Josef, Jesus se aardse vader.
Die Bybel vertel ons min van wie Josef was, gevolglik moet mens maar by buite-Bybelse bronne gaan kers opsteek. Jesus se geslagregister volgens Matteus en Lukas verskil in die sin dat volgens Matteus !:6B-16 Jesus uit Salomo stam en Jakob Josef se vader was, terwyl Lukas ‘n heel ander roete volg: volgens hom stam Jesus uit Natan, een van Dawid se ander seuns by Batseba en al die name daarna verskil van dié in Matteus.Volgens Luk.3:23 was Josef se vader Eli. Hoe dit ookal sy, Josef se geslagregister kan tot by Dawid en vandaar tot by Abraham gevolg word (Matteus), terwyl Lukas nog verder teruggaan tot by “Adam, die seun van God” (Luk.3:38).
(Aangesien ons nou besig is om vergelykings te tref, is die volgende ooreenstemmings tussen Jesus en van sy aardse voorvaders en ander Ou Testamentiese figure baie interessant: die baba Jesus, soos die baba Moses, se lewens is deur ‘n bose koning in gevaar gestel. Albei die babas het in Egipte beland, soos ook Josef, wie se pa Jakob was. Jesus se aardse vader, Josef, se pa was ook Jakob (volgens Matteus) en albei Josefs het drome gehad wat vir hulle boodskappe oor die toekoms gebring het.)
In hoofstuk drie en vier van die apokriewe “Geskiedenis van Josef die Skrynwerker” (volgens oorlewering deur Jakobus geskryf) word gemeld dat Maria as ‘n driejarige dogtertjie deur haar ouers na die tempel gebring is om daar diens te doen. Sy het vir nege jaar lank daar gebly tot haar twaalfde jaar, toe die priesters besluit het dat daar na ‘n Godvresende, regverdige man gesoek moet word aan wie se sorg die meisie toevertrou kon word totdat sy oud genoeg was om te trou; destyds op ouderdom veertien jaar.
Hulle het dadelik twaalf ou manne uit die stam van Juda byeengeroep wat die name van die twaalf stamme moes neerskryf. Daaruit het die lot op Josef uit die stam van Juda geval.
Die bejaarde Josef was ‘n wewenaar met vier seuns: Joses, Simeon, Judas en Jakobus asook twee dogters, oor wie se name daar nie eenstemmigheid is nie: Heel moontlik was die een Salome, die ander een was óf Maria óf Anna. Van die ses kinders was net Judas en Jakobus nie getroud toe Maria by hulle gaan woon het nie. Sy het vir twee jaar lank, totdat sy veertien jaar oud was en aan Josef verloof geraak het, die twee seuns se versorging waargeneem. Die bron berig dat sy veral na aan die jongste, Jakobus – gebroke oor die verlies van sy ma – was. Dit word versterk deur die feit dat sy “die moeder van Jakobus” (Lukas 24:10) genoem is.
Dit bring ons by Matt. 1:18-25: Toe sy moeder Maria nog aan Josef verloof was, het dit geblyk dat sy swanger is sonder dat hulle gemeenskap gehad het. Die swangerskap het van die Heilige Gees gekom. Haar verloofde, Josef, wat aan die wet van Moses getrou was maar haar tog nie in die openbaar tot skande wou maak nie, het hom voorgeneem om die verlowing stilweg te verbreek. Terwyl hy dit in gedagte gehad het, het daar ‘n engel van die Here in ‘n droom aan hom verskyn en gesê: “Josef, seun van Dawid, moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees. Sy sal ‘n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.”
Dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word:
“Die maagd sal swanger word en ‘n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.”
Die naam beteken God by ons.
Toe Josef uit die slaap wakker word, het hy gemaak soos die engel van die Here hom beveel het en met haar getrou. Hy het egter nie met haar omgang gehad voordat sy haar Seun in die wêreld gebring het nie. En Josef het Hom Jesus genoem.
Josef se ambag word in Grieks as tekton beskryf (in Afrikaans as “skrynwerker” of “timmerman” vertaal) maar dit is ‘n algemene woord met dieselfde wortel wat vir ons “tegnies” en “tegnologie” gee. Dit kan dus iemand beskryf wat in verskillende materiale soos hout, selfs klip en yster werk. Die spesifieke verwysing na houtwerk kom egter gereeld in die vroeë Christelike tradisie voor. Die martelaar Justinus (oorlede c. 165) het geskryf dat Jesus jukke en ploeë gemaak het. ‘n Kenner, Geza Vermes, skryf dat die woorde “skrynwerker” en “seun van ‘n skrynwerker” in die Joodse Talmoed gebruik word om ‘n hoogs geleerde man te beskryf. Hy voer aan dat die verwysing na Josef as ‘n naggar (skrynwerker) ‘n aanduiding kan wees dat hy as ‘n wyse man, hoogs geskoold in die Tora, gesien is.
In daardie dae was Nasaret ‘n klein, obskure dorpie in Galilea, ongeveer 65 km van Jerusalem af. Uit argeologiese opgrawings het kenners bepaal dat daar destyds hoogstens 400 inwoners was, dus kon daar nie te veel plaaslike werksgeleenthede gewees het nie. Nasaret was egter net sowat 6 km van die stad Seffora – wat in 4 v.C. deur die Romeine verwoes en daarna teen groot koste herbou is – geleë. Dit word algemeen aanvaar dat Josef en later Jesus ook, voor die aanvang van sy aardse bediening, daar ‘n inkomste verdien het.
Josef se ambag het verseker dat hy fiks (selfs op ‘n relatiewe hoë ouderom) genoeg was om die uitputtende vlugtog na Egipte aan te pak. Mat. 2:13-14: Nadat hulle (die sterrekykers uit die ooste) vertrek het, het daar ‘n engel van die Here in ‘n droom aan Josef verskyn en gesê: “Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte toe en bly daar totdat ek jou sê om terug te kom, want Herodes is van plan om die Kindjie te soek en Hom dood te maak.”
Josef het toe opgestaan en in die nag die Kindjie en sy moeder geneem en na Egipte toe vertrek en daar gebly tot die dood van Herodes.
Dit word algemeen aanvaar dat Josef sy jong gesin daar onderhou het deur sy ambag te beoefen.
Die Bybel verwys die laaste keer na Josef (al is dit nie direk nie) in Luk. 2:41-51: Jesus se ouers het elke jaar vir die paasfees Jerusalem toe gegaan. Toe Hy twaalf jaar oud was, het hulle weer soos gebruiklik daarheen gegaan vir die fees.
En toe die feesdae verby was, het sy ouers die terugreis begin, maar die Kind Jesus het in Jerusalem gebly sonder dat hulle dit geweet het. Omdat hulle gedink het Hy is by die reisgeselskap, het hulle ‘n dag lank gereis voordat hulle Hom onder die familie en bekendes begin soek het. Toe hulle Hom nie kry nie, het hulle omgedraai na Jerusalem toe op soek na Hom. Na drie dae het hulle Hom by die tempel gekry waar Hy tussen die geleerdes sit en na hulle luister en hulle uitvra. Almal wat Hom gehoor het, was verbaas oor sy insig en sy antwoorde. Toe sy ouers Hom sien, was hulle verslae, en sy moeder sê vir Hom: ”Kind, waarom het jy so met ons gemaak? Kyk, jou vader en ek het met angs na jou gesoek.”
Maar Hy antwoord hulle: “Waarom het u na My gesoek? Het u nie geweet dat Ek in die huis van my Vader moet wees nie?” Hulle het nie begryp wat Hy daarmee bedoel het nie. Hy het toe saam met hulle na Nasaret toe teruggegaan, en Hy was aan hulle onderdanig.
Ons weet nie wanneer of waaraan Josef gesterf het nie, maar daar is eenstemmigheid dat dit voor Jesus se dertigste jaar, toe Hy met sy bediening begin het, gebeur het. Josef was nie teenwoordig by die die gebeure in Mark. 3:31-35 nie: Sy moeder en sy broers het toe gekom. Hulle het buite bly staan en ‘n boodskap na Hom toe gestuur om Hom te roep. ‘n Menigte mense het rondom Hom gesit. Hulle sê toe vir Hom: “Kyk, u moeder en u broers en u susters daar buite soek U.”
Maar Hy sê vir hulle: “Wie is my moeder en my broers?”
Hy het die mense aangekyk wat in ‘n kring om Hom sit en gesê: “Hier is my moeder en my broers! Elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my suster en my moeder.”
Ook by die bruilof in Kana, toe Jesus sy eerste wonderwerk – water wat Hy in wyn verander het – verrig het, was Josef nie meer op die toneel nie. Op die derde dag was daar ‘n bruilof in Kana in Galilea, en die moeder van Jesus was daar. Jesus en sy dissipels is ook na die bruilof toe genooi. (Joh. 2:1,2.)
Volgens Joodse gebruik moes Josef, indien hy nog gelewe het, Jesus se liggaam ná sy kruisging gaan opeis het; ‘n taak wat Josef van Arimatea (volgens die Joodse Talmoed was hy Maria se oom; haar pa se jonger broer) op hom geneem het. (Mat. 27:57-59; Mark. 15:42-46; Luk. 23:50-53; Joh. 19:38-42).
Ons kan dus met sekerheid aanvaar dat Josef nie daar was om Jesus se hele aardse pad saam met hom te loop nie. Wat het hom so spesiaal gemaak dat God Self hom uitgesoek het om sy Seun die nodige leiding op aarde te gee? Bronne verwys na Josef as ‘n “righteous man”, met ander woorde regverdig en sonder twyfel Godvresend. Die Mosaïese wet en Joodse gebruike het sy – en dus sy gesin se – lewe gerig: dit sien mens aan die feit dat Jesus op die agtste dag besny is (Luk. 2:21), hulle die reinigingswette nagekom het, Toe die reinigingstyd soos deur die wet van Moses bepaal, vir hulle verby was, het hulle Hom na Jerusalem toe gebring om Hom tot beskikking van die Here te stel. In die wet van die Here staan immers geskrywe: “Elke eersteling van die manlike geslag moet vir die Here afgesonder word.” Hulle het ook die reinigingsoffer gebring volgens die voorskrif in die wet van die Here, naamlik “’n paar tortelduiwe of twee jong duiwe.” (Luk. 2:22-24) en dat hulle elke jaar vir die Paasfees na Jerusalem gereis het.
Al het Josef nie die antwoorde geken nie, kan mens aanvaar dat hy vele vrae gehad het oor dié Baba – veral wanneer hy sou terugdink aan die duidelike drome wat hy oor die Seuntjie gehad het. Hy het geweet dat dié Jesus ‘n baie spesiale Kind was, maar wat het God van hom, as sy aardse vader, verwag? Hy het geen verdere instruksies van Bo ontvang nie, dus kon hy maar net voortgaan soos enige Godvresende ouer sou: hy het die Seun na die sinagoge-skool toe gestuur waar Hy kon leer lees en skryf, asook ‘n deeglike opleiding in die Tora ontvang het. Mens kan jouself voorstel dat hy Hom nog verder sou onderrig het terwyl hulle twee in Josef se skrynwerkerswinkel besig was. As ‘n man en pa wat in die wet van Moses onderlê was, sou hy die bepalings in Deut. 11:18a; 19 geken en gehoorsaam het: Hierdie woorde van die Here moet julle lewe vul. Leer dit vir jou kinders deur met hulle daaroor te praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan.
Dit ly geen twyfel wees nie dat Josef sy taak in totale afhanklikheid van die Allerhoogste se leiding aangepak en afgehandel het. Hy het op God vertrou, en God het hóm vertrou met die opvoeding en versorging van sy Seun op aarde.
Bronne:
Bybel in Afrikaans 1983
Mijnhardt, Felix A. Afrikaanse Bybelkonkordansie (Lux Verbi BM 2002
https://www.biblestudytools.com/bible-study/topical-studies/how-old-was-jesus-when-he-died.html
https://www.cgg.org/index.cfm/library/article/id/24/joseph-of-arimathea.htm
dailyrosaryfamily.com/what-age-was-mary-and-joseph-when-jesus-was-born/
https://www.learnreligions.com/joseph-earthly-father-of-jesus-701091
https://www.reference.com/world-view/known-joseph-father-jesus-b360d034429b207e
https://taylormarshall.com/2011/12/did-jewish-temple-virgins-exist-and-was.html
https://viralbeliever.com/joseph-the-father-of-jesus
Timoteus, Paulus se “eie kind in die geloof” ( 1 Tim. 1:2)
In ‘n onlangse preek deur ds. Hennie Hoepfner van die NG gemeente Albertyn, Ellisras/Lephalale, verwys hy na Timoteus as ‘n voorbeeld van iemand wat gelowig grootgeword het; anders as sy mentor, Paulus, wie se Damaskuspad-ervaring sy lewe skielik en dramaties omgekeer het. Ds Hennie wys in sy boodskap daarop dat iemand wat in ‘n gelowige huis opgegroei het, se Christen-wees nie ondergeskik is aan ‘n persoon wat ‘n “dag-en-datum”-bekering gehad het nie. Die opgroei in ‘n gelowige gesin is hoegenaamd geen waarborg dat jy vir die res van jou lewe ‘n gelowige sal bly nie: jy moet nog steeds iewers op jou lewenspad die pertinente keuse vir (of dalk teen) Jesus Christus as jou persoonlike Verlosser en Saligmaker maak.
Dis dalk nie heeltemal korrek om na Timoteus as iemand te verwys wat in ‘n “gelowige huis” opgegroei het nie, want ons weet dat dit net halfpad waar is: sy pa (wie se naam nêrens genoem word nie) was ‘n Griek en dit was die rede waarom Timoteus nie as baba besny is nie. Hy is egter deur twee sterk, gelowige Joodse vroue gevorm: sy ma, Eunice, en sy ouma, Loïs, (Ek dink ook aan jou opregte geloof, dieselfde geloof wat al in jou ouma Loïs en in jou ma Eunice was, en wat, daarvan is ek oortuig, ook in jou is. 2 Tim. 1:5) wat hom deeglik in die Ou Testamentiese geskrifte onderrig het. Hy het gevolglik van heel kleins af geweet van en uitgesien na die koms van die verwagte Messias. Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeesters was en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus (2 Tim. 3:14-15).
Timoteus was in sy laat-tienerjare, moontlik vroeë twintigs, en ‘n boorling van Listra – ‘n stad in Likaonië – toe hy die eerste keer van Paulus bewus geword het. Ons lees in Hand. 14:1-3 dat Paulus en Barnabas in die sinagoge in Ikonium gepreek het (dit was tydens Paulus-hulle se tweede sendingreis), en hoe ‘n groot getal Jode en Grieke daarop gelowig geword het. Vers 4 -7 vertel verder: Die inwoners van die stad was verdeeld, party vir die Jode en party vir die apostels. Die heidene en die Jode saam met hul leiers het egter oproerig begin word en wou hulle aanrand en stenig. Toe die apstels dit agterkom, het hulle na Listra en Derbe en omgewing gevlug. Dit was twee stede in Likaonië. Daar het hulle toe die evangelie verkondig. (Eie beklemtoning). Dit was ook in Listra waar Paulus ‘n man wat van sy geboorte af verlam was, gesond gemaak het. Dis heeltemal moontlik dat Timoteus en sy ma tydens dié besoek of dalk met die daaropvolgende een (Hand. 14: 21b-22) tot geloof in Jesus Christus gekom het.
Hoe dit ookal sy, ons lees in Hand. 16:1 - 4 Paulus het in Derbe gekom en daarna in Listra. Dáár was ‘n gelowige met die naam Timoteus. Sy ma, ook ‘n gelowige, was ‘n Joodse vrou en sy pa ‘n Griek. Die gelowiges in Listra en Ikonium het net goed van hom gepraat. Omdat Paulus vir Timoteus met hom wou saamneem, het hy hom besny. Dit het hy gedoen ter wille van die Jode wat in daardie gebied gewoon het, want hulle het almal geweet sy pa is ‘n Griek.
Timoteus het Paulus se dissipel en later sy getroue medewerker geword. In 52 n.C. het Paulus en Silas hom saamgeneem op hul reis na Masedonië. Toe Paulus voortgegaan en na Atene gereis het, het Silas en Timoteus ‘n tyd lank in Berea en Tessalonika vertoef alvorens hulle weer by Paulus in Korinte aangesluit het. Ons lees weer van die jongman in Handelinge tydens Paulus se verblyf in Efese (54-57) en laat 56 of vroeg 57 stuur Paulus hom na Masedonië, met die doel dat hy uiteindelik in Korinte sou eindig. Timoteus het dan ook in dié stad arriveer kort nadat Paulus se eerste sendbrief aan die Korintiërs hulle bereik het.
Timoteus was by Paulus gedurende die winter van 57-58 toe laasgenoemde sy brief aan die Romeine geskryf het. My medewerker Timoteus stuur vir julle groete...(Rom. 16:21a) Volgens Hand. 20:4 was Timoteus net voor die Pase in 58 n.C. saam met Paulus in Masedonië, maar hy het die stad voor die apostel verlaat (Hand. 20:4-5) en in Troas op Paulus se koms gewag.
Timoteus het ‘n hegte verhouding met Paulus gehad en laasgenoemde het baie belangrike sendings aan die jongman toevertrou. Die apostel skryf in Fil. 2:19-23 Ek hoop om, as die Here Jesus wil, Timoteus gou na julle toe te stuur, sodat ek ook rus in my gemoed kan hê as ek gehoor het hoe dit met julle gaan. Ek het trouens niemand met dieselfde gesindheid as hy en wat julle belange so opreg sal behartig nie. Al die ander soek net hulle eie belange, nie dié van Jesus Christus nie. Maar julle weet hoe betroubaar Timoteus is. Soos ‘n kind saam met sy vader, het hy saam met my die saak van die evangelie gedien. Ek hoop om hom dadelik te stuur, sodra ek gesien het hoe my sake verloop.
Sy naam verskyn as mede-skrywer van 2 Korintiërs, Filippense, Kolossense, 1 Tessalonisense, 2 Tessalonisense en Filemon en in 64 n.C. laat Paulus hom in Efese agter om die gemeente aldaar te lei. Terwyl Paulus in die tronk op sy dood gewag het, het hy Timoteus versoek om by hom aan te sluit: Probeer so gou moontlik na my toe kom..(2 Tim. 4:9)
Uit Hebr. 13: 23 (Julle weet seker al dat ons broer Timoteus vrygelaat is) weet ons dat hy ten minste een keer ter wille van sy geloof in die tronk was. In 97 n.C., as tagtigjarige biskop van Efese, probeer die bejaarde Timoteus ‘n optog ter ere van die godin Diana (of Artemis) verhinder deur aan hulle die evangelie te verkondig, waarop die verwoede optoggangers hom eers ernstig aanrand, deur die strate sleep en daarna stenig.
Timoteus se stoflike oorskot word gedurende die vierde eeu vanaf Efese na Konstantinopel geneem waar dit in die Kerk van die Heilige Apostels, digby Andreas en Lukas se tombes, geplaas word. Dit word egter in die dertiende eeu deur ‘n hertog wat van ‘n kruisvaart terugkeer verwyder en na Italië geneem waar dit in 1239 in die Termoli-katedraal begrawe word. Die oorblyfsels word in 1945 tydens restourasies herontdek.
Wat kan ons vandag uit die bestudering van Timoteus se lewe leer?
Eerstens is dit baie duidelik dat die invloed van ouers (of selfs net een ouer) en grootouers nooit oorskat kan word nie. Daardie klein mensie is deur God aan jou geleen om hom of haar in sý weë te onderrig en te laat onderrig. Ek twyfel nie vir ‘n oomblik daaraan dat Hy op ‘n stadium wel van ons rekenskap sal eis nie! Dit is vanselfsprekend dat saam met jou kinders se onderrig in die geloof, jou volgehoue gebede vir hulle nooit laat vaar kan word nie. Vele mense het laat in hul lewe eers tot bekering gekom nadat ‘n ouer onverpoosd daarvoor gebid het. Jakobus sê dan ook in hoofstuk 5:16b – 20: Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking (eie beklemtoning). Elia was ‘n mens net soos ons. Hy het ernstig gebid dat dit nie moet reën nie, en in die land het dit drie jaar en ses maande lank nie gereën nie. Toe het hy weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy oes gelewer. My broers, as een van julle van die waarheid afdwaal en iemand sou hom terugbring, weet dan dat hy wat ‘n sondaar van sy dwaalweg terugbring, hom uit die dood red en maak dat ‘n menigte sondes vergewe word.
‘n Mens se jeug en gebrek aan ervaring is geen rede om van ‘n lewe in God se diens weg te skram nie. Al wat nodig is, is ‘n opregte geloof in Jesus as ons Saligmaker en die gewilligheid om te leer. Ek het een maal in een van Solly Ozrovech se Bybeldagboeke die volgende gelees: “God roep nie soseer die bekwames nie, Hy bekwaam die wat Hy roep” en dit is tog so waar! Met ‘n gewillige, toegewyde lewe kan ons Here wondere verrig. Jonk soos hy was, het Timoteus Paulus voluit gehelp om die gemeentes waar hulle besoek afgelê het, te bedien: Soos hulle van stad tot stad gereis het, het hulle die besluite wat die apostels en ouderlinge in Jerusalem geneem het, aan die gelowiges oorgedra en hulle beveel om daarvolgens te handel. So is die gemeentes in die geloof versterk, en die getal gelowiges het by die dag groter geword. (Hand. 16: 4-5)
Moenie toelaat dat ‘n vrees om met, of voor, mense te praat, jou laat huiwer nie. Paulus vermaan Timoteus in 2 Tim. 1: 8-9: Jy moenie skaam wees om die boodskap van die Here te verkondig nie; en moet jou ook nie skaam vir my wat om sy ontwil ‘n gevangene is nie. Inteendeel, dra jou deel van die ontberings vir die evangelie met die krag wat God jou gee. Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees. Jesus het self sy dissipels in Matt. 10: 19, 20 verseker: “(Moet) julle nie bekommer oor hoe of wat julle moet sê nie, want op daardie oomblik sal God aan julle gee wat julle moet sê. Dan is dit nie julle wat praat nie, maar die Gees van julle Vader wat deur julle praat.”
Uit Paulus se vermaning aan Timoteus kan ons aflei dat die jongeling se gesondheidstoestand nie altyd baie goed was nie: Moenie langer net water drink nie. Gebruik ‘n bietjie wyn vir die maag en vir jou herhaalde ongesteldhede. (1 Tim. 5: 23) Ons kan met sekerheid aanvaar dat Paulus in die verlede sou gepoog het om sy medewerker te genees, maar soos in sy eie geval met die doring in sy vlees (2 Kor. 12: 7 – 9) was dit nie God se wil nie. Daarom moet ons, as Jesus se volgelinge, nie ontmoedig word wanneer herhaalde gebede vir o.a. genesing, skynbaar nie verhoor word nie. Ons Here weet altyd wat vir ons die beste is, al lyk dit soms vir ons nie so nie!
Paulus se twee briewe aan Timoteus bevat ook vir ons in die een en twintigste eeu kosbare raad en onderwysings. Of ons jonk, soos die oorspronklike ontvanger daarvan is, of selfs ver op die lewenspad gevorder het, dit bly relevant. Lees byvoorbeeld Paulus se woorde in 1 Tim. 2:15 – 17: Lê jou daarop toe om jou tot beskikking van God te stel as ‘n arbeider wat die goedkeuring van God wegdra, ‘n arbeider wat hom vir sy werk nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid suiwer verkondig. Maar die onheilige en sinlose praatjies moet jy vermy, want dié wat dit versprei, sal nog verder in goddeloosheid verval, en hulle woorde sal voortvreet soos kanker.
Bronne:
Bybel in Afrikaans 1983
https://disciplr.com/timothy-facts-lessons
https://www.gotquestions.org/how-did-Timothy-die.html
https://www.gotquestions.org/life-Timothy.html
https://www.learnreligions.com/timothy-companion-of-the-apostle-paul-701073
www.ucg.org/the-good-news/timothy-was-blessed-for-his-mothers-and-grandmothers- faithfulness
Wat was Paulus se “doring in die vlees”?
“Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan. Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”
2 Kor. 12:7-9
Presies wát was Paulus se doring in die vlees? Daaroor is deur die jare al geweldig bespiegel en geskryf en teorieë wissel van redelik geloofwaardig – soos epilepsie – tot die absurde (wanneer in gedagte gehou word hoe sterk Paulus homself daaroor uitgespreek het), naamlik homoseksualiteit.
My eie teorie is dat die apostel aan intense migraine gely het. Net iemand wat self ‘n lyer is, sal kan getuig hoe dit mens uitmergel en totaal kragteloos laat – en dit in die moderne tyd waar ons al die mediese hulp tot ons beskikking het! Hoe moes die arme Paulus nie gely het nie, in ‘n tyd toe hy maar uitgelewer was aan allerlei rate...
Sy lyding kon die direkte gevolg van sy Damaskuspad-ervaring gewees het, waarvan ons in Hand. 9 lees:
3-5 Toe hy op reis naby Damaskus kom, het daar skielik ‘n lig uit die hemel op hom gestraal. Hy het op die grond neergeval en ‘n stem vir hom hoor sê: “Saul, Saul, waarom vervolg jy my?”
“Wie is U, Here?” vra hy toe.
“Ek is Jesus,” antwoord Hy. “Dit is vir My wat jy vervolg...”
8-9 Toe Saulus van die grond af opstaan en sy oë oopmaak, kon hy nie sien nie. Hulle het sy hand gevat en hom na Damaskus toe gelei. Drie dae lank kon hy nie sien nie...
17-18 Ananias het toe gegaan en in daardie huis gekom. Hy het Saulus die hande opgelê en gesê: “Saul, broer, die Here Jesus wat aan jou verskyn het toe jy op pad hierheen was, het my na jou toe gestuur sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul kan word.”
Onmiddellik het daar iets soos skille van Saulus se oë afgeval en kon hy weer sien.
Wanneer ons in vers 3 van “’n lig uit die hemel” lees, moet ons dit tog net nie as ‘n gewone skerperige lig sien nie. Ons praat nou van Jesus se verskyning! Om mens net effens in te dink hoe dit moes gewees het, blaai na Open. 1:12-17 waar Johannes sy ontmoeting met die lewende Jesus beskryf:
Ek het omgedraai om te sien wie dit is wat met my praat. En toe ek omgedraai het, het ek sewe goue staanlampe gesien en tussen die lampe Iemand soos die Seun van die mens. Hy het ‘n lang kleed aangehad en ‘n goue band om sy bors gedra. Die hare op sy kop was wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë het soos vuur gevlam. Sy voete was soos geelkoper wat in ‘n smeltoond gloei, en sy stem soos die gedruis van ‘n groot watermassa. In sy regterhand het Hy sewe sterre gehad, en ‘n skerp swaard met twee snykante het uit sy mond uit gekom. Sy hele voorkoms was soos die son wat op sy helderste skyn. (Eie beklemtoning)
Wanneer mens ‘n bietjie navorsing doen oor die gevolg van ‘n baie skerp lig op die oë,
kan jy maar net kyk wat die effek van ‘n laserstraal is. Die lig gaan deur die pupil, vanwaar die reeds-gekonsentreerde lig verder deur die lens op die retina fokus en dan onherstelbare skade veroorsaak.
Skade aan die retina sal sonder twyfel migraine tot gevolg hê; die sogenaamde retinale (of oftalmiese) migraine wat een uit 200 gevalle raak.
Dit sal ook Paulus se woorde aan die Galasiërs (hoofstuk 4:15) verduidelik:
Dit kan ek van julle getuig: As dit moontlik was, sou julle julle oë uitgeruk en vir my gegee het.
Die apostel sou besef het dat sy oë die oorsaak van sy probleem was en gevolglik sou hy alle moontlike kure op die proef gestel het, ook die oogsalf waarvoor die mense van Laodisea bekend was. (In hul stad was daar 'n beroemde medieseskool met ‘n sterk farmakologiese departement.) Die boodskap aan die gemeente van Laodisea raai onder meer aan ... en koop oogsalf om aan julle oë te smeer sodat julle kan sien. (Open. 3:18c)
Die Gees verwys wel nie na ‘n letterlike “sien” nie, maar die geestelike; tog sou die mense van Laodisea presies verstaan het wat Hy bedoel.
Die migraine-teorie kan ook verklaar waarom hy dikwels sy sendbriewe aan skrywers dikteer het soos ons in Romeine 16:22 lees: Ek, Tertius, wat die brief neergeskryf het, stuur as ‘n medegelowige ook my groete. Verder sluit hy sy brief aan die Kolossense af met Nou skrywe ek met my eie hand. Groete, Paulus (Kol. 4:18a), en in 2 Tess. 3:17 lees ons Nou skryf ek met my eie hand. Groete, Paulus. So teken ek elke brief. Dis my handskrif. Enigeen wat al die onbeskryflike pyn van 'n migraine-aanval beleef het, sal getuig dat jy verseker nie self 'n brief kan skryf nie, al is dit ook hoe dringend!
Ek wonder wat Paulus sou sê as hy moes weet dat migrainelyers vandag nog, negentien eeue later – ten spyte van al die vooruitgang op mediese gebied – steeds bid om van hul doring in die vlees bevry te word. Die heel beste behandeling help steeds net gedeeltelik, maar hulle kan darem pynverligting kry – iets wat hom nie beskore was nie...
Bronne:
Die Bybel (Afr.83)
Mijnhardt, F.A.: Afrikaanse Bybelkonkordansie. Lux Verbi (2002)
www.bibleplaces.com: Galatia
www.studylight.org: Verse-by-Verse Bible Commentary
Barabbas
Anders as die stories van Dismas en Longinus (wat hierna volg) is Barabbas s’n bekend. Alles wat ons oor hom weet, kan in die Bybel gelees word en dit beslaan maar enkele sinne. Waarom dan hoegenaamd oor hom skryf, as daar nie veel meer te vertel is nie?, kan mens tereg vra. Vir my lê die waarde van Barabbas se verhaal nie in die bykomende inligting wat van hom ‘n interessante figuur maak nie, maar omdat hy by uitstek ‘n voorbeeld van die Tweede Kans is. Die tweede kans wat elkeen van ons op die ewige lewe kry wanneer ons Jesus as Verlosser en Heer aanneem en Hom daarna volg.
‘n Paar ander karakters met belangrike rolle in die drama wat voor Jesus se kruisiging afgespeel het, het ‘n keuse gehad: ons dink hier aan Judas, wat ons Verlosser verraai het, Petrus, wat Hom verloën het en Pilatus, wat Hom oorgelewer het. Barabbas het egter nie ‘n keuse gehad nie, maar dis ‘n uitgemaakte saak dat hy nie anders sou gekies het nie!
Ons lees die eerste keer van hom in Matt. 27:15 en 16: Die goewerneur het die gewoonte gehad om elke paasfees vir die mense een gevangene van hulle eie keuse los te laat. In daardie tyd was daar ‘n berugte gevangene met die naam Jesus Barrabas.
Markus 15:7 berig (D)aar was’n man met die naam Barabbas in die tronk saam met ander opstandelinge. Hulle het tydens die opstand moord gepleeg terwyl Luk. 23: 18b berig Barabbas was in die tronk oor ‘n opstand in die stad en oor moord.
Joh. 18:40 beskryf hom kortweg as Barabbas was ‘n rower.
Wie was Barabbas? Sy naam was Jesus bar Abbas, wat “seun van die vader” (bar abbas) of “seun van die onderwyser” (bar abban) beteken wat, volgens sommige kenners, daarop kon dui dat sy pa moontlik ‘n skrifgeleerde was. (Die naam bar Abbas kon net sowel aan Jesus self toegeken word, aangesien Hy dikwels die woord Abba gebruik het wanneer Hy na God verwys het.)
Dit is duidelik dat die eerste deel van Barabbas se naam, Jesus, doelbewus deur Christen-skrywers – onder wie die gerekende Origen – weens eerbied weggelaat is omdat hulle nie wou hê dat “Jesus” met ‘n misdadiger vereenselwig sou word nie.
Dit is duidelik dat die ooreenkoms nie net by die twee se name geëindig het nie. Albei was uiters gewild by die mense: toe Jesus op Palmsondag Jerusalem binnegekom het, is Hy deur die opgewonde skare verwelkom as die langverwagte Messias wat, met God se hulp, hulle van alle onderdrukking sou verlos en ‘n nuwe ewige Koninkryk van God op aarde sou vestig.
Barabbas was eweneens ‘n gewilde figuur: hy was in die tronk as gevolg van ‘n opstand teen die regering waaraan hy deelgeneem het en dit word algemeen aanvaar dat hy een van die leiers was. In die oë van die gehate Romeinse owerhede was hulle dus albei rebelleleiers – Jesus se reiniging van die tempel vroeër daardie week kon heel moontlik as ‘n rebellie in die kleine beskou word.
Ons het reeds gelees dat dit die goewerneur se gewoonte was om tydens paasfees ‘n gevangene vir die volk vry te laat. Uit Luk. 23:20 Omdat Pilatus vir Jesus wou loslaat.. en Mark. 15:10... hy geweet (het) dat die priesterhoofde Hom uit afguns uitgelewer het weet ons dat Pilatus oortuig was van Jesus se onskuld. Dit word bevestig deur Luk. 23:13-16: Daarna het Pilatus die priesterhoofde, die lede van die Joodse Raad en die volk bymekaar geroep en vir hulle gesê: “Julle het hierdie man voor my gebring as ‘n opruier van die volk. Nou het ek in julle teenwoordigheid die saak ondersoek, en ek het in hierdie man geen grond gevind vir die aanklag wat julle teen hom inbring nie. Herodes het ook nie, want hy het hom na ons toe teruggestuur. Hy het beslis niks gedoen wat die dood verdien nie. Ek sal hom dus laat gesel en dan loslaat.”
Maar soos een man het hulle geskreeu: “Weg met hom! Laat Barabbas vir ons los!”
Waarom het die volk “soos een man” téén Jesus vír Barabbas gekies? Die antwoord is tweërlei: Jesus is laatnag gearresteer en vroeg die volgende oggend voor Pilatus gebring. Sy volgelinge het sekerlik nie geweet wat besig was om te gebeur nie en verder het al sy dissipels, behalwe Petrus wat agterlangs gevolg het, Hom in die steek gelaat en gevlug.
Daarteenoor het die skare uit oorwegend amptenare van die Joodse geestelike owerhede, hul werknemers en nalopers bestaan wat deur hul meesters aangehits is, soos ons in Matt. 27:20 dan ook lees: Intussen het die priesterhoofde en die familiehoofde die mense oorgehaal om vir Barabbas vrylating te vra en vir Jesus die dood.
Dink daaraan: die mense kies vir een wat lewens neem in die plek van die Een wat lewe gee...
Pilatus, as goewerneur en die verteenwoordiger van die Romeinse owerheid, sou alles in sy vermoë gedoen het om ‘n opstand te vermy aangesien dit sleg op sy bewind kon reflekteer. Gevolglik lees ons in Matt. 27:24-25 Toe Pilatus sien dit help alles niks nie en dat daar eerder ‘n oproer kom, het hy water gevat en voor die skare sy hande gewas en gesê: “Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie man. Dit is julle verantwoordelikheid” gevolg deur die dramatiese Toe antwoord die hele volk: “Laat die skuld vir sy bloed op ons en ons kinders rus!”
(Hulle het beslis nie geweet wat hulle daar sê nie. Kon dit dalk gelei het tot die dood van nagenoeg ses miljoen Jode in die strafkampe van die Tweede Wêreldoorlog?)
Waarom wou die Joodse leiers Jesus so graag dood hê? Die antwoord lê daarin dat sy volgelinge Hom as die Messias gesien het wat hulle van die Romeinse oorheersers sou bevry en dit was ‘n bedreiging vir hul gesag.
Ons sien dus dat Barabbas die eerste mens geword het wie se lewe gered is deur Jesus wat in sy plek gekruisig is en hy is vrygelaat. Daar word nooit weer na hom in die Bybel of buite-Bybelsebronne verwys nie. Dit word egter vertel dat hy later daardie dag na Golgota toe gegaan het om te sien wie dié Jesus is wat in sy plek daar aan die kruis hang. Het hy gewonder, of selfs rondgevra wat die misdade was waaraan dié Man skuldig bevind is? Dit kon tog sekerlik nie “Jesus van Nasaret, die koning van die Jode” wees wat as aanklag teen die kruis vasgepyker was nie!
Feit bly dat Barabbas ‘n keuse gehad het in wat hy, as die eerste mens wat deur Jesus se dood ‘n tweede kans in die lewe gekry het, verder sou doen: sou hy dit met albei hande aangryp en sy lewe daarna hervorm het, of sou hy die aand van sy – en ons – Here se versoeningsdood aan die kruis saam met sy vriende sy “vryheid” gaan vier, en dadelik weer begin beplan het aan die volgende rooftog of opstand? Niemand weet nie.
Bronne:
Die Bybel (1983)
https://bible.knowing-jesus.com/topics/Barabbas
https://godlyyouth.com/2014/02/08/barabbas-and-second-chances/
www.britannica.com/topic/Barabbas-biblical-figure
www.gospel-mysteries.net/barabbas.html
Dismas
Net soos in die geval van Longinus (wat hierna volg), lees ons van hom in al vier die evangelies:
Mat. 27:38 : Saam met Hom het hulle ook twee rowers gekruisig, een regs en die ander een links van Hom.
Mark. 15:27: Saam met Hom het hulle ook twee rowers gekruisig, een regs en een links van Hom.
Luk. 23:33: Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar saam met die misdadigers gekruisig, die een aan sy regter- en die ander een aan sy linkerkant.
Joh. 19:18: Daar het hulle Hom gekruisig en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel.
Dis egter net Lukas wat aan hom ‘n stem gee: Luk. 23:39-43: Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom gelaster deur te sê: “Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons ook!”
Maar die ander een het hom tereggewys en gesê: “Is jy nie bang vir God nie? Jy ondergaan tog dieselfde straf as hierdie man! In ons geval is dit regverdig, want ons ontvang die verdiende straf vir ons dade. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.” Verder sê hy: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.”
Jesus antwoord hom: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wee.”
Ons moet weer eens in buite-Bybelse bronne gaan soek om uit te vind dat die rower aan Jesus se regterhand se naam Dismas was terwyl die een aan sy linkerhand Gesmas genoem is.
Ook óm die persoon van Dismas is daar verskeie legendes. Volgens die een het sy en Jesus se paaie reeds as babas gekruis: Daarvolgens was Dismas se pa die hoofman van ‘n stam woestynbewoners wat aan Josef, Maria en die baba Jesus skuiling gegee het tydens hul vlug na Egipte. Dismas se ma het dadelik gesien dat Maria se seuntjie nie sommer ‘n gewone baba was nie en toe Jesus gebad word, vra sy vir Maria of sy maar haar baba Dismas, wat melaats was, ná Jesus kon bad. Maria het haar aangesê om ‘n holte in die woestynsand te maak en die badwater daarin te gooi, dan sou sy nooit weer nodig hê om oor badwater vir haar seuntjie bekommerd te wees nie. Sy het hom daarin laat afsak, en Dismas is dadelik genees.
‘n Tweede legende het ook met die vlug na Egipte te doen: Die drie vlugtelinge is op ‘n stadium deur ‘n bende woestynrowers, aangevoer deur Dismas en Gestas, aangeval ten einde die wyse manne se geskenke aan die baba Jesus te roof. Toe Gestas daarmee wou voortgaan, het Dismas hom met 40 dragmas omgekoop om dit nie te doen nie. Daarop het die tweejarige Jesus voorspel dat hulle eendag saam met Hom gekruisig sou word en dat een van hulle Hom na die paradys sou volg.
Die mooiste beskrywing van dié gebeure vind ons in die apokriewe Evangelie van Nikodemus 25: So is Christus dan in die paradys in terwyl Hy Adam se hand vashou. Daar het Hy vir Adam en al die ander mense wat reg geleef het, aan Migael, die hoofengel, oorhandig.
Toe hulle by die poort van die paradys ingaan, het twee ou mans hulle tegemoetloop. God se mense het vir die twee gevra: “Wie is julle dat julle nooit dood was en nooit in die doderyk ingegaan het nie, maar hier in die paradys woon met julle liggame en siele?” Een van hulle het geantwoord: “Ek is Henog met wie se lewe God tevrede was. Hy het my hier na die paradys gebring. En dit is Elia, die Tisbiet. Ons sal leef tot by die einde van die wêreld en dan sal God ons stuur om teen die Antichris te veg en deur hom doodgemaak te word. Maar ná drie dae sal ons weer uit die dood opstaan en in die wolke opgeneem word om die Here te ontmoet.”
(Volgens die Ou Testament het sowel Henog as Elia nooit doodgegaan nie, maar hulle is direk in die hemel opgeneem. Dit is hoekom hier gesê word dat hulle nooit in die doderyk was nie. In Openbaring 11 word vertel van twee getuies wat deur God gestuur sal word en wat 1260 dae lank sal getuig, maar uiteindelik deur die “dier uit die aarde” doodgemaak sal word en dan ná drie dae weer lewend sal word.)
26. Terwyl Henog en Elia nog besig was om te praat, kom daar ‘n ander man aan – ‘n nederige man wat ‘n kruis op sy skouer dra. God se mense het vir hom gevra: “Wie is jy wat soos ‘n rower lyk en hoekom dra jy ‘n kruis op jou skouer?” Die man het geantwoord: “Julle is reg. Ek was ‘n rower en ‘n dief toe ek in die wêreld was. Daarom het die Jode my gevang en my oorgegee om aan die kruis te sterf saam met ons Here Jesus Christus. Toe Hy dan aan die kruis gehang het, het ek die wonderwerke gesien wat gebeur en in Hom geglo. Ek het my op Hom beroep en gevra: ‘Here, wanneer U Koning is, moet U my asseblief nie vergeet nie.’ Hy het my dadelik geantwoord: ‘Ek belowe vir jou vandag, jy sal beslis saam met My in die paradys wees!’ Dit is hoe ek in die paradys gekom het met my kruis op my skouer. En ek het vir Migael, die hoofengel, gekry en vir hom gesê: ‘Ons Here Jesus Christus wat gekruisig is, het my hierheen gestuur. Vat my daarom na die poort van Eden.’ En toe die vlammende swaard die teken van die kruis sien, het dit vir my oopgegaan en ek het ingegaan. Toe sê die hoofengel vir my: ‘Jy moet nog ‘n rukkie wag, want Adam, die voorvader van alle mense, is op pad met die mense wat reg geleef het sodat hulle ook in die paradys kan ingaan.’ Toe ek julle sien kom, het ek gekom om julle te kom ontmoet.” Toe God se mense hoor wat hy sê, het hulle almal hard uitgeroep: “Ons Here is groot en baie sterk!”
In ‘n treffende artikel, “Gestas and Dismas”, skryf dr. Matt Friedeman op 21 Maart 2018 (vry vertaal):
Wanneer die kerk na Dismas kyk, is daar vier lesse te leer uit sy tyd aan die kruis.
- Dismas het sy eie swaard na Jesus se sy gemik – ‘n swaard van liefde en berou – wat Jesus se hart in genade en vergewing oopgemaak het nog voor die centurion se spies Hom deurboor het.
- Dismas se gesig was nader aan Jesus s’n in sy laaste minute van angs en pyn om aan Hom ‘n bietjie vertroosting te bied; selfs nader as dié van sy moeder of enige van sy dissipels. Die woord vir “gesig” (panim) in die Ou Testament word gewoonlik vertaal as “teenwoordigheid” en niks is meer waardevol as dit beskou nie.
- Dismas het goed geweet hoe om te bid (hy het na Jesus gekyk en gepraat! – en dis wat gebed is). Die kerk wou by Dismas leer bid om vergewing, genade en volharding.
- Die kerk het daarna geleer dat Dismas nou naby Jesus in die hemel is. Dís waar ons almal wil wees: in Jesus se teenwoordigheid. Nou en tot in ewigheid.
Dismas word vandag in die Rooms Katolieke kerk vereer as die beskermheilige van ter doodveroordeeldes, diegene wat hulle met oneerlike dade besig hou en restitusie wil verkry alvorens hulle sterf maar nie weet hoe nie, sondaars en verlorenes en dié wat desperaat is as gevolg van omstandighede waaruit daar vir hulle geen uitkoms is nie (m.a.w. "the wretched" in Engels).
Bronne:
1. Die Bybel in Afrikaans (1983)
2. Van der Watt, J en Tolmie, F.: Apokriewe Ou en Nuwe Testament (CUM 2005 p. 522 –
524)
3. https://wbs.edu/2016/03/gestas-and-dismas
4. https://www.catholic.org/saints/saint.php?saint_id=114
5. https://www.traditioninaction.org/SOD/j238sd_Dismas_03_12.html
Longinus
Ons lees van hom in al vier die evangelies, al word sy naam nêrens genoem nie:
Matt. 27: 54: Toe die offisier en die soldate wat saam met hom vir Jesus bewaak het, die aardbewing sien en die dinge wat gebeur, het hulle baie bang geword en gesê: “Hierdie man was werklik die Seun van God.”
Mark. 15:39: Toe die offisier, wat reg voor Jesus gestaan het, Hom die laaste asem só sien uitblaas het, het hy gesê: “Hierdie man was werklik die Seun van God.”
Luk. 23:47: Toe die offisier sien wat gebeur het, het hy God geprys en gesê: “Hierdie man was werklik onskuldig.”
Joh. 19:33,34: Toe hulle egter by Jesus kom en sien dat hy al klaar dood is, het hulle nie sy bene gebreek nie. Maar een van die soldate het met ‘n spies in sy sy gesteek, en daar het dadelik bloed en water uitgekom.” (Eie beklemtoning)
Om uit te vind wie hy was, moet ons in buite-Bybelse bronne gaan soek. In die apokriewe Evangelie van Nikodemus lees ons hoe Annas en Kajafas sê “Ons het gesien hoe hy op Skedelkoppie gekruisig word, saam met twee diewe. Ons het gesien dat hulle vir hom asyn met gal daarin gegee het om te drink en dat Longinus, die soldaat, ‘n spies in Jesus se sy gedruk het. (Weer my eie beklemtoning)
Daar is bronne wat beweer dat sy naam Gaius Cassius was wat spoedig verander is na Longinus; heel moontlik omdat dit herinner aan die Latynse “longurius” wat “lang paal” beteken. Dis egter die legendes óm die Romeinse soldaat wat fassineer.
Die eerste is dat Longinus feitlik blind was – volgens sommige bronne as gevolg van ‘n ooginfeksie wat nie genees kon word nie. Toe hy die spies in Jesus se sy druk en daar bloed en water uitkom, het van die vog in sy oë gespat en hy is dadelik genees. Vandaar dan sy uitroep dat die Man aan die kruis werklik die Seun van God was en ook die rede waarom St. Longinus die Katolieke beskermheilige van blindes en swaksiendes geword het.
Volgens oorlewering was Longinus en twee van sy makkers daarna deel van die groep soldate wat Jesus se graf moes oppas. Ná Christus se opstanding is hulle ook ‘n groot som geld deur die Joodse leiers aangebied om te vertel dat Jesus se dissipels sy liggaam gesteel het: Die priesterhoofde het saam met die familiehoofde vergader en die volgende plan gemaak. Hulle het vir die soldate ‘n groot som geld gegee en gesê: “Julle moet sê: ‘Sy dissipels het in die nag gekom en sy liggaam gesteel terwyl ons geslaap het.’ En as die goewerneur daarvan hoor, sal ons hom tevrede stel en sorg dat julle nie bekommerd hoef te wees nie.” Die wagte het toe die geld gevat en gemaak soos hulle voorgesê is. Mat. 28:12-15.
Die drie vriende het egter nie, soos die ander soldate, vir die bedrog kans gesien nie en geweier. Hulle kon ook nie stilbly oor die wonder van Jesus se opstanding nie en het dit wyd verkondig, waarna hulle deur die apostels gedoop is. Die drie het uit die militêre diens getree en hulle in Longinus se geboorteland, Kappadosië, gaan vestig waar hul getuienis groot getalle mense vir Jesus gewen het.
Toe die Joodse leiers dit verneem, het hulle vir Pilatus gevra om ‘n afdeling soldate te stuur om die drie te vang en om die lewe te bring. Met die soldate se aankoms in Longinus-hulle se dorpie, het Longinus, die voormalige centurion, die groep hartlik verwelkom en na sy huis toe genooi. Hy het aan hulle ‘n ete voorgesit waarna die soldate vertel het waarom hulle daar is, sonder om te besef dat hul gasheer in werklikheid hul teiken is!
Longinus en sy twee vriende het aan hul oorblufte gaste die waarheid vertel en gesê die groep moet hul opdrag uitvoer. Die arme soldate wou niks daarvan weet nie en het die drie gevra om liewer te vlug, maar Longinus en sy vriende het aangedring dat hulle gereed is om martelare vir Koning Jesus te wees. Die drie is daar onthoof en begrawe, maar Longinus se kop is teruggeneem na Pilatus toe. Dié het opdrag gegee dat dit op ‘n vullishoop buite die stadsmure gegooi word.
Na verloop van tyd het ‘n blinde weduwee en haar seun, wat haar gids was, uit Kappadosië in Jerusalem aangekom waar sy by al die heilige plekke wou bid om haar sig te terug te kry. Kort na hul aankoms het haar seun egter siek geword en gesterf. Sy was ontroosbaar, want net net het sy haar seun verloor nie, maar saam met hom alle hoop om ooit weer te kon sien. Daardie nag verskyn Longinus in ‘n droom aan haar en vra dat sy sy kop op daardie spesifieke vullishoop gaan kry. Vrywilligers het haar daarheen gelei en sy het tussen die vullis rondgesoek totdat sy die martelaar se kop gevoel het – en dadelik kon sy weer sien! Sy het die kop saamgeneem na waar sy oorgebly het en dit goed skoongemaak.
Daardie nag verskyn Longinus weer aan haar, die keer in die geselskap van haar seun. ‘n Helder lig het hulle omgewe en die martelaar het aan haar gesê dat sy nie langer oor haar seun moes treur nie, want hy is in God se Koninkryk, waar sy ook eendag sal wees. Hy het ook gevra dat sy sy kop saam met haar seun se liggaam terug moes neem na Kappadosië en dit in dieselfde graf begrawe.
Die weduwee is daarna vol vreugde na haar huis toe: nie net het sy haar sig teruggekry nie, maar sy het ook die versekering gehad dat haar seun vir haar in die Hiernamaals wag.
‘n Interessante uitvloeisel uit Longinus se verhaal, is dat sy spies ook een van die sogenaamde godsdienstige relikwieë (soos die doringkroon, die heilige graal en die kleed van Turyn) geword het.
Dit is deur die eeue deur van die magtigste politieke en militêre leiers van hul tyd, soos Konstantyn 1, Charlemagne, Frederik van Barbarossa en Frederik die Tweede, besit. Gou het dit bekend geword dat die persoon in wie se besit die spies was, onoorwinlik was, soos Charlemagne en Frederik van Barbarossa wat eers weer in ‘n veldslag verslaan is nadat hulle die spies verloor het. Die legende het dus ontstaan dat wie ook al die spies besit, die lot van die wêreld in sy hande hou, of dit ten goede of ten kwade is en dit het spoedig die naam “Spear of Destiny” gekry.
Adolf Hitler het die spies die eerste keer gesien toe dit in 1909 in die Hofsburg-museum in Wenen, Oostenryk uitgestal was. Hy was deeglik bewus van die legende van die heilige spies en sy belangstelling is verder aangewakker deur die belangrike rol wat dit in sy gunsteling-komponis, Richard Wagner, se 1882 opera Parsifal (wat handel oor ‘n groep negende eeuse ridders en hul soektog na die Heilige Graal) gespeel het.
Op 12 Oktober 1938, kort na die Duitse besetting van Oostenryk, gee Hitler opdrag aan die S.S. om die spies en ander artifakte na Nuremburg te neem waar dit in die Kerk van St Katherine bewaar is. In 1944 is ‘n versterkte ondergrondse kelder onder die kerk gebou om die kosbaarhede teen geallieerde bomaanvalle te beskerm.
Nuremberg word in April die volgende jaar deur Amerikaanse geallieerde troepe ingeneem waarna Amerikaanse offisiere die ondergrondse kelder met sy skatte ontdek. Laat die middag van 30 April 1945 – skaars twee ure voor Hitler se selfmoord – word die “Spear of Destiny” deur die Amerikaners gekonfiskeer. Net soos die spies se vorige eienaars, is Hitler dood nadat hy dit verloor het...
Bronne:
1. Die Bybel in Afrikaans (1983)
2. Van der Watt, J. en Tolmie, F.: Apokriewe Ou en Nuwe Testament (CUM, 2005 p. 514)
3. https://daisaints.wordpress.com/2014/04/06/st-longinus-patron-saint-of-the-blind-or-
people-with-poor-eyesight/
4. https://ezinearticles.com/?The-Spear-of-Longinus&id=106968
5. www.gotquestions.org/ Was Longinus the name of the Roman soldier who pierced Jesus
with the spear?
6. www.oca.org/ Martyr Longinus the Centurion who stood at the Cross of the Lord.
Die 25 Apostels
In antwoord op Louwrens Jacobs se versoek van só lank gelede, plaas ek graag iets meer oor die 25 apostels. (Jammer dit het so lank geneem, maar die afgelope paar jaar het daar ‘n paar goed met my gebeur wat my op ‘n redelike slegte plek gelaat het en ek het net níks geskryf nie. Alle dank aan ons Here dat dit nou alles iets van die verlede is!)
Voor ons verder gaan, moet ons net eers kyk na die verskil tussen “dissipel” en “apostel”. “Dissipel” dui op ‘n volgeling (daar word ook van Johannes se dissipels gepraat), terwyl “apostel” vir iemand gebruik word wat uitgestuur is. Ons lees in Lukas 6:13 Toe dit dag word, het Hy sy dissipels nader geroep en twaalf van hulle uitgekies, wat Hy ook apostels genoem het. Dan volg die bekende name van die twaalf, en daarna lees ons in vers 17 Hy het saam met hulle van die berg afgekom en op ‘n gelykte by ‘n groot aantal volgelinge gaan staan. Mens kan met vrymoedigheid aanvaar dat die grootste gedeelte van dié “groot aantal volgelinge” wel sy dissipels was.
In Handelinge en al Paulus se sendbriewe lees ons feitlik net van apostels, in teenstelling met die Evangelies. Trouens, Paulus verwys pal na homself as ‘n apostel in die aanhef van meeste van sy briewe
Om terug te keer na die twaalf se opdrag toe Jesus hulle die eerste keer uitgestuur het. Ons lees daarvan in Matt. 10:5 -15, en in die besonder verse 7 en 8: “Gaan verkondig: ‘Die koninkryk van die hemel het naby gekom.’ Maak siekes gesond, wek dooies op, reinig melaatses en dryf bose geeste uit. Julle het dit verniet ontvang, gee dit ook verniet.”
Dit is interessant om daarop te let dat dit nie die enigste gestuurdes deur Jesus was nie. Lukas is die enigste van die evangelieskrywers wat dit vermeld, en wel in Lukas 10:1-20. Vers 1: Daarna het die Here twee en sewentig* ander aangewys en hulle twee-twee voor Hom uitgestuur na elke dorp en plek waarheen Hy van plan was om te gaan. Hul opdrag was baie dieselfde as dié van die twaalf, behalwe dat ons ook lees van hul terugkoms in verse 17:20. Lukas vermeld nie hul name nie en dit dui daarop dat dit net ‘n tydelike opdrag was.
*In sommige ander geskrifte word daar na net Sewentig gestuurdes verwys.
(Nog ‘n interessantheid is dat daar op ‘n ander keer in die Bybel melding gemaak word van sewentig helpers, en wel in Ex. 24: 1 en Num. 11: 16, waar ons lees Die Here het vir Moses gesê: “Bring vir My sewentig van Israel se leiers, mense van wie jy weet dat hulle leiers en ampsdraers van die volk is....”)
Lukas verstrek wel nie die Twee en Sewentig se name nie, maar daar is heelwat buite-Bybelse bronne wat dit wel doen. Trouens, daar is meer as een weergawe, maar hulle stem grootliks ooreen. (Ek sien hier kom ‘n toekomstige skryfsel...!)
Die name van die apostels, soos in die Bybel opgeteken, is die volgende:
- Jesus Christus (Hebreërs 3:1)
- Simon Petrus (Matt. 10:2)
- Andreas (Matt. 10:2)
- Jakobus, seun van Sebedeus (Matt. 10:3)
- Johannes (Matt. 10:3)
- Filippus (Matt. 10:3)
- Bartolomeus (Matt. 10:3)
- Tomas (Matt. 10:3)
- Matteus (Matt. 10:3)
- Jakobus, seun van Alfeus (Matt. 10:3)
- Taddeus (Matt. 10:3) of Judas, seun van Jakobus (Lukas 6:15)
- Simon die Kananeër of Seloot (Matt. 10:4)
- Judas Iskariot (Matt. 10:4)
- Mattias (Hand. 1:26)
- Paulus (Gal. 1:1)
- Barnabas (Hand. 14:4, 14)
- Andronikus (Rom. 16:7)
- Junias (Rom. 16:7)
- Jakobus, die broer van die Here (Gal. 1:19)
- Silas (Silvanus) (1 Tess. 1:1)
- Timoteus (1 Tess. 1:1)
- Epafroditos (Fil. 2:25)
- Apollos (1 Kor. 4:6)
- Die eerste van die twee naamlose apostels (2 Kor. 8:18)
- Die tweede van die twee naamlose apostels (2 Kor. 8:22)
Moontlike ander apostels sluit in:
- Judas, Jesus se broer
- Markus, die outeur van sommige Bybelboeke
- Lukas. Soos Markus, is hulle deur die vroeë kerkvaders as apostels beskou aangesien hulle die skrywers van heelwat van die Nuwe Testamentiese boeke is.
- Die skrywer van die Hebreër-brief om dieselfde rede.
- Titus. Hy het dieselfde posisie gehad en dieselfde rol vertolk as Timoteus, wat wel ‘n apostel was.
Vir die doel van hierdie bespreking sal ons 1 tot 13 oorslaan en begin by die meer onbekendes, alhoewel Paulus sekerlik meer bekend as sommige van Jesus se dissipels is!
14. Mattias
Ons lees nêrens voor of na Handelinge 1: 21 tot 26 van Mattias in die Bybel nie. Uit dié gedeelte weet ons wel dat hy een van Jesus se volgelinge was van sy doop deur Johannes, tot sy hemelvaart.
Toe die dissipels iemand in Judas Iskariot se plek moes kies, is twee name voorgestel: Josef, wat ook Barsabbas of Justus genoem is, en Mattias. Nadat hulle gebid het dat die Here die regte een aanwys, het hulle geloot en die loting het op Mattias geval. Hy het dus die twaalfde apostel geword.
Buite-Bybelse bronne berig dat Mattias eers die Woord in Judea verkondig het en daarna is hy na Kappadosië en die kus van die Kaspiese See, waar hy naby die hawe van Issus gewoon het.
Niceforus, ‘n ander geskiedskrywer, vertel dat hy ná sy werk in Judea na die Kolkis-streek in die hedendaagse Georgië vertrek het waar hy later gestenig is. Daar is egter nie eenstemmigheid oor hoe hy aan sy einde gekom het nie, aangesien die Sinopsis van Dorotheus die volgende tradisie huldig: “Mattias het die Evangelie aan die barbare en mensvreters in Etiopië verkondig, naby die seehawe van Hyssus, by die mond van die Fasis-rivier. Hy het by Sebastopolis gesterf en is daar, naby die Tempel van die Son, begrawe.”
Volgens nog ‘n oorlewering is Mattias deur die Jode in Jerusalem gestenig en daarna onthoof.
15. Paulus
Ons is bevoorreg om oor die grootste deel van Saulus van Tarsus se latere lewe in die Bybel te lees en daarom gaan ek nie uitbrei oor sy werk nie.
Ons weet egter nie veel van sy doen en late voor daar die eerste keer na hom verwys word tydens Stefanus se steniging nie. Hy is moontlik tussen 5 v.C. en 5 n.C. in ‘n streng-Joodse huis gebore as ‘n fariseër, die seun van ‘n fariseër en ‘n Romeinse burger. Sy Joodse naam was Saulus, maar volgens die tradisie van daardie tyd het hy ook ‘n Latynse naam, Paulus, gehad. Tydens sy Damaskuspad-ervaring (tussen 31 en 36 n.C.) noem Jesus hom “Saulus”, maar nadat hy in Hand. 13:9 die eerste keer “Paulus” genoem word, is dit die naam wat deurgaans gebruik word.
Ná al sy sendingreise en wedervarings, kom Paulus in 60 n.C. vir die laaste keer in Rome aan waar hy twee jaar in huisarres deurbring terwyl hy wag om verhoor te word. Sy presiese sterfdatum is onbekend, maar bronne beweer dit was net ná die Groot Brand in Rome (Julie 64 n.C). Aangesien hy ‘n Romeinse burger was, kon hy slegs op een manier tereggestel word en dit was onthoofding.
In 2002 is ‘n 2.4 meter-lange marmer sarkofaag tydens uitgrawings by die Basilica of Saint Paul Outside the Walls op die Via Ostiensisin Rome gevind, waarop die woorde PAULO APOSTOLO MART (Paulus Apostel Martelaar) gegraveer is. In 2009 het pous Benedictus XVI bevestig dat dit wel Paulus se oorskot bevat.
16. Barnabas
Ons ken Barnabas uit die Handelinge van die Apostels en sommige van Paulus se sendbriewe. Hy word die eerste keer in Hand. 4:36, 37 genoem: Josef ‘n Leviet wat op Siprus gebore is en wat deur die apostels Barnabas genoem is – dit beteken iemand wat mense moed inpraat – het ook die grond wat hy gehad het, verkoop en die geld gebring en dit vir die apostels gegee.
Volgens Kol. 4:10 was hy Markus se neef en sommige geskrifte beweer dat hy en Aristobulus van Britannia, een van die Sewentig, broers was.
Hy was een van die eerste lede van vroeë Christen-gemeenskap in Jerusalem en dit was hy wat Paulus aan die apostels bekend gestel het by dié se terugkeer na Jerusalem ná sy bekering. Volgens Easton in sy Bible Dictionary, bestaan die vermoede dat hulle albei studente van Gamaliël was.
Volgens Hand. 11:20 -26 is Barnabas deur die kerk na Antiogië gestuur om daar die groeiende aantal gelowiges te bedien. Die werk het spoedig vir hom te veel geword en hy is na Tarsus toe om Saulus te gaan haal. Daarna is hulle terug na Antiogië waar hulle vir ‘n jaar lank in die gemeente gewerk het. Aan die einde van die periode is hulle twee in 44 n.C na Jerusalem gestuur met bydraes van die kerk in Antiogië vir die armoede-verligting van die Christene in Judea.
Hulle keer terug na Antiogië en neem Johannes Markus, Barnabas se neef, saam. Hulle is later na Siprus waar hulle in Salamis en Pafos die woord van God verkondig het. Hier is onder andere die goewerneur van Siprus, Sergius Paulus, bekeer nadat Saulus die towenaar Elimas bestraf, en laasgenoemde vir ‘n tyd lank blind geword het. Daarna word nie langer na Barnabas se reisgenoot as Saulus verwys nie, maar as Paulus.
Ná hierdie eerste sendingreis keer die twee terug na Antiogië (ons lees in Hand. 13:13 dat Johannes Markus vroeër na Jerusalem terug is). Hulle word egter spoedig na Jerusalem afgevaardig om met die kerk aldaar te praat oor dié se houding teenoor die heidene (Hand. 15:2; Gal. 2:1).
Hulle keer terug na Antiogië waar Paulus ná ‘n tyd vir Barnabas versoek om hom op nog ‘n reis te vergesel (Hand. 15:36). Barnabas wou weer vir Johannes Markus saamneem, maar Paulus het geweier aangesien die jongman hulle tydens hul eerste sendingreis in die steek gelaat het. Hulle verskil so hewig daaroor dat hul weë uitmekaar gaan: Paulus kies vir Silas as reisgenoot terwyl Barnabas vir Johannes Markus saamneem op ‘n reis na Siprus (Hand. 15:37-40).
Barnabas word nie weer in die Handelinge van die Apostels genoem nie, maar in Gal. 2:13 lees ons van Sefas (Petrus): Die ander Joodse gelowiges het ook saam met hom begin huigel, en selfs Barnabas het hom deur hul huigelary laat meesleep.
Ons weet nie wanneer en hoe Barnabas aan sy einde gekom het nie, maar volgens Christelike oorlewering het hy gedurende 61 n.C. as martelaar in Siprus gesterf. Die stigting van die Sipriotiese Ortodokse Kerk word tradisioneel aan hom toegeskryf.
17. Andronikus en 18. Junia(s)
Romeine 16:7: Gee my groete ook aan Andronikus en Junias*, my volksgenote wat saam met my in die gevangenis was; hulle is hoog aangeskrewe by die apostels en het voor my al Christene geword.
*Dis belangrik om daarop te let dat daar soms na Andronikus se metgesel as “Junia” verwys word, wat ‘n vroulike naam is. Indien dit korrek is, kon sy Andronikus se vrou of selfs sy suster gewees het. Niemand kan egter met sekerheid sê nie.
Die feit bly dat Paulus hulle baie hoog aangeskryf het. Sy verwysing na hul gevangenskap saam met hom, asook dat hulle nog voor hom tot bekering gekom het, verleen aan hom die vrymoedigheid om hulle in die kring van apostels (en nie net as merkwaardige Christen-werkers nie) toe te laat saam met Silas, Timoteus en andere.
Volgens Ortodokse oorlewerings was Andronicus een van die Sewentig Apostels. Hy word biskop van Pannonië, ‘n gebied wat strek oor dele van die moderne Hongarye, Oostenryk, Kroasië, Serbië, Slovenië, Slowakië en Herzegovina. Saam met Junia(s) het hulle vele mense na Christus toe gelei en hulle het ook talle afgodstempels laat vernietig. Oorlewering verklaar ook dat hulle wonderwerke kon doen deur mense se siektes te genees en demone uit te dryf.
Volgens oorlewering het Andronikus as ‘n martelaar gesterf, met Junia(s) net die dag daarna.
19. Jakobus, die broer van die Here
Niemand weet wat die presiese verwantskap tussen Jakobus en Jesus is nie. In geskrifte word die volgende moontlikhede genoem:
Hy is ‘n jonger halfbroer; die seun van Maria en Josef.
Hy is ‘n ouer stiefbroer, die seun van Josef uit ‘n vorige huwelik.
Hy is ‘n neef, die seun van een van Maria se susters.
Hy is ‘n jonger halfbroer, die seun van Maria en ‘n tweede man.
In die Rooms Katolieke tradisie word hy verbind met Jakobus, seun van Alfeus en die Jonger Johannes. Dit word aanvaar dat hy nie verwar moet word met Jakobus, seun van Sebedeus nie. Daar word algemeen na hom verwys as Jakobus die Regverdige.
Ons weet dat Jesus se broers nie in Hom geglo het nie (Matt. 13:54 – 57 en Joh. 7:5). Ná sy kruisiging, opstanding en hemelvaart het dit egter verander, want ons lees in Hand. 1:14 Hulle het almal eensgesind volhard in die gebed saam met ‘n aantal vroue, onder wie ook Maria die moeder van Jesus. Sy broers was ook by.
Dit maak dit soveel interessanter dat Jakobus in – met enkele uitsonderings – al die naamlyste van die (Twee en) Sewentig verskyn. Was dit dalk omdat hy ná Jesus se hemelvaart so ‘n belangrike rol in die vroeë kerk gespeel het?
Die kerk in Jerusalem was ‘n vroeë Christen-gemeenskap met Petrus en Jakobus as leiers. Toe Petrus die stad verlaat nadat Herodus Agrippa probeer het om hom te laat vermoor, het Jakobus die voorsitter van die Raad van Jerusalem geword.
Paulus berig dat Jakobus een van die persone was aan wie die opgestane Christus verskyn het en in Gal. 2:9 word hy saam met Sefas (Petrus) en Johannes die “drie pilare van die gemeente” genoem. Jakobus word allerweë as die leier van die mees konserwatiewe groepering van die Joodse Christene beskou – vir hom was die onderhouding van die Wet van Moses belangriker as geloof, terwyl Paulus die teenoorgestelde voorgestaan het.
Volgens Klement van Aleksandrië (laat 2de eeu) en Eusebius (3de/4de eeu) is Jakobus as biskop van Jerusalem verkies, ‘n amp wat hy vir dertig jaar beklee het.
Ná die dood van goewerneur Porcius Festus en voordat Luccius Albinus kon oorneem, (62 of 69 n.C) gryp die Hoëpriester Ananus ben Ananus die geleentheid aan en roep die Sanhedrin bymekaar. Jakobus word veroordeel op die aanklag dat hy die wet verbreek het; hy word ter dood veroordeel en gestenig. Die inwoners van Jerusalem het dié daad as geregtelike moord bestempel en ‘n afvaardiging het dadelik nadat Albinus in die provinsie aangekom het, dit onder sy aandag gebring. In reaksie daarop vervang koning Agrippa II Ananus met Jesus seun van Damneus.
Beide die kerkvader Origen en die geskiedskrywers Eusibius en Josefus skryf dat die beleg van Jerusalem direk ná Jakobus se martelaarsdood die Jode se straf was; dit het gebeur om sy dood te wreek aangesien hy waarlik ‘n regverdige man was.
20. Silas (Silvanus)
Daar word algemeen aanvaar dat Silas die “Silvanus” is wat in vier sendbriewe genoem word. Daar bestaan nie eenstemmigheid oor sy naam nie: in Handelinge word hy deurlopend “Silas” genoem, maar Paulus gebruik altyd “Silvanus” asook Petrus in sy eerste sendbrief.
Dit kan wees dat “Silvanus” die Latynse vorm van die oorspronklike “Silas” is, of dat “Silas” die Griekse bynaam vir “Silvanus” is. Die Katolieke teoloog Joseph Fitzmyer wys daarop dat Silas die Griekse weergawe van die Aramese “Seila” – ‘n weergawe van die Hebreuse “Saul” – is. Hoe dit ookal sy, Silas word dikwels geïdentifiseer as die Silvanus van die Sewentig.
Hy, Paulus en Timoteus is medeskrywers van die twee briewe aan die Tessalonisense. In die tweede Korinte-brief word gemeld dat Silas saam met Paulus en Timoteus vir die kerk in Korinte gepreek het, (2 Kor. 1:19) en in Petrus se eerste sendbrief word Silas “’n getroue broer” genoem. Hy het dan ook die betrokke brief namens Petrus geskryf (1 Pet.5:12).
Silas word die eerste keer in Hand. 15:22 genoem waar hy en Judas Barsabbas (meer bekend as “Judas”) deur die ouderlinge van die kerk gekies word om saam met Paulus en Barnabas na Antiogië terug te keer ná die vergadering in Jerusalem. Daar word na Silas en Judas verwys as onder andere profete en bemoedigende sprekers (sien Hand. 15:32).
Paulus kies Silas om hom op sy tweede sending te vergesel nadat sy paaie en dié van Barnabas geskei het as gevolg van ‘n argument oor Markus se betrokkenheid. Dit was gedurende die tweede missie dat Paulus en Silas vir ‘n rukkie in Filippi in die tronk beland het en daar ‘n aardbewing was waartydens hul boeie afgeval en die tronkdeure oopgegaan het. Silas word gevolglik soms uitgebeeld waar hy gebreekte kettings dra.
Volgens Handelinge 17-18 het Paulus, Silas en Timoteus van Filippi na Tessalonika gereis waar hulle met vyandigheid deur sommige tradisionele Jode in die sinagoge begroet is. Die moeilikheidmakers het die drie na Berea gevolg en Paulus se veiligheid bedreig, wat tot gevolg gehad het dat Paulus van Silas en Timoteus geskei het. Paulus het na Atene gereis en Silas en Timoteus het later in Korinte by hom aangesluit.
Hierdie gebeure het in ongeveer 50 n.C. plaasgevind; die verwysing in Hand. 18:12 na goewerneur Gallio vergemaklik die bevestiging van die datum. Volgens Hand. 18:6-7 het Paulus nie langer die sinagoge in Korinte bygewoon nie as gevolg van Joodse vyandigheid en dit kan aanvaar word dat Silas en Timoteus dieselfde gedoen het. Silas word nie daarna weer in Handelinge vermeld nie.
Hy het tussen 65 en 100 n.C. ‘n martelaarsdood in Masedonië gesterf.
21. Timoteus
Timoteus is in ongeveer 17 n.C. in die Likoniese (nou Lusna, Turkye) stad Listre gebore, die seun van ‘n Joodse moeder, Eunice, wat ‘n Christen-gelowige geword het, en ‘n Griekse ongelowige vader. Sy ouma, Lois, was tesame met sy moeder die instrument wat die jong Timoteus reeds van ‘n vroeë ouderdom in die Skrifte onderrig het.
Dit blyk dat Timoteus deur sy jeugdigheid geïntimideer gevoel het en Paulus spoor hom in 1 Tim. 4:12 aan: Niemand mag op jou neersien omdat jy jonk is nie, maar wees jy vir die gelowiges ‘n voorbeeld in woord en gedrag, in liefde, geloof en reinheid.
Hy het verder geworstel met skaamheid en vreesagtigheid. Weereens bemoedig Paulus hom in 2 Tim. 1:6-7: Om hierdie rede herinner ek jou daaraan dat jy die genadegawe wat God jou gegee het toe ek jou die hande opgelê het, soos ‘n vuur weer moet aanblaas. Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.
Ons kan verder uit Paulus se sendbriewe aflei dat hy begaan was oor Timoteus se gesondheid, want in 1 Tim. 5:23 raai hy die jongman aan: Moenie langer net water drink nie. Gebruik ‘n bietjie wyn vir die maag en vir jou herhaalde ongesteldhede.
Die apostel Paulus het hom in 50 n.C. tydens sy tweede besoek aan Listre ontmoet en aangesien Paulus besef het dat die jongman Jode sou bekeer het hy hom persoonlik besny (Hand. 16:3). Timoteus, saam met Silas, het Paulus se metgesel en medewerker geword en algaande het Paulus hom geleer van kerkleierskap, insluitende die rol van ‘n diaken, die vereistes vir ‘n ouderling en vele ander lesse in die bestuur van ‘n kerk. Dit is alles volledig opgeteken in Paulus se briewe, naamlik 1 Timoteus en 2 Timoteus.
Timoteus het saam met Paulus en Silas gemeentes geplant in Korinte, Tessalonika en Filippi en verder het hy Paulus na Efese en Klein-Asië vergesel (Hand. 19:22 en 1 Kor. 16: 10-11).
Soos die insluiting van sy naam in die eerste verse van Kolosense, Filemon en Filippense aandui, was hy saam met Paulus in Efese in die gevangenis. Hy is later, ná sy vrylating (Hebr. 13:23) alleen verantwoordelik vir die geestelike versorging van die Christene in Efese. Volgens buite-Bybelse bronne word hy later, ná Paulus se teregstelling, die eerste biskop van Efese.
In 97 n.C. was daar ‘n fees ter ere van Katagogion in Efese, waartydens heidene voorstellings van hul gode deur die strate gedra het. Die 80-jarige Timoteus was bitterlik ontsteld daardeur en het probeer om die optog te keer, waarop die optoggangers hom met kieries aangeval het. Hy sterf twee dae later.
22. Epafroditos
Ons weet ongelukkig min van Epafroditos; nie wanneer hy gebore is of wanneer en onder watter omstandighede hy gesterf het nie. Ons lees twee keer van hom in die brief aan die gemeente in Filippi, maar nooit weer nie.
Paulus was onder huisarres in Rome en die gemeente besluit om vir hom ‘n “sorgpakkie”, bestaande uit lewensmiddele en waarskynlik geld ook, te stuur. Hulle vaardig vir Epafroditos, een van hul gemeentelede, af om dit persoonlik vir Paulus te neem. Op die lang reis word hy egter siek, wat meebring dat hulle vir lank nie van hom hoor nie. Tipies mens, moes hulle moontlik gedink het dat hy dit alles vir homself geneem en verdwyn het....
Paulus skryf sy Filippense-brief en stuur Epafroditos daarmee terug. Ons lees in Fil. 2:25: Ek ag dit noodsaaklik om die broer Epafroditos, my medewerker en medestryder wat deur julle hierheen gestuur is om my in my omstandighede by te staan, na julle toe terug te stuur. Hy verlang gedurig na julle almal en bly hom daaroor kwel dat julle van sy siekte gehoor het. Hy was ook inderdaad doodsiek, maar God het Hom oor Epafroditos ontferm, en nie net oor hom nie, maar ook oor my sodat ek nie verdriet op verdriet sou hê nie. Ek stuur hom dan nou ook so gou moontlik terug, sodat as julle hom weer sou sien, julle weer bly kan wees en ek minder besorg. Ontvang hom met oop arms as ‘n broer in die Here, en bejeën manne soos hy met agting, want deur sy werk vir Christus het hy by die dood omgedraai. Hy het sy lewe gewaag om my die hulp te verleen wat julle self nie kon gee nie.
Vir die Filippense was Epafroditos ‘n boodskapper wat ‘n pakkie afgelewer het. Vir Paulus was hy egter soveel meer: ‘n “broer”(wat aan dieselfde huisgesin – van God – behoort het. Sien Ef. 2:19), ‘n “medewerker”(wat werk vir dieselfde doel) en ‘n “medestryder”(hulle deel dieselfde beproewings).
Epafroditos was duidelik ‘n man van toewyding, getrouheid an selfopoffering. Hy het die belange van ander bo sy eie gestel en so die voorbeeld van Christus gevolg (Fil. 2:5-11). Hy het vir Paulus se onthalwe gearbei totdat sy eie gesondheid ingegee het en selfs terwyl hy siek was, het Epafroditos nie aan homself gedink nie: hy was bekommerd omdat sy gemeente van sy siekte gehoor het en hy wou nie hê hulle moes besorgd oor hom wees nie.
Paulus noem Epafroditos weer na-aan die einde van sy brief: Noudat ek van Epafroditos ontvang het wat julle gestuur het, het ek alles wat ek nodig het. Julle gawe is voor God ‘n offer met ‘n lieflike geur, vir Hom aanneemlik en welgevallig. En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus. Aan ons God en Vader behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.
23. Apollos
Apollos was ‘n Joodse Christen van Aleksandrië wat in die eerste eeu geleef het. Soos in die geval van Epafroditos, weet ons nie wanneer hy gebore is of wanneer, waar en onder watter omstandighede hy aan sy einde gekom het nie.
Apollos was ‘n Christen-prediker wat in 52 of 53 n.C. in Efese aangekom het en daar gepreek het.
Hand. 18:24-28: Intussen het daar ‘n Jood met die naam Apollos, wat in Aleksandrië gebore is, in Efese aangekom. Hy was ‘n begaafde spreker met ‘n deeglike kennis van die Skrif. Hy het in die leer van die Here onderrig ontvang en het met groot geesdrif gepraat en aan ander noukeurig alles oor Jesus geleer; maar die doop waarvan hy geweet het, was net dié van Johannes. Hy het met vrymoedigheid in die sinagoge begin preek. Toe Priscilla en Akwila hom hoor, het hulle hom huis toe geneem en vir hom die leer van God nog duideliker gemaak.
Toe Apollos na Agaje wou gaan, het die gelowiges hom aangemoedig en vir hom ‘n brief saamgegee aan die gelowiges daar om te versoek dat hulle hom vriendelik moet ontvang. Daar aangekom, was hy tot groot hulp vir dié wat deur die genade van God gelowig geword het, want hy het die Jode in die openbaar kragtig weerlê en uit die Skrif bewys dat Jesus die Christus is.
Net daarna lees ons wat die gevolg van sy vroeëre gebrek aan kennis was: Terwyl Apollos in Korinte was, het Paulus deur die binneland gereis en in Efese gekom. Daar het hy ‘n groepie gelowiges gekry vir wie hy gevra het: “Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het?”
“Ons het nog nie eens gehoor of die Heilige Gees al gekom het nie,” het hulle geantwoord.
“Watter soort doop het julle dan ontvang?” vra hy toe.
“Die doop van Johannes,” antwoord hulle.
Daarop sê Paulus: “Johannes het die mense gedoop as hulle hulle bekeer het. Maar hy het vir die volk gesê dat hulle in die Een moet glo wat ná hom kom, dit is in Jesus.”
Toe hulle dit hoor, het hulle hulle in die Naam van die Here Jesus laat doop. Paulus het hulle ook die hande opgelê. Toe het die Heilige Gees op hulle gekom, en hulle het ongewone tale of klanke gebruik, en hulle het geprofeteer. Hulle was altesaam omtrent twaalf (Hand. 19: 1-7).
Paulus se eerste brief aan die Korintiërs maak weer melding van Apollos wanneer hy die gemeentelede aanspreek oor die onmin tussen hulle: Daarmee bedoel ek dat die een sê: “Ek is vir Paulus,” een: “Ek is vir Apollos”, een: “Ek is vir Sefas”, en een: “Ek is vir Christus.” Die werklike twis was eintlik tussen die Apollos- en Paulus-volgelinge, daarom dat hy in hoofstuk 3:3b-9 skryf: Daar kom jaloesie en twis onder julle voor. Is dit nie omdat julle nog wêrelds is en julle wêrelds gedra nie? As een van julle sê: “Ek is vir Paulus,” en ‘n ander: “Ek is vir Apollos,” is julle dan nie nog wêrelds nie?
Wat is Apollos dan? Wat is Paulus? Hulle is maar net dienaars deur wie julle tot geloof gekom het, en elkeen doen die werk soos die Here dit vir hom gegee het. Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar dit is God wat laat groei het. Dit gaan dus nie om die een wat plant of die een wat natgooi nie, maar om God wat laat groei. Die een wat plant en die een wat natgooi, staan op gelyke voet: God sal elkeen beloon volgens sy werk. Ons is medewerkers in diens van God, en julle is die saailand van God.
Apollos word nog eenmaal in die Nuwe Testament genoem. In die brief aan Titus word die ontvanger aangespoor: Doen ook jou bes om vir Senas, die regsgeleerde, en Apollos voort te help op hulle reis, en sorg dat hulle niks kortkom nie (Titus 3:13).
Apollos en Senas was duidelik op pad om deur Kreta (waar Titus woonagtig was) te reis, vandaar Paulus se versoek. Paulus het Apollo dus duidelik nog as ‘n gewaardeerde medewerker en vriend beskou.
Die twee naamlose apostels
24. Die eerste van die twee naamlose apostels.
Ons weet niks van dié twee nie, maar dat hulle hoog aangeskryf was, is gewis. In 2 Kor. 8:18-19 skryf Paulus: Saam met hom (Titus) stuur ons die broer wat in al die gemeentes geprys word vir sy bevordering van die evangelie. Afgesien daarvan is die broer ook deur die gemeentes gekies om met ons saam te reis as ons die liefdeswerk uitvoer wat ons onderneem het. Ons doen dit tot eer van die Here en as teken van ons hulpvaardigheid.
25. Die tweede van die die twee naamlose apostels.
Eweneens skryf Paulus die volgende in 2 Kor. 8:22: Saam met hulle stuur ons ook ons ander broer. Ons het hom baiekeer en op baie maniere op die proef gestel en gevind dat hy ywerig is om te help. Nou is hy nog yweriger omdat hy baie vertroue in julle het.
En net daarna oor Titus en sy twee reisgenote die volgende: Wat Titus betref, hy is my kollega en medewerker in julle belang. Wat ons broers betref, hulle is afgevaardigdes van die gemeentes en ‘n eer vir Christus. Bewys aan hulle julle liefde sodat al die gemeentes dit kan sien en kan weet dat ons tereg op julle trots is. (2 Kor. 8:23-24)
Bronne:
1.Bible Ask (www.bibleask.com)
2. Jonathan Potter vir Bible Odyssey (www.bibleodyssey.org)
3. Encyclopaedia Britannica (www.britannica.com)
4. Got Questions Ministries (www.GotQuestions.org)
5. Peace Apostolic Ministries (www.peace.org.au)
6. ThougthtCo (www.thoughtco.com)
7. Wikipedia (https://en.wikipedia.org)
Marie Botha
Baie ure se harde werk en insiggewend Annatjie !!!
Annatjie Botha
Dankie, Marie - dit was net een groot vreugde!