1. Simon Petrus, visser van mense
Die apostel Petrus was die mees uitgesproke van Jesus se twaalf dissipels, en het mettertyd die segsman van die groepie geword. Hy is in ongeveer 1 v.C gebore, en is om en by 67 n.C. oorlede. Hy was, volgens oorlewering, ‘n langerige, skraal man met ‘n ligte gelaatskleur. Hy het verder ‘n kort, digte, krullerige, swart baard en baie donker oë gehad.
Simon Petrus (ook bekend as Sefas) volgens Joh. 1:42: ... Jesus het stip na hom gekyk en gesê: “Jy is Simon seun van Johannes; jy sal Sefas genoem word.” Sefas (Aramees) beteken dieselfde as Petrus (Grieks vir rots) – was van Betsaida afkomstig, maar het later in Kapernaum gewoon. Albei was aan die See van Galilea geleë. Petrus, sy broer, Andreas, Johannes en dié se broer, Jakobus asook hul pa, Sebedeus, was baie suksesvolle vissers van beroep. Die vissermanne van daardie tyd was maar ‘n rowwe klomp wat dikwels met hul humeure gesukkel het. Dit is dus gladnie vreemd dat Jesus vir Johannes en Jakobus die bynaam “manne van donder” (Mark. 3:17) gegee het nie!
Andreas was aanvanklik ‘n volgeling van Johannes die Doper, vgl. Joh. 1:35-42: Die volgende dag het Johannes weer daar gestaan, met twee van sy volgelinge by hom. Toe Jesus verbyloop, het Johannes stip na Hom gekyk en gesê: “Daar is die Lam van God!” Die twee het hom dit hoor sê en hulle het Jesus gevolg. Toe Jesus omkyk en sien dat hulle Hom volg, vra Hy vir hulle: “Wat soek julle?”en hulle het Hom geantwoord: “Rabbi” – dit beteken leermeester – “waar gaan U tuis?”
Hy sê toe vir hulle: “Kom saam, dan sal julle sien.” Hulle het toe gegaan en gesien waar Hy tuis gaan. Dit was omtrent vieruur die middag, en hulle het die res van die dag by Hom gebly. Andreas, die broer van Simon Petrus, was een van die twee wat dit van Johannes gehoor en Jesus gevolg het. Daarna het hy eers sy broer Simon gaan soek en vir hom gesê: “Ons het die Messias gekry!” Messias beteken Christus. Hy het hom na Jesus toe gebring. Dan volg die gedeelte waar Jesus sê dat hy voortaan Sefas (of Petrus) genoem sal word.
Kort daarna het die dag aangebreek waarop Petrus se lewe drasties verander het. Ons lees die hele aangrypende verhaal in Lukas 5:1-11: Op ‘n dag toe Jesus langs die Gennesaretmeer staan en die skare vorentoe beur om die woord van God te hoor, sien Hy twee skuite aan die kant van die meer lê. Die vissers het uitgeklim en was besig om die nette uit te spoel. Jesus klim toe in een van die skuite, die een wat aan Simon behoort, en vra hom om dit ‘n entjie van die oewer af weg te stoot. Nadat Hy gaan sit het, het Hy die skare van die skuit af geleer. Toe Hy klaar gepraat het, sê Hy vir Simon: “Vaar uit na die diep water toe en gooi julle nette uit om te vang.” “Meneer,” antwoord Simon, “ons het die hele nag deur geswoeg sonder om iets te vang, maar op u woord sal ek die nette uitgooi.” En toe hulle dit doen, het hulle so ‘n klomp vis gevang dat hulle nette wou skeur. Hulle wink toe vir hulle maats in die ander skuit om te kom help. Hulle het gekom en albei die skuite so vol gemaak dat hulle amper gesink het.
Toe Simon Petrus dit sien, val hy voor Jesus se knieë neer en sê: “Gaan weg van my af, Here, want ek is ‘n sondige mens.” Hy en almal wat by hom was, was stom verbaas oor die groot klomp vis wat hulle gevang het. Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus wat saam met Simon gewerk het, was net so verbaas. Toe sê Jesus vir Simon: “Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy mense vang.” En nadat hulle die skuite op die strand getrek het, het hulle alles net so laat lê en sy volgelinge geword.
Petrus en sy vriende het die see soos hul handpalm geken; geweet dat visvang in die dag niks sal oplewer nie. Hulle was gewoond om deur die nag hul nette in te gooi, want slegs dan is daar hoop op ‘n vangs. Dié betrokke nag het egter niks opgelewer nie – iets waaraan hulle ook gewoond was, want hulle het geen waarborg gehad dat die hele nag se swoeg wel iets sal oplewer nie. Hier kom Jesus, en nadat Hy die skare vanuit Petrus se boot geleer het, beveel Hy vir Petrus om weer uit te vaar en sy nette in te gooi. Al was Petrus sekerlik verbaas – hierdie Man het mos nie die see soos hulle geken nie – gehoorsaam hy en dan volg die wonderbaarlike visvangs. Petrus was gewoond om visse te vang, hulle dood te maak en dan te verkoop om in sy gesin se lewensonderhoud te voldoen.
Hier sê Jesus egter hy sal voortaan mense vang. Volgens bronne is die werkwoord wat hier gebruik word zogreo, ‘n woord wat in die Septuagint en Griekse literatuur gebruik word wanneer daar van jag of oorlogmaak gepraat word en beteken om “lewendig gevange te neem” of “om ‘n lewe te spaar”. Dit alles dui weer op die wonderlike visvangs, want voortaan sal Petrus en sy vriende mense vir die Koninkryk “vang”, sodat hulle lewens gered word. Die enigste ander keer wanneer dié spesifieke werkwoord in die Nuwe Testament gebruik word, is in 2 Tim. 2:26: Dan sal hulle weer tot nugtere insig kom en vry raak uit die vangstrik van die duiwel, waarmee hy hulle gevange gehou (zogreo) het om sy wil te gehoorsaam. Mens kan dus lewende gevangenes van Satan wees, of vrygemaakte dienaars van Jesus. Hy “vang” mense spesifiek om hulle vry te maak van die sonde.
Petrus, Johannes en Jakobus het ag gegee op Jesus se oproep om Hom te volg, net soos Levi, die tollenaar in hoofstuk 5:27: Daarna het Jesus uitgegaan en ‘n tollenaar met die naam Levi by sy tolhuis sien sit, en Hy sê vir hom: “Volg My.” Hy het alles net so laat lê en opgestaan en Jesus gevolg.
Wanneer Jesus ‘n mens roep om sy volgeling te wees en jy gee jou lewe vir Hom, kan jy nie allerhande verskonings maak nie, soos ons in hoofstuk 9:59-62 lees: Aan ‘n ander een sê Hy: “Volg My”. Maar hy antwoord: “Here, laat my toe om eers terug te gaan om my pa te begrawe.” Toe sê Jesus vir hom: “Laat die dooies hulle eie dooies begrawe, maar gaan verkondig jy die koninkryk van God.” Nog een het gesê: “Ek sal U volg, Here, maar laat my toe om eers my familie by die huis te gaan groet.” Toe sê Jesus: “Iemand wat die hand aan die ploeg slaan en aanhou omkyk na wat agter is, is nie geskik vir die koninkryk van God nie.”
Wat leer ons hieruit? Jesus was vir seker nie onsimpatiek nie, want Hy leer ons tog om ons ouers te eer. Waaroor dit gaan, is dat mens nie jou gesin of familie as verskoning moet gebruik wanneer jy jou lewe vir Christus gegee het nie. Om Hom te volg, beteken dat Hy eerste prioriteit het; alle ander dinge – gesin, werk, sport, stokperdjies – kom ná Hom. Om Hom te volg, gaan verder daaroor dat dit nie vir jou aardse rykdom of eer sal bring nie, maar jy gaan veel meer wen: die ewige lewe saam met Hom in sý Koninkryk!
So het ‘n onbeskryflike drie jaar in Jesus se fisieke teenwoordigheid vir Simon Petrus aangebreek. Hy was ooggetuie van wonderwerke soos daar nog nooit gesien is nie; selfs hoe Jesus mense uit die dood opwek. Nog voor sy roeping as een van Jesus se twaalf dissipels, het hy reeds die Heer se krag eerstehands ervaar, soos dit in Luk. 4:38-39 beskryf word: Toe Jesus die sinagoge verlaat, het Hy na die huis van Simon toe gegaan. Die skoonmoeder van Simon het siek gelê met ‘n hewige koors, en hulle het Hom gevra om iets vir haar te doen. Hy het by die koppenent van die bed gaan staan en die koors bestraf. Dit het haar verlaat, en sy het onmiddellik opgestaan en hulle bedien.
As een van die twaalf het hy gehoor hoe Jesus die skares leer, maar daar was ook vele kere wat Hy net met hulle gepraat het, soos toe Jesus sy profetiese rede (Matt. 24:1 – 25:46; Mark. 13:1-37; Luk. 21:5-36) aan hulle gelewer het. Petrus het saam met Johannes en Jakobus Jesus se verheerliking op die berg aanskou: Ses dae later het Jesus vir Petrus en Jakobus en sy broer Johannes saamgeneem en hulle op ‘n hoë berg gebring waar hulle alleen was. Daar het sy voorkoms voor hulle oë verander: sy gesig het begin straal soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig. Skielik het Moses en Elia aan hulle verskyn en met Jesus gepraat. Toe sê Petrus vir Jesus: “Here, dit is goed dat ons hier is. As U wil, sal ek hier drie hutte bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia.” (In Markus se beskrywing van die verheerliking – Mark. 9:6 – voeg hy hierby: Hy (Petrus) het nie geweet wat hy sê nie, so verskrik was hy saam met die ander). Terwyl hy nog praat, het ‘n helderligte wolk skielik sy skaduwee oor hulle gegooi, en ‘n stem uit die wolk het gesê: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom.” Toe sy dissipels dit hoor, het hulle baie bang geword en op die grond neergeval. Maar Jesus het na hulle toe gekom, hulle aangeraak en gesê: “Staan op en moenie bang wees nie.” Toe hulle opkyk, het hulle niemand gesien nie, net Jesus alleen. (Matt. 17:1-8)
Petrus was die een wat eerste die voorreg gehad het om vir Jesus as Verlosser te bely: Toe Jesus in die streke van Sesarea-Filippi kom, het Hy vir sy dissipels gevra: “Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?” Hulle antwoord: “Party sê Johannes die Doper, party Elia, party Jeremia of een van die profete.” “Maar julle,” het Hy gevra, wie, sê julle, is Ek?” Simon Petrus het geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” “Gelukkig is jy, Simon Barjona*” (seun van Jona), het Jesus vir hom gesê, “want dit is nie ‘n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is. En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.” (Mat. 16:13-19), maar net daarná – in verse 21-23 – word die einste Petrus deur Jesus as “Satan” aangespreek: Van toe af het Jesus dit vir sy dissipels duidelik begin stel dat Hy Jerusalem toe moet gaan en baie moet ly onder die familiehoofde, die priesterhoofde en die skrifgeleerdes, en dat Hy doodgemaak moet word, en die derde dag uit die dood opgewek moet word. Petrus het Hom toe opsy geneem en Hom begin berispe: “Mag God dit verhoed, Here! Dit sal beslis nie met U gebeur nie.” Maar Jesus het na Petrus toe gedraai en vir hom gesê: ”Moenie in my pad staan nie, Satan! Jy is vir My ‘n struikelblok, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê.”
Arme, voortvarende Petrus! Hy was die een wat, toe hy Jesus sien loop op die see, Hom gevra het om hom te beveel om dieselfde te doen. Hy het dit ook reggekry totdat hy die wind sien waai het; toe getwyfel en begin sink (Mat. 14:22-32).Toe Jesus die aand voor sy kruisiging sy dissipels se voete begin was om aan hulle te demonstreer hoe naasteliefde lyk, was dit Petrus wat geweier het dat sy Here sý voete was: “U sal in alle ewigheid nooit my voete was nie!” en toe Jesus daarop antwoord “As Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie” was die dissipel se reaksie “Here, dan nie net my voete nie, maar ook my hande en my gesig.”Jesus se antwoord hierop was egter “Hy wat klaar gebad het, is heeltemal skoon; hy hoef later niks meer as sy voete te was nie.” (Jesus het hiermee verduidelik dat wanneer mens deel van Christus is, jou sondes alles vergewe is – jy hoef dan net daagliks jou oortredings voor Hom te bely en daarvoor om vergewing te vra). Hy is die een wat in Getsemane Malgus se oor met sy swaard afgekap het toe die soldate gekom het om Jesus gevange te neem (Joh. 18:10-11) en hy was die een wat nie vas kon bly staan nie: Toe Jesus, die aand van sy gevangeneming, sê dat al sy dissipels Hom in die steek sou laat, was Petrus dadelik by om aan sy Here die versekering te gee: “Al sal hulle almal van U afvallig word, ek sal nie.” (Mark. 14:29) Petrus moes egter op die harde manier leer dat daar nie plek vir arrogansie is wanneer jy ‘n volgeling van die Here is nie... Toe Jesus hom in vers 30 antwoord “Dit verseker Ek jou: Jy sal vandag nog, in hierdie nag, voordat die haan ‘n tweede keer kraai, My drie keer verloën.” kan ‘n mens jouself indink hoe verontwaardig die dissipel was: nie ék nie, Here!, soos hy dan ook in vers 31 reageer: Maar Petrus het nadruklik gesê: “Al moet ek saam met U sterwe, ek sal U beslis nie verloën nie!” En al die ander het dieselfde gesê.
Petrus hét drie maal ontken dat hy Jesus se volgeling is; het die derde keer selfs ontken dat hy weet wie Hy is: ‘n Rukkie later het dié wat daar by gestaan het, vir Petrus gesê: “Werklik, jy is een van hulle, want jy is mos ook ‘n Galileër.” Toe begin hy vloek, en hy sweer: “Daardie man van wie julle praat ken ek nie.” En onmiddellik het die haan ‘n tweede keer gekraai. Dit het Petrus toe bygeval wat Jesus vir hom gesê het: “Voordat die haan ‘n tweede keer kraai, sal jy My drie keer verloën.” En hy het in trane uitgebars. (Mark. 14: 70b-72) Dit is só maklik om met Petrus se hartseer te identifiseer, want hoe dikwels verloën ons nie ons Here nie? Weliswaar nie deur dit in soveel woorde te sê nie, maar deur ons optrede teenoor ander, selfs net ons gedagtes.. En dan die teleurstelling wanneer jy besef dat jy maar net dieselfde pad as Petrus gestap het.
Wanneer die vroue die Sondagoggend by die graf waarvan die klip weggerol is, ingaan, het hulle net ‘n jongman met wit klere aan aan die regterkant sien sit en hy het ‘n besonderse boodskap gehad: Jesus is nie daar nie, want Hy het opgestaan en dan, in Mark. 16: 7 “Maar gaan sê vir sy dissipels en in die besonder vir Petrus: Hy gaan julle vooruit na Galilea toe. Daar sal julle Hom sien soos Hy vir julle gesê het.” Jesus het geweet met watter wroeging en selfverwyt Petrus die voorafgaande drie dae geworstel het, en met sy opdrag “(Sê) in die besonder vir Petrus” het Hy vir hom laat weet “Alles is reg, ek verwyt jou nie!” Juis daarom het Jesus, toe Hy by die See van Tiberias aan Petrus, Thomas, Natanael, Johannes, Jakobus en “nog twee ander dissipels” verskyn het, aan Petrus die geleentheid gegee om drie maal te bevestig dat hy Hom liefhet, (Joh. 21:15-17) en daardeur die drie maal se verloëning gekanselleer. By dieselfde geleentheid het Jesus opnuut sy opdrag aan Petrus gegee “Pas my skape op” en ook gesê hoe die dissipel sou sterf. Joh. 21: 18-19 lui soos volg: “Dit verseker Ek jou: Toe jy jonger was, het jy self jou klere vasgemaak en gegaan waar jy wil; maar wanneer jy oud is, sal jy jou hande uitsteek, en iemand anders sal jou vasmaak en jou bring waar jy nie wil wees nie.” Dit het Jesus gesê en daarmee aangedui deur watter soort dood Petrus God sou verheerlik.
Jesus het Simon Petrus se natuurlike leierseienskappe geken en daarom het Hy die taak van herder van sy kudde wees ná sy hemelvaart aan hom toevertrou; ‘n roeping wat Petrus ernstig benader het. Tydens ‘n byeenkoms van die sowat honderd en twintig gelowiges (Hand. 1:15-26) het Petrus die leiding geneem in die verkiesing van Mattias as apostel in die plek van Judas Iskariot wat ná sy verraad sy eie lewe geneem het, en kort daarna – na die uitstorting van die Heilige Gees – het Petrus Jesus aan die groot aantal nuuskieriges verkondig. Oor wat die reaksie van die mense was, lees ons verder in die eerste hoofstuk van die boek Handelinge, verse 37 tot 41: By die aanhoor hiervan is die mense diep getref en het hulle vir Petrus en die ander apostels gevra: “Wat moet ons doen, broers?” Toe antwoord Petrus hulle: “Bekeer julle en laat elkeen van hulle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. Wat God belowe het, is vir julle en vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep.” Met nog baie ander woorde het Petrus getuig en hulle aangespoor: “Laat julle red tussen hierdie ontaarde mense uit.” Dié wat sy woorde aangeneem het, is gedoop, en omtrent drie duisend mense is op daardie dag by die getal van die gelowiges gevoeg. Daardeur was Petrus – ongeskoold maar gewillig en vervul met die Heilige Gees – instrumenteel om die eerste bekeerdes na God te lei.
Kort daarna was Petrus en Johannes oppad tempel toe, toe hulle ‘n man teëkom wat van sy geboorte af verlam was en by die tempelpoort gebedel het. Dit was die toneel van een van die (vir my) aandoenlikste toneeltjies in die Nuwe Testament. Hand. 3: 3-8 : Toe hy vir Petrus en Johannes sien, net voor hulle in die tempel ingaan, het hy van hulle iets gevra. Petrus en Johannes kyk hom toe stip aan, en Petrus sê: “Kyk na ons.” Toe kyk die man na hulle in die hoop dat hy iets van hulle gaan kry. Maar Petrus sê: “Geld het ek nie; maar wat ek het, gee ek vir jou: in die Naam van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop!” Hy vat toe die man se regterhand en help hom op, en onmiddellik het sy voete en enkels sterk geword. Hy het opgespring en regop gestaan, en hy kon loop....en Petrus het daardeur die eerste mens geword wat in Jesus se naam ‘n bonatuurlike daad kon verrig.
Tot op daardie stadium is Jesus net aan die Jode verkondig, maar Petrus was ook hier die eerste om die evangelie aan die heidene te bring. Kornelius was “‘n kaptein in die sogenaamde Italiaanse regiment” wat in Sesarea gestasioneer was. Handelinge 10:2 beskryf hom as ... godsdienstig en godvresend, hy en sy hele huisgesin. Hy het baie gedoen om die armes onder die Joodse volk te help en het gereeld tot God gebid, maar nie hy was nie ‘n Jood nie en gevolglik was nie een van sy huisgesin gedoop nie. Hand. 10:3–21 vertel die verhaal verder:
Een middag teen drie-uur het hy in ‘n gesig duidelik ‘n engel van God na hom toe sien kom wat na hom roep: “Kornelius!” Kornelius het hom verskrik aangekyk en gevra: “Wat is dit, Meneer?” Die engel sê toe vir hom: “God het gelet op jou gebede en op wat jy vir die armes doen, en Hy het aan jou gedink. Stuur nou dadelik mense na Joppe toe en laat daar ‘n sekere Simon haal wat ook Petrus genoem word. Hy is tuis by ‘n ander Simon, ‘n leerlooier, wat by die see woon.” Nadat die engel wat met hom gepraat het, weggegaan het, het Kornelius twee van sy huisbediendes en een van sy lyfwagte, ‘n godsdienstige soldaat, geroep. Hy het hulle alles vertel en hulle na Joppe toe gestuur. Die volgende dag teen twaalfuur die middag, toe hulle op hulle reis al naby die dorp was, het Petrus opgegaan na die dakstoep van die huis om te gaan bid. Hy het later honger geword en hy wou iets hê om te eet. Terwyl die mense die ete klaargemaak het, het hy in geesvervoering geraak. Hy het die hemel oop gesien en iets soos ‘n groot doek wat aan sy vier punte neergelaat word, sien afkom grond toe. Daarin was van al die viervoetige en die kruipende diere van die aarde en van al die wilde voëls. Hy hoor toe ‘n stem wat vir hom sê: “Kom, Petrus, slag en eet.” Maar Petrus sê: “Nooit nie, Here! Ek het nog nooit iets geëet wat onheilig of onrein is nie.” Hy hoor die stem toe weer, die tweede keer, vir hom sê: “Wat God rein verklaar het, mag jy nie onrein ag nie.” Dit het drie keer gebeur, en daarna is die doek weer in die hemel opgetrek.Terwyl Petrus nog wonder oor die betekenis van die gesig wat hy gesien het, kom die mans wat deur Kornelius gestuur is, by die voordeur aan. Hulle was op soek na die huis van Simon en doen toe navraag of Simon wat ook Petrus genoem word, daar tuis is. Terwyl Petrus nog nadink oor die gesig, sê die Gees vir hom: “Daar is drie mans wat jou soek. Kom, gaan ondertoe en moenie aarsel om saam met hulle te gaan nie, want Ek het hulle gestuur.” Petrus het ondertoe gegaan en vir die mans gesê: “Hier is ek. Dis vir my wat julle soek. Waarom is julle hier?” Petrus het hulle ingenooi, hulle het hom vertel waarom hulle daar is en hy en ‘n paar ander gelowiges is toe die volgende dag saam met hulle terug na Sesarea toe. By Kornelius se huis aangekom, was Kornelius, sy familie en vriende reeds bymekaar. Vers 25-29: Toe Petrus daar kom, het Kornelius hom tegemoet gegaan en eerbiedig voor hom gekniel. Maar Petrus het hom laat opstaan en gesê: “Staan op! Ek is self ook maar net ‘n mens.” Terwyl Petrus met Kornelius praat, gaan hy die huis binne, waar hy baie mense bymekaar aantref, en hy sê vir hulle: “Julle weet dat ‘n Jood nie met iemand van ‘n ander volk mag omgaan of by hom in die huis mag kom nie, maar God het vir my gewys dat ek geen mens as onheilig of onrein mag beskou nie. Daarom het ek sonder om teë te stribbel, gekom toe julle my laat haal het. Sê nou vir my waarom julle my laat haal het.”
Kornelius gaan voort om van die engel se opdrag te vertel en dan sê hy in Hand. 10:33b: “Ons is nou almal hier in die teenwoordigheid van God om te hoor wat die Here alles aan u opgedra het.” Petrus begin om die “evangelie van vrede wat Jesus Christus gebring het” aan al die aanwesiges te bring, en in vers 44-48a lees ons Terwyl Petrus nog praat, het die Heilige Gees op almal gekom wat na die woord geluister het. Toe die Joodse gelowiges wat saam met Petrus gekom het, hoor hoe die mense ongewone tale of klanke gebruik en God prys, was hulle baie verbaas dat die Heilige Gees as gawe uitgestort is ook op mense wat nie Jode is nie. En Petrus sê: “Hierdie mense het net soos ons die Heilige Gees ontvang. Wat kan dan verhinder dat hulle nou met water gedoop word?” Toe het hy beveel dat hulle in die Naam van Jesus Christus gedoop moet word.
Die apostels en ander gelowiges in Jerusalem was baie ongelukkig toe hulle verneem dat Petrus mense besoek het wat nie besny is nie – en selfs saam met hulle geëet het, maar nadat Petrus hulle alles oor sy besoek aan Kornelius vertel het, lees ons in Hand. 11:18 Toe die gelowiges dit hoor, was hulle tevrede. Hulle het God geprys en gesê: “God het selfs mense wat nie Jode is nie, tot inkeer gebring om aan hulle die lewe te gee.” Petrus staan egter bekend as die apostel wat onder die Jode gearbei het, terwyl dit Paulus was wat later die evangelie aan die heidene gebring het.
Kort daarna het koning Herodes begin om die gelowiges in alle erns te vervolg. Sommige is gevang en mishandel; Jakobus, Johannes se broer, is onthoof en ook Petrus is in die tronk gestop waar hy deur vier afdelings van vier soldate elk bewaak is. Die nag voor sy verhoor het hy tussen twee soldate geslaap; hy was met twee kettings geboei terwyl wagte voor die deur die tronk bewaak het. In die stad het die gelowiges egter aanhoudend vir hom gebid. Skielik het ‘n engel hom wakker gemaak en hom aangesê om sy skoene aan te trek, sy gordel vas te maak en hom te volg. Die engel het voor hom uit verby al die wagte gestap en toe hulle by die groot ysterdeur wat na die stad lei, kom, het dit vanself oopgeswaai. Vir Petrus het dit gevoel asof hy droom, maar toe die engel skielik verdwyn, het hy besef wat gebeur het. Hy het na Maria, Markus se ma, se huis toe gegaan waar baie gelowiges saam was om te bid om hulle van sy wonderlike bevryding te vertel, en daarna het hy na ‘n ander plek vertrek.
Later, tydens sy verblyf in Rome, het die vervolging van die gelowiges in felheid toegeneem en Petrus het uit die stad gevlug. Net buite die stad, op die antieke Via Appia, het hy die Here Jesus van vooraf sien aankom. “Domine, quo vadis?” (“Here, waar gaan U heen?”) het hy gevra waarop Jesus geantwoord het dat Hy oppad na Rome is om weer gekruisig te word, aangesien Petrus nie die moed daarvoor gehad het nie. Die Chiesa del Domine Quo Vadis-kerk is in die negende eeu bo-oor die presiese plek gebou. In die middel van die kerk is ‘n marmerblad met twee voetspore op: dit is net ‘n replika van die oorspronklike wat tans in die nabygeleë basilika van San Sebastiano Fuori le Mura bewaar word en volgens oorlewering is dit die spore wat Jesus agtergelaat het op die plek waar Petrus Hom gesien het.
Petrus het teruggedraai en is inderdaad gevange geneem en volgens oorlewering in die berugte Mamertine-tronk (Carcere Mamertino in Italiaans, dog dit het in die vroegste tyd as die Tullianum bekend gestaan) in die Via di Marforio, Rome, gevange gehou alvorens hy om die lewe gebring is. Die legende lui dat die fontein op die grondvloer (in die sel waar Petrus aangehou is), skielik tydens sy aanhouding ontspring het om hom in staat te stel om sy mede-gevangenes en die soldate wat hom bewaak het, te doop nadat hy hulle na Christus gelei het. (Paulus is jare later, voor sy teregstelling deur keiser Nero, in dieselfde tronk aangehou.)
Soos Jesus voorspel het, het Petrus inderdaad op 24 Oktober 64 n.C. sy hande uitgesteek en hy is geneem na waar hy nie wou wees nie: na die plek waar die huidige Clementine-kapel geleë is. Daar is hy onderstebo gekruisig omdat hy gesê het dat hy nie werd is om soos sy Here te sterf nie. (Dit is die rede waarom ‘n onderstebo kruis tot vandag toe Petrus se simbool is.) Hy is in die nabygeleë St Peter’s Basilica, Vatikaan, Rome, begrawe. Tydens argeologiese opgrawings gedurende 1950 in die basilika is beendere ontdek wat behoort het aan ‘n man van ongeveer 61 jaar oud en wat uit die eerste eeu na Christus dateer. Pous Paulus die Sesde het in 1968 verklaar dat dit waarskynlik van Petrus se beendere is en tydens ‘n mis wat op 24 November 2013 op die St Peter’s plein gehou is, het Pous Franciskus die nege beenfragmente vir die eerste keer in die openbaar te toon gestel.
Wat kan ons uit Petrus se lewe leer?
Jesus verdryf vrees. Of dit was om uit ‘n boot tot op die stormagtige see te klim, of om vir die eerste keer oor die drumpel van ‘n heiden se woning te tree, het Petrus telkens moed gekry deur Christus te volg. Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees... 1 Joh. 4:18
Jesus vergewe ontrouheid. Nadat Petrus oor sy getrouheid gespog het, het hy die Here drie maal nadruklik verloën. Al het dit gelyk asof Petrus al sy brûe verbrand het, het Jesus dit self liefdevol herbou en Petrus weer in sy diens herstel. Petrus was weliswaar vroeër ‘n mislukking, maar saam met Jesus is mislukking nie die einde nie. As ons ontrou is – Hy bly getrou; Hy kan Homself nie verloën nie. 2 Tim. 2:13
Jesus is geduldig in sy lering. Petrus moes keer op keer reggehelp word en Jesus het dit telkens met geduld, maar ferm en in liefde gedoen. Die Groot Leermeester soek na leerlinge wat gewillig is om te leer. Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg. Ps. 32:8
Jesus sien ons soos Hy wil hê ons moet wees. Die eerste keer wat Jesus vir Simon gesien het, het Hy hom “Petrus” genoem. Die ruwe en roekelose visserman was in Jesus se oë ‘n vaste en getroue rots. Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom. Fil. 1:6
Jesus gebruik onwaarskynlike helde. Petrus was ‘n visserman van Galilea, maar Jesus het hom geroep om ‘n visser van mense te wees. (Luk. 5:10) Omdat Petrus gewillig was om alles wat hy gehad het agter te laat en Jesus te volg, het God hom gebruik om groot dinge te doen. Wanneer Petrus gepreek het, was die mense verstom oor sy vrymoedigheid, want hulle het geweet dat hy “ongeleerd” en “eenvoudig” was. Maar toe het hulle hom herken as ‘n volgeling van Jesus (Hand. 4:13). Om ‘n volgeling van Jesus te wees, maak al die verskil.
Petrus, die rots waarop Jesus sy kerk gebou het, was 'n gewone mens met menslike tekortkominge: ten spyte van sy bravade, lees ons dikwels dat Jesus hom aanmoedig om nie bang te wees nie. Nadat hy egter die Heilige Gees ontvang het, het sy hele lewe en ingesteldheid handomkeer verander en kon hy sy roeping enduit volvoer. Op presies dieselfde wyse gebruik God vandag nog gewone, alledaagse mense om sy werk te doen - 'n mens moet maar net, soos Petrus, gewillig wees om 'n instrument in sy hand te wees. Hy sal self die regte toerusting voorsien!
Bronne:
2. Hoe die apostels aan hul einde gekom het
Ons weet eintlik só min van Jesus se dissipels ná sy hemelvaart. Ek het die wonderlikste vonkpos van my groot staatmaker, Buks, ontvang, nl. “How the Apostles Died” gevolg deur “The Scientific Death of Jesus ”, wat mens ‘n nuwe perspektief gee op wat ons Verlosser regtig vir my en jou deurgemaak het. Vry vertaal, met ‘n paar byvoegings, het dit die onderstaande artikel tot gevolg gehad wat in die Krokkienuus van Mei 2013 verskyn het. Dit was sekerlik die gewildste bydrae nog, en daarom het ek dit goed gevind om dit hier te plaas:
Matttteus, ook Levi genoem, was ‘n tollenaar wat tolgeld (belasting) vir Herodes Antipas van die Jode gevorder het toe Jesus hom geroep het. Hy sterf in ongeveer 34 n.C. in Ethiopië aan ‘n swaardwond.
Die evangelis Markus word in68 n.Cagter perde vasgemaak en deur die strate van Alexandrië gesleep tot hy dood is.
Die evangelis Lukas word in 84 n.C op die ouderdom van 84 in Griekeland opgehangas gevolg van sy volgehoue prediking aan die verlorenes.
Johannes is tydens ‘n vlaag van vervolging in Rome in ‘n pot kokende olie gegooi, maar hy word op ‘n wonderbaarlike wyse gered. Hy word daarna na die myne op die tronkeiland Patmos verban, waar hy sy profetiese Boek van Openbaringe skryf. Hy is later vrygelaat en het as biskop van Edessa in moderne Turkye gedien.Hy was die enigste van die apostels wat in vrede kon sterf en wel in Efese, omstreeks 100 n.C.
Simon Petrus, seunvan Johannes,sterf in 64 n.C in Rome nadat hy onderstebo aan ‘n X-vormige kruis vasgespyker is. Onderstebo, omdat hy gesê het dat hy nie waardig is om soos sy Here te sterf nie.
Jakobus, (bekend as Jakobus die Regverdige, asook Klein-Jakobus) die leier van die kerk in Jerusalem, is gedurende 62 n.C van die suidoostelike punt van die tempeldak afgegooi: ‘n hoogte van meer as 30m.Toe daar bevind is dat hy die val oorleef het, is hy eers gestenig en daarna met ‘n staf doodgeslaan. Die plek vanwaar hy afgegooi is, is waar die Satan vir Jesus probeer versoek het.
Jakobus, seun van Sebedeüs (ook bekend as Ou-Jakobus), was een van die kerk se sterk leiers en is in 42 n.C. op bevel van koning Herodus Agrippa met ‘n swaard onthoof. Die Romeinse offisier wat hom bewaak het, was vol verwondering oor die manier waarop Jakobus sy geloof verdedig het. Die offisier het later langs Jakobus na die plek van sy teregstelling gestap. Oorweldig deur die oortuiging dat sy gevangene die Waarheid aanhang, het hy sy nuutgevonde geloof aan die regter bely en is daarna saam met Jakobus onthoof.
Bartolomeus, ook bekend as Nataniël, was ‘n sendeling in Asië. Hy het oor ons Here in die hedendaagse Turkye getuig en daarvoor is hy in 68 n.C tot die dood gegésel.
Andreas, Petrus se broer,word in 69 n.Cin Patras, Griekeland, aan ‘n X-vormige kruis met dik toue vasgemaak om sy lyding uit te rek. Dit is nadat hy eers erg deur sewe soldate gegésel is. Terwyl hy na die kruis gelei is, het hy gesê: “Hoe lankal wag ek op hierdie blye uur! Die kruis is geheilig deur Christus se liggaam wat daaraan gehang het.” Hy het Jesus vir nog drie dae aan die omstanders verkondig voordat hy gesterf het.
Thomas word in 72 n.C noodlottig deur ‘n spies gedurende een van sy sendingreise na Indië gewond.
Judas Taddeus is in 65 n.C in Beiroet, in die Romeinse provinsie Sirië met ‘n byl doodgekap.
Mattias, die apostel wat in Judas Iskariot se plek verkies is, is in 80 n.C. in Jerusalem eers gestenig en ná sy dood onthoof.
Paulus is ná bykans 10 jaar van gevangenskap – eers in die tronk en daarná onder huisarres – in 67 n.C in Rome op bevel van die wrede keiser Nero onthoof.
So met my rondsoek op die internet na prente van die apostels – asook hul sterfdatums – het ek op interessante inligting afgekom:
- Jakobus en sy jonger broer, Johannes, (vandaar die verwysing na Jakobus as “die ouere”) deur Jesus “seuns van donder” genoem – hulle was weliswaar rustige en bedaarde manne, maar het nie veel nodig gehad om hulle siedend woedend te maak nie (sien Lukas 9:51-55 – waar hulle met alle geweld vuur uit die hemel wou afroep om ‘n Samaritaanse dorp te verteer toe die inwoners geweier het om huisvesting aan Jesus en sy geselskap te verskaf) – was Jesus se eie neefs: Hulle pa was Sebedeus en hul ma Salomé, Maria se jonger suster. Dit was aan Johannes wat Jesus die versorging van sy moeder toevertrou het terwyl Hy aan die kruis gehang het, al was Johannes die jongste van al sy dissipels. Volgens oorlewering het hy tot haar dood vir Maria gesorg.
- Thomas word ook Didimus genoem. In Aramees beteken “Thomas” en in Grieks “Didimus” albei dieselfde, nl. “Tweeling”. Min geskrifte verwys egter na die dissipel se tweeling.
- Judas Taddeus was moontlik Jesus se broer (sien Markus 6:3), maar daar is nie eenstemmigheid onder geleerdes daaroor nie.
Die Kruisiging: Jesus se fisieke lyding
Jesus is op die ouderdom van 33 jaar tot die dood veroordeel. In daardie tyd was kruisiging die ergste wyse waarop mens jou lewe kon verloor en net die grootste misdadigers is dié straf opgelê. Vir Jesus was die straf egter veel erger, want anders as gewone misdadigers wat meestal met toue aan die kruis vasgemaak is, sou sy hande en voete aan die kruis vasgespyker word.
Elke spyker was tussen 15 en 20 cm lank en is in sy polsgewrigte ingekap, nie in sy hande soos dikwels uitgebeeld word nie. (Indien die spykers deur die hand geslaan is, sou die gekruisigde se gewig dit laat uitskeur en hy sou van die kruis afval.).
Alvorens die spyker deur die voete geslaan is, is die slagoffer se bene by die knieë gebuig sodat die onderkant van die een voet plat teen die vertikale paal gerus het. Die ander voet is dan bo-oor dié een geplaas en een lang spyker is deur albei voete gekap. Wanneer die kruis opgetel is, het die liggaamsgewig die veroordeelde vooroor laat hang wat die totale gewig op die spykers deur die gewrigte geplaas het. Dit het ook drukking op die longe veroorsaak wat asemhaling verhinder het: solank Hy vooroor gehang het, kon Hy nie asem intrek nie. Ten einde wel lug in te asem, moes Hy regop kom – dit met die spyker deur sy voete. Solank Hy dus al sy gewig op sy voete geplaas het, kon Hy asemhaal, maar sodra dit te pynlik geword het, het Hy weer vooroor gehang met al sy gewig op sy gewrigte en was asemhaling onmoontlik.Die meeste slagoffers het gevolglik gesterf aan versmoring, ‘n proses wat soms dae kon duur. Gevolglik het die owerhede dan opdrag gegee dat die slagoffer se bene gebreek moes word sodat hy homself nie langer kon optrek om asem te haal nie. Nadat die bene gebreek is, het die dood binne minute ingetree.
Jesus het dié realiteit vir langer as ses ure deurgemaak en in die paar minute voordat Hy gesterf het, het Hy feitlik opgehou bloei omdat daar bykans geen bloed meer in sy liggaam oor was nie. Op die meeste afbeeldings sien mens die wonde aan sy hande, voete en selfs die spieswond in sy sy, sonder om die omvang daarvan werklik te besef:
Lang spykers is met ‘n hamer in sy pols- en enkelgewrigte vasgeslaan, en daarna is sy sy deur die spies van ‘n Romeinse wag deurboor. Voor die spykers en die spies is Jesus egter geslaan en toe gegésel. Die géseling was só erg dat daar letterlik stukke vleis uit sy liggaam geskeur is; die slae so ontsettend dat sy gesig verskeurd, sy baard uitgepluk en die doringkroon diep in sy kopvel ingeslaan is.
Sou enige gewone mens dié lyding onskuldig kon verduur?: Die liggaam van die gemiddelde volwassene bevat 3,5 liter bloed en Jesus het bykans alles verloor – daarom dat daar “bloed en water” (Joh. 19:34) uit die spieswond gevloei het. Dan praat ons nie eens van die vernedering wat Hy vooraf moes verduur nie: Hy moes sy eie kruis vir bykans 2 kilometer dra terwyl die skare in sy gesig gespoeg en Hom met klippe gegooi het. (‘n Kruis kon tot 135 kg weeg, maar die veroordeelde moes net die boonste horisontale gedeelte – waar sy hande aan vasgeslaan is – dra. Dié het ongeveer 30 kg geweeg. Die lang, vertikale paal was permanent ingeplant op die plek waar die kruisiging gewoonlik plaasgevind het.)
Om te dink dat Jesus al dié dinge verduur het om vir ons toegang tot God te gee....
In my rondsoek na meer inligting oor die moontlike identiteit van die Romeinse soldaat in Joh. 19:34 (al wat ek kon wysword, is dat sommige bronne na hom verwys as Longinns, na aanleiding van die spies wat hy gebruik het), het ek op ‘n hele aantal interessanthede afgekom. Ons het dit moontlik al sovele kere in die Bybel gelees, maar nog nooit werklik daaroor nagedink, of na die betekenis daarvan gevra nie. Eerstens moet ons na die betrokke Skrifgedeelte kyk, want Johannes is die enigste evangelis wat hierdie gebeure beskryf:
Dit was Vrydag, en die Jode wou nie hê dat die liggame op die sabbatdag aan die kruis moes bly nie, want daardie sabbatdag was ‘n groot dag. Daarom het hulle vir Pilatus gevra dat die mense wat gekruisig is, se bene gebreek en die liggame weggevat moes word. Toe het die soldate gekom en die bene van die eerste een gebreek en ook dié van die tweede een wat saam met Jesus gekruisig is. Toe hulle egter by Jesus kom en sien dat Hy al klaar dood is, het hulle nie sy bene gebreek nie. Maar een van die soldate het met ‘n spies in sy sy gesteek, en daar het dadelik bloed en water uitgekom.
Hy wat dit gesien het, lê daarvan getuienis af, en sy getuienis is waar. Hy weet dat hy die waarheid praat, sodat julle ook kan glo. Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word: “Geen been sal van Hom gebreek word nie.” En verder sê die Skrif op ‘n ander plek: “Hulle sal Hom sien vir wie hulle deurboor het.” Joh.19:31 – 37.
Die Joodse leiers het daarop aangedring dat die gekruisgdes se bene gebreek moet word ten einde heeltemal seker te maak dat hulle werklik dood is. Aangesien Jesus baie vinniger gesterf het as wat gewoonlik by kruisigings die geval is (sien Mark. 15:44: Pilatus was verbaas om te hoor dat Hy al dood is), kon die leiers bekommerd gewees het dat dit net ‘n skyndood was. Volgens hulle sou dít dan Jesus se herverskyning later verklaar.
Dat Jesus wel gouer as die ander gesterf het, is egter ‘n bewys dat Hy self sy lewe aan die kruis afgelê het – daar was geen bydraende faktore nie. Waarom dan die spies in sy sy steek? Die Romeinse soldaat wou daardeur seker maak dat Jesus wel dood is. Anders as wat prente van die kruisiging voorstel, was die gekruisigdes nie baie hoog bo die grondvlak gelig nie. Die soldaat, wat ‘n sterk, gesonde man was, kon dus sonder veel moeite sy spies in Jesus se linkersy steek. Hy sou die spies opwaarts gedryf het, sodat hy die hart kon deurboor; indien Jesus nog gelewe het, sou dit Hom oombliklik gedood het. Jesus was egter reeds dood. Joh. 19:30: Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: “Dit is volbring!” Toe het Hy sy kop vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas. Dit bring dus ‘n einde aan die vraag of Jesus nie moontlik deur die spieswond gedood is nie.
Die spiespunt het die perikarium (‘n vliesagtige sak, gevul met ‘n waterige vloeistof, wat die hart teen uitdroging beskerm) geskeur, die hart binnegedring en ‘n groot genoeg wond gelaat waardeur ‘n man se hand gedruk kon word. (Joh. 20:27 Daarna sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.”)
Die vog wat uit dié wond gevloei het, was die water vanuit die perikardium asook warm bloed afkomstig uit een van die hartkamers, aangesien Jesus nie baie lank tevore nie, gesterf het. Dit is egter die simboliek van die water en die bloed wat fassinerend is. In 1 Kor. 10:3 skryf Paulus na aanleiding van die Israeliete se verblyf in die woestyn: Almal het dieselfde geestelike voedsel geëet, en almal het dieselfde geestelike drank gedrink: hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat met hulle saamgegaan het. Die rots was Christus. Met hierdie verwysing na die rots (wat) Christus was, is dit interessant om te lees wat Joodse geleerdes sê na aanleiding van die die gebeure in Num.20:11 waar Moses water uit die rots laat kom het: Jonathan ben Uzziel skryf in sy Targum on Num. 20:11 (onderskryf deur onder andere Shemot Rabba) dat Moses die rots een maal geslaan het, en daar het druppels bloed uitgekom en nadat hy dit ‘n tweede maal geslaan het, het daar strome water uitgevloei.
Vir Christene is die simboliek van die water en die bloed tweërlei: eerstens dui dit op die twee sakramente van die Doop en die Nagmaal, en tweedens simboliseer die water heiligmaking (soos dit dikwels in beide die Ou en Nuwe Testament aangetref word); die bloed regverdigmaking, en albei kom uit en deur Christus Jesus, ons Verlosser en Saligmaker.
Bronne:
3. Dr Lukas
Die evangelis Lukas is in die Siriese stad, Antiogië, gebore en al word dit nêrens pertinent genoem nie, is daar aanduidings dat hy later in die Griekse stad Troas gewoon het. Dit word algemeen aanvaar dat Lukas nie ‘n Jood was nie, wat hom die enigste nie-Joodse skrywer van die Nuwe Testament maak. Die bewys hiervoor lê in Paulus se woorde in die vierde hoofstuk van sy brief aan die Kolossense, vanaf vers 10, waar hy die name noem van Aristargos, Markus en Jesus, wat ook Justus genoem word en hy hulle beskryf as ....die enigste Jode wat saam met my werk vir die koninkryk van God (vers 11). Dan praat hy verder van Epafras (vers 12), en in vers 14 noem hy Lukas, die dokter wat ek baie liefhet, en Demas...
Daar is egter kenners wat nie bloot aanvaar dat hy ‘n heiden was wat tot geloof gekom het nie, maar hom eerder as ‘n Griekssprekende Jood sien. Sommige bronne verklaar weer dat hy ‘n slaaf was en noem dat dit in daardie tyd nie vreemd vir ‘n slaaf was om ‘n dokter te wees nie, aangesien hy vir die welstand van sy eienaar en dié se gesin verantwoordelik was.
Hy was die skrywer van die Evangelie volgens Lukas en die Handelinge van die Apostels; twee boeke wat vroeër uit een letterkundige werk, bekend as die Lukas-handelinge, betaan het. Sy outeurskap van die twee boeke is bevestig deur prominente figure in die vroeë kerkgeskiedenis soos Hiëronimus en Eusebius, al is daar vandag nog geleerdes wat nie met hulle saamstem nie. (Buiten Nehemia, het geen Bybelse skrywer van ‘n narratiewe boek sy naam daaraan gekoppel nie). Sommige bronne noem Lukas ook as mede-outeur van die brief aan die Hebreërs.
Wat ons van Lukas weet, kry ons hoofsaaklik in die Nuwe Testament. Ons lees die eerste keer van hom in Paulus se brief aan Filemon, vers 24: ook my medewerkers Markus, Aristargos, Demas en Lukas stuur groete. Hy was ‘n dokter, vgl. Kol. 4:14: Lukas, die dokter ; en iemand wat Paulus op sommige van sy sendingreise vergesel het. Hy was dan ook die enigste persoon wat by Paulus in Rome gebly het tot die apostel se martelaardood, vgl. 2 Tim. 4:11: Net Lukas is by my.
Al sluit hy homself uit as ooggetuie van gebeure tydens Jesus se aardse bediening gebruik hy dikwels die woordjie “ons” wanneer hy oor Paulus se sendingreise skryf, wat ‘n duidelike aanduiding is dat hy self daar teenwoordig was.
Die Evangelie volgens die beskrywing van Lukas bevat inligting wat ons nie in een van die ander drie evangelies vind nie, soos heelwat oor ons Here se geboorte en kinderdae, asook van die mooiste gelykenisse, soos die dié van die Barmhartige Samaritaan en die Verlore Seun; asook drie van die kruiswoorde: “Vader, vergeef hulle”, “Vandag sal jy saam met My in die Paradys wees” en “Vader, in U hande gee Ek my gees oor.”
Buiten Lukas se literêre werk, maak sy ondersteuning aan Paulus – nie slegs op die apostel se sendingreise nie – van hom ‘n belangrike figuur in die Nuwe Testament. Waarom dan? Dit bring mens by Paulus se groot probleem, die aard waarvan daar tot vandag toe nog nie eenstemmigheid bestaan nie: 2 Kor. 12:7-9: Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan. Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”
Presies wat was dié doring in Paulus se vlees? Die bespiegelings is legio, maar die waarheid is dat dit nêrens by die naam genoem word nie. Reformatore soos Martin Luther en Johannes Calvyn glo dit was ‘n neiging om in twyfel te verval, maar ek persoonlik verkies om navorsers te glo wat beweer dat Paulus aan ‘n chroniese oogontsteking gely het. Dit was die gevolg van die ontsettende helder lig wat hom omstraal het tydens sy Damaskuspad-ervaring; die lig wat so helder was dat hy vir drie dae daarna nog totaal blind was. ‘n Chroniese oogontsteking sou nie alleen beteken het dat sy oë voortdurend rooi, vol etter en seer gewees het nie, maar dit sou ook geweldige hoofpyne tot gevolg gehad het. ‘n Bewys vir die seer oë-teorie vind ons in Galasiërs 4:15b Dit kan ek van julle getuig: As dit moontlik was, sou julle julle oë uitgeruk en vir my gegee het.
Dit kan ook verduidelik waarom Paulus so dikwels sy briewe aan skrywers dikteer het, soos ons in Romeine 16:22 lees: Ek, Tertius, wat die brief neergeskryf het, stuur as ‘n medegelowige ook my groete.
Al het Paulus drie maal gebid dat die Here dié doring in sy vlees moet wegneem, het dit nie gebeur nie – net soos ons soms vandag ook bid vir iets, en dan is dit nie sý wil dat dit gebeur nie. Paulus het egter nie in opstand gekom soos ons so dikwels doen nie – hy het die Heer vertrou wat vir hom gesê het: “My genade is vir jou genoeg...” So oneindig getrou soos God is, het Hy Paulus nie onversorgd gelaat nie, maar vir hom ‘n dr Lukas gegee om hom by te staan met die preparate en behandeling wat daar destyds tot sy beskikking was.
Mag Hy ook ons oë oopmaak om al die dr Lukasse in familie, vriende en kollegas rondom ons raak te sien in die tye wanneer dit voel asof God se genade net nie genoeg vir ons is nie. Hy self het hulle juis op daardie tydstip dáár geplaas om sý genesende en vertroostende hande in ons lewens te wees.
Lukas is, net soos sy mentor Paulus, nooit getroud nie en het dus ook geen kinders nagelaat nie. Hy is volgens oorlewering op 84-jarige leeftyd naby die stad Boeotia in Griekeland oorlede; sommige bronne beweer as ‘n martelaar vir sy geloof, maar ook daaroor is daar nie eenstemmigheid nie.
Bronne:
http://en.wikipedia.org/wiki/LuketheEvangelist
http://justus.anglican.org/resources/bio/271.html
4. Wie was Simon van Cirene?
In my st. 2 (graad 4)-jaar was ek die trotse eienaar van ‘n konynboerderytjie wat heeltemal té suksesvol na my pa se sin geword het. Sien, die mamma – Carrots was haar naam, om klaarblyklike redes, siende dat sy haar twee haasvoortande vir ‘n lekker geelwortel sou gee – het die spreekwoord “Teel soos ‘n konyn” duidelik gestand gedoen. Ek het konyntjies by die dosyne aan maatjies uitgedeel, maar toe my arme pa vir die soveelste maal die konyne se hok moes vergroot, het hy sy voet neergesit: Tot hiertoe en nie verder nie! Ek was baie erg oor my mamma-konyn; want het sy my nie soveel keer verras met nóg ‘n spannetjie sagte konynlyfies nie? Haar sou ek verkoop aan iemand wat goed na haar sou kyk, nie sommer net weggee nie, en dan iets met die geld koop wat die moeite werd is... en “die moeite werd” was tóé, net soos nou nog steeds, ‘n goeie boek. Destyds – in 1958 – was die topverkoper F A Venter se roman “Man van Cirene”, wat ek self gekies, betaal en voorin met my hase se geld (sonder "gekoop" by!) geskryf het. Ja, ek hét dit deurgelees, al kan ek nie onthou hoe lank dit my geneem het nie... Ek glo ek het toe vir die eerste keer besef dat Bybelkarakters ook maar net gewone mense was; mense van vlees, bloed en emosie en elk met ‘n eie storie. Wat van my boek geword het, weet ek nie; sekerlik maar soos vele ander daarná, uitgeleen en nooit weer teruggekry nie.
Toe vriendin Elsabé Langenhoven nou onlangs vra of ek nie iets oor Simon van Cirene wil skryf nie, het ek dadelik begin nalees. Genadiglik het ons vandag die internet tot ons beskikking om te help met navorsing – veel anders as in Frans Venter se tyd!
Simon van Cirene verskyn in drie van die vier evangelies:
- Mat. 27:32: Toe hulle uitgaan, kry hulle ‘n man van Sirene met die naam Simon, en hulle het hom gekommandeer om Jesus se kruis te dra.
- Mark. 15:21: Die soldate het iemand wat daar verbygekom het, gekommandeer om Jesus se kruis te dra. Dit was Simon van Sirene, wat van buite die stad af gekom het, die pa van Aleksander en Rufus.
- Luk. 23:26: Terwyl hulle Hom weglei, gryp hulle ‘n sekere Simon van Sirene, wat toe net van buite die stad af gekom het, en sit die kruis op hom om dit agter Jesus aan te dra.
Cirene was ‘n stad in ‘n antieke Griekse kolonie, geleë aan die noordoostelike kus van moderne Libië in Noord-Afrika. Dit was van so vroeg soos 300 v.C. die tuiste van ‘n groot Joodse gemeenskap, asook die stad waar die “Sicari” (in Latyn, "Kananites" in Aramees, of "Selote", soos hulle in die Bybel genoem word) of “Manne van die dolk/mes” skuiling gesoek het teen die Romeinse legioene ná die Joodse Opstand.
Soos dit die geval was met elke Jood wat buite Jerusalem gewoon het, het ook die Joodse inwoners van Cirene die begeerte gehad om Paasfees in dié stad te vier. Dit was egter ‘n geweldige afstand om af te lê: ongeveer 1 500 km ver, het om en by ‘n maand geneem om te voltooi en was as gevolg van onder andere onvoorspelbare weerstoestande, wilde diereen rowers wat oral geskuil het,‘n groot risiko om aan te pak. Gevolglik het die Jode wat die reis enigsins kon onderneem, dit slegs maar enkele kere in hulle leeftyd gedoen.
Vir Simon en sy reisgenote moes Jerusalem dus ‘n welkome gesig gewees het, maar hulle sou verward gewees het oor die ongekende malende mensemassa in die strate van die stad. Dit was altyd gedurende Paasfees baie bedrywig met pelgrims vanoor die hele wêreld wat op Jerusalem toesak, maar op daardie *Donderdag, 26 April 31 n.C., was dit veel, veel erger as gewoonlik, met groot groepe mense wat stampend en stotend woedend skreeu, terwyl ander weer bitterlik huil. Een bron* beweer aan die hand van historiese en astronomiese gegewens (volgens die skrywer van die betrokke artikel maak gewone mense en geleerdes die fout om aan te neem dat Vrydag altyd die dag voor die Sabbat is) dat in die jaar 31 n.C. die groot Sabbat van die Fees van die Ongesuurde brode op Vrydag, 27 April gevier is. Waarom dié vreemde jaartal wanneer dit algemeen aanvaar word dat Jesus op 33-jarige ouderdom gekruisig is? Volgens dieselfde bron* is Hy op 10 September 3 v.C. gebore; die eerste dag van die sesde maand op die Hebreeuse kalender.
Simon sou sekerlik in die verlede reeds van Jesus gehoor het, aangesien Cirene naby die kus geleë was en reisigers voortdurend verhale en nuus uit verre lande gebring het. Hy sou ongetwyfeld van die groot Leermeester gehoor het; selfs dalk hoe Jesus vir Lasarus uit die dood opgewek het. Wat hom, as Jood, egter die meeste opgewonde kon maak, sou die gerugte wees dat Jesus moontlik die beloofde Messias was. Dis moontlik dat dit 'n bykomende rede vir sy reis na Jerusalem toe was: om self te gaan sien en hoor wat werklik die geval was.
Simon het vir seker nie verwag wat volgende gebeur het nie: om deur ‘n Romeinse soldaat beveel te word om Jesus se kruis te dra. Hy sou heeltemal verpletter gewees het: deur die kruis te hanteer sou hy onrein wees en gevolglik nie deel aan die Paasmaaltyd kon hê nie... Sy lang, gevaarlike reis sou dus vergeefs wees! Om Jesus, wat ook hy moontlik as die beloofde Messias beskou het, oppad te sien om gekruisig te word, sou hom verslae gelaat het. Alles kon tog nie só eindig nie? Dit sou Simon egter niks baat om te weier nie en die soldate het dus Jesus se kruis op sy rug en skouers getel. (Hy moes ongetwyfeld ‘n sterk, gesonde man gewees het, anders sou die Romeinse soldaat hom nie gekies het nie.)
Ons weet nie met watter gesindheid Simon Jesus se kruis opgeneem het nie. Selfs al het hy empatie met die stil Man met die gemartelde, bebloede liggaam gehad, sou hy sekerlik nie die swaar las met blymoedigheid gedra het nie. Van een ding kan ons egter seker wees, al is daar geen skriftelike bewyse voor nie: die Simon van Cirene wat Jesus se kruis tot by Golgota gedra het, was nie dieselfde man as die een wat die soldaat aanvanklik gekommandeer het nie. Geen mens kan immers in die teenwoordigheid van God kom sonder om 'n totale lewensverandering te ondergaan nie...
Al lees ons nooit weer verder van Simon nie, is daar duidelike bewyse dat hy as veranderde mens na Cirene teruggekeer het om daar die Here Jesus se werk voort te sit – en die plek waar hy begin het, is sy eie gesin.
Ons weet tog dat niks "toevallig" in die Bybel opgeneem is nie: Elke woord is deur die Heilige Gees geïnspireer en gelaai met betekenis. Só lees ons in Markus 15:21 dat Simon “die pa van Aleksander en Rufus” was. Volgens oorlewering het hulle albei sendelinge geword en Markus se noem van hulle name kan daarop dui dat hulle groot aansien onder die lede van die vroegste Christengemeenskap in Rome gehad het. Rufus se naam verskyn wel weer later in die Bybel wanneer Paulus in sy Romeine-brief (Rom. 16:13) skryf: Dra ook my groete oor aan Rufus, die voortreflike werker in diens van die Here, en aan sy moeder, wat ook vir my altyd ‘n ma was.
Watter wonderlike getuigskrif vir ‘n ouer, wanneer hy sy kind deur sy eie voorbeeld kan inspireer om ‘n “voortreflike werker in diens van die Here” te word! Mag ons Here Jesus veral in hierdie dae meer vaders en moeders bekwaam en lei om hul kinders in sy weë voor te gaan.
Onverwacht.
Saterdag, 26 April 2014.
Indien die aangehaalde bron korrek is, is ons Verlosser vandag 1 983 jaar gelede gekruisig. Vanoggend het ons ook die roudiens bygewoon van ds Johannes Hendrik Viljoen, wat twee dae gelede skielik op 77-jarige ouderdom ná ‘n hartaanval oorlede is. Hy was ongetwyfeld die grootste Godsman wat ek nog die voorreg gehad het om te ken; ‘n ware Natanael: Joh. 1:47 Toe Jesus vir Natanael na Hom toe sien aankom, sê Hy van hom: “Hier is ‘n ware Israeliet, ‘n man in wie daar geen bedrog is nie.”
Ons eer ds Johannes vir sy hulp, leiding en voorbeeld.
Bronne:
http://vineandbranchworldministries.com
5. Wie was Josef van Arimatea?
Ons weet dat Josef van Arimatea die ryk man was wat die graf wat hy vir homself gereedgemaak het, geskenk het sodat Jesus se liggaam ná die kruisiging daar ter ruste gelê kon word en daardeur die profeet Jesaja se profesie van 700 jaar tevore heeltemal in vervulling laat gaan het::
Hy het ‘n graf gekry by goddeloses, hy was by by sondaars in sy dood al het hy geen misdaad gepleeg nie en al was hy nooit vals nie. (Jes. 53:9)
Josef van Arimatea was goddeloos en ‘n sondaar, soos alle mense is, maar hy was terselfdertyd belangrik genoeg om in al vier die evangelies genoem te word:
1. Laat die middag het daar ‘n ryk man aangekom. Dit was Josef van Arimatea, wat self ook ‘n volgeli8ng van Jesus was. Hy het na Pilatus toe gegaan en die liggaam van Jesus gevra, en Pilatus het beveel dat dit vir hom gegee moet word. Josef het die liggaam geneem en dit in skoon linne toegedraai en dit daarna neergelê in sy eie nuwe graf wat hy in die rots uitgekap het. Hy het ‘n groot klip voor die ingang van die graf gerol en weggegaan.(Matt. 27:57 – 60)
2. Dit was Vrydag, dit is die dag voor die sabbatdag, en dit was al die middag laat. Josef van Arimatea, ‘n vooraanstaande lid van die Joodse Raad en iemand wat self ook uitgesien het na die koms van die koninkryk van God, kom toe daar aan. Hy het dit gewaag om na Pilatus toe te gaan en die liggaam van Jesus te vra. Pilatus was verbaas om te hoor dat Jesus al dood is. Hy het die offisier laat roep en hom gevra of Jesus lankal gesterwe het. Toe hy van die offisier verneem dat dit wel so is, het hy die lyk vir Josef gegee. Josef het ‘n stuk linne gekoop, Jesus van die kruis gaan afhaal, Hom in die linne toegedraai en neergelê in ‘n graf wat in die rots uitgekap was. Hy het ‘n klip voor die ingang van die graf gerol. (Mark.15:42 – 46)
3. Daar was ‘n man met die naam Josef, afkomstig van ‘n Joodse dorpie Arimatea. Hy was ‘n goeie en opregte man en het die koms van die koninkryk van God verwag. Hoewel hy lid van die Joodse Raad was, het hy nie met hulle besluit en optrede saamgestem nie. Hierdie man het na Pilatus toe gegaan en die liggaam van Jesus gevra. Nadat hy dit van die kruis afgehaal het, het hy dit in linne toegedraai en in ‘n rotsgraf neergelê waarin nog nooit tevore iemand begrawe was nie. Dit was Vrydag, en die sabbat het al begin aanbreek.(Luk. 23:50 – 54)
4. Hierna het Josef van Arimatea, wat ‘n dissipel van Jesus was maar in die geheim, omdat hy vir die Jode bang was, vir Pilatus gevra of hy die liggaam van Jesus mag neem.Pilatus het sy toestemming gegee. Josef het toe gegaan en sy liggaam weggeneem. Nikodemus, wat ‘n keer in die nag na Jesus toe gekom het, het ook gekom en ‘n mengsel van omtrent vyftig liter mirre en aalwyn gebring. Hulle het die liggaam van Jesus geneem en dit met die reukolie behandel en in doeke toegedraai, soos dit die gebruik van die Jode was om iemandvir die begrafnis uit te lê. By die plek waar Jesus gekruisig is, was daar ‘n tuin en in die tuin ‘n nuwe graf waarin daar nog niemand begrawe was nie. Daar het hulle Jesus begrawe, omdat die sabbatdag vir die Jode al amper aangebreek het en die graf daar naby was. (Joh. 19: 38 – 42)
Uit die Bybelse inligting tot ons beskikking weet ons dus dat Josef van Arimatea afkomstig was, maar daar is nie regtig duidelikheid waar dié dorp geleë was nie. Sommige bronne glo dit was Rama (die profeet Samuel se tuisdorp), ongeveer 10 km noord van Jerusalem in die land van Benjamin. ‘n Ander kandidaat is ‘n dorp Aramatea, sowat 25 km oos van Joppe. Daar is egter ook bronne war beweer dat Josef se tuisdorp die huidige Ramalla in Israel is. Eweneens is daar nie sekerheid oor sy geboortedatum nie: Bronne plaas dit van so vroeg soos 50 v.C tot 35 v.C, maar oor sy sterfdatum is daar geen onsekerheid nie – dit was op 27 Julie 82 n.C. Ons weet ook dat hy welgesteld en ‘n volgeling van Jesus (al was dit in die geheim uit vrees vir die Jode), asook ‘n lid van die Joodse Raad of Sanhedrin (die 71 oudstes, manne met ervaring en onderlê in die Joodse wet) was.
Dié Josef wat net ‘n die geheim ‘n volgeling van Jesus was, het dit egter “gewaag” om na Pilatus toe te gaan en Jesus se liggaam te vra. Waarom toe skielik nie meer bang wees nie – en waarom was hy bang?
Dit bring ons by buite-Bybelse bronne om uit te vind wie en wat Josef van Arimatea was, en watter rol hy verder in die verspreiding van die Christendom gespeel het.
Dit is duidelik dat Jesus hom baie goed geken het: ‘n Paar bronne – waaronder die Joodse Talmoed – beweer dat hy Maria se oom was (haar pa se jongste broer), terwyl een selfs so ver gaan om te sê dat hy Maria se tweelingbroer (maar tweede gebore) was; wat hom dan Jesus se oom sou maak.
Josef was ‘n baie ryk en invloedryke man, ‘n internasionale handelaar in tin. In The Traditions of Glastonbury skryf E. Raymond Capt dat Josef in beheer was van Rome se tinmyn-belange in Brittanje. Hy was ‘n prominente figuur in die Joodse kultuur, maar ook in die wêreld van Rome – daar is sterk aanduidings dat hy Romeinse burgerskap gehad het. Dit sal dan verklaar waarom hy so maklik toegang tot Pilatus kon verkry.
Steven M. Collins skryf in sy boek The Lost Ten Tribes of Israel – Found! dat Josef ‘n duidelike rol as vaderfiguur en mentor in Jesus se lewe tussen sy twaalfde en dertigste jaar gespeel het. Dit word algemeen aanvaar dat Jesus se aardse vader, Josef, vroeg in die jongeling se lewe gesterf het. Dit het ‘n leemte gelaat wat Josef, as ‘n naby-familielid, gemaklik gevul het. Daar is sterk aanduidings dat Jesus hom op van sy reise – veral na Brittanje – vergesel het; volgens tradisie het hulle selfs ‘n tweede tuiste in Glastonbury, Engeland, gehad. (Did our Lord Visit Britain As They Say in Cornwall and Somerset? C. C. Dobson, Destiny Publishers, 1944).
Josef het geglo dat Jesus die Messias is, maar was bang om dit openlik te bely. Het hy gevrees vir sy posisie, sy rykdom, selfs sy lewe? Heel moontlik. Dit moes vir hom ‘n nagmerrie gewees het om te sien hoe Jesus deur die Joodse Raad beskuldig en veroordeel word, al het hy nie saamgestem nie..
Ná Jesus se dood het hy egter na vore gekom om sy liggaam te vra om begrawe te word en daardeur duidelik gewys waar sy lojaliteit lê. Volgens Joodse tradisie sou Josef, as sy naaste manlike familielid, verantwoordelik wees om Jesus se liggaam op te eis en ter ruste te lê.
Oor presies hoe Josef daarna in Engeland uitgekom het, is daar nie eenstemmigheid nie. Kardinaal Baronius, in lewe kurator van die bibloteek in die Vatikaan, vertel in sy Ecclesiastical Annals dat Josef en ‘n groep vriende deur die Jode by Joppe in ‘n boot sonder seile of roeispane geprop en aan die genade van die see oorgelaat is. Die rede? Hulle wou van die Christene ontslae raak, maar het nie kans gesien vir koelbloedige moord nie. Volgens Baronius het die groep die volgende name ingesluit: Maria Magdalena, Matha, haar diensmeisie Marcella, Lasarus wat deur Jesus opgewek is, en Maximin, wat deur Jesus van sy blindheid genees is. Ander weergawes voeg Maria (Kleopas se vrou) en Maria, Jesus se moeder, ook by die skipbreukelinge.
Dit was alles egter deel van God se plan, want die boot en sy passasiers het veilig by Marseilles, Frankryk, geland waar hulle deur Filippus ingewag is. Ná ‘n kort verblyf in Frankryk is Josef en sy geselskap na Glastonbury, Engeland, toe.
Waarom Engeland? Dit was sonder twyfel omdat Josef goed bekend met die land en sy mense was as gevolg van sy vroeëre reise daarheen. Hy en sy elf reisgenote het in by Glastonbury, Somerset, aan wal gegaan en tot op ‘n nabygeleë heuwel gestap vanwaar hulle die omgewing wou verken. Daar het hy, volgens oorlewering, sy staf – wat gevorm is uit Jesus se doringkroon – in die grond gedruk en verklaar dat hulle net daar sou rus. “We are weary all”, het hy gesê, en vandaar die plek senaam: Wearyall Hill. (Weer eensis daar nie eenstemmigheid oor die presiese jaartal waarin dit gebeur het nie: die meeste bronne gee 63 n.C. aan, hoewel 37 n.C. as alternatief genoem word). Die staf het dadelik begin groei en staan vandag bekend as die Glastonbury Thorn. Genadiglik is ‘n hele paar steggies van die oorspronklike boom gekweek omdat dit reeds ‘n paar keerdeur die jare deur vandale afgesaag is (die eerste so vroeg soos gedurende die Engelse Burgeroorlog van 1642 – 1651, en die jongste voorval in 2010). “Afstammelinge” van die oorspronklike doringboom (Crataegus monogyna ‘Biflora’) groei vandag op ‘n paar plekke in die Glastonbury-omgewing. Die ‘Biflora’ in die plant se naam dui daarop dat dit – anders as ander spesies – tweemaal per jaar blom: in die lente en in die winter (Desember). Kort voor Kersfees elke jaar word ‘n takkie daarvan afgesny en aan die Koningin gestuur om deel van haar Kerstafelversiering uit te maak – ‘n tradisie wat deur James Montague, Biskop van Bath en Wells,in 1608 begin is toe hy dit aan die destydse Koningin Anne oorhandig het.
Die plaaslike Keltiese hoofman, Arfyrag (ook bekend as Arviragus), het aan die groep sowat 800 ha van daardie grond geskenk en hulle het daar die eerste klooster (die Glastonbury Abbey) in Engeland gebou. (Nog ‘n legende wat op Josef betrekking het, is dat hy ‘n beker met van Jesus se bloed en sweet in, saamgeneem het op sy tog na Engeland. Dit het later bekend gestaan as die mistieke Heilige Graal “Holy Grail”).
Glastonbury-Avalon het gevolglik die setel van die Christelike kerk geword vanwaar sendelinge oraloor gestuur is. Een van die bekendstes was Cadval, wat die kerk in Tarentum, Italië, in 170 n.C. gestig het.
Koning Lucius het in 156 n.C. die Christelike geloof as Brittanje se godsdiens aanvaar. Bekeerlinge het na Glastonbury gestroom om gedoop en toegerus te word. Filippus het uit Frankryk van sy volgelinge (een bron beweer twaalf, en ‘n ander eenhonderd en sestig) gestuur om Josef en sy span met die skares behulpsaam te wees. Een van die eerste sendelinge wat uit Glastonbury na Frankryk gestuur is, was Martha en Maria se broer Lasarus, wat vir sewe jaar biskop van Marseilles was. Sy susters het by hom aangesluit en het vir die res van hul lewens in die suide van Frankryk gepreek en onderrig gegee.
Josef se dogter, Anna (of Enygeus) is met die Keltiese koning Bran Fendigaid (ook Beli genoem) getroud om Koningin Anna van Siluria te word. Haar afstammelinge is onder andere die legendariese Koning Arthur en die latere Tudors, en gevolglik ook die huidige Britse koningshuis. Koningin Elizabeth is dus ‘n afstammeling van Josef van Arimatea!
Volgens oorlewering was Josef van Arimatea so bekend en geliefd in Brittanje dat, toe hy op 86-jarige leeftyd oorlede is, sy kis deur ses konings na sy graf gedra is.
Wanneer ons aan die vroeë kerk dink, stop ons gewoonlik by Paulus se sendbriewe, om weer te hervat by Keiser Konstantyn se regering in Rome (306 – 337 n.C.) toe hy die Christendom as dominante geloof in die Romeinse Ryk verklaar het. Dit lei daartoe dat ons verkeerdelik aanvaar dat die kerk net vanuit Rome gegroei het: Al was die apostel Petrus die heel eerste Rooms Katolieke pous (33 – 67 n.C.), het die kerk in Brittanje in dieselfde tyd met rasse skrede vooruit gegaan.
Bronne: http://en.wikipedia.org
Louwrens Jacobs
Daar was 25 apostels.Is dit moontlik om hulle foto's te bekom?
fanie grobbelaar
dankie vir n baie insiggewende verduideliking oor die lewe van Petrus en die ander dissipels