Ons God blý in beheer!

                                                

Watter onbeskryflike, vertroostende wete is dit nie! Vir so lank al – jare, om presies te wees – het gelowiges in gebed gesmeek: Here, hoe lank nog? Hoe lank moet ons nog stilsit en toekyk hoe die bose in ons land en in ons lewens maak en breek sonder dat U ingryp? Ons het nooit, ooit getwyfel dat God dáár is nie en dat Hy met net een woord alles tot ‘n einde kon bring. Dat Hy aan diegene wat hulle self gepaai het met die gedagte dat gelowiges in ‘n droomwêreld leef; dat ‘n vergeldende Skepper (ook met sy Hiernamaals) net ‘n “pie in the sky” is, sou wys hoe lewend en teenwoordig Hy werklik is!

Toe breek 16 Oktober 2020 aan, die dag waarop Senekal 2 aan almal – gelowig én ongelowig – sou bewys hoe God regtig werk. Wat daar gebeur het, het verdere aksies tot gevolg gehad want satan en sy demoniese magte wil maar net nie die knie buig nie (nog nie!). Ons Here het, en gaan nog – daar bestaan geen twyfel nie – hulle planne op niks laat uitloop. Ek weet net dat ons vorentoe al meer sal sien en ervaar hoe God vir ons, sy kinders, veg. Om self die wapen op te neem, is nie die antwoord nie – al besef ek daar is diegene onder ons mense wat brand om presies dit te doen. Hierdie oorlog is God s’n! “Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige” in Sag. 4:6b.

Die rede vir die opgewonde afwagting wat ek vandag ervaar, lê in twee agtereenvolgende getuienisse wat ek per WhatsApp van vriendin Lynette ontvang het. Die onderskeie outeurs is onbekend, maar ek dank Jesus dat hulle gehoorsaam was aan sy Gees en wel die boodskappe uitgestuur het. Die eerste se opskrif is “Senekal 2”:

Vir 2 weke voor Senekal 2 vind ek myself slapeloos in die nagte.  Self iemand wat op ‘n plaas bly.  Ek kry niks geslaap nie. Ek’s onrustig. Iets bou op maar ek weet nie wat nie. Ek bid tot God en vra vir kalmte en beskerming. Net om môre op te staan en hoor van nog 'n plaasaanval.

 Stelselmatig raak ek toe kalm en kom ek agter iets is besig om binne my te gebeur. Vandag besef ek, God het my voorberei om Sy Woord te hoor.

Laas Maandag ry ek in dorp toe om my seuntjie by die skool af te laai. Dit was stil in die kar. Ek hoor toe vir die eerste keer in my lewe God met my praat. Die kalmte het onmiddellik oor my gekom en ek het geweet hier kom groot dinge. Sy opdrag aan my was om Vrydag Senekal toe te gaan. Maar ook, ek moet 'n ramshoring kry en saamvat. Ek het gevra: "Waar moet ek so iets kry?"  Sy antwoord was: "Google as dit moet of kyk op internet." Aanvanklik het ek gedink ek’s mal. Maar ja, beter plan het ek nie self gehad nie. By die skool aangekom, skakel ek die kar af, groet my seuntjie en trek die selfoon nader om te google.  Lang storie kort, ek klim toe op facebook op ons lokale dorpsgroep en vra of iemand my kan help. Ek het geen idee waar ek so iets gaan kry nie. Ek het in my lewe nog nooit so iets gesien nie. Daarna ry ek toe werk toe. 5 minute later skakel 'n vriend my en sê ek kan sy shofar/ramshoring gebruik indien ek nie regkom nie. Maar hy gee toe iemand se nr vir my wat dit maak ook. Ek vat toe kans en bel die man. Hy bly 40km van my af. Hy leen toe een van sy shofars vir my terwyl myne gemaak word. 

Maar, intussen dieselfde tyd Maandag, in Pretoria kry my 911 bikers Rider-boetie Kalla presies dieselfde boodskap. Sonder dat enige van ons met mekaar gepraat het. Hy het ook op facebook geklim op sy lokale groep. Binne 5 min van die plasing van sy versoek bel 'n vrou hom. Ook 40km vanwaar hy bly en sê sy het vir hom 'n shofar, hy kan hom gaan haal. Nes ek, het hy ook nog nooit voorheen daarmee te doene gehad nie.  Daardie aand het ek die Bybel nader getrek en elke stukkie nagevors oor wat 'n shofar kan doen en hoe dit werk. Ek was stomgeslaan. Bose geeste het geen mag waar daardie klanke geblaas word nie.  'n Shofar is 'n magtige wapen van God.

Donderdagaand het ons bymekaar gekom en ons pogings getoets. Die klanke wat daar uitgekom het was nie te waffers nie. Ek moet erken. Maar dit het nie saakgemaak nie.  Shofars was veilig vasgemaak op die motorfietse en reg vir die pad.

 Vrydag by Senekal was dinge maar gespanne en deurmekaar. Onseker oor presies wat en wanneer om te blaas. Selfbewus omdat ek weet ek nie naastenby reg blaas nie het ek gewag om te kyk wat gebeur. Die aksie het begin. Die skreeuende jillende massas was oppad. Hulle het 450 meter om die hoek geloop, uit hul toegekende area beweeg na ons toe vir hul beloofde "toe to toe" intimidasie en uitlokkings. Volgende oomblik kry ek die dringende wete... dis tyd. Ek wou nog eenkant toe loop en ver agter eers ‘n proefblasie maak, toe word ek letterlik deur 'n "krag" gelei tussen die mense deur tot heel voor, tussen almal. Die Heilige Gees sê toe dit maak nie saak hoe die klank uitkom nie. Dis God se wapen en Hy sal Werk! Blaas net! So, ek het geblaas. Heel voor by die linie waar die aksie was. Ek hrt nie besef ek is amper binne die gevaar in gelei nie. My oë was toe gemaak vir die gevaar. Onophoudelik het ek geblaas. Op ‘n stadium kon ek nie meer nie, toe ek weer sien toe kom daar iemand en neem die shofar uit my hande en blaas verder, na hom nog iemand en nog iemand! Toe ek weer asem het, het ek weer verder geblaas.  Soos ons geblaas het, tesame met die gebed van pastoor TJ en almal het die Gees die massas letterlik laat retireer. Kalla het by my uitgekom van waar hy geblaas het en ons het vir mekaar gekyk met absolute verwondering en ongeloof. Trane het geloop! Daar het ek besef, ons het gehoor en was gehoorsaam en het pas die resultaat van ons gehoorsaamheid aanskou. Deur middel van ons gehoorsaamheid, het ons shofars die bose geeste verdryf en God het oorwin!  Alleenlik God kry die eer hiervoor. 

 Daar’s soveel gevalle gewees wat ek kan uitlig oor gehoorsaamheid.

Pastoor TJ wat onophoudelik vir langer as ‘n uur gebid het!

Die boere wat linie gevorm het en nie een 'n hand gelig het of 'n skewe woord geuiter het nie.

Die man wat vir pastoor TJ geskree het hy het 'n stem toe sy stem opgeraak het. Daardeur het hy oombliklik sy stem teruggekry om verder te volhard in gebed.

Die man wat sy hek oopgemaak het, gat in sy muur/heining agter gemaak het en vir ons pad gemaak het deur sy erf agter uit om veilig uit die dorp te kan kom sonder om oorval te word toe ons vasgekeer was.

 Ons besef nie aldag hoe belangrik ons besluite en dade is nie. Ons moet stil word en luister as God praat en iets op ons harte plaas. Die tyd wat voorlê is onseker maar oorwinning is alleenlik in God se hande en op Sy tyd.

Trompette en basuine word ook vir groot geleenthede gebruik in die Skrif

Die tweede is getiteld “Hertzogville”:

Soos elke aand, volg ek weer die sonsondergang in die stofpad, langs die kraal en stoor verby, tot by die grootpad se motorhek.
Elke aand se sonskildery is kleurig-uniek, met bekende kiewiet en korhaan klank - tipies van die Wes-Vrystaat.
Maar vanaand is dit ánders: die veld is stil en swart en somber. ‘n Gebrande skilpad lê langs ‘n vaal miershoop en iewers bulk ‘n bees, wat die afgelope 3 dae se verwoede brande oorleef het.
Ek gaan sit op die berg kuilvoersakke wat Boshoff Afrikaners (of was dit engele uit die hemel?) vanoggend hier afgelaai het en dit tref my:
Die vyand móés éérs kom steel en slag en verwoes, vóórdat ons die oorvloedige liefde van die HERE kon raaksien!!
Lorries en lorries en nog lorries met voer is oppad na Hertzogville...
Ons dien díé GOD van OORVLOEDIGE LIEFDE én LIEFDEVOLLE OORVLOEDIGHEID!!!
Nóg lorries is op pad van Bloemhof in die Wakkerstroom distrik, sê die volgende video wat ek oopmaak...
‘n Vreemdeling bel van Wesselsbron om te hoor of hy vir ons Tef-bale kan bring en of ons nie kos, klere en medikasie ook benodig nie!!
Ons is stom.
Ek maak nog ‘n video oop en wonder waarom WillemPostma se leiers nie ons president is nie...
En ek beleef ONGELOOF, want sulke ONGELOOFLIKE LIEFDE en OMGEE van wildvreemde mense, kan nét die HERE wees!!!
Wat die vyand kom steel en verwoes het, gee my JESUS CHRISTUS mildelik en in oorvloed terug!!!
ALLE LOF en EER en DANK aan GOD DRIE ENIG vir hierdie nagmerrie brande in die VRYSTAAT, wat HY omskep het in ‘n ryk geestelike ervaring van LIEFDEVOLLE OMGEE...!!!
Ek tuur oor die swart niksheid rondom my en ek beleef ‘n innige jammerte vir die vyand... JAMMER omdat hulle nie my GOD van LIEFDE en WONDERWERKE ken nie,want hulle mis verskriklik uit...
en ek weet ek moet vir hulle bid .
Terselfdertyd is ek ook bewus van ‘n verwagting: ‘n VERSKRIKLIKE GROOT VERWAGTING van wat GOD vir sy kinders gaan doen...
Mauser se nat neusie herinner my dat die son onder is.
Die dag is verby.
Dis donker en die verbrande velde rondom my is nóg donkerder...
Ek druk my koplig se knoppie en stap agter die lig aan huis toe en ek wéét:
CHRISTUS se lig sal helder deur SY kinders skyn, maak nie saak hóé donker die vyand dit probeer maak nie... totdat ons ons treë oor die drumpel van ons EWIGE HUIS gee...
Ons dien díé LEWENDE GOD

JESUS liefde

Kosbaar, is dit nie? Ek stuur albei boodskappe aan en ontvang die volgende antwoord van Stephanie, wat my ‘n verdere knop in die keel gee:

Sjoe en weer sjoe!! Wat ‘n wonderlike testimony (kan nie nou aan die Afrikaanse woord dink nie.) 10 000 vrae het al deur my kop gegaan hierdie afgelope ruk: hoekom het God hierdie dinge toegelaat? Hoekom onskuldige diere laat doodbrand? Hoekom diere se voer laat afbrand, boere laat ly? Al die hoekom-vrae, en my hart was baie seer, want ons God is ‘n God van genade, liefde, vrede en seën EN tog het Hy al hierdie toegelaat om te gebeur. MAAR nou weet ek hoekom: sodat ek net weer herinner kan word dat Hy ons SAL red, maak nie saak hoe, waar of wanneer nie. Hy is ALTYD by ons, rondom ons, in ons en ek sê: “Jammer, my God! Jammer dat ek al daai hoekoms deur my kop laat loop het. Jammer dat ek nie raakgesien het nie. Vergewe my my afdwaal, want ek was swak...”

Hy en sy “boeta” is bevoorreg om hul Abba se stem te kon hoor, bevoorreg dat Hy hulle gekies het om die ramshoring vir Hom te gaan blaas om sy volk veilig te hou. Dankie, Here, dat hulle ore oop was en dat hulle gehoorsaam het...   

Ek ervaar ‘n lieflike kalmte en vrede in die wete dat ons alles maar net in ons Vader se hande kan oorlaat: Of dit nou toestande in die wêreld, in ons land, of persoonlike kwessies is – God ís en blý in beheer. Ons kan maar net terugsit, aanskou hoe Hy die een wonderwerk na die ander voor ons oë verrig en aan Hom al die dank, lof en eer bring want dit kom Hom toe!

Bloemfontein.
24 Oktober 2020.


 

Wat ou Jafta gesien het

Volgens Stephanie was die onderstaande ‘n FaceBook-plasing. Alle dank en erkenning aan die onbekende Rothea wat dit oorspronklik gedeel het. Ek twyfel nie vir ‘n oomblik dat dit wel êrens op ‘n plaas in ons mooi land gebeur het nie: Mens hoef nie al die besonderhede te ken om te weet dat die Here elke minuut êrens in iemand se lewe besig is om op ‘n wonderbaarlike manier in te gryp nie. Wat wel nodig is, is dat ons wyd oor sulke voorvalle sal getuig, oorvertel, sodat niemand ooit kan twyfel aan ons God se almag en bewaring nie – ook vir my en jou!


‘n Getroue plaaswerker wat al dertig jaar vir die Boer werk en inwoon op die plaas, kom staan met sy flenter hoed op sy bors voor die Boer. Jafta moet bely, hy het groot fout gemaak. Die Boer gee Jafta geleentheid om te praat want hy sien die man voor hom se hart is seer.


Jafta begin praat en vertel vir die Boer dat daar vyf mans laasnag by sy huisie was. Hulle was aggressief en het inligting oor die mense op die plaas uit Jafta gewurg. Jafta moes saamloop tot by die plaashek om dit oop te sluit. Hy vertel dit sou hulle vinniger laat ontsnap het met die Boer se voertuig ná ‘n aanval op die gesin.


By die hek gekom het Jafta onder protes die hek oopgesluit. Skielik was almal bang, hulle praat in tale wat Jafta nie verstaan nie en al vyf hardloop stof uit die grond. Die Boer kyk na Jafta en vra: “Hoekom hardloop hulle toe weg?” “Jy sien, my baas, ou Jafta het gestaan en wonnor hoekom hulle almal net hardloop. Ek kyk vir hulle en ek kyk weer agter en ek sien die groot wit goed in die lug. Hulle het hom die vlerke agter by die rug en praat niks, hulle staan almal van hulle net daar so bo by die lug. Ai, nou ek weet nie wat is daai goed nie.”


Die Boer weet presies waarvan Jafta praat want hy en sy gesin bid elke aand Ps. 91 en spreek in Jesus se Naam lewe oor sy plaas en die bewoners:

Ps. 91:11 Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan.
v. 14 “Omdat hy My liefhet, sal Ek hom red,” sê die Here, “omdat hy My ken, sal Ek hom beskerm.”

Shalom.
Rothea 2020