Wat moet ék doen?
Ek lees weer Basil van Wyk se kommentaar wat hy op 23 Mei 2018 geplaas het en waarin hy onder andere vra wat hy (self) moet doen wanneer dit by geloofsake kom.
Dis geweldig interessant hoeveel mense voel dat om bloot jou hart en lewe aan Jesus oor te gee en Hom as jou Redder en Verlosser te aanvaar net te maklik is. Sy genade alleen kan tog nie genoeg wees nie - ons moet sekerlik nog iets dóén?! My oudste, Anneli, se wye navorsing oor religieuse ekstremisme bring haar uiteraard voortdurend in kontak met Moslems (veral ekstremiste); ook dié wat as Christene opgegroei, en later in hul lewens die Islam-geloof aanvaar het. Volgens haar is daar baie redes voor, maar sy het die indruk gekry dat die feit dat Moslems hul plek in die hemel moet verdien, ‘n groot rol gespeel het. Dít maak vir hulle sin! Goeie werke vir die gematigdes en veral die dra van ‘n suicide vest (wat van hulle dan ‘n martelaar maak) vir die radikales bring hulle verseker in die Paradys...
Ons kyk Paassondag saam na die beelde van die bomontploffings in Sri Lanka, toe sy opmerk dat dit die verskil tussen ons en hulle is: daardie Moslem-bomdraers moes aktief iets doen om ‘n plek in die Paradys (Jannah in Arabies) te verdien, terwyl die Sri Lankane wat in kerke tydens die Opstandingsdiens gesterf het, passief was. Hulle het Jesus se bloed wat Hy aan die kruis gestort het, hul eie gemaak en daardeur by Hom in die Hiernamaals aangesluit. Hulle het as ware martelare gestef!
Daar is geen twyfel dat ons in die eindtyd lewe nie. Jesus sê in Openbaring 22 (die laaste hoofstuk in die Bybel) nie minder nie as drie keer dat Hy gou weer kom (verse 7, 12 en 20). Vir God is tyd relatief: ons lees in 2 Petrus 3:9 Maar een ding moet julle nie nie vergeet nie, geliefdes: vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag. Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer. Aangesien ‘n duisend jaar vir Jesus soos een dag is, is sy Hemelvaart – wat ons vandag oor ses weke herdenk – nog nie eens twee dae gelede nie!
Ons ken die ou bekende prentjie van Jesus wat by ‘n deur staan en klop, soos Hy in Openbaring 3:20 beskryf: Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My. Daardie deur het nie ‘n handvatsel aan die buitekant nie. (Beterweteriges sal nou sê dat gewone deure in Jesus se tyd nie handvatsels aan die buitekant gehad het nie, net ‘n tipe grendel aan die binnekant, maar dit is nie ter sake nie.) Met alle respek gesê, ons God is ‘n Gentleman – Hy dring Hom aan niemand op nie! Hy klop, en wag geduldig dat jy die deur van binne oopmaak en Hom in jou hart en lewe innooi...
Jy het Jesus nou as jou persoonlike Verlosser en Saligmaker aanvaar, maar hoe leer jy Hom beter ken? Deur sy Woord daagliks te lees – dis waar God Hom deur al die eeue heen aan die mens openbaar het. Maar waar begin ek? Die heel beste is by die begin! (Ek het regtig hard probeer om die Leesrooster wat die Bybelgenootskap in 2000 uitgereik het om mens te help om die hele Bybel in 365 dae deur te lees (dit vra net 10 minute per dag) - dis nie chronologies nie, maar die boeke volg wel opmekaar soos wat dit bedoel was - hierby te plaas. Die toegelate kolomme is ongelukkig net te klein! Indien jy daarin belangstel, stuur asb jou e-pos adres aan anbo@mweb.co.za en ek sal dit aan jou besorg.) Terwyl jy lees, onderstreep of "highlight" verse wat tot jou spreek en maak kantaantekeninge. Jou Bybel is 'n studieboek, nie iets wat op die boekrak hoort nie! Dis God se woord waardeur Hy met jou, sy gelowige, soekende kind praat. Deur sekere dele duidelik uit te merk, kan jy altyd later - wanneer jy 'n antwoord nodig het – daarheen teruggaan. Ek het gevind dat deur sulke verse en gedeeltes voorin my Bybel aan te teken, ek dit altyd gou-gou weer kan opspoor. Ek is ongelukkig nie geseën met ‘n fotografiese geheue nie!
Jy sal God se riglyne vir jou lewe vorentoe in sy Woord vind. Deur Jesus se uitsprake tydens sy bergrede (Matteus 5-7) jou eie te maak, kan jy nie verkeerd gaan nie. Verder is ek gek oor Jakobus - hy is reguit en draai regtig nie doekies om nie.
Dan is dit verder baie belangrik dat jy by ‘n geloofsgemeenskap aansluit. Soek totdat jy ‘n gemeente, huiskerk of wat ookal vind waar jy gelukkig en tuis is – ons as gelowiges het mekaar nodig...
Indien jy ‘n ongerustheid ervaar omdat jy nog nie jou lewe volkome aan Hom oorgegee het nie, of daar dalk iets is wat jy nog nie met jou Skepper reggemaak het nie, doen dit asseblief sonder versuim. Moenie soos die vyf onverstandige meisies in Matteus 25:1-13 aan die slaap gevang word nie!
Bloemfontein
25 April 2019.
Moenie bang wees nie
Die Bybel maan ons 110 keer – van Gen. 15:1 Hierna het die woord van die Here in ‘n gesig tot Abram gekom: “Moenie bang wees nie, Abram, Ek beskerm jou!...” tot Openbaring 2:10 “...Moenie bang wees vir wat julle alles gaan ly nie...” – om nie bang te wees nie. Ten spyte hiervan leef ons daagliks in vrees: ons is te bang om dit by die deur uit te waag as gevolg van al die boosheid wat daarbuite wag, maar tog is ons dikwels te bang om binne te bly – die skelms kry dit telkens weer reg om in te kom, al herinner ons woonplekke mens meer aan moderne forte as enigiets anders.
Ons vrees vir ons en ons geliefdes se toekoms; soveel te meer waar ons hier aan die vooraand van seker die bepalendste verkiesing in ons land se geskiedenis staan. Ons sidder wanneer ons na die populistiese politici se uitsprake en dreigemente luister en dit word al meer die onderwerp onder bespreking waar ons saamkuier. Al gaan toestande nie direk ná die verkiesing drasties verander nie, wat van die ekonomie? Pensioentrekkers kom maandeliks agter hoe hul swaarverdiende geldjies net minder werd word. Dít terwyl sprake van pensioenfondse wat genasionaliseer gaan word, diegene wat nog werk en wel aan ‘n fonds behoort om vir hulle ‘n aftreegeldjie te verseker, in vrees laat lewe oor wat op hulle wag.
Ouers met kinders op skool en aan tersiêre instellings vrees vir hul kinders se toekoms in hierdie land waar standaarde reeds so laag, en die werkloosheidsyfer hemelhoog is. Sal hulle ooit hier werk kan kry, en sal hul kwalifikasies hoegenaamd iets beteken indien hulle dalk oorsee wil gaan? Hoeveel goedgekwalifiseerde, dog werklose volwassenes met gesinne om voor te sorg, vrees die toekoms in ‘n land waar soveel ander soos hulle, ook poog om deur entrepreneurskap ‘n lewe te verseker. Wat gaan tog van ons word?!
Vrees oral; ons het ‘n vreesbevange nasie geword!
Dit is môre Goeie Vrydag. Op ‘n Donderdagaand soos hierdie, feitlik tweeduisend jaar gelede, het Jesus die swartste nag in die mens se geskiedenis belewe. ‘n Nag waarin sy beste vriende Hom verloën, verraai en verlaat het. ‘n Nag waarin Hy so beangs was dat sy sweet soos bloeddruppels geword het (Luk. 22:44b) omdat Hy presies geweet het wat op Hom wag: die marteling, die kruis en ergste van alles, sy Godverlatenheid. Al het Hy in Getsemane gebid dat sy Vader, indien moontlik, die lydensbeker by Hom verby moet laat gaan, het Hy geweet dat sy koms as mens op aarde dan van geen waarde sou wees nie: Hy móés die bitter lydensbeker tot op die laaste druppel leegdrink, sterf en uit die dood opstaan om waarlik as Verlosser te kon triomfeer. Deur dit alles in ons plek te ly, het Jesus verder verseker dat ons, sy kinders, nooit weer – soos Hy aan die kruis – van God verlate sou wees nie!
Jesus het nooit belowe dat ons, sy volgelinge, vry van probleme, hartseer of pyn sou wees nie. Inteendeel, Hy waarsku ons in Joh. 16:33b “In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.” Dus, ‘n waarskuwing, gevolg deur ‘n onbeskryflike troos! Hy sal ons nooit solank ons leef, in die steek laat nie – daarvan kan ons seker wees. Al gebeur daar slegte goed in ons lewens, die Here sal elke oomblik by ons wees om ons las te help dra en ons die nodige krag te gee.
Nou hoe gemaak met die vrees waaraan ons daagliks onderwerp is; dit sal tog nie net verdwyn nie? Ons moet dit begin sien vir wat dit in werklikheid is: Satan se magtigste wapen! Solank hy ons bevrees hou, neem ons ons oë van Jesus weg, want niemand kan immers beweer hy of sy vertrou ten volle op die Here en dan nog bewe van angs nie!
Die volgende treffende gebed deur Nina Smit vind mens onder die opskrif “Vrees” in haar boek “’n Keur van Wysheid” (CUM 1996):
Hemelse Vader, vandag wil ek al my baie vrese voor u voete kom neerlê. U weet reeds van elkeen van hulle.
Vergewe my dat ek nog vir soveel dinge bang is al weet ek so goed dat dit onnodig is omdat ek vir U by my het.
Here, ek wil nou opnuut kom aanspraak maak op u beskerming en u liefde. Dankie dat U elke dag by my is, dat U my hand vashou as ek bang is en my bewaar teen alle gevare.
Dankie dat U my dag vir dag dra soos wat U dit vir u volk in die woestyn gedoen het, dat U vir my my lewenspad vooruitloop.
Dankie vir die seker wete dat U ook wanneer ek deur donker dieptes moet gaan aan my sy sal wees.
Here, ek wil nou al die dinge waarvoor ek bang is by U los omdat ek weet dat ek maar rustig mág wees te midde van gevaar.
Ek lewe in hiedie wêreld reeds deur u liefde net soos Jesus – en daardie liefde van U maak bangwees vir altyd onnodig.
Amen.
Vriendin Linda het vir my die mooiste video, wat perfek by hierdie onderwerp pas, per WhatsApp aangestuur. Ongelukkig verskyn die kunstenaar se naam nêrens nie (ook Youtube het net die video en geen naam by nie). Ek sal werklik só bly wees as iemand kan laat weet wie hier sing! Die laaste strofe bevat die presiese versekering wat elkeen van ons nodig het: “Moenie bang wees vir môre nie/ want die Here wag reeds daar..”
Bloemfontein
18 April 2019.
Bron: musingsofaministerswife.com
Moenie bang wees vir more nie
Sewentig maal sewe keer
Daarna het Petrus na Jesus toe gekom en gevra: “Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?”
Jesus antwoord hom: “Ek sê vir jou, nie sewe keer nie maar selfs sewentig maal sewe keer.”
Matteus 18:21,22
Arme Petrus! Hy moes sekerlik gedink het die Meester gaan sy bereidheid om sy broer tot nege en veertig keer te vergewe, aanprys – maar hier sê Jesus nee, nie net nege en veertig nie, maar vierhonderd en negentig keer! Natuurlik was die 490 nie ‘n werklike syfer nie; dit dui op ‘n oneindige getal – met ander woorde vergifnis word nie beperk deur ‘n aantal kere nie. Jy moet bly vergewe!
Die redes waarom daar onenigheid tussen mense is, is natuurlik legio. Ek luister weer na Mike and the Mechanics se treffer The Living Years, wat handel oor ‘n pa en sy seun se vertroebelde verhouding en een versie steek vas: You only sacrifice the future/ It’s the bitterness that lasts... (As jy dit nie ken nie, luister asseblief op YouTube daarna. Jy kan selfs die lirieke volg terwyl die liedjie speel.)
Luister mens laataand na “Soekhoek” op RSG, wil jou hart breek wanneer jy hoor van ‘n pa wat na sy kinders soek wat hy veertig jaar gelede laas gesien het, of ‘n vrou wat graag weer ná twintig jaar met haar suster kontak wil maak. Volwassenes wat met hul biologiese ouers in aanraking wil kom of ouers wat na hul kinders soek wat hulle weens omstandighede vir aanneming afgegee het, is eweneens hartroerend; maar dis gevalle wat mens kan verstaan. Dis die ander wat my dronkslaan. Wat op aarde is só erg dat daar dekades verbygaan waartydens die mense geen kontak met mekaar het nie? Goed, daar is die gevalle van molestering wat die slagoffer noop om alle verbintenis te verbreek. Dit kan mens ook begryp, want die persoon se hele lewe is daardeur beïnvloed en selfs vernietig. Dis weereens die ander gevalle wat ‘n raaisel bly. Wát het daar gebeur?! Ek verstaan dat ‘n voorval wat vir ‘n buitestaander na ‘n nietegheid lyk, vir die persone betrokke reusagtig-groot kan wees. Maar regtig so groot dat alle kontak daarna verbreek word...? Om terug te keer na Mike se liedjie: You only sacrifice the future/ It’s the bitterness that lasts...
Wat het mens nodig om wat agterlê, net daar te laat en aan te beweeg? Nina Smit sê in haar boek ‘n Keur van Wysheid (CUM 1996) die volgende oor “Vergifnis”:
Ware vergifnis vereis van jou om dié dinge war die ander persoon jou aangedoen het nie net te vergewe nie, maar ook daarvan te vergeet, om dit as’t ware uit jou geheue uit te wis soos God jou sonde “in die diepsee gooi”, volgens die profeet Miga. Om vergifnis te gee is moeilik, maar om die vergifnis van ‘n ander mens te aanvaar is soms nóg moeiliker, want dit vra van jou dat jy jou eie skuld sal erken.
Dat God altyd bereid is om jou te vergewe staan soos ‘n paal bo water. Maar dan vra Hy van jou om op jou beurt weer bereid te wees om dié mense te vergewe wat jou te na kom. Dis moeilik om te vergewe. Dis nog moeiliker om dit 70 maal sewe keer te doen. Tog doen God dit vir jou – en met sy krag kan jy dit ook regkry om jou naaste van harte te vergewe juis omdat jy elke dag opnuut van harte vergewe word.
Wanneer mens 'n 'troetelhaat'- in Engels word van 'n pet hate gepraat - in jou binneste saamdra ("Wat hy/sy aan my gedoen het, kan ek nooit vergewe nie!") kan jy maar net teruggaan na die oorbekende woorde in die Ons Vader-gebed: Vergewe ons ons oortredinge soos (in dieselfde mate as wat) ons die vergewe wat teen ons oortree. Met ander woorde, as jy nie bereid is om te vergewe nie, bid jy letterlik dat God jou ook nie vergewe nie!
Is dit nie genoeg motivering om nou dadelik daardie oproep te maak, e-pos te skryf of nog beter, in jou motor te klim en die ander persoon in die oë te gaan kyk nie? Onthou altyd Jesus se woorde tydens die bergrede (Matteus 5:9) “Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.”
Komaan, wees jy die een wat die eerste tree na vredemaak gee – jy sal nooit spyt wees nie!
Bloemfontein.
20 Februarie 2019.
Ken jy Hom?
Sommige WhatsApp boodskappe het mos die manier om meer as eenmaal hul verskyning op jou foon se skerm te maak. Die onderstaande is een daarvan. Toe ek dit weer vanoggend via Jessica ontvang, het ek net opnuut onder die indruk van die boodskap gekom en summier besluit om dit te plaas:
‘n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai, ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra. Die Gees van die Here sal op hom rus...Hy sal regverdig en betroubaar regeer.
Jesaja 11:1, 2a en 5.
‘n Beroemde akteur is uitgenooi na ‘n dinee by ‘n aftree-oord. Ná ete was daar lofbetuigings oor sy roemryke loopbaan en hy is gevra om iets voor te dra. Hy het gevra vir enige spesiale versoek.
Die mense was maar skaam. Toe staan ‘n ou dominee op en vra, “Sal u asseblief vir ons Psalm 23 voordra?” Die akteur was vir ‘n oomblik uit die veld geslaan, want hy was bekend vir sy vertolking van Shakespeare en die ander groot werke. “Met plesier”, sê hy. “Ek dink ek ken nog die woorde.”
Toe begin hy voordra met sy pragtige stem en suiwer intonasie en die gehoor hang aan sy lippe. Nog nooit het die klanke van die bekende psalm so melodieus op hul ore geval nie.
Toe hy klaar is, het ‘n spontane applous losgebars. “Baie, baie dankie”! Die akteur was amper aangedaan deur die gehoor se waardering vir sy poging. Spontaan sê hy: “Maar nou wil ek ‘n groot guns vra. Sal die persoon wat die psalm versoek het, dit nie ook vir ons voordra nie?” “Ek?” vra die bejaarde predikant verbaas. “Ek weet niks van die voordragkuns nie en my stem is taamlik treurig. Maar as u dit as ‘n guns vra, kan ek dit nie weier nie.”
Die akteur beduie dat hy vorentoe moet kom, maar die ou man glimlag en sê: “Toemaar, ek staan sommer hier by my sitplek.” Hy begin met sy ietwat krakerige stem voordra. Aan die einde was daar geen applous nie, maar die hele gehoor het met geboë hoofde gesit en geen oog was droog nie.
“Sien julle die verskil?” vra die akteur, self bewoë. “Ek het julle oë en ore bereik, maar hierdie man het jul harte geraak. Want sien, ek ken Dawid se psalm, maar hy ken Dawid se Skepper!”
God het ons geskape, elkeen na sy beeld en toe het sonde ons weggesteel. Maar Hy het ‘n plan beraam en met die bloed van sy Seun het Hy ons weer teruggekoop. Vandag druk Hy jou vas teen sy bors en Hy fluister in jou oor: “Nie alleen het Ek jou geskape nie, maar Ek het jou duur gekoop. Jy is definitief Myne!”
Ons Hemelse Vader is jou Bewaarder; Hy is jou skaduwee aan jou regterhand. Kan jy jouself indink hoe God oor jou waak? Hy is jou bewaarder, jou beskerming en jou verdediging. Hy onderneem om jou te help, te lei en en te verdedig. Hy is soos die skaduwee van ‘n groot rots in ‘n vermoeiende land.
Ek bly altyd naby U, u hand ondersteun my.” – Psalm 63:9
(Skrywer onbekend.)
Blydskap in die hemel
Deur die jare het Anneli al vele roerende vertellings gehad wat spruit uit haar navorsing onder mense wat deur ekstremisme geraak word: dit sluit slagoffers én oortreders in. (Sien ook “Net maar terroriste?” in Gedagtes 2.) Een van die heel kosbaarste is egter dié van John Makuza (*skuilnaam), ‘n Ruandees wat sy in Uganda ontmoet het.
John het as ‘n Christen in Ruanda grootgeword, maar die volksmoord in 1994 het sy hele lewe drasties verander. Vir ‘n tydperk van 100 dae (7 April tot middel-Julie 1994) het die Hutu – wat die meerderheidsgroepering, nie alleen in die regering nie, maar ook in die land was – 70% van die minderheid Tutsi uitgemoor. Albei die groeperinge was oorwegend Christene en dit was vir John heeltemal onaanvaarbaar. Hoe is so-iets enigsins móóntlik?!
Hy vlug na Uganda waar hy by ‘n Moslem-gesin ‘n tuiste vind en skielik bevind hy homself in ‘n tweestryd: die Christen-geloof is tog een van liefde, ook teenoor die naaste maar wat het in sy land gebeur? Hier, tussen vreemde Moslems, ervaar hy egter omgee en naasteliefde soos nooit tevore by sy eie mense nie. Dit het gevolglik nie lank geneem alvorens hy hul geloof aangeneem en by die madrassa verder onderrig in die Koran ontvang het nie.
Vandaar vertrek hy na Somalië, ‘n hoofsaaklik Moslem-staat, waar hy aan al-Shabaab se retoriek dat hul land deur Christene (AMISOM, ‘n vredesmag in Somalië) binnegeval word, blootgestel is.
Na lank daarna nie, word hy vir twee jaar na Suid-Afrika gestuur om ideologiese opleiding te ontvang. Terug in Somalië word hy gekies om een van ‘n paar selfmoordbomdraers te wees tydens ‘n beplande aanval in Kampala, Uganda. Hy reis van Somalië na Kenia; van Kenia na Tanzanië en van Tanzanië na sy bestemming in Uganda. Die aanval word beplan vir 11 Julie 2010 tydens ‘n uitsending van ‘n FIFA Wêreldbeker-sokkerwedstryd in ‘n Kampala-rugbystadion. In die aanval (waartydens twee ontploffings plaasgevind het) is uiteindelik 74 mense dood en 71 beseer. Al-Shabaab aanvaar verantwoordelikheid daarvoor en verklaar dat die aanval gemik is teen AMISOM se teenwoordigheid in Somalië.
John word egter voor die aanval in hegtenis geneem omdat hy in besit van ‘n verdagte Suid-Afrikaanse paspoort was. Hy word vir vyf jaar tronk toe gestuur en dit was daar waar Anneli hom ontmoet het. Haar uitgebreide navorsing het gehandel oor die redes waarom die gevangenes geradikaliseer is: waar hulle opgegroei het, wat hul huislike omstandighede was, waar en waarom hulle vir die eerste keer besluit het om die terreurorganisasie te steun, ens.
Nadat hy vrygelaat is, het hy in ‘n vier uur-lange onderhoud antwoorde op al haar vrae verskaf en daarna het hulle gereeld per WhatsApp gekommunikeer, ook nadat hy weer na sy vaderland, Ruanda, teruggekeer het. Tydens een so ‘n gesprek vertel hy dat hy ‘n Christen-meisie ontmoet het en dat hulle gaan trou!
‘n Volgende boodskap berig dat daar ‘n baba op pad is en nie lank daarna nie word hul dogtertjie gebore. John werk op ‘n ad-hoc-basis vir die veiligheidsmagte waar hy as spreker voor moontlik-geradikaliseerde groepe optree en verder doen hy maar los werkies. Hy vrees egter vir sy eie lewe, maar veral vir dié van sy vrou en baba omdat “almal hom ken en weet waar hy hom bevind.” Hy volg nog steeds die Islamitiese geloof na.
Op 1 November 2018 ontvang my kind egter ‘n WhatsApp-boodskap wat haar – en my ook, toe sy dit vir my voorlees – in trane het. Hier volg dit, net soos hy dit geskryf het:
Hello, Mrs. Anelli long time, are you okay? For as we are fine and i thank God that am so fine and i have accepted that Jesus is ma king, which means now am a bon again.
“Ek sê vir julle: Net so sal daar ook in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer, eerder as oor nege en negentig mense wat reg doen en nie bekering nodig het nie.”
Lukas 15:7
Bloemfontein
13 Februarie 2019
'n Ouer se Pyn
In haar Bybeldagboekie “Omvou deur Genade” (CUM 2017) skryf Dalene Reyburn onder die opskrif Waartoe jy nie ingestem het nie vir 1 Februarie, die volgende:
Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind. In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin.
Johannes 16:33
Pyn en tragedie – in watter vorm ook al – kan verhoed dat jy jou tyd en potensiaal gebruik om alles te wees wat God jou geskep het om te wees. Maar om met lyding te begin worstel en daarteen te baklei, moet jy eers erken dat dit bestaan of potensieel in jou lewe teenwoordig kan wees. Jesus het ons hiermee gehelp. Hy het die heerlike, veugdevolle waarheid nooit afgemaak of nugtere, moeilike waarhede aanvaarbaarder aangebied nie. Hy was duidelik daaroor dat ons nie verras moet wees as ons ly nie – dat dit verseker deel van ons lewensreis sal wees. (My beklemtoning) As die lewe dit nog nie oor jou pad gebring het nie, sal dit wel die een of ander tyd.
As jy ‘n nugter perspektief op lyding het, sal dit vir jou kalm aanvaarding bring. Dis waar, jy het nie om lyding gevra nie en dit ook nie beplan of noodwendig verwag nie, en in die middel daarvan voel jy waarskynlik nie soos die spreekwoordelike sonstraal vir Jesus nie. Maar jy hoef nie geskok of verlam te wees deur die siedende storm nie. Nee, jy kan dapper wees omdat jou Redder die storm stilgemaak het. Jy kan selfs skerfies lig en vreugde, skoonheid en hoop begin sien.
Jesus, U het vir ons gesê wat om in hierdie lewe te verwag. Help my om u beloftes te vertrou: dat U die wêreld oorwin het, en ook my lyding.
Amen.
“Jy hoef nie geskok of verlam te wees deur die siedende storm nie...” klink vir my amper absurd wanneer die nuus net ‘n rukkie later, op dieselfde dag – 1 Februarie 2019 – kom van die treurspel by Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark waar ‘n loopvlak ingestort en drie kinders op slag gedood, en verskeie ander ernstig; selfs kritiek beseer is. Hoe sê mens vir daardie ouers wat hul kind die oggend vrolik weggesien het skooltoe dat hulle nie “geskok of verlam hoef te wees” wanneer hulle besef dat hulle nooit weer daardie sorgvrye lag sal hoor nie, nooit hul gr. 8-dogter sal help beplan aan haar rok vir die Matriekafskeid nie?
Die waarheid is dat daardie ouers se pyn en lyding niks erger of feller is as dié van ouers wat hul kinders op enige ander manier verloor het nie; of dit as gevolg van siekte, motor- of ander ongelukke of selfdood is nie. Om ‘n kind aan die dood af te staan, is die ergste pyn wat enige ouer in sy of haar lewe kan verduur...
Dis egter nie die enigste pyn wat ‘n ouer kan deurworstel nie. In die hedendaagse Suid-Afrika is daar sekerlik nie een Afrikaanse gesin wat nie deur kinders (of ander naby-familie) wat emigreer, geraak is nie. Jy as ouer besef dat jou kinders die regte besluit vir hul gesin geneem het omdat Pa nie hier dieselfde goeie werk kan kry nie en/of dat hulle nie kans sien om hul jong kindertjies in hierdie onveilige, onnatuurlike omstandighede te laat opgroei nie. Jou verstand weet dis vir hulle die beste, maar jou hart breek wanneer jy besef dat jy nie verder deel van “jou kleintjies” se verjaardagpartytjies, skoolkonserte, Oupa-en-Ouma-dae, ens. sal wees nie...
Dit bring my by die allerbelangrikste vraag: Waarheen dan met my pyn en lyding? Wanneer jy niks anders kan doen nie as om, inmekaargetrek van die pyn wat jou uitmekaar wil skeur, net kan uitroep “Ag Here, dis so séér!!” Na Hom toe: Jesus, wat elke oomblik van jou pyn en hartseer net daar, by jou is. Op daardie oomblik mag dit dalk nie vir jou so voel nie, maar veel later – wanneer jy weer aan daardie oomblikke terugdink – sal jy besef dat Hy in werklikheid nie net by jou was nie, maar dat Hy jou gedra het.
Om terug te keer na Dalene Reyburn se dagstukkie, wanneer sy sê “Maar om met lyding te begin worstel en daarteen te baklei...”: Daar gaan ongetwyfeld ‘n stadium kom wanneer jy besef dat jou worsteling vir jou net te veel raak of dalk net té lank aanhou. Jy soek antwoorde in die Bybel, jy bly op jou knieë, maar dis net asof jy in ‘n diep, donker gat wegsink waaruit jy besef jy nie alleen gaan kom nie. Dán moet jy besef dat die Here mense bemagtig het om jou te help: dokters, sielkundiges en psigiaters. Om te erken dat jy hulp nodig het, is geen skande nie! Soos mens behandeling vir diabetes, hoë bloeddruk, epilepsie, hartkwale, ens. sonder enige teenspraak aanvaar, waarom nie behandeling en medikasie vir geesteskwale nie? Daardie mense doen werklik goeie werk; soek net een wat waarlik ‘n Christen is en so saam-saam sal jy vind dat jou pad na herstel ‘n geloofsreis ook word.
Bloemfontein
2 Februarie 2019.
Kort nadat ek die bostaande stuk afgehandel het, ontvang ek die volgende WhatsApp boodskap wat ook gevolg het op die ramp by Hoërskool Driehoek. Wie Georgie, die onbekende skryfster daarvan of haar man, by wie dit ontstaan het, is, weet ek ongelukkig nie. Ek kan die Here maar net dank vir die insig en genade wat Hy aan mense soos hulle gee om aan mense troos in hul hartseer te bring:
WAAROM GEBEUR DIT
Na aanleiding van ‘n posstuk wat ek op ons blad gelees het wil ek graag die dame se vraag beantwoord.
Sy wou weet waarom so ‘n tragedie gebeur het. En in alle eerlikheid weet ons dat daar sekere dinge is wat ons nie kan verklaar nie. Selfs die Woord sê daar is dinge wat ons nie nou weet nie...
Ek wil egter iets met julle deel wat dalk meer duidelikheid sal gee.
Jare terug moes my man ‘n begrafnis doen van ‘n paar weke-oue babatjie. Hy het ‘n hele week geworstel oor wat hy vir almal moes sê. Hoe kon hy hulle bemoedig as hy self wonder? En die aand voor die begrafnis praat die Here met hom... Daardie dag het die boodskap werklik ‘n geweldige impak gemaak:
Hy vra vir die gemeente die vraag: Waarom, waarom?? Dit was die enigste vraag wat almal gevra het. Waarom het die mamma hierdie dogtertjie nege maande gedra, om haar net ‘n paar dae na geboorte te verloor? Wat was die doel met hierdie dogtertjie se lewe?
Wat was die nut van haar kortstondige lewetjie?
Toe sê hy: “Kyk vanoggend om julle rond: Mense wat in geen jare gebid het nie, het werklik die afgelope week op hul knieë neergesak en gebid...
Familielede wat vir mekaar kwaad was en jare nie met mekaar gepraat het nie, het arms om mekaar geslaan en saam gehuil...
Mense wat jy as vyande beskou het, het bakke en bakke kos aangedra...
Mense wat jy as onbekendes beskou het, het skielik geliefde vriende geword wat alles gegee het wat jy nodig het.
Geharde sondaars het God aangeroep!
“Hierdie dogtertjie se doel om gebore te word was om mense bymekaar uit te bring. Om gebroke verhoudings te herstel... Haar werk op aarde was voltooi en God het haar Self kom haal. Sy het meer vir God in haar kort lewetjie gedoen as wat baie van ons in ‘n volle leeftyd doen.”
Ek sê vandag vir julle almal wat so diep geraak is deur Vrydag se tragedie dieselfde. Kyk om jou rond: hierdie tragedie het gebeur sodat mense verenig kon word. Swart en wit het saam gebid, alle rasse het boodskappe gestuur, die gemeenskap is saamgebind, mense het ongelooflik na mekaar uitgereik, hulp is aangebied...
Dan sê ek vir julle die Here het hierdie vreeslike tragedie in ‘n groot getuienis omskep. Hierdie kinders het nie net hul skool en gemeenskap saamgebind nie – hulle het die hele land teruggeruk na samesyn. Hulle het ons oë oopgemaak dat ons almal om ons sien as mense wat almal deur God geskape is.
Hulle was nie net gewone skoolkinders nie; hulle het ‘n hoër roeping gehad.
Georgie.
Tyd
Jare gelede, toe my kinders nog gestudeer, of nog later ver van die huis af gewoon en gewerk het, was dit altyd my versugting dat ek hulle só graag nader wou hê sodat niemand nodig sou hê om Sondae na ete op te pak en ry nie. Dis tog immers die lekkerste kuiertyd: met die kosmaak en skottelgoedwas afgehandel lê die lang, rustige Sondagmiddag voor; genoeg tyd om alles wat tot sover agterweë gebly het, in te haal.
Dit was vir baie jare die geval en ek het lateraan verlief begin neem dat dit vir altyd die geval sou wees: vinnig eet (en soms, wanneer ons geweet het dat die paaie besonder besig sou wees, is die middagete ingepak sodat hulle dit as aandete tuis kon geniet), oppak, groet en dan moet ons wat agterbly, terugdraai na die stil huis en die onvermydelike Sondagmiddag-blues...
Dit was tot Junie 2018 toe ons as gesin die wonderlikste geskenk uit Vader se hand ontvang het: ons al vier, met al ons vierbenige kinders, gerieflik onder een dak! Dit het nou wel beteken dat drie van ons ons wortels ná agt en dertig jaar in Ellisras moes uittrek en by Sussa in haar nuwe tuiste, Bloemfontein, gaan verplant, maar dit was alles oor-en-oor die moeite werd. Dit het ondermeer beteken dat niemand meer nodig het om op ‘n Sondagmiddag ná ete op te pak en ry nie!
So sit ons vanmiddag – elk met ‘n glas Merlot Rosé in die hand – en filosofeer. Of liewer filofoseer, soos ons dit noem. (Ek kon my webblad nie so noem nie; netnou dink die lesers ek kan nie spel nie!) Vandag het ons met ‘n draai by die tyd uitgekom wat al hoe vinniger verbysnel namate mens ouer word. Onrusbarend vinnig verbysnel...
Anneli noem die fliek Alice Through the Looking-Glass wat vir haar semi-filosofies was, aangesien daar so op tyd gefokus is. Nie alleen dae, ure en minute nie, maar ook sekondes omdat elke sekonde só belangrik is – en dis tog so bitter vinnig verby en daarmee saam ook jou hele lewe. Jy besef dat goed wat jy nog altyd uitgestel het, onvermydelik afgestel sal moet word aangesien die sand in jou uurglas helaas uitgeloop het.
Eldaleen het daarby ingeval en die onvermydelike Wederkoms aangehaak: ons, as gelowige kinders van God, sien uit na daardie dag omdat dit die einde van ons aardse lewe met al sy pyn, bekommernis en hartseer sal beteken. Ons is egter geneig om Hom te sien as ons liefdevolle, vergewende “Liewe Jesus” en uit die oog verloor dat Hy ook die vergeldende vuur is – wat Hy verseker by sy wederkoms gaan wees!
Dit herinner my toe dadelik aan ‘n WhatsApp-boodskap wat ek van Angie ontvang, en my tot in my siel geruk het:
A VISITATION FROM JESUS CHRIST: THE END OF TIME JUDGMENTS AND THE LION OF JUDAH.
In 2015, I had a series of encounters that led to the Lord Jesus Christ appearing to me for the third time in my life, clothed in white garments with fire in His eyes. The holy fear, trembling, awe, and pure wonder totally consumed me and was the same experience I had with Him the two encounters before. His sheer beauty is terrifying and His presence takes your breath away. The light that radiates from His being is so pure that you become more aware of your great need of Him than ever before.
I will never forget our conversation in that specific encounter and I believe I’m supposed to share it now publicly for the first time. I do not take lightly or treat these encounters haphazardly. Anyone who claims to have actually seen and interacted with our risen Lord needs to carry a serious fear of who He really is and a undeniable mandate on their life to make Him known. This is not a joke. It’s very weighty and does not involve imaginations.
As the Lord Jesus Christ appeared to me, He said:
“Jeremiah, many know the Lamb who went to Calvary, but few know the Lion who is returning to devour His Father’s enemies. The same wrath that was poured out in Mercy and Grace on the Cross will be poured out in Judgment upon my return.
I am releasing apostolic and prophetic messengers that will trumpet my time judgments to the Church and warn of the consequences of those who only know the Lamb of mercy and grace, but reject the Lion of judgment and wrath.
Many only know Me as the great intercessor, which I am, but I am also the coming King and Judge. There is more than intercessory prayer. For I will teach My people in these last days how to pray kingly and judicial prayers. I will establish My government in the earth and make My enemies a footstool. I will rule and reign with an iron sceptre.
Jeremiah, many will be offended at My return! They have created a god in their own likeness and image and will deny Me when I come with all My glory, power and splendor! You must warn the Church of the scoffing spirit that will come, of the overemphasis of My goodness and never teaching on My severity, of never proclaiming and warning of My wrath and judgment that is here now and is yet to come.”
The look in the Lord Jesus Christ’s eyes as He said these words to me was so intense yet so deeply grieved. He then asked me if He could entrust me with these words and I said “yes”. When I did, He turned around and vanished out of my bedroom.
I shook for days and have still never recovered. I pray that those who have read this sobering encounter for the first time publicly will pray and seek the Holy Spirit concerning your own view of who Jesus really is and prepare yourself for the days ahead.
With tears,
Jeremiah Johnson.
Jesus sê toe weer: “Kyk, Ek kom gou! Ek bring die loon saam met My om elkeen te beloon vir wat hy gedoen het. Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde.”
Openbaring 22:12, 13.
Bloemfontein.
10 Februarie 2019.
Nie omdat nie, maar sodat
Dit is geen geheim nie dat die egskeidingsyfer in Suid-Afrika van die hoogste in die wêreld is. Waarom dan? As mens sinies wou wees, kan jy redeneer dis omdat paartjies in ons land nog met mekaar trou! Hoe dit ookal sy, daar is ‘n menigte redes; maar ek dink dat die vernaamste daarvan in die onderstaande stuk gevind kan word. Dit het in Die Kerkblad van 9 Augustus 1995 onder die hofie Redaksioneel verskyn. Wie die outeur was, word ongelukkig nie vermeld nie.
Nie omdat nie maar sodat
Die apostel Paulus noem dit ‘n geheimenis. Die formulier noem dit ‘n baie eerbare instelling. Dit is die huwelik. Ongelukkig word die huwelik in die algemene omgang ook baie ander dinge genoem, wat allerlei wanvoorstellings tot gevolg het en groot skade aanrig.
Een van die wanvoorstellings oor die huwelik wat veral in storieboeke aangetref word, is dat die man en vrou se liefdesverhaal gewoonlik by die lui van die huweliksklokkies eindig. Hulle trou mos omdat hulle besef het dat hulle mekaar liefhet.
Maar waar daar in die Bybel oor die huwelik gepraat word, val die klem nie op die “omdat” van die liefde nie maar op “sodat”. Die liefde word nie soseer as voorwaarde vir die huwelik gestel nie, maar as ‘n gevolg daarvan. In die Bybelse tye is huwelike dikwels deur ouers gereël. Dink maar aan Isak en Rebekka. Soms het die bruidspaar mekaar eers op die troudag ontmoet. Hulle is dan in die huwelik bevestig – nie omdat hulle mekaar liefhet nie maar sodat hulle mekaar sou liefhê. So lees ons in Genesis 24:67 van Rebekka en Isak: “Sy het sy vrou geword; en hy het haar liefgehad.”
Die praktyk van gereëlde huwelike is gelukkig vandag iets van die verlede. Maar tog bly die eis van God staan dat die liefde tussen man en vrou nie soseer die oorsaak van die huwelik sal wees nie as wat dit die gevolg daarvan moet wees. “Manne, julle moet julle eie vroue liefhê”, hoor ons in Efesiërs 5:25. Liefde is nie voorwaarde nie maar opdrag in die huwelik, nie oorsaak nie maar gevolg. In lyn hiermee word daar nêrens in die huweliksformulier vir die bruidspaar gevra of hulle mekaar liefhet nie, maar of hulle belowe dat hulle mekaar sal liefhê.
Hierdie perspektief is van uiterste belang vir elke huwelik, ook in ons moderne tyd. Dit neem die mat onder die voete uit van egpare wat hulle huwelike wil beëindig bloot maar “omdat” hulle mekaar nie meer liefhet nie. Die liefde is immers nie voorwaarde nie maar opdrag. Die egpaar bly nie getroud omdat – en solank as – hulle mekaar liefhet nie maar móét mekaar liefhê omdat hulle getroud is. Dit is deel van die wonderlike geheimenis van die huwelik wat ons telkens van voor af moet ontdek.
Die beswaar hierteen is gewoonlik dat ‘n mens nie die liefde kan beheer of soos met ‘n skakelaar kan aan- of afskakel nie. Hoe kan God man en vrou dan beveel om mekaar lief te hê? Hy kan. Hy beveel ons immers om Hom lief te hê en om ons naaste lief te hê. Die feit is dat ons wel liefde kán aanleer. Liefde is immers meer as net ‘n onbeheerbare emosie. Liefde begin naamlik by respek, lei tot diensbaarheid en offervaardigheid en eers daarvandaan lei dit na die vreugdevolle emosies wat dit meebring.
Dienooreenkomstig beskryf die apostel Johannes ons liefde tot God nie in terme van ‘n bepaalde gevoel nie maar hy sê: “Dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar” (1 Joh. 5:3). Dit hang saam met die eerbied of die vrees wat ons jeens die Here het, wat die Spreukedigter as die begin van alle wysheid beskou (Spr. 1:17). Eers hierna kom die emosie, die vreugde en blydskap oor die teenwoordigheid van die Here (Psalm 116).
So ook het God sy liefde aan ons geopenbaar deurdat Hy sy Seun as offer vir ons gegee het (1 Joh. 4:10). Hiervan moet die huwelik ‘n geheimenisvolle afskaduwing wees. Die man en vrou se liefde begin daarby dat hulle aan mekaar onderdanig is (Ef. 5:21). As dit die grondslag van die huwelik is, vloei die liefde vanself daaruit voort en hoef hulle nooit te vra: “Waar is die liefde?” nie.
Nog duideliker kom hierdie verhouding na vore in God se uitverkiesende liefde. God het ons nie uitverkies omdat ons verdienstelik opgetree het of omdat ons heilig en sonder gebrek voor Hom was nie. Inteendeel. In Efesiërs 1:4 lees ons dat Hy ons uitverkies het om heilig en sonder gebrek voor Hom te wees, sodat ons in goeie werke sal wandel (volg. Ef. 2:10). Nie omdat nie maar sodat.
Die enigste omdat wat daar vir ons is, is die genade van God. Hy het ons uitverkies omdat Hy ‘n God van genade is. Ook vind ons die “omdat” van ‘n seënryke huwelik: omdat God in sy genade man en vrou na mekaar toe lei .... sodat hulle mekaar sal liefhê.
Wat meer kan mens byvoeg? As elke predikant, pastoor of wie ookal voornemende huweliksmaats tydens huwelikskategese of –voorligting spreek, die bostaande wysheid by hulle kon tuisbring! Dit is waar die Engelse commitment soveel meer as “toewyding” sê: dit verg nie van elk van die twee partye 50% nie, maar 100% erns en die wíl om hulle huwelik te laat slaag. Ek lees ‘n aanhaling van Joseph Joubert: ‘n Suksesvolle huwelik vorm altyd ‘n driehoek wat bestaan uit die man, die vrou en God. Al word huwelike in die hemel gemaak, bly die mens nog verantwoordelik vir die instandhouding daarvan. Trou dus met ‘n vrou wat jy sou gekies het as vriend as sy ‘n man was.
Mens hoor van tyd tot tyd die stelling dat die huwelik as instelling uitgedien geraak het. Daarmee kan ek egter nie saamstem nie. God self het die huwelik tussen man en vrou ingestel en daarom sal dit nooit uitsterf nie. In Maleagi 2:15-16 staan daar “Die Here het man en vrou een gemaak, een in liggaam en gees. En waarom een? Omdat Hy wil hê dat daar ‘n nageslag moet wees, wat Hom eer. Die Here die God van Israel sê Hy haat egskeiding. Egskeiding is niks anders as geweld nie. Beheers julle, moenie ontrou wees nie. Ons lees in Matt. 19: 4-9 van ‘n gesprek oor egskeiding tussen Jesus en die Farieërs: Hy het hulle geantwoord: “Het julle nie gelees dat die Skepper hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie?” Daarby het Hy gesê: “’Daarom sal ‘n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe en hulle twee sal een wees.’ Hulle is dus nie meer twee nie, maar een. Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.” Hulle vra Hom toe: “Waarom het Moses dan bepaal dat, as iemand sy vrou ‘n skeibrief gee, hy van haar kan skei?” Hy antwoord hulle: “Dit is oor die hardheid van julle harte dat Moses julle toegelaat het om van julle vrouens te skei, maar dit was nie van die begin af so nie. Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor owerspel, en met ‘n ander trou, pleeg egbreuk.”
Om ‘n werklik suksesvolle huwelik te hê, is nie koek-en-tee nie; dis hárde werk en eis dikwels geweldige opoffering van albei huweliksmaats. Tog, wanneer mens ná vele dekades terugkyk, besef jy dat dit alles oor en oor die moeite werd was: wat jy sien is twee mense wat mekaar deur goeie en slegte tye bygestaan en mekaar geslyp het. Twee mense wat mekaar verstaan; mekaar se foute en tekortkominge aanvaar het in die wete dat albei maar bitter ver tekort skiet en dat jy nie van die ander een kan verwag om iets te wees wat jy self nie is nie. Maar, die heel belangrikste van alles, is die dankbaarheid teenoor die Goeie Gewer dat Hy in sy alwysheid geweet het dat juis júlle twee vir mekaar bedoel is en julle toe na mekaar gelei het – op ‘n wyse wat mens later net as sý beskikking kan beskryf. Dan klop jy nie jouself op die skouer omdat jy “so lank uitgehou” het nie, nee – julle bring saam aan Hom alleen die dank en eer vir sy oneindige genade!
Die mossie-boodskap
My dierbare vriendin, Minnie Coetzee, het die volgende kosbare les van ‘n vriendin ontvang en dit op haar beurt per sms vir my aangestuur. Nie een van hulle kon ongelukkig sê wie die skrywer is nie.
Anette Marais sit op ‘n stomp en skud die stof van haar verslete klere af.
Rondom haar sit die groepie bekende gesigte van moeë vrouens. Net ‘n paar treë verder is die hoë draad van die konsentrasiekamp. Sy slaan haar Bybel oop en begin lees. Sy het in die donker ure van die nag geworstel met God en Hom gesmeek vir ‘n boodskap om hierdie vrouens te bemoedig, want wie weet hoe lank nog.....
Anette lees die woorde van Matt. 10:29:
“Is twee mossies nie vir ‘n sent te koop nie, en tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie.”
Terwyl sy besig is om hierdie woorde te lees, kom sit daar ‘n klein vaal mossie op haar skouer.
Die groepie vrouens staar in verbasing na wat voor hulle gebeur, en so word die mossie die teken van hoop in die onmoontlike omstandighede van die konsentrasiekamp in Bethulie.
Dit was fantasties om in die maande wat volg te sien hoe die mossies van Bethulie ‘n baken van geloof en hoop vir hierdie vrouens word.
Op 21 Mei 1902 was die oorlog verby. Anette het op pad terug na haar huis by ‘n vrou met invloed gestop en haar vertel van die mossie-boodskap. Sy het dit weer oorvertel en Genl. Jan Smuts het in 1923 die mossie op die land se kleinste muntstuk (kwartpennie) laat verskyn.
Amper 80 jaar later sit Jak de Priester in ‘n park in Londen. Sy geld is op, hy kry nie werk nie, hy mis die meisie van sy drome en sonskyn en biltong. Hy slaan sy klein silwer Bybeltjie oop en lees die “mossie” boodskap en bid vir die soveelste keer vir werk!
Vroeg die volgende oggend lui sy telefoon en dis die oproep waarvoor hy gewag het. Hy spring op die eerste trein en begin met ‘n lang dag se onderhoude.
Moeg, maar gelukkig en met ‘n permanente werk klim hy weer laatmiddag op die trein.
Toe hy inklim, sien hy ‘n muntstuk op die vloer lê. Hy tel dit op, en daar op ‘n trein in Londen hou hy ‘n Suid-Afrikaanse 1c met ‘n mossie agterop, in sy hand,. Hy vertel dat die wêreld rondom hom gaan stil staan het, dat hy besef het dat God daar by hom op die trein is en dat gebed sy waarborg in hierdie stukkende wêreld is.
Vandag, ‘n paar jaar later, skud ek my beursie uit. Ek sit ‘n 1c neer vir my vriendin met borskanker, nog ‘n 1c vir huwelike wat sukkel, ‘n 1c vir iemand na aan my hart se werksomstandighede, vir enkelouers en weduwees, en ek besef die mossie-boodskap is dalk net een versie in ‘n dik Bybel, maar ‘n Almagtige, liefdevolle God staan agter dit!
Here, dankie dat daar altyd hoop is. Dankie vir bakens langs die pad wat ons help om geduldig te wees, terwyl ons wag ons wag vir U, om op die perfekte tyd ons omstandighede te verander.
Gister, terwyl ek vir my kliënte wag en ek dieselfde boodskap vir my vrou gestuur het, het 3 mossies op my voertuig se voorste “bushbar” kom sit en ek het dadelik geweet ons Koning praat met my om my gerus te stel. Daar is niemand soos Hy nie en Hy sal altyd na ons kyk en ons versorg. Hy is net ‘n gebed ver.
‘n Geseënde “mossie”-dag vir jou!
Shalom.
(Foto's: Wikipedia)
'n Ou storie, nuut vertel
Vir solank ek kan onthou, het ek ‘n belangstelling in die geskiedenis: Die verhale van ons kinderhelde het my van kleins af geboei en ek het elke keer gehuil wanneer Rageltjie de Beer haar kleertjies vir haar boetie aantrek en hom met haar lyfie teen verkluiming beskerm.
Later, in standerd ses (nou graad agt) het ‘n wyer wêreld vir my oopgegaan en ek kon myself verloor in die Afrikaanse Kinderensiklopedie (onthou, dit was lank voor Google!) se beskrywing van ou Mesopotamië en die Nyldelta, en wonder van alle wonders: Oud Egipte! O, daardie eerste kennismaking met die piramides en die Sfinks... Nooit kon ek toe droom dat ek jare later met Robert Bauval, Graham Hancock en andere se boeke sou kennis maak en daardeurfinaal genees sou word van die idee dat die Egiptenare dit gebou het...
In dieselfde jaar (1962) moes ons die derde taal kies wat ons tot in matriek sou neem. Omdat ek op daardie stadium vas van plan was om ‘n loopbaan in die regte te volg, was Latyn die vanselfsprekende keuse. Oor die manier waarop die studie van dié antieke taal nie net my verstaan van Engels en Afrikaans verbeter het nie, maar selfs my manier van dink beïnvloed het, sal ek nie nou uitwei nie; dit was die kennismaking met Julius Caesar (uitgespreek “Kaiser”, in Engels word die “C” ‘n “S”) se geskrifte wat nuwe wêrelde vir my oopgemaak het. Ons voorgeskrewe werk vir standerds nege en tien was een van sy De Bello Gallico (Aangaande die Galliese oorlog) – beskrywings. Ons destydse Latyn-onderwyser aan die Hoërskool Brits was mnr Griessel (of sommer “ou Ghries”, soos hy alombekend was), ‘n man wat regtig uit sy pad gegaan het om ‘n belangstelling in sy vak by ons paar leerlinge te kweek. Deur die vertaling uit Latyn na Afrikaans kon ek eerstehands leer met watter minagting die Romeine die Galliërs – die latere Franse en Belge – bejeën het: vir die geordende, militaristiese Romeinse soldate was ons voorouers inderdaad ‘n klomp barbare wat, onder leiding van die druïde – of priesters – onder andere heilige boomstamme aanbid het. Anders as wat die strokiesprent Asterix ons wysmaak, het hulle ongelukkig nie ‘n “magic potion” gehad om die Romeine op hul plek te sit nie – Inteendeel.
Ek het ‘n ontsaglike bewondering vir “Oom Julie” (dit is na hom wat ons sewende maand vernoem is) ontwikkel. Hy was ‘n briljante strateeg wat in die relatief kort periode van slegs vyf jaar (Oktober 49 v.C tot Maart 44 v.C) homself gevestig het as een van die invloedrykste staatsmanne in die geskiedenis. Vir hom was die opbou en glorieryke voortbestaan van Rome alles: Al die oorloë wat gevoer is – hy het nie daaraan geglo om tuis te bly en sy generaals die vuilwerk te laat doen nie, hy het elkeen self aangevoer – was daarop gemik om Romeinse grondgebied uit te brei (daardeur kon belastings gehef, en die staatskoffers gevul word) en te beveilig. As gevolg van sy talle oorwinnings oor die vyand (buiten die Galliërs was daar nog die Germane – die hedendaagse Duitssprekende state – en die Romeinse legioene het selfs gebiede sover as vandag se Verenigde Koninkryk geannekseer) het Julius uiters gewild onder sy soldate en die gewone burgers geword.
Hy het die titel van Dictator (of hoogste amptenaar) gehad, en as sulks was hy – onder andere – hoof van die Senaat. Daar het egter ál meer stemme uit veral die gewone bevolking gekom dat hy as Rex, of koning, aangewys moet word – maar Julius self het dit nooit begeer nie. Openbare eerbewyse was net eenvoudig nie vir hom nie. Sy groterwordende gewildheid het egter die ander senatore heeltemal teen die bors gestuit en vir hulle was daar dus net een uitweg: Julius Caesar moes dood! Hulle kon nie sluipmoordenaars huur nie omdat niemand vertrou kon word nie. Hulle, die senatore en sy kollegas, moes dus die daad self verrig... Maar waar? Hulle besluit toe op die Senaat, waar hy tuis was en nooit so ‘n daad van verraad sou verwag nie. Op 15 Maart 44 v.C (die sogenaamde “Ides of March”) het sowat sestig senatore met dolke, wat hulle tussen die voue van hul togas versteek het, op hom toegesak. ‘n Latere lykskouing (die eerste opgetekende een in die geskiedenis) het aan die lig gebring dat hy 23 dolksteke in sy liggaam gehad het en dat hy dood is aan bloedverlies en een finale dolksteek in sy hart. Shakespeare skryf in sy drama Julius Caesar dat sy laaste woorde Et tu, Brute? (vry vertaal “Jy ook, Brutus?”) was toe hy sy beste vriend en vertroueling met die dolk in sy hand sien; daar is egter geen bewyse voor nie. Wat wel deur geskiedskrywers berig word, is dat Julius, met sy laaste kragte, sy mantel oor sy gesig getrek het toe hy Brutus herken.
Ná sy dood was daar ‘n periode van politieke oproer omdat die gewone bevolking in opstand gekom het aangesien ‘n handjievol hooggeplaasdes reg in hule eie hande kon neem. Brutus, onder andere, het in dié tyd sy lewe verloor. Gaius Octavianus Augustus, Julius Caesar se aangenome seun en erfgenaam, het hom opgevolg as Caesar Augustus, die heel eerste Romeinse keiser.
Nou kan die vraag met reg gevra word: Wat het die grote Julius Caesar se lewe en sterwe met mý te doen – is ek regtig so vol van myself dat ek ons lewens met mekaar wil vergelyk? Allermins. Ek het net tot die besef gekom dat verraad – en dan veral deur jou kollegas en vriende – oral voorkom: Dis geensins beperk tot die hoogste – of dan, die laagste – kringe in die samelewing nie. Ek weet net dat, wanneer dit gebeur, jy liewer jou gesig wil bedek sodat jy nie jou vriend – met die dolk in sy hand – in die oë hoef te kyk nie. (sic)
Onverwacht
21 Januarie 2014
Jake
Mensen die <a href="https://nl.formulaswiss.com/blogs/depressie">depressief</a> zijn, denken aan dingen die hen ongelukkig maken.
Annatjie Botha
Ek stem saam met jou, Jake, maar daar is baie mense wie se depressie as gevolg van 'n wanbalans in die brein is. Dis regtig 'n siekte!
Ansie van den Berg
ABSOLUUT LEWENSVERRYKEND. BAIE DANKIE
Annatjie Botha
Ek waardeer jou kommentaar, Ansie!
Elma Koster
Sjoe dankie, ek het nou weer heerlik gelees. Vrot van die griep maar sielsgelukkig met alles om my, want dit is nie my wil nie maar Sy Wil wat geskied, en ek staan op Sy belofte aan my in Jeremia 29:11. Dankie vir die openlike en eerlike deel van 'hart-g
Elma Koster
Skynheiligheid..... die eie ek, die kern van die sonde. Hierdie is beslis stof tot nadenke, tot 'n reinigingsproses, diep diep reiniging. x
Willemien van Greunen
Dankie Tannie dit is pragtige boodskappe.
Ansie Solomon
Die Mossie boodskap is so treffend, het dit ook nou die dag per e-pos ontvang. Laat jou hoedervleis uitslaan!!