Renate

Vir baie jare kon ek nooit my drome onthou nie. Ek het die volgende oggend die vae herinnering gehad van mense en/of gebeure, maar dis ook al. Die afgelope tyd, egter, onthou ek werklik die gesigte van geliefdes en die situasies waarin ons verkeer het.

      Om ‘n storie van begin tot einde te droom was my nog nooit beskore nie; dit was my sus Cato se ervaring toe sy die verhaal van ‘n klein seuntjie volledig gedroom, en sy dit in haar eerste boek vertel het. Daarna was dit my jongste, Eldaleen, se beurt met “Twee reisigers” en toe, verlede Dinsdag, word ek die oggend wakker met die duidelike herinnering aan ‘n volledige storie en ek het dadelik voor die rekenaar kom sit en dit geskryf. Dis gevolglik nie MY verhaal nie – ek het dit net weergegee. Ek het weliswaar aan die karakters name gegee en hier en daar iets bygelas, meer net om groter duidelikheid te gee; maar die res is werklik ‘n geskenk van Bo, en daarvoor al my dank! Hier volg dit, genoem na die hoofkarakter:

 

                                                         Renate 

 

Renate Malan rek haar effens uit, kyk na die digitale horlosie op die skermpie by haar sitplek en sug. Dit bly darem maar ‘n lang vlug, al is haar sitplek in besigheidsklas tans in ‘n gemaklike bed verander. Sy glimlag wanneer sy aan al haar jare van vlieg dink, veral die baie vlugte vroeër in ekonomieseklas. Die peperduur oorfone wat sy aangeskaf het om al die geluide uit te doof: huilende kinders, passasiers wat maar net nie sag kan praat nie, die ou omie langs haar wat opsluit sy storie vir die hoeveelste keer wil oorvertel. Haar glimlag verdwyn summier wanneer sy onthou van die ongeskikte mede-passasier voor haar wat gereeld, wanneer die kajuit se ligte gedoof word, sy sitplek agtertoe skuif sodat sy geen beenruimte het nie. Die een op wie al haar nie-so-subtiele pompe met die knie in die rugkant van sy sitplek net nie ‘n uitwerking gehad het nie, behalwe dalk om hom net harder te laat snork...

Sy kon van daardie dae af al opsluit nie op ‘n vliegtuig slaap nie. ‘n Slaappil laat haar gewoonlik nog moeër en glad nie uitgerus nie wakker word, met die gevolg dat sy verkies om wakker te bly. Sy wil nie lees of fliek nie, maar liewer hierdie paar uur, wanneer al die ander passasiers heerlik in droomland is, gebruik om te dink en veral te onthou. So ‘n spesiale bonus: ek-tyd, noem sy dit altyd.

Vannag loop haar gedagtes dan ook op ver paaie. Môre is dit haar boek se amptelike bekendstelling; haar lewensverhaal tot dusver met foto’s waarvan sommige nog nooit gepubliseer is nie. Familiefoto’s asook dié uit haar roemryke loopbaan op die operaverhoë, en in onlangse tye selfs ‘n film of twee. Sy het geen geraamtes in die kas nie – daarvoor was sy van die heel begin af heeltemal eerlik. Sy het Eben, en hoe hy deel van haar bestaan geword het, nooit weggesteek of probeer omseil nie al kon soveel mense dit nie begryp nie. Veral nie hoe sy steeds aan God die eer vir alles in haar lewe gee nie. Op die siniese vraag van ‘n vreemdeling, “And where was your God while it all happened?” kon sy met oortuiging antwoord dat Hy net daar, by haar was. Hy was al die tyd in beheer, want net Hy ken die toekoms!

Sy is die jongste van twee kinders, met haar ouboet Francois ses jaar ouer as sy. Hulle het in ‘n liefdevolle ouerhuis opgegroei – ‘n huis waar daar altyd musiek gehoor is. Albei hul ouers was baie musikaal en kon tussen hulle twee ‘n hele paar musiekinstrumente bespeel. Albei het onderrig gegee: Pappa in klavier en orrel en Mamma in sang. Haar ma was geseën met ‘n pragtige stem en sy sou dit werklik ver kon bring as sy net die geleentheid gehad het. Vir haar was haar studente, asook dié van haar eie twee kinders, se prestasies op musiekgebied egter genoeg. Francois en Renate het vroeg in hul lewens aan kunswedstryde en sangkompetisies deelgeneem met die gevolg dat optredes voor ‘n gehoor lateraan geen probleem meer was nie. Francois het egter op hoërskool al gesê dat hy geen aspirasies het om ‘n uitvoerende kunstenaar te word nie: vir hom was daar net een roeping, dié van predikant. Hy was altyd die stil, ernstige seuntjie wat op vyfjarige ouderdom reeds vir hul pa gevra het om hom meer van die Heilige Gees te vertel. Renate, aan die anderkant, was van kleins af ‘n ekstrovert; lief vir mense maar veral lief vir sing – wat sy dan ook altyd gedoen het, al was dit net om te neurie. By haar was daar geen twyfel nie dat sy sou sing – wat en waar ookal!

Dan bekruip die herinnering aan dáárdie aand, nou al ‘n kwarteeu gelede, haar soos die monster wat dit nog steeds is, ten spyte van jare se berading...

Francois en sy beste vriend Andy, ook ‘n predikant, het ‘n uitreik van jongmense na Eersterus gereël en al was sy kliphard besig met haar matriekeindeksamen, was daar geen sprake dat sy sou tuisbly nie. Boeta kon mos onmoontlik nie die samesang alleen behartig nie! Ná die gebruiklike boodskappe deur Francois en Andy, afgewissel deur inspirerende sang deur al die aanwesiges in die kerksaal, het hulle die jongmense in groepe verdeel vir verdere besprekings onder leiding van die twee jong dominees en hul helpers.

Renate het solank die kabels van die musiekinstrumente wat nie later weer gebruik sou word nie, ontkoppel en wou dit net begin oprol, toe sy ‘n beweging agter die verhoog se gordyn sien. Dit was vreemd, omdat almal reeds in die onderskeie klaskamers op die terrein bymekaar was. Sy het gevra “Wie is daar?” maar geen antwoord gekry nie, net weer die gordyn wat beweeg. Sy het nader gegaan en die volgende oomblik het ‘n sterk arm haar van agter om haar lyf beetgekry en ‘n onwelriekende hand het haar mond toegedruk. “Make a sound and you’ll never sing again, bitch!” Die arm wat om haar lyf was, het skiet gegee en die volgende oomblik het sy die reuk van die suur in ‘n bottel in sy hand gekry. Hy gaan suur in my gesig en keel af gooi! was die angsgedagte wat by haar posgevat het en toe ervaar hoe sy teen die vloer vasgepen word. Wat daarna gebeur het, is tot vandag toe vaag en onwerklik – al wat sy duidelik kan onthou, was dat sy oor-en-oor in haar gedagtes na Jesus geroep het. Ná wat soos ‘n ewigheid gevoel het maar in werklikheid slegs minute geduur het, het sy bewus geword dat die gewig nie langer op haar gedruk het nie. Sy het orent probeer kom, maar dit was net te pynlik en sy het na die deur toe gekruip. Daar het sy haarself met behulp van die handvatsel opgetrek, na buite gestrompel en net “Boeta! Boeta!” geroep voor sy inmekaar gesak het. Sy het gevoel hoe hy haar in sy arms optel en met haar na sy motor hardloop terwyl hy by haar oor bly fluister “My ou sussietjie, hoekom het ek jou tog saamgebring?!” en toe het die donker haar oorval.

Sy het bewus geword van die reuk van haar ma se parfuum, en toe haar trane wat op haar gesig drup. Renate het haar oë stadig  oopgemaak om haar pa en Boeta weerskante van haar bed te sien, albei met trane wat oor hul wange stroom. Mamma het langs haar op die hospitaalbed gelê, haar  arms styf om haar kind geslaan en net oor-en-oor “My ou dogtertjie!” gesnik. Die gebeure wat daarop gevolg het: polisieverklarings, verslaggewers, vriende wat blomme bring totdat haar kamer soos ‘n blomtuin gelyk het, bekendes en vreemdelinge wat vir haar kom bid het, is alles deel van ‘n onwerklike droom. Sy het besluit om haar laaste vraestelle te gaan skryf – haar voorbereiding was goed genoeg om te slaag, en dan die een of twee wat oorbly in Februarie van die volgende jaar af te handel. Deur dit alles was sy uiters bewus van ‘n stille krag wat van haar besit geneem het en sy het net geweet dat dit van God af kom – alles is deel van sy Groot Plan!

Dit was dan ook die rede waarom, toe sy die bevestiging kry dat sy wel swanger is, haar pa se voorstel dat hulle ‘n aborsie in die buiteland – waar dit destyds gewettig was – kan laat doen, geweier het. Sy het net geweet dat die Here ‘n doel met hierdie lewetjie het wat besig was om in haar te groei! Deur dit alles heen het sy onbeskryflike hulp en ondersteuning van haar familie en vriende, in die besonder Mindie wat al van laerskooldae af haar beste vriendin was, ontvang.

Sy het haar ontbrekende matriekvraestelle afgehandel en by Unisa ingeskryf vir ‘n B.Mus-graad. In die lente van daardie jaar is haar bondeltjie vreugde, Eben, gebore. Van sy onbekende pa het hy net ‘n effens donkerder velkleur gekry, maar verder was hy suiwer Malan. Foto’s van hom as baba en dié van Francois op dieselfde ouderdom, kon net sowel van dieselfde mensie gewees het.

 Aan die einde van haar graadstudie het sy ‘n internasionale sangkompetisie gewen en as deel van haar prys, verdere studie in Duitsland. Sy het klein Eben saamgeneem wanneer sy kon, maar gedurende  die lang ure van oefen en repeteer wat vir ‘n kleinding net te veel sou wees, het sy ‘n ware steunpilaar in Mindie gevind. Mindie, haar boesemvriendin deur al die jare, wat besluit het om haar in die vreemde te gaan help. “Ek kan my prentjies mos enige plek op aarde verf, nie net in Suid-Afrika nie!” was haar antwoord wanneer iemand vra wat dan van háár drome gaan word.

Namate haar seuntjie groter geword het, het sy al meer bewus geword dat hy net ‘n spesiale mensie is. Met sy groot, ernstige ogies het hy alles as ‘n nuwe, groot avontuur beskou. Hy was nooit ‘n lastige of lawaaierige kleuter nie. Sy speelgoed het hom groot vreugde gegee, maar sy prenteboekies – veral die met Bybelstories – nog veel meer. Hy het gou die verskillende karakters leer ken, maar die eerste een waarop hy ‘n wysvingertjie gedruk en toe kordaat die naam uitgeroep het, was “Jesus!”

Hy was in ‘n internasionale skool tot aan die einde van sy laerskoolloopbaan en toe het hy en Renate saam besluit dat hy sy hoërskoolopleiding in Suid-Afrika sou voltooi. Dit was vir haar bitter moeilik om hom te laat gaan, want hulle was baie erg oor mekaar. Gelukkig het Mindie gesê sy “kan die kind nooit alleen laat gaan nie!” en sy het ook teruggekeer. Eben sou kosskool toe gaan, met Mindie se meenthuis net ‘n klipgooi weg en Francois se gemeente, met die pastorie waar hy stoksielalleen gewoon het, in die aangrensende voorstad. Renate se bejaarde ouers se tuiste was in ‘n aftreeoord nie ver weg nie, met die gevolg dat die jongeling genoeg kuierplekke tydens langnaweke en kort skoolvakansies gehad het. Langer vakansies het hy by sy ma aangesluit waar sy ookal  in die wêreld opgetree het – en Eben was ongetwyfeld haar grootste bewonderaar!

Hy was nog in die laerskool toe hy op ‘n dag vir sy ma gevra het wie en waar sy pa dan is. Sy het rustig by hom gaan sit en geantwoord dat sy nie weet wat sy pa se naam is of waar hy woon nie. Sy weet net hy het gedink hy gaan haar seer maak, toe help Jesus haar en Hy gee haar dierbaarste klein Eben vir haar as ‘n geskenk, reg uit sy hand! Dit het hom tevrede gestel en hy het nie weer vrae gevra nie. Heelwat later het sy hom die hele waarheid vertel, want sy het geweet iemand sou êrens in die toekoms iets sê wat hom moontlik kon ontstel. Hy was groot genoeg om te weet wat “aborsie” beteken en sy het niks weggesteek nie; hom vertel dat sy besluit het om hom te behou omdat sy net geweet het dat Jesus ‘n baie spesiale werk vir hom op aarde gaan hê. Dit het hom laat glimlag en hy het geantwoord: “Iemand wat nie moes wees nie, gaan vir Jesus regtig iemand wees!” en sy kon haar net verwonder aan sy jeugdige wysheid.

Nadat sy stem gebreek het, het sy bewus geword dat haar kind regtig ‘n spesiale sangtalent het. Sy het een vakansie met hom oor ‘n moontlike sangloopbaan gesels, maar hy het net geglimlag. “Nee, ou Moedertjie, een van ons op ‘n konsertverhoog is genoeg! Ek beplan iets amper dieselfde, maar ook nie. Ek’t klaar met oom Francois gepraat oor moontlikhede. Ek wil graag die Woord verkondig sonder om ‘n geordende predikant te wees...” en daarop het hy sy kitaar, waarop hy gedurig tokkel, gaan haal. Sy het al gesien dat hy komponeer, maar het besef dat hy vir haar sal speel sodra hy daarvoor gereed is – en dit was nou! Met sy pragtige baritonstem het hy die een na die ander van sy eie komposisies vir haar voorgedra: gospelliedjies in Afrikaans en Engels met die aangrypendste lirieke van lof en aanbidding. Woorde wat vertel van God se liefde en versorging vir elke mens, maar in die besonder vir hom, Eben, wat Jesus bo alles in die lewe liefhet. Elke liedjie se eenvoudige, dog treffende melodie het perfek by die lirieke gepas, dit was maklik singbaar en sou onthou word – gebring in daardie gevoelvolle, suiwere stem.

Eben het vooroorgeboë en met toe oë sy liedjies vir sy ma gesing en nie opgemerk hoe sy onbedaarlik huil nie. Toe hy uiteindelik sy oë oopmaak en afwagtend na haar opkyk, het hy verward sy kitaar eenkant neergesit, na haar toe gestorm en haar in sy sterk, jong arms toegevou. “My ou Moedertjie, wat nou?!” Sy het hom betraand aangekyk en toe sy haar stem kon vertrou, gesê “Uiteindelik weet ek!” en ma en seun het al hul seer, vreugde en dankbaarheid op mekaar se skouers uitgesnik...

Renate skrik toe die kajuitligte aangeskakel word. Kan ons regtig al tot hier gevorder het? wonder sy. Nooit anders nie – sy het darem ver in die verlede gaan delf! Ná môre se boekbekendstelling wag aandete in Francois en Mindie se pastorie. Ja, hulle het mekaar ook uiteindelik gevind! Hulle ken mekaar mos al die jare, maar dit was eers nadat Mindie vir die gemeente ‘n opdragwerk geskilder het, dat hulle mekaar regtig leer waardeer het. Haar ouers en Eben-hulle sal ook daar wees. Haar oë versag wanneer sy aan haar kind se sangmaat dink: die klein, petite Angie met die engelstem wat Eben se hart so ongemerk gesteel, en sy lewe elke dag so vól maak... Die dag daarna volg die Suid-Afrika-been van Eben en sy groep se sang- en aanbiddingsveldtog. Sy probeer elkeen van dié geleenthede bywoon sover haar druk program dit toelaat. Hulle is uiters gewild regoor die wêreld en sy kom telkens onder die indruk hoe geseënd elke byeenkoms is. Elke keer vertel hy sy geskiedenis aan die gehoor, sonder om daarvan weg te skram dat hy die produk van ‘n verkragting is en eintlik nie daar moes gewees het nie – dis in elk geval hoe die meeste mense daaroor voel – maar God het geweet hoe om die negatief in ‘n absolute positief te verander!  Sy sit gewoonlik in die voorste ry, en dan nooi hy haar na die verhoog toe. Sodra sy by hulle aangesluit het, gee hy vir haar ‘n mikrofoon in die hand en dan val hulle, die groep en die hele gehoor spontaan weg met “Hoe groot is U!” en sy hoor hoe haar sterk stem hoog bo dié van die duisende teenwoordiges uitstyg in haar eie lofsang aan die Koning van die konings...                                     

Bloemfontein

2 Julie 2019

 


Twee reisigers

 Net soos haar ma se suster droom my jongste, Eldaleen, ook stories: ‘n hele verhaal van begin tot die einde. Die enigste verskil is dat, anders as haar tant Cato, Kleinsus dit nie neerskryf nie, wat nog van dit in boekvorm verwerk – dis net hopeloos te veel moeite! Nadat sy egter haar nuutste droom vanoggend vir my vertel het, het ek besluit dat dit net te goed is om verlore te laat gaan. Dus, met haar toestemming, volg Miera se droom nou en ons noem dit

                                                             Twee reisigers

 

Dis ‘n bitter koue nag in die laatwinter. Die bietjie lig wat die sekelmaan verskaf word verder kort-kort verdonker deur vlieswolkies, aangedryf deur ‘n skraal windjie. Die eensame, stil figuur langs ‘n vuurtjie waarop ‘n koffieketel staan en prut, ril effens van die koue en trek sy jas stywer teen hom vas. Dis amper so koud soos in my binneste, dink hy. Sy gekniehalterde perd staan rustig ‘n entjie verder en wei aan sy sakkie hawer.

Die man is moeg; eintlik lewensmoeg. Dit was ‘n lang pad tot hier, waar die omgewing begin bekend word. Hy wil nie weer dink aan die lang, uitmergelende agttien maande wat verby is nie. Veral wil hy nie dink aan die bloedvergieting nie! Dit is erg genoeg dat hy gereeld snags wakker skrik met die klank van geweerskote, angsgille van vroue, gemeng met die huil en gekerm van kinders en babas duidelik in sy ore. Hy weet sonder enige twyfel dat dié ontstellende geluide, saam met die nagmerriebeelde wat dit vergesel, hom die res van sy lewe sal agtervolg.

Hy kyk op wanneer sy perd runnik, druk sy hoed effens hoër teen sy voorkop op ten einde beter te kan sien en gewaar dan die eensame perderuiter wat sy uitspanplek op ‘n rustige stappie nader. Hy staan op en reik werktuiglik na die rewolwer aan sy sy. Die ruiter lig sy hand in ‘n vredesgebaar en sê-vra dan: “Goeienaand, Meneer. Sal jy omgee om jou hitte met ‘n vreemdeling te deel? Dis ongewoon koud vanaand en om nou nog eers vuurmaakhoutjies te soek...”

Die man word getref deur die man se stem: rustig, maar tog ook moeg. Hy klink soos ek voel, dink hy. Wie weet hoe ver hy nou al kom? Buitendien sal ‘n bietjie geselskap welkom wees; help om my vir ‘n rukkie van my nagmerries te laat vergeet... “Natuurlik is jy welkom, Vriend! Ek kan jou ongelukkig nie iets te ete aanbied nie, maar hier is oorgenoeg heerlike warm koffie,” antwoord hy.

       “Ek en my perd het regtig niks meer nodig as net ‘n bietjie rus nie, maar jou koffie klink baie welkom!” is die vreemdeling se reaksie terwyl hy van sy perd se rug afgly. Terwyl hy sy perd versorg, hou die man hom onderlangs dop. Soos hyself, dra die vreemdeling ‘n lang wintersjas en stewels en soos hy, is sy hoed laag oor sy oë getrek teen die koue wind. Hy is van gemiddelde lengte, nie uitermate skraal nie maar ook nie fris gebou nie. Seker maar soos ekself en die meeste ander mans in hierdie verpestelike oorlog, dink hy. Die van ons wat nog oor is, lyk almal soos wandelende geeste.

 

Wanneer hulle albei met ‘n beker warm, swart koffie tussen die hande sit, vra hy: “Vanwaar is jy, Vriend? Waar is jou tuiste?”

     Dit lyk of die vreemdeling eers dink voor hy antwoord: “Ek is maar van oraloor, Meneer. . Ek het baie gesien en beleef; baie hartseer, ellende en verwoesting. Ek reis nou al lank so van land na land en dorp na dorp en vir my was daar nog nooit die luukse van my op een plek vestig nie. Ek dink in hierdie tyd is daar al hoe meer sulke mense – en jy?”

“Bedoel jy waar woon ek, of dink ek dat daar deesdae meer swerwers is?” antwoord die man.

“Nee, die swerwer-vraag. Kry jy nie ook die indruk dat mense nie meer sekerheid in hul lewens het nie?”

“Sekerheid?” die man grynslag by homself. “Sekerheid in ‘n land soos hierdie, wat flenters is na ‘n burgeroorlog van agttien maande? Watter sekerheid kan daar vir enigiemand wees behalwe dat die dood vir jou om elke hoek en draai loer? Selfs die Engelse spreekwoord dat daar net twee sekerhede in die lewe is, naamlik “death and taxes” geld ook nie eers meer hier nie. Waarmee gaan die mense hul “taxes” betaal? Ek het niks oor nie, dus lyk dit vir my asof die dood vir my die enigste oorblywende sekerheid is!” Hy wend geen poging aan om die bitterheid uit sy stem te hou nie.

 

Die wind het skielik sterker en kouer begin waai, en hy moet sy ore spits om sy besoeker se antwoord te hoor. “Ja, jy weet seker dat die dood nog altyd die laaste sê gehad het – dis totdat Jesus Christus hom finaal oorwin het...” Die man kreun innerlik. Ag, asseblief tog net nie ‘n predikant nie! Dis regtig die laaste waarvoor ek nou kans sien!  

     Die vreemdeling vervolg: “Die dood het deur al die eeue en millenia self besluit wanneer en aan wie hy ‘n besoek gaan bring” en sy stem raak hees, bitter. “Tot daardie dag! Van toe af is dit Hy – die Jesus – wat besluit wanneer iemand se lewe aan ‘n einde moet kom...”

 

Hy leun vorentoe om die man reguit in die oë te kyk en dié skrik: Waar sy besoeker se oë moes wees, is net die leë oogholtes van ‘n kopbeen! Die besoeker se stem kom koud en skaars hoorbaar na hom toe: “Dis Hy – Jesus – wat gesê het ek kan jou nie vandag kry nie. Dus” en hy klink teleurgesteld “lyk dit asof jy ‘n tweede kans gekry het. Nie dat jy dit enigsins verdien nie – nie na alles wat jy in hierdie oorlog gedoen het nie! Dalk moet jy maar ophou daarmee en jou tweede kans goed gebruik!” en daarmee verdwyn hy en sy perd.

 

 

Bloemfontein.

22 Maart 2019.


 

  

Net een maal

                                                       

                                                             Net een maal

Ek gaan maar een maal deur die lewe.

Enige goeie daad wat ek kan verrig,

of enige welwillendheid wat ek aan my naaste kan betoon;

laat ek dit NOU doen,

laat ek dit nie uitstel nie –

want ek sal nie weer hierlangs verbygaan nie.

(Anoniem)

 

Anja se hande verstil waar sy besig is om haar paar stukkies Saterdagaand-skottelgoed op te was. Sy maak haar oë toe terwyl die eerste note van O Mio Babbino Caro oor die radio die kombuis vul en dink: Dat ek dit juis vanaand moet hoor – so half as ‘n herinnering dat dit reeds weer Augustus is. Hoeveel Augustusmaande het al verstryk? Agt-, nege en veertig ? Ja, natuurlik. Lynette het mos laat weet hulle is besig om ons matriekgroep se inligting op datum te kry vir die beplande vyftigjaar-reünie volgende jaar. Tog, al is dit is nege en veertig jaar gelede, onthou ek alles asof dit net gister gebeur het...

In haar standerd nege jaar was sy, soos nou ook maar, net Anja: een van ‘n groterige groep (of “Die ‘Mob’”, soos hulle na hulself verwys het) sorgvrye tieners wat nie slegs goeie vriende was nie, maar elkeen ook ‘n belangstelling in, en liefde vir, musiek gedeel het. Hulle het dan ook by dieselfde musikale egpaar les gekry: Mnr Pienaar het klavier as vak by die hoërskool aangebied terwyl hy sy privaatleerlinge (van wie sy een was) ook gehad het, terwyl Mev Pienaar sangafrigting aan die skool se kore, asook die deelnemers aan ‘n operette al om die ander jaar, gegee het. Ook sy het haar privaatleerlinge gehad, maar vir die meeste van die vriende was die egpaar veral sinoniem met die skool se seniorkoor waarvan hulle almal lede was. Op daardie stadium was hulle juis weer hard aan die oefen vir die jaarlikse kunswedstryd – hulle het verneem hoe die buurskool (hul aartsvyand) wyd en syd verkondig dat laasgenoemde sonder twyfel die wenner van die afdeling, waarin hulle albei (tesame met nog vyf ander kore) deelneem, sal wees.

Kort na afloop van die kunswedstryd het daar elke jaar nog ‘n groot geleentheid aangebreek: die Pienaars se Prestigekonsert, waartydens hul leerlinge – en nie net diegene wat aan die kunswedstryd deelgeneem het nie – blootstelling kon kry om voor ‘n gehoor op te tree. Albei dié geleenthede het gedurende Augustus plaasgevind sodat die matrieks ook nog vir oulaas kon deelneem alvorens die studie vir die komende rekord- en finale eksamens in alle erns sou begin.

Op hierdie Dinsdagmiddag vroeg in Augustus is Anja en Lynette dan deel van die seniorkoor wat aanstaltes maak om die skoolsaal ná  ‘n uitputtende kooroefening te verlaat. “Die tannie is ernstig, nè?” fluister Lynette onderlangs. “Dis duidelik dat daar nou nie meer tyd vir gekskeer is nie – as hulle nie tevrede is nie, sal ons blý totdat hulle is!” “Gmf!” snork haar boesemvriendin heel onvroulik. “Ek wens net hulle wil besef dat die ander onderwysers nie ‘n saak het of ons die beker vir die derde jaar skooltoe gaan bring nie – húl vakke is al wat vir hulle tel!"

“En intussen ly mens se sosiale lewe die meeste onder al die slawearbeid” kla Lynette oordrewe, “mens kan amper glo hulle was nooit jonk nie!”

Anja kyk afwesig na die figuurtjie van Lindie Verhoef wat net voor hulle stap. Sy sien die hoe ‘n glimlag aan die fyn meisietjie se mondhoek trek terwyl sy onderlangs na agter loer.  So ‘n petite ou mensie, dink sy en kyk onwillekeurig af na haar eie stewige “boerebene” – ‘n nalatenskap van haar Duits-Russiese voorsate. Soos haar pa altyd sê: “Ons Müllers staan vás op die aarde – dit sal meer as ‘n stormwind kos om ons om te waai!” Lynette, aan die ander kant, is net so lank soos sy; maar skraal – die gevolg van ure se swem, die een lengte na die ander, soggens vroeg en saans laat in hul swembad. Sy het al gewonder watter liefde vir haar vriendin die swaarste weeg: haar geliefde tjello of swem, maar sy sal dit nie reguit vra nie. Sy verstaan dié maat van haar – die naaste wat sy ooit aan ‘n eie sussie kan kom – net te goed. Sy sal tien teen een sê dat tussen die swemoefening, tjellolesse en massas skoolwerk deur, daar geen tyd oorbly vir muisneste nie, en dit is presies hoe sy dit verkies!

Sy is so in haar gedagtes versonke dat sy skaars hoor hoe Lindie, wat weer skaam na hulle omkyk, gelate sê: “Daar wag my koets. Mooi bly, julle twee!” Die twee vriendinne kyk haar stil agterna terwyl sy langs die bestuurder van ‘n wagtende rooi motor inklim. Terwyl hulle na die fietsloods aanstryk, vra Anja: “Het jy ook al oor haar gewonder? Sy is so ‘n ou stilletjie dat mens haar skaars mis wanneer sy vir lang tye afwesig is. Sy moet sekerlik aan die een of ander kwaal ly, want die onnies vra ook nie eers waar sy is nie... Weet jy, ek besef nou vir die eerste keer dat sy sekerlik baie eensaam moet wees. Vandat sy aan die einde van verlede jaar hier begin skoolgaan het, het sy nog nie regtig maats met iemand gemaak nie. Sy is altyd vriendelik, maar knoop nooit uit haar eie ‘n geselsie aan nie... Ry ook nie fiets soos ons ander nie; dan kon mens haar saamgenooi het.”

“Ek en sy het ‘n hele paar klasse saam, en dit het my opgeval dat sy nooit uit haar eie praat nie. Sy antwoord op vrae, maar verder sit sy maar so stil soos ‘n muisie en luister na wat almal óm haar sê. Dis duidelik dat sy in alles belangstel, maar dat sy net nie die moed het om deel te neem nie!”antwoord die lenige rooikop wat nou ‘n tree of wat skuins agter haar ry.

“Sjoe, ek voel nou regtig sleg omdat ons haar nog nie by ons dinge betrek het nie. Hoe gouer ons dit regstel, hoe beter – wanneer dink jy moet ons weer ‘n garage-paartie hou?!”

“Hier is my straat nou. Ek bel jou vanaand, dan praat ons daaroor, oukei?”

“’Kei, my maat, ons praat vanaand. Baai!”

 Die volgende oggend wag die twee vriendinne Lindie by die skoolhek in. Sy lyk verras toe sy besef dat hulle vir haar wag, en met ‘n ligte blos op haar andersins bleek wange, groet sy skamerig: “Hallo, julle!” “Hallo, Lindie!” groet hulle gelyktydig terug. “Hoe voel jy ná gister se marathon-kooroefening en die massas wiskunde-huiswerk?” vra Lynette. “Nee, wat, ek staan sterk” kom die antwoord en Anja wonder skielik waarom sy hul nuwe maat nie glo nie...

Onbewus van haar gedagtes, val Lynette met die deur in die huis: “Ons twee beplan ‘n garage-paartie by my vir die Vrydagaand ná die Prestigekonsert. Sal jy kan kom?” Lindie gaan doodstil staan. “Ek?”, vra sy ongelowig. “Wil julle mý by julle partytjie hê?!" Die twee vriendinne kyk vlugtig na mekaar en die boodskap in elkeen se oë is: Hier het ons lelik opge-’slip’!Natuurlik, ja!”, antwoord Anja. “Jy sal nog in hierdie week jou uitnodiging, met al die besonderhede op, kry. Ons wou net seker maak dat jy die datum vir ons oophou!”

Met ‘n opgewonde lig in haar blou oë, antwoord Lindie met ligte spot in haar stem: “O ja, julle moet weet – ek het die bedrywigste sosiale lewe in hierdie dorp!” Laggend val die twee vriendinne weerskante van haar in en saam stryk die drie aan na die klaskamers.

Die res van die week het soos ‘n gedagte verbygevlieg. Kooroefening elke dag direk ná skool en die privaatmusiekleerlinge se lesse wat daarop volg – en sport daarna vir diegene van die groep wat daaraan deelneem, met die gewone vragte huiswerk waarmee die onnies “hul bes probeer om ons moed en gees te breek!” (soos daar dikwels gekla word), was dit spoedig Vrydaglaatmiddag. Oral staan groepies leerlinge rond en wag vir die busse wat hulle stadtoe moet vervoer. Anja kyk goedkeurend na Lindie waar sy skamerig met Werner de Wet, een van hul ‘Mob’-maats, staan en gesels. Ek kan skaars glo dis dieselfde Lindie van ‘n week gelede: sy het behoorlik ‘n gedaanteverwisseling ondergaan sedert sy deel van ons groep geword het. Nadat ek en Lynette haar kamstig formeel aan elkeen as ons nuwe maat voorgestel het , het die ander haar onvoorwaardelik aanvaar.. Ek is veral opgewonde oor dié duidelike aangetrokkenheid tussen haar en Werner, vir wie ek ‘n ekstra sagte plekkie het. Hy het van laerskooldae af al gesê dat hy eendag ‘n dominee wil word, en hy bly nog altyd by sy besluit. Aangesien sy ouers dit nie breed het nie, het hy vroeg-vroeg al begin om met harde werk – soggens, wanneer die ander seuns nog slaap, of saans en Saterdae wanneer hulle fliek of kuier, ‘n geldjie te verdien wat net so in sy spaarrekening gebêre word vir “eendag, wanneer ek gaan leer”. Deur die jare was daar al talle skool- en rugbytoere, wanneer hulle hom aangehits het om van sy “De Wet-miljoene” te gebruik en saam te kom. Telkens was sy antwoord egter: “Dit sou baie lekker gewees het, ek weet! Gaan geniet dit sommer namens my ook – ek sal die tyd gebruik om nog ‘n bietjie te verdien...” en dan het hy my later in sy vertroue geneem en vertel van nog ‘n projek wat hy gaan aanpak, of die kontrak wat hy losgeslaan het. Ons dorp se sakemanne het hom gou leer ken as ‘n eerlike, hardwerkende jongman wat nie van ‘n uitmergelende taak of een wat hom smerig-vuil kon maak, sou wegdeins nie. Hy was trots op elke taak wat hy suksesvol afgehandel het en wanneer hy dan sy betaling kry, het hy behoorlik gestraal. Afhangend van hoeveel hy verdien het, sou hy vir sy ouers, twee jonger boeties en ‘n sussie elkeen ‘n klein geskenkie of dalk ‘n eetdingetjie koop en die res is reguit banktoe.

En nou lyk dit asof hy vir die heel eerste keer in ‘n meisie belangstel! Hy het heel anders na Lindie as enigeen van ons, sy meisiemaats, gekyk: So asof hy haar wou beskerm teen die een of ander onsigbare vyand...en sy het op haar beurt met openlike heldeverering na hom opgekyk asof hy haar eie sterk, onverskrokke ridder is by wie sy altyd veilig sou wees.          

Haar oë het skielik vol trane geskiet en sy het skaam rondgekyk; bang dat iemand dalk haar gedagtes kon lees en dink dat sy besig is om haar varkies te verloor! Gelukkig het die busse op daardie oomblik hul deure oopgemaak en kon elkeen begin veg vir die ideale sitplek.

Maandagoggend voor die saalbyeenkoms is almal veel rustiger, siende dat die druk van die kunswedstryd verby is. Die seniorkoor het weer die wisselbeker verower, dus was die opoffering van die vorige weke nie tevergeefs nie. Mnr en Mev Pienaar blom behoorlik waar hulle op die verhoog tussen die ander onderwysers sit want benewens die wisseltrofee, het die juniorkoor ook ‘n goue sertifikaat ontvang. Om nie eens te praat van die lang rits sertifikate waarmee hul individuele leerlinge beloon is nie: dié name – waaronder Anja en Lynette s’n, vir die goud wat elkeen met haar item gewen het –  word deur die hoof afgelees. So ook dié van die leerlinge wat in ander genres, waaronder voordrag en drama, presteer het.

Die gees onder almal is dus een van opwinding, wat verder versterk word deur die hoof se opmerking dat niemand tog die Saterdagaand se Prestigekonsert moet misloop nie. Nie dat daar enige gevaar voor bestaan nie, want die spesifieke geleentheid is ‘n jaarlikse hoogtepunt; een wanneer meisies en seuns hulle behoorlik uitvat in hul heel mooiste uitrustings – sommige dapperes selfs in lentedrag, terwyl hulle kliphard hoop dat ‘n laat winterkoue dinge nie deurmekaar sal krap nie! Dit is ook die een geleentheid wanneer koshuis- en dagleerlinge kan spog met die nuwe (of ou!) liefde aan hul sy.

Nie Anja of Lynette is vreeslik verbaas wanneer Lindie hulle tydens pouse skamerig meedeel dat Werner haar gevra het om hom te vergesel nie – hulle het dit trouens verwag. Vir die heel eerste keer is hul ou vriend (soos in die geval van die meeste van hul hegte groep maats, bestaan hul vriendskap al van laerskooldae af) tot oor sy ore verlief en dit op hierdie stil, ingetoë meisietjie by hulle. Ek kan dit verstaan, dink Anja, hulle pas perfek bymekaar! Werner was nog altyd die stil, ernstige kind – so al asof hy altyd sy toekomstige beroep in gedagte hou en homself daarop voorberei. So anders as Mariaan en Kobus wat maar nog van altyd af bymekaar is; en omtrent net so lankal besluit het dat hulle albei medies gaan studeer. Dié twee is altyd die siel van enige partytjie “want,” vertel hulle dan, “wanneer ons gaan swót en daarna begin praktiseer, sal daar nie meer tyd vir jollifikasie wees nie!”           

“Ek wil julle nog iets vertel”, sê Lindie verder. “Mevrou het my gevra om ‘n solo te sing; Meneer sal my begelei.” Vir ‘n oomblik is die twee vriendinne uit die veld geslaan, maar dan besef hulle dat Lindie nog nooit die kans gehad het om haar talent te wys nie. Sy het die vorige jaar  veels te laat na hul skool toe gekom om deel van die Julie-operette te wees. “Ag, dis ‘n fees!”, roep Lynette uit, “dan hoef ons twee nie alleen van pure senuwees die bibberasie te hê nie!”

“Moenie te gou bly word nie”, waarsku Lindie egter. “Ek weet nie of Mamma sal toestemming gee nie.”

“Waarom op die aarde nie?” kom Lynette se spontane reaksie. Die klein mensie se gesiggie val. “Julle sal nie verstaan nie. Dit sal beteken dat ek weer elke middag sal moet kom oefen, net soos verlede week – en Mamma het toe al gesê dis te vermoeiend vir my.”

“Lindie,” vra Anja aarselend “wat presies is fout met jou?” Dit lyk asof hul vriendinnetjie gaan ontplof van frustrasie. “Sommer net piep, sê ek vir julle – ‘n manier wat my ma en my twee boeties gekry het om my lewe vír my te lei!” Dit lyk asof haar helderblou oë gloei, terwyl sy ‘n donker blos op haar wange het. “Stadig, jongie!” vermaan die rustige Anja “dit lyk asof jy die een of ander aanval gaan kry!” Haar woorde het die gewenste uitwerking, want Lindie word dadelik kalmer.

“Skuus, ouens”, maak sy verskoning “dis net dat ek hierdie baasspelery oor my lewe net nie meer kan verduur nie!”

“Wat trek julle Saterdagaand aan?” lei Anja haar aandag af en dadelik volg daar ‘n bespreking oor klere, skoene en hare. ‘n Veilige gesprekspunt vir tienermeisies...

Saterdag is ‘n pragtige, vroeg-lentedag sonder enige teken van moontlike koue of reën. Werner en Lindie het vroeg-vroeg al vir hulle sitplekke redelik voor in die saal gekry en vanwaar Anja en Lynette drie rye van agter almal in die saal beskou, sien hulle ‘n ouerige dame langs Lindie sit, met twee jonger mans en ‘n meisie met lang, swart hare direk langs haar. “Lindie se ma, haar twee boeties, Rudi – hy is tweedejaar ingenieurswese saam met André – en Hein wat al werk. Dis Alta, sy verloofde, daar langs hom” verduidelik Lynette. Mens kan sien Lynette en Lindie het meer klasse saam, dink Anja, hulle het baie meer geselstyd! Seker ook dalk omdat hulle ‘n aanknopingpunt in Rudi en André het... André is die rede waarom die mooi en gewilde Lynette geen belangstelling in seuns toon nie: Haar ouers en syne is vriende sedert hul studentedae en naas André het die Boshoffs ‘n jonger seun, Bertus, wat net so oud soos Lynette se boetie Anton is en van dié twee gevolglik beste maats maak. Dít het Lynette net weer eens vroeër die middag – soos soveel keer in die verlede –  teenoor Anja laat kla: “Waarom het Mamma-hulle so lank gewag voor hulle my gehad het? As ek maar net so twee jaar ouer was, het André my dalk nie soos ‘n klein laspos-sussie gesien nie. Ek sê vir jou, as hy hierdie Desember weer met ‘n aspirant joolkoningin by die see aangesit kom, vlieg ek Kaap-toe om verder saam met julle vakansie te hou!” My arme ou maatjie, gesels Anja in haar gedagtes met haar boesemvriendin,  jy moet net geduldig wees. Sy oë sal wel oopgaan, en om sy onthalwe hoop ek dis voordat jy ook varsity toe gaan en die ander ouens jou raaksien... Ook maar goed dat daar nou nog niks tussen julle is nie; kan jy dink wat die hoof sal doen as jy saam met iemand wat nie meer ‘n skolier is nie, hier sou aankom!

Anja het self deur die jare al sporadies ‘n “sleepsel” gehad, maar sy het net nooit haar hart verloor nie. Seker maar weer my Oos-Europese herkoms: hulle is mos bekend daarvoor dat hulle veel meer terughoudend en afsydig as hul Wes-Europese familie is, het sy dikwels met haarself geredeneer. Meneer Reg wag hopelik êrens in die toekoms, en as hy verdwaal, sal dit seker ook maar nie die einde van die wêreld wees nie!

Lindie se item is die heel laaste op die program, wat beteken dat dit die hoogtepunt van die aand sal wees en dié wete maak die twee vriendinne net nuuskieriger. Wanneer die gordyne aan die einde van die program vir die laaste keer oopskuif, sit hulle albei op die punte van hul stoele. Lindie stap saam met mnr Pienaar, wat haar sal begelei, op die verhoog en albei die vriendine trek hul asems skerp in. “Sy lyk prágtig!” sug Lynette hoorbaar. Lindie het ‘n eenvoudige wit knielengte rokkie aan met ‘n breë blou satynlint om die middel wat haar skraal lyfie beklemtoon. Haar skouerlengte swart hare, wat sy gewoonlik in ‘n poniestert dra, hang los met die punte wat net effens opkrul. Dieselfde blou satynlint – die kleur van haar oë, besef hulle – net agter die kuifie op haar voorkop omgebind, hou haar hare in posisie en uit haar gesig.

Sy kyk na haar begeleier, knik effens, en dan begin die inleidende note van Puccini se “O mio babbino caro” speel. Anja maak haar oë toe wanneer Lindie begin sing. Liewe hemel, dis so aangypend móói – en met so ‘n sterk, gevoelvolle stem! Sy onthou dat Lindie se pa die vorige jaar oorlede is en daarom verstaan sy soveel beter waar haar vriendin se emosie vandaan kom: Sy sing “O, my geliefde vader” vir haar eie pa! – en dan begin die trane onbeheersd oor haar wange rol. Wanneer die laaste note wegsterf,  is daar vir ‘n paar sekondes totale stilte in die saal en dan bars die applous los. Klanke van “Brava! Brava!” klink oral op, terwyl Lindie, nou weer haar skaam self, deur buiging ná buiging – later met mnr Pienaar wat haar hand styf vashou – haar waardering erken. Anja kyk na Lynette en is glad nie verras om te sien dat ook haar wange sopnat is nie. “Dit was só aandoenlik” snik sy. “Kom ons gaan soek haar!”

Hulle tref vir Lindie aan waar sy, met Werner se hand in hare, deur ‘n klomp bewonderaars omring is. “Ou Lindie, jy mag maar sing!” sê Kobus met ontsag in sy stem en Mariaan voeg by: “’n Staande ovasie – so-iets het nie een van ons al ooit beleef nie!” Die twee maak vir hulle ‘n pad tot by hul vriendinnetjie, waar hulle haar om die beurt omhels en styf vasdruk. “Jou eie, persoonlike triomf!” fluister Anja in haar oor. “Hiermee het jy beheer oor jou eie lewe geneem – gaan leef dit nou voluit!” Sy hou vir Lindie ‘n armlengte van haar af en kyk af in die blou oë wat soos sterre skitter. “En jy is pragtig!” Sy draai na Werner en sê ernstig: “Jy moet haar mooi oppas, my vriend – sy is onbeskryflik kosbaar!” Hy kyk eers met ‘n sagte glimlag na Lindie en dan terug na haar, en terwyl hy woordeloos knik, sien sy hoe sy oë mistig raak.

Lindie is die Maandagoggend opvallend stiller en nog bleker as gewoonlik. In ‘n poging om haar op te beur, sê Lynette: “Is jy ook lus vir Vrydagaand se partytjie?” Lindie laat sak haar kop en sug. “Ek weet nie of ek sal kan gaan nie, julle. My mense is behoorlik  op die oorlogspad – hulle sê Saterdagaand se opwinding was amper te veel vir my. Gelukkig is Alta aan my kant; sy het haar kuite behoorlik styfgetrek en gesê ek leef net een maal en hulle moet my dit gun! AS ek daar is, sal dit ongelukkig nie vir die hele aand kan wees nie – ek wil nie onnodig moeilikheid veroorsaak nie.”    

Die res van die week het soos gewoonlik verbygevlieg, soveel te meer omdat die standerd neges kliphard besig was met voorbereidings vir die komende matriekafskeid, wat tradisioneel hul verantwoordelikheid is.

Vrydagmiddag ná skool kon die meeste van die ‘Mob’ by Lynette se ouerhuis aangetref word waar die groot motorhuis steselmatig ‘n nuwe voorkoms kry. Die seuns dra twee groot tafels vir die eetgoed en stoele aan, terwyl ander besig is om die musieksentrum opgestel te kry. In die kombuis is sommige meisies besig om broodrolletjies te smeer, terwyl ander tamaties en uie in skywe sny en blaarslaai kleiner breek: alles vir die hamburgers wat elke gas later vir hom- en haarself sal ‘bou’. Ander weer, sny vrugte op vir die vrugtepons terwyl ‘n ander een die oond met die hamburgervleisies in, dophou. “Dankie tog dat jou ma gesorg het vir die vleis, Lynette! Ons sal ons ma’s een van die dae moet begin betaal vir hul harde werk”, merk Mariaan op, waarop die gasvrou antwoord: “Moet asseblief nie Anja se Mutti vergeet nie – sy sorg weer, soos gewoonlik, vir ‘n vrag oliebolle!” “O, lekker!” kom Anton se stem vanuit die gang. “Ek hoop net ek is ook genooi?” “Nee, snip, standerd ses-seuntjies is vir seker nie welkom nie!” blus sy suster sy entoesiasme. As nagedagte voeg sy by: “maar as jy jou mooi gedra en sorg dat daar geen onderbreking in die musiek is nie, sal ons jou tog maar kosgee!” “Watch my net, Ous – ek gaan nou dadelik vir ou Bert bel om te kom help... eet!” en daarmee is hy weg.    

Werner het verskoning gevra dat hy nie die middag sal kan help met die voorbereidings nie aangesien hy nog werk gehad het om te doen en Lindie het, op haar beurt, gesê dat sy eerder die aand vir ‘n rukkie sal kom. Dit was egter óf die een, óf die ander vir haar – nie albei nie.

Die partytjie was ‘n reuse sukses, met oorgenoeg te eet en te drink, die lekkerste dansmusiek en die geselskap van vriende wat mekaar waarlik ken en waardeer. Lindie en Werner het ‘n hele ruk ná die meeste gaste opgedaag, en hulle was ooglopend gelukkig en baie verlief. Terwyl Anja en Lynette in die kombuis besig is om nog sous vir die hamburgers te meng, sluit Lindie by hulle aan. “Kyk, ouens!” nooi sy en hou haar regterhand na hulle toe uit. Aan haar ringvinger pryk die fynste silwer ringetjie met ‘n piepklein hartjie en ankertjie wat losweg daaraan swaai. “Vroeër vanmiddag gekry!” Lynette reageer eerste met: “O, jou gelukkige meisiekind – ‘n regte, egte kysring! Ek is nou skoon jaloers. Waarom kan André nie asseblief tog net wakker word nie?!”

Anja, altyd maar meer die bedaarde een, het Lindie styf vasgedruk en gesê: “Daar is dit nou amptelik. Baie, baie geluk, my ou maatjie – jy en Werner pas volmaak bymekaar!”

Op daardie oomblik stap Werner by die kombuis in. “The man of the hour!” roep Lynette uit en ná nog meer gelukwense, kan sy haarself nie keer nie: “Ek is só dankbaar dat jy uiteindelik iemand gekry het op wie jy ‘n bietjie van die De Wet-miljoene kan spandeer!” gevolg deur die ander se hartlike gelag.

Die res van die gaste is spoedig ingelig, met die gevolg dat toe die “twee duifies”, soos hulle gou herdoop is, met ‘n stadige dans wegval, daar van oral luide aanmerkings en aanmoedigings was: “Mooi so, Lindie! Wys die dominee dat hy gerus maar mag dans EN dit geniet!” “Werner, my maat, jy kan haar gerus maar ‘n bietjie stywer vashou – ons sal nie vir die kerkraad vertel nie!”, maar die twee op die dansvloer was salig onbewus daarvan – doodgelukkig om net by mekaar te wees. Hulle het ook nie veel langer vertoef nie, maar verskoning gemaak dat Werner vir Lindie by die huis moes kry en gegroet.

Anja skrik wakker toe haar ma haar laat die Sondagnag telefoon toe roep. Dis Werner, sy stem amper onherkenbaar: “An, kry vir Nettie en kom asseblief dadelik hospitaal toe – dis Lindie” en daarmee lui hy af. Sy is heeltemal verdwaas wanneer sy na haar ma draai: “Und jetzt, Mutti?” Dis haar ma wat die gehoorbuis uit haar hand neem en die Dreyers se nommer skakel. Toe Lynette se pa antwoord, vra sy dat hy sy dogter asseblief sal wakker maak en haar dan hospitaal toe neem. Sy sal die twee vriendinne weer gaan haal wanneer hulle gereed is.

By die hospitaal aangekom, vra Anja se ma of sy moet bly, maar haar dogter wys na Werner wat by die ingang vir haar en Lynette staan en wag. “Dankie, Mutti, ons sal oukei wees. Ek sal wel bel as Mutti ons asseblief moet kom haal? Ek weet nie of hier ander bekendes sal wees nie...”

Lynette het kort daarna aangekom en hulle is toe saam met Werner na Lindie se kamer toe. Oppad het Werner probeer verduidelik: “Dis haar hart. Sy ly aan ‘n baie ernstige, ongeneeslike hartkwaal; dié dat sy so maklik moeg word. Die spesialis het lank gelede vir haar ouers gesê daar sal dalk eendag in die toekoms organe oorgeplant kan word en dis al wat Lindie werklik sou kon red: ‘n nuwe hart. Sy het my ook nooit van haar toestand vertel nie; sy het netnou gesê sy wou tog nie hê haar vriende moet haar bejammer en soos ‘n glaspoppie behandel nie!” Hy gaan staan skielik botstil. “Weet julle hoe verwyt ek myself?” en sy stem breek. “As dit nie vir al die opwinding van die afgelope paar weke was nie, sou sy nie nou hier gelê het nie!” “Nee, Werner, jy kan nie al die skuld op jou alleen neem nie”, het Anja getroos. “Ek en Lynette is net so skuldig, maar ons het regtig nie geweet nie!”

Lindie het nog kleiner as gewoonlik in die hospitaalbed gelyk; bleker as wat hulle kan onthou, met ‘n snaakse blouerige skynsel om haar mond – en veel breekbaarder as ooit tevore. By haar was haar ma, Hein, Alta en Rudi, maar toe die drie vriende die kamer binnekom, het die twee broers sonder om hulle te groet, uitgestap. Mevrou Verhoef het dadelik nadergestap en die twee vriendinne elkeen op die wang gesoen. “Ek is so bly Werner het julle in die hande gekry en dat julle gekom het – sy het aanhoudend na julle gevra... Met ‘n hartseer glimlaggie om haar mond wys sy met haar kop na die deur: “Vergewe asseblief haar boeties wanneer hulle julle dalk verwyt. Hierdie is nie julle skuld nie – julle het nie eens geweet wat die gevolge kon wees nie. Veel eerder wil ek vir julle elkeen dankie sê omdat julle die afgelope paar weke die mooiste in haar lewe gemaak het... en vir jou, Werner, omdat jy my kind so gelukkig gemaak het..” en dan vertrek haar gesig en sy begin bitterlik huil. Werner gee ‘n paar tree na haar toe, vou haar toe in sy arms en met sy kop teen hare, gee hy homself ook oor aan die hartseer wat hy so hard probeer beheer het. Alta stap na die twee vriendinne toe en met hul arms om mekaar geslaan, snik hulle al drie oor die mensie wat vir daardie oomblik onbewus van hulle is.

“Mamma?” hoor hulle Lindie dan saggies vra. Die suster is dadelik by om suurstof aan haar toe te dien en sy verdra dit gelate, totdat hulle tot by haar bed kom. Dan wys sy dat sy eers wil praat. “Ek is jammer dat ek julle nooit vertel het nie, maar ek het geweet dat julle my dan anders sou behandel. Nou het julle my as een van julle aanvaar en ek was so vreeslik gelukkig...” Sy rus eers alvorens sy hortend verder gaan: “ek sal nooit, ooit vir julle genoeg dankie kan sê vir julle liefde nie” en daarmee neem sy Werner se hand in hare. Anja sien dis die handjie met die silwer ringetjie aan, wat Werner s’n amper krampagtig vashou wanneer sy na hom opkyk en saggies sê: “Veral vir jou, my dominee Werner!” ‘n Klein glimlaggie speel om haar mond. “Jy is vir my kosbaar, en jy gaan die beste predikant wees waarvoor enigiemand kan vra – ek weet dit net!”

Dis duidelik dat praat haar geweldig vermoei, dus buk eers Lynette en dan Anja om iets in haar oor te fluister en haar daarna saggies op die voorkop te soen. Sy kyk om die beurt in elkeen se oë asof sy só ‘n boodskap wil oorsein, en dan glimlag sy hartseer, maar tog tevrede.

Hulle gaan staan agter die groepie mense, want Hein en Rudi het intussen weer ingekom, dié keer vergesel van die Verhoefs se predikant. Mevrou Verhoef het egter vir Werner beduie om net so, met Lindie se hand in syne, te bly en woordeloos aan Rudi gewys om vir hom ‘n stoel te bring: niemand kon regtig sê hoe lank die nag nog sou duur nie.

Aangesien daar net nie genoeg stoele beskikbaar was nie (die hoof en vise-hoof het ook intussen by die groepie mense aangesluit), het Anja en Lynette later plat op die vloer, rûe teen mekaar, gaan sit. Al het hulle vir kort rukkies ingedut, het hulle geweier om huis toe te gaan: Lindie het na hulle gevra, en by Lindie sal hulle bly.  Hulle was deurentyd bewus van die gefluister by die bed en hoe mense – meestal verpleegpersoneel – saggies kom en gaan. Teen dagbreek het Lindie se oë oopgevlieg en met ‘n helder stemmetjie het sy bly uitgeroep terwyl sy na die hoek van die vertrek kyk: “Mamma, kyk – dis Pappa!” en toe is alles verby. 

Dit was die grootste en hartseerste begrafnis wat Anja ooit bygewoon het. Sy het verwag dat dit ‘n nat, mistroostige dag sou wees, maar tog het daardie Donderdag stralendskoon aangebreek. Hier waar sy voor haar opwasbak staan, onthou sy duidelik die gerwe blomme wat die skoolsaal in ‘n lentetuin verander het. Die Verhoefs het gevra of die begrafnisdiens daar gehou kon word: Logisties het dit net sin gemaak aangesien dit op die Donderdag – ‘n skooldag – plaasvind en so sou dit aan al die leerlinge die geleentheid bied om dit by te woon. Al was Lindie nie eens ‘n hele jaar ‘n leerling van die skool nie, was die saal stampvol gepak deur begrafnisgangers. Die seniorkoor het die Onse Vader gesing en Anja onthou nog hoe haar keel so toegetrek het dat sy nie ‘n noot kon uitkry nie...

 Ai, Lindie, jy sou nooit kon besef hoeveel jou dood die mense om jou geraak het nie. Ons almal het oornag groot geword – en nou dink ek nie net aan ons, wat nog maar tieners was nie. Die onderwysers, jou gesin – want jou broers het self besef dat dit niemand se skuld was nie. Dit was jou eie keuse om vir minder as ‘n maand regtig voluit te leef en te ervaar wat liefde – ook tussen ‘n seun en ‘n meisie – is. Ja, almal is weer daaraan herinner dat die lewe ‘n kosbare gawe uit God se hand is. Hy gee dit vryelik aan elkeen, en dit is ons keuse – soos dit joune was – wat ons daarmee gaan doen.

Jou Werner hét toe een van die beste dominees moontlik geword; hy was so goed dat hy uiteindelik afgetree het as ‘n professor in filosofie. Hy het ook – soos ek – maar laat in sy lewe getrou en sy vrou, Elena, het geweet dat jy sy eerste, en groot liefde was. Sy het verstaan, en dit so aanvaar. Hulle is vandag die trotse ouers van twee oulike seuns en die fraaiste laatlamdogtertjie. Dit was Werner wat my aan ‘n kollega van hom, Francois Vermeulen – ‘n kinderlose wewenaar – voorgestel het toe almal, ek inkluis, al aanvaar het dat ek enkellopend sou bly. Ek en Francois het dadelik mekaar se taal gepraat. Ons was amper vyf en twintig jaar lank gelukkig getroud (ons het ook nie kinders gehad nie) toe ‘n massiewe koronêre trombose sy lewe beëindig het.

André het gelukkig daardie Desember sonder ‘n aspirant joolkoningin by die see aangekom en hy het deeglik kennis geneem dat Lynette glad nie meer “klein” is nie! Sy het in ons matriekjaar besluit dat musiek tog maar die belangrikste vir haar is en toe ‘n B.Mus voltooi, waarna hulle getroud is. Alhoewel André ‘n paar jaar as ingenieur gewerk het, het sy kop politiek toe gestaan en hy is nie te lank daarna nie, as ons land se ambassadeur in Frankryk aangewys. Hulle twee dogters, Lindie en Annette, kon net sowel maar my eie gewees het: Hulle noem my trouens “Mutti” – want in al die jare wat hul ouers oorsee gewoon het, was my en Francois se huis oor naweke maar hul tuiste ná die week in die koshuis. Die hele gesin het saamgestem dat die dogters in Suid-Afrika moes skoolgaan en vakansies in Frankryk sou deurbring; iets waarby hulle net gebaat het. Dié twee dames praat vandag benewens Afrikaans en Engels, ook Duits (met my hulp van die oomblik dat hulle woordjies begin sê het!) en Frans vlot.

En ek, Lindie – hoe het jou dood mý geraak? Ek was voor daardie aaklige nag nie seker wat ek regtig ná skool wou doen nie. Die gebeure gedurende daardie veelbewoë Augustus het my egter laat besef dat ek iets wou doen om mense se seer en pyn – nie die fisieke einas nie – te help verlig. Dit sou dus iets in die sielkunde moes wees, en daarom het ek ‘n terapeut geword. Aangesien ek aanvanklik gedurende die week genoeg tyd tot my beskikking gehad het, het ek nie ophou studeer nie en gevolglik is ek ook mettertyd ‘n professoraat aan dieselfde universiteit as Werner en Francois aangebied.

Die ‘Mob’ het deur die jare kontak behou – al het sommige, soos Kobus en Mariaan, geëmigreer. In hulle geval was dit Kanada toe, waar hulle nog steeds praktiseer. Ek, Lynette en Werner is uiteraard voortdurend in kontak met mekaar en ons het ‘n permanente afspraak elke jaar vir die laaste Saterdag in Augustus: Dan gaan kuier ons vir jou en bring vir jou blomme... 


 

Comments

02.07.2019 10:08

Ansa

Pragtig! Baie dankie vir die deel van jul besielende drome. Hoop regtig daar volg nog vele. Groete in Bloem

02.08.2019 08:09

Annatjie Botha

Dankie vir jou kommentaar, Ansa!

16.09.2014 20:06

Elma Koster

Aangrypend en roerend! Voel of ek hulle nou almal persoonlik ken. Geluk! hoop daar volg vinnig nog!