Ek doen maar net my werk na die beste van my vermoë, en dan voel ‘n kollega om die een of ander rede bedreig daardeur. Ek word bewus daarvan dat mense by die werk in klein groepies staan en fluister – die betrokke kollega is altyd by – en wanneer ek naderkom, bly hulle stil of gaan uitmekaar. Ek weet daar word kwaadgesteek, maar ek is tog aan die ontvangkant en heeltemal onskuldig; waarom moet ek die lug probeer suiwer?
Ek hoor Leon Ferreira se stem oor die radio sing:
Stop die wêreld, ek het seergekry –
en alles, álles draai om my....
Om die een of ander onverklaarbare rede bly dié woorde deur my kop maal. Is dit dan regtig só verkeerd om te wens die wêreld kan stilstaan wanneer jy seergekry het – is dit werklik onvergeeflik selfsugtig? Natuurlik nie, hoor ek die bekende stem in my kop – maar dan praat ons van séérkry, soos in afskeid of verlies. Nie sommer net kleinserigheid nie!...en ek besef die tyd het aangebreek om die eerste tree na versoening te gee. Dus het ek vanaand vir Magda geskakel sodat die lug tussen ons behoorlik gesuiwer kan word. Terwyl ek ná ons gesprek (wat my oneindig ligter laat voel het) besig is met die voorbereiding van ons aandete, hoor ek weer die só bekende stem saggies sê: Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word. (Matt. 5:9)
Onverwacht
24 April 2014
Nou is dit genoeg, Here!
Daar het hy (Elia) onder ‘n besembos gaan sit en gewens hy gaan dood. Hy het gesê:” Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is niks beter as my voorvaders nie.”
Toe hoor hy ‘n stem wat vir hom sê: “Wat maak jy hier, Elia?”
Hy het geantwoord: “Ek het my met hart en siel gewy aan u saak, Here, Almagtige God. Die Israeliete ....het u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek het oorgebly.......”1 Konings 19:4; 13,14.
Ek kan so goed met die ou profeet identifiseer! Vandag lees mens dat selfs ‘n Godsman soos Elia aan “depressie” gely het...Jammer, maar ek stem nie daarmee saam nie – mens hoef nie noodwendig ‘n depressielyer te wees om soms sommer net moedeloos te raak nie! Elia het pas ‘n wonderwerk beleef toe hy met sy eie oë kon sien hoe God sy gebede verhoor, maar die euforie het net geduur totdat hy van Isebel se dreigemente teen sy lewe gehoor het. Dit was genoeg om hom summier van sy bergtopervaring te laat vergeet: Isebel se dreigemente kon nie ligtelik opgeneem word nie – sy was dodelik ernstig!
Ek kan sy verwarring verstaan: Ek het my nog altyd met hart en siel aan u saak gewy, Here – wat meer is, U het nou onlangs nog aan die wêreld getoon dat U aan my kant is toe U vuur uit die hemel gestuur het om my offerhande ten aanskoue van die hele volk te verteer...Hoe is dit dan moontlik dat U kon toelaat dat ek tot op hierdie punt, hier onder die besembos, kom? Kon U nie maar net my paaie gelyk gemaak het nie – dit sou my taak soveel makliker gemaak het; om u wil aan my volksgenote – om van die hardkoppige koning Agab en die bose Isebel nie eens te praat nie – bekend te maak, sou vir ‘n ou man soos ek soveel makliker gewees het!
Dan kyk ek weer na my eie posisie en ek sug saam met die ou Godsman (nie dat ek ooit, solank ek leef, myself aan Elia gelyk wil stel nie!): “Ag Here, ek is so verskriklik moeg! Of dit geestelik of liggaamlik, of ‘n kombinasie van die twee is, weet ek nie...Ek weet net ek is totaal kragteloos en die geringste hobbeltjie in my pad (soos ‘n hemelhoë apteekrekening) laat my figuurlik op ‘n hopie sit; uitsigloos, moedeloos, MOEG!!! Ek bevestig weer eens my belofte aan die Here dat ek my met hart en siel aan sy werk sal wy, sonder om te kla of murmureer – want dan maak mens so maklik van jouself ‘n martelaar....maar hier diep in my hart het ek tog maar die verwagting van ‘n gelyk pad voor my uit gekoester. Vir die Here is niks tog onmoontlik nie?! – so al asof ek voorkeurbehandeling van my Meester verwag. Dan besef ek met ‘n skok dat wat vir een van God se kinders geld, ook op al die ander van toepassing is want Hy het nooit êrens belowe dat ons net op gelyk paaie sou loop nie – ons eerder aangemoedig om ons kruis op te neem en Hom te volg. Hy stap vooruit om ons die pad te wys en ons te ondersteun wanneer dit half onbegaanbaar word; ons selfs op te tel en te dra wanneer ons kragte regtig ingee, maar nooit verwyder hy al die struikelblokke nie. In sy groot wysheid weet Hy dat daardie probleme en struikelblokke nodig is om ons karakter te vorm; om ons geloof in Hom te laat groei tot op ‘n punt waar mens nie meer teëstribbel nie, maar al die moeilikhede net aan Hom oor te gee in die vaste vertroue dat Hy sal voorsien en sorg.
Ek dink daaraan dat Elia kort ná sy besembos-ervaring met die Here se wa en perde van vuur kom haal is: slegs die tweede mens in die geskiedenis wat nie gesterf het nie, maar lewendig na die hemelse heerlikheid weggeneem is. “Voorkeurbehandeling”, dus? ‘n Mens kan moontlik so sê, maar ons Here weet wie Hy kan en wil begenadig – en dit is goed so. Ek hoef maar net my ou kruisie met ander mense rondom my op die lewenspad se massiewe kruise te vergelyk, en ek besef dat ek voortaan liewer maar nie meer moet kla nie – ek het regtig nie rede daartoe nie.. Veel eerder sal ek my gedagtes voortdurend op Hom gerig hou, al die klein genadetjies langs die pas raaksien en Hom daarvoor loof en dank!
Psalm 73:21-28
Toe ek ek verbitter was
en veronreg gevoel het,
was ek dom en sonder insig;
soos ‘n redelose dier
het ek my teenoor U gedra.
Tog was ek nog altyd by U,
want U vat my aan die hand.
U lei my met u raad
en aan die einde sal U my
in ere by U opneem.
Daar is niks in die hemel
of op die aarde
wat vir my meer beteken as U nie.
Al is ek afgetakel na liggaam en gees,
God is my sterkte;
aan Hom behoort ek vir altyd.
Dié wat ver van U af is, gaan verlore,
U vernietig dié wat aan U ontrou is.
Maar wat my aangaan,
dit is vir my goed
om naby God te wees.
Ek het die Here my God gekies
as my toevlug!
Ek sal van al u werke bly vertel.
Ellisras
14 Desember 2008.
Totsiens....en vaarwel
Daar is vele groetwyses : van dié van die tweejarige Corli’tjie wat by die hek van ons afskeid neem met ‘n koninklike wuif, gevolg deur die blaas van ‘n klapsoen, Miera wat van die deur af roep “Hier’s my lift – baai-jaai!!” tot Günther wat my laataand ‘n enkele slurp deur die gesig gee asof hy wil sê “Lekker slaap, Ounooi, jy weet mos ek sal jou oppas!” waarna hy hom by my voete opkrul.
Die woordjie “Totsiens” impliseer “tot weersiens”, met ander woorde daar bestaan vir die betrokke partye die waarskynlikheid van ‘n herontmoeting. In teenstelling hiermee is die boodskap van “Vaarwel” dié van ‘n finale afskeid, om watter rede ookal. Dit is ál asof ons die afgelope tyd telkemale – meer as gewoonlik – deur dié finale groet gekonfronteer is; dié een wat net onnoembare hartseer meebring.
Daar was Jaap: Toe ek die middag by hom en Annatjie inloer (sy nog nie op die been nie – of is dit nou voet?! – ná ‘n voetoperasie kort tevore) met ‘n sakkie peuselgoed vir die twee kranklikes, het ek vir seker nie besef dat ek hom nie weer sou sien nie. Aartsoptimis wat ek is, het ek geglo dat hy, sodra al die toetse in Pretoria afgehandel is, sou terugkeer huistoe en daarmee saam na die lewe soos ons dit ken. Hy, At en Joop het mekaar tog immers voortdurend verseker dat hulle beslis nie aanstaande jaar, ná At se aftrede, “die Susters” se slawe (of liewer, “koekbroers”, sou word nie!)
Het ek maar geweet dat dit wèl die middag “vaarwel” was, sou ek meer vir hom – en vir Annatjie ook – gesê het en nie, soos gewoonlik, soos ‘n warrelwind haastig in en feitlik dadelik weer uit, gestorm het nie.
In teenstelling hiermee, het ek op daardie Saterdagoggend aan die einde van September 1985 in Huis Herfsblaar se verswakte afdeling intuïtief geweet dat ek my geliefde Moekie nie weer hier, op aarde, sou sien nie. Dit is dan ook die prentjie wat in my geheue vasgebrand is: ek wat aan die onderpunt van die gang omdraai om vir oulaas vir haar te wuif na waar sy aan die bopunt van die gang staan, met ‘n sagte glimlag om haar mond en haar een hand in ‘n laaste groet gelig....Waarom het ek nie omgedraai en haar styf vasgehou, vir haar gevra of sy “reg” is vir die onbekende pad wat op haar wag nie? Eerstens was dit drie en twintig jaar gelede en ek het beslis nie die lewenservaring van vandag gehad nie. Die dood was toe nog ‘n onnoembare verskrikking – vermy die onderwerp, dan hoef mens nie daaraan te dink nie. Tweedens het ek en sy dikwels sonder woorde gekommunikeer en besef ek nou eers, waar my eie twee meisiekinders volwasse is, dat dít presies is wat daardie onsigbare band (naelstring?) wat ma en kind vir ewig verbind. Ek weet nie of sy so ‘n laaste gesprek wou hê nie – dit sou sekerlik uiters emosioneel gewees het, en sy het haar lewe lank alles in haar vermoë gedoen om my hartseer te spaar. Onselfsugtig, opofferend; volkome MA. Haar behoefte of begeerte was ondergeskik aan myne... (Dankie, Here, dat U háár uitgesoek het om mý Moekie te wees, dat ek by haar kon leer wat ‘n ware ma se eienskappe behoort te wees – ek kon vir geen beter voorbeeld gevra het nie!)
Ek het dus omgedraai en aangestap na waar my man en kinders reeds op my gewag het sodat ons kon voortgaan op ons reis na my skoonouers toe by wie ons die res van die naweek sou deurbring...maar ook terselfdertyd voortgaan op my lewensreis – sonder die een mens wat ek altyd geglo het ek dit nie sou kon maak nie.
In ‘n mate glo ek dat dit is hoe ek dieselfde situasie sal hanteer indien die rolle omgedraai word en die rolspelers ek, Sussa en/of Miera is. Vermy asseblief tog net onderwerpe wat hulle kan ontstel!
Ek weet nie hoe die laaste groet tussen Mari Nel en haar ma, Marie, verloop het nie daar waar die familie in die lughawe se vertreksaal van George, Mari, Heinie en Bianca afskeid geneem het net voor die vier na hul nuwe tuiste in Kanada vertrek het.
Wat ek egter duidelik onthou is dat George en Mari my die vorige dag kom groet het en ek vir hulle kon sê dat ek nie weet of dit vir ons vaarwel was nie – dit weet ons Here alleen. Hy, wat alles weet, is egter die Een wat hulle styf in sy hand toevou en bewaar.. Dié wete is meer as genoeg vir my!
Só weet ek nie hoeveel keer se “totsiens” en ook “vaarwel” nog vir my op aarde voorlê nie....tot op daardie dag wat ook ék my mense vir die laaste maal sal groet. Dankie, Here, vir die wonderlike, vertroostende wete dat dit vir ons net “totsiens” sal wees omdat ons mekaar spoedig weer sal sien: In u Paradys, in u heilige Teenwoordigheid!
30 September 2008.
Saam
Ek sit vanoggend en staar na ons troufoto op die hoektafeltjie, soos ek soveel male tevore gedoen het (mens kyk mos dikwels na ‘n vertroude voorwerp sonder om dit regtig raak te sien), en vir die eerste keer kýk ek na die twee jong mense wat glimlaggend in mekaar se oë kyk: Die een amper twintig en die ander een oppad na die “rype” ouderdom van drie-en-twintig jaar toe. Twee blote kinders nog, maar met die toekoms wat vir hulle wink en geen vrese daarvoor nie...
Dit was op 1 Maart 1969, en op daardie stadium het daar alreeds bykans ses jaar verloop sedert ons mekaar in September 1963 ontmoet het. Van dié ses jaar was ons wel vier-en-‘n-half jaar ge-“kys”, (en vier maande amptelik verloof) maar ons het mekaar bitter selde gesien: Tot in 1966 was At in die koshuis, daarna vir ‘n jaar weermag toe en direk daarna het hy in Phalaborwa gaan werk. Ek is eers aan die einde van Desember 1968 ook soontoe nadat ek werk daar in die bank gekry, en ons albei by Bossie en Susan gaan loseer het. (Hy was toe al vir die voorafgaande jaar ‘n loseerder by hulle).
Dus, op daardie Saterdaglaatmiddag in 1969, het twee jong mense die toekoms saam aangedurf sonder dat hulle mekaar regtig geken het – maar die liefde oorwin mos alles!
Amor omnia vincit...
Vandag kyk ek terug op die 44 jaar en ‘n bietjie meer as drie maande wat intussen verloop het, en ek wonder wat van daardie twee jong mense geword het. Het ons werklik die Groot Plan vir ons lewens gevolg en suksesvol voltooi, of het ons maar net van dag-tot-dag na die beste van ons vermoë bestaan? Waar het ons mekaar dan verloor? Was dit as gevolg van hardkoppigheid – ‘n onwilligheid om toe te gee en die ander te akkommodeer – aan albei se kant, dat ons ons lewens vandag so half apart, weg van mekaar leef? Onder een dak, maar tog nie sáám nie?
As ek regtig eerlik met myself moet wees, sal ek erken dat ek dalk meer tyd saam met hom voor die TV kan spandeer terwyl ons sý programme kyk: sport (veral rugby, krieket en gholf – maar regtig, om alles net so te los en die eerste en die laaste te kyk...! ) en die natuur (dis vir my ook mooi, maar ek wil asseblief tog nie sien hoe klein leeuwelpies deur ‘n vyandige mannetjie doodgemaak, of hoe wild gedurende droogtetye van dors omkom nie. Laat dit nou die werklikheid wees as dit wil; ek wil dit nie aanskou nie!)
Aan die ander kant sal hy nooit saam met my na ‘n fliek op TV kyk nie – sê hy hou nie van “storietjies” nie, net die werklikheid.. Gevolglik sit-lê hy op die bed in ons slaapkamer voor sy skerm, en ek sit op “my” stoel in die sitkamer – elkeen verlore in sy/haar eie klein wêreldjie.
Ek het destyds al geweet dat ons belangstellings totaal uiteenlopend is, maar dit het tog nie soveel saak gemaak nie. Daar was ander gevegte wat geveg moes word: Eerstens om finansieel te oorleef, elkeen se eie werksituasie wat sy eie stres meegebring het, die gespook om die kinders groot, geleerd en onafhanklik te kry, noem dit maar op: Ons was ‘n gesin van vier wat onder een dak saamgegooi is en mekaar gedurende die proses van opgroei, groot- en oudword moes slyp sonder om nog jou kop te breek oor belangstellings wat hemelsbreed verskil.
Dis regtig eers sedert hy afgetree het dat dit so opvallend geword het, want nou is ons elke uur van die dag bymekaar – maar ook nie. Dan begin ek wonder of dit regtig so sleg is: Ons is tog as twee individue geskape en bymekaar gevoeg om mekaar aan te vul en te ondersteun in die dinge waaroor die lewe regtig gaan, nie waar nie? Hoe dikwels het ek nie al in die verlede uitgevaar oor die vroutjies wat net eenvoudig niks sonder haar man kan of wil doen nie – sy kan nie eens eie besluite neem sonder sy hulp en raad nie. Dis hulle wat, sou die man eerste wegval, heeltemal hulpeloos ronddobber totdat daar asseblief tog net weer ‘n ander een opdaag om haar te help leef...
Dis nie hoe ek is nie, en beslis ook nie hoe ons twee meisiekinders grootgemaak is nie!
Die Skepper het vir ons elkeen ‘n eie lewe gegee om reg en volgens sý wil te leef: Almal verskillend, elkeen met eie belangstellings en talente – so verskillend dat nie eens ‘n identiese tweeling presies identies is nie. In die volmaakte skepping is daar nie klone nie! Laat ons dus ons andersheid omarm en dit wat ons van ander onderskei, sien as ‘n gawe van Bo wat aan ons toevertrou is om tot die uitbreiding van die Koninkryk aan te wend.
18 Junie 2013.
Wenke vir 'n sinvoller lewe
Dr Randy Pausch publiseer in 2007 die blitsverkoper “The last lecture” waarvan die onderstaande ‘n kort uittreksel is. Hy sterf in 2008 aan kanker van die pankreas, maar sy boek bly ‘n nalatenskap vir die generasies wat nog kom.
Persoonlikheid:
1. Moenie jou lewe met ander s’n vergelyk nie: Jy het nie ‘n idee wat húl lewensreis behels nie.
2. Moenie negatiewe gedagtes koester oor dinge wat jy nie kan beheer nie. Belê veel eerder jou energie in die positiewe nóú.
3. Moenie te veel probeer vermag nie; jy het jou beperkinge.
4. Moet jouself tog nie so ernstig opneem nie; niemand anders doen dit nie.
5. Moenie jou kosbare energie op skinder vermors nie.
6. Droom meer dikwels terwyl jy wakker is.
7. Jaloesie is ‘n vermorsing van tyd. Jy het reeds alles wat jy nodig het.
8. Vergeet die dinge van die verlede. Moenie jou lewensmaat herinner aan sy/haar foute van die verlede nie. Dit sal jou vreugde nóú verwoes.
9. Die lewe is te kort om op haat te vermors.
10. Maak vrede met jou verlede sodat dit nie die hede bederf nie.
11. Jy alleen bepaal jou vreugde, niemand anders nie.
12. Besef dat die lewe ‘n leerskool is en jy hier is om te leer. Probleme is bloot deel van die leerplan en dit vervaag net soos die algebra waarmee jy gespook het. Die lesse wat jy leer, sal jou egter lewenslank bybly.
13. Glimlag en lag meer.
14. Jy hoef nie elke argument te wen nie. Stem saam dat julle maar mag verskil.
Die gemeenskap:
15. Jou werk sal nie na jou omsien wanneer jy siek is nie; jou familie en vriende wel.
16. Bly in kontak met jou familie.
17. Dra elke dag iets goed aan ander oor.
18. Vergewe almal vir alles.
19. Bring meer tyd deur met persone ouer as 70 en jonger as 6.
20. Probeer om ten minste drie mense elke dag te laat glimlag.
21. Wat ander mense van jou dink, het niks met jou te doen nie.
Die lewe:
22. Plaas God eerste in alles wat jy dink, sê en doen.
23. God maak alles heel.
24. Doen altyd die regte ding.
25. Hoe goed of sleg ‘n situasie ookal mag wees, dit sal verander.
26. Dit maak nie saak hoe jy voel nie, kry jouself regop en gaan aan!
27. Die beste lê nog voor.
28. Raak ontslae van alles wat nie bruikbaar of mooi is, of jou vreugde verskaf nie.
29. Wanneer jy soggens in hierdie lewe wakker word, dank God daarvoor.
30. As jy God ken, sal jy altyd gelukkig wees. Dus, wees altyd gelukkig!
Terwyl jy die bostaande uitleef, deel dit met jou geliefdes, mense saam met wie jy werk, skoolgaan, speel – met ander woorde, die mense saam met wie jy leef. Dit sal nie net jou lewe verryk nie, maar ook dié van almal om jou.
die jongste!?
wel,wat kan ek se??!Hou so aan my "lady".so baie goud in daardie kop, moet nie ophou nie