Lent
Wat is Lent? Dit is die 40 dae vanaf Aswoensdag tot die Saterdag voor Opstandingsondag. Tel mens egter die dae, sien jy dat daar eintlik 46 is. Die rede daarvoor is dat die ses Sondae voor Paasfees uitgesluit is aangesien Sondae reeds feesdae is (die viering van die opstanding). Waarom dan juis veertig dae? kan mens vra. Dis ‘n herinnering aan die veertig dae wat Jesus in die woestyn deurgebring het voor Hy met sy bediening begin het.
Lent is afgelei van die oud-Engelse woord lencten, asook die oud-Nederlandse lentin en die ou Hoogduitse lenzo, wat almal “lente-seisoen” beteken. (In die noordelike halfrond word Paasfees in die lente gevier.) Volgens die Oxford English Dictionary kan dit ook verwys na “veertigste” in verskeie tale waarin Latyn ‘n sterk invloed gehad het, soos Frans, Italiaans, Spaans, Portugees, ens.
Die laaste Sondag voor Goeie Vrydag staan bekend as Palmsondag, wat verwys na Jesus se intog in Jerusalem toe mense kledingstukke en palmtakke op die pad voor Hom gegooi het. Baie kerke word daardie dag met palmtakke versier en dié takke word daarna gedroog en later fyngemaak (vandaar die “as”), met olyfolie gemeng en tydens die diens op Aswoensdag van die volgende jaar deur die geestelike leier gebruik om ‘n kruis op sy gemeentelede se voorkoppe te maak terwyl hy sê “Onthou dat jy stof is en tot stof sal terugkeer”.
Die doel van Lent is om die gelowige voor te berei op Paasfees deur onder andere gebed, skuldbelydenis en die gee van aalmoese. Dit word gevier deur die Anglikaanse, Oos-Ortodokse, Lutherse, Metodiste, Morawiese, Oosterse Ortodokse, Gereformeerde en Rooms-Katolieke kerke. Ook in ons eie land begin al hoe meer gemeentes van verskillende denominasies dié tydperk vier.
‘n Belangrike kenmerk van Lent is dat mens vrywillig van iets wat vir jou belangrik is, vir dié tydperk kan afstand doen. Dit kan enigiets wees: eet- of drinkgoed, TV kyk, jou sosiale media, net wat jy dink jy nooit sonder kan klaarkom nie. Die idee is om, telkens wanneer jy ‘n behoefte daaraan het, aan Jesus te bely dat jy Hom veel nodiger het.
Ek persoonlik is baie lief vir vrugte in enige vorm, maar veral vars (het al male sonder tal gesê dat ek net daarvan sal kan lewe!) en vanjaar het ek besluit dat ek vir die duur van Lent daarvan gaan vas. Ek kan egter my ander huismense dit nie ook ontneem nie – dis onregverdig! – dus is daar steeds vrugte in die vrugtemandjie en in die yskas. Maklik is dit verseker nie, glo my, maar om elke keer wanneer my mond water as ek ‘n pragtige mango, perske, pruim of wat ookal sien, vir Jesus te sê “My Here, my liggaam voel wel asof hy nie sonder daardie vrug kan klaarkom nie, maar ek weet sonder enige twyfel dat ék nooit sonder U kan klaarkom nie!” laat my net soveel nader aan Hom voel.
“Vas” is eintlik nie die korrekte term nie, want dit beteken tog om vir ‘n sekere tydperk heeltemal sonder kos te gaan, maar “om daarvan afstand te doen”, dit “op te gee” of “op te offer” klink óf te lomp, óf net nie reg nie; dus verkies ek “vas”. Almal verstaan in elk geval wat bedoel word! Die vas is hoegenaamd nie verpligtend nie en om iemand wat verkies om dit (of die hele Lent-konsep) nie te volg nie, as ‘n minder toegewyde volgeling van ons Here te beskou, is om die minste te sê, verkeerd. In dieselfde gemeente, in dieselfde huisgesin, sal jy mense kry wat voel dat hulle nie daaraan deel wil hê nie en dit is ook goed. Eweneens kan diegene wat Lent volg en dit – asook die vas – as werklik geloofsverrykend ervaar, nie veroordeel word nie. Dit is en bly ‘n persoonlike besluit!
Bloemfontein.
31 Maart (die vierde week van Lent 2019).
Bronne:
1. crosswalk.com
2. wikipedia.org
Onbillike behandeling?
Ag, ek is dol oor Dalene Reyburn! Ek het al tevore uit haar Bybeldagboekie Omvou deur Genade (CUM 2017) aangehaal en iets sê vir my ek gaan dit nog dikwels doen. Sy beskik net oor die vermoë om ‘n saak raak te sê, soos die onderstaande stukkie dan ook getuig. Die opskrif is, heel gepas, Onbillike behandeling? :
Julle as ouers sal tog nie vir julle kinders as hulle brood vra, klippe gee nie. Of as hulle vis vra, vir hulle slange gee nie. As sondige mense soos julle dan goed weet om goeie dinge aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle hemelse Vader goeie dinge gee aan hulle wat dit van Hom vra!
Matteus 7:9-11
Ek maak graag vir my seuns kaas-en-spek-pasta, want dit is die beste, soos hulle sê. Dis vir my lekker om vir hulle iets te maak wat vir hulle lekker is. Ek hou ook daarvan om vir my seuns broccoli gaar te maak. Dis vir hulle aaklig, maar ek maak dit nogtans. Nie om goor te wees of hul pret te bederf of my gesag af te dwing nie. Ek maak dit, want ek weet van beter. Ek weet dis goed vir hulle.
Om weg te kom van jou afkeer aan swaarkry, het te make met jou beeld van God die Vader, vir wie dit lekker is om jou gelukkig te maak. Hy is die Vader wat weet watter voedingstowwe jou siel sal voed.
Dalk voel dit vir jou of God net broccoli uitdeel. Dit voel dalk of jy naar sal word as jy dit net moet ruik. Jesus stel dit egter duidelik dat God jou nie ingeloop het nie. Hy het vir jou die lewe in oorvloed beloof (Joh. 10:10). Hy het boonop bewys daardie belofte op lewe is waar deur sy eie lewe neer te lê.
Jesus, dankie dat U my verseker dat my hemelse Vader my heel beste belange op die hart dra. Amen.
Wie van ons het nog nooit gevoel dat daar nou iets oor jou pad gekom het wat jy darem wraggies nie verdien het nie? Jy het absoluut alles moontlik in hierdie verhouding gesit en nou kom sê jou man dat hy ‘n egskeiding wil hê omdat hy iemand anders liefgekry het. Of jy het jouself tekort gedoen om alles vir jou kind of kinders te gee – en nou het hulle jou vergeet; jy kan vir hulle net sowel nie bestaan nie! Jy of iemand na aan jou is met ‘n ongeneeslike siekte gediagnoseer en jy sien regtig nie kans vir dít wat voorlê nie; jy het jou werk verloor sonder dat jyself iets verkeerd gedoen het, en nou kry jy net nêrens weer ‘n pos nie; of jy het nou onlangs jou lieflingkind begrawe... En nou sit jy met al die vrae. Wat het jy tog verkeerd gedoen, of liewer, wat het jy gedoen om dit te verdien? Waarom laat God dit tog toe – kon Hy dit nie gekeer het nie?! (Natuurlik kon Hy dit verhoed het; vir Hom is niks onmoontlik nie.) Die antwoord op al jou “waarom?”-vrae is dat niemand op aarde dit vir jou kan beantwoord nie. God alleen weet wat die “daarom” op elke vraag is en sy gedagtes is nie ons gedagtes nie (Jes. 55:8).
‘n Mens moet dalk net vir ‘n oomblik stil raak en jouself afvra “Waarom nie ek nie? Waarom sal God rampe en ellende oor ander mense toelaat en nie oor my nie? Wat maak my of my werke so besonders dat ek spesiale behandeling verdien?!” Dis regtig – soos hulle in Engels sê – ‘n sobering thought.
Hoe seer dit nou ookal mag wees, onthou net dat God jou onbeskryflik liefhet en dat Hy steeds besig is met sy Groot Plan vir jou lewe. Dit mag dalk vir jou voorkom asof Hy net wég is, want jy voel dan so ontsettend ontredderd en alleen – maar niks is verder weg van die waarheid nie. In jou hartseer en stryd is Hy net daar by jou; dra Jesus jou wanneer jyself nie kan loop nie. Moet asseblief nie van Hom af wegdraai, en moet nooit aan ons Here en sy liefde vir jou twyfel nie! Onthou: jy mag dalk omval in God se hand, maar jy sal nooit uitval nie...
Miskien sal Hy in die toekoms vir jou wys waarom dit moes gebeur het, maar dalk sal jy nooit weet nie – in elk geval nie in hierdie lewe nie.
Vrgeet dus van onbillike behandeling en beskou dit waardeur jy nou moet worstel, as ‘n groeiproses. Niemand groei immers in sy of haar geloof wanneer alles net goed gaan nie – groei vind eers werklik plaas wanneer jy op jou knieë is!
Bloemfontein
19 Februarie 2019.
Die verskille tussen Christen, Jood en Moslem
Net ‘n week ná die selfmoordbomontploffings in Sri-Lanka, kom die nuus van nog ‘n skietery, dié keer by ‘n sinagoge in San Diego, Amerika. Die hele wêreld is die afgelope tyd geruk deur haat-misdade, telkens in die naam van geloof – maar waar in godsdiensgeskrifte word gelowiges aangemoedig om volgelinge van ‘n ander geloof voor die voet af te maai? Dit het my laat dink aan die verskille (en ooreenkomste) tussen drie van die belangrikste gelowe, naamlik die Christendom, die Joodse geloof (Judaïsme) en die Islam. Wat maak ons so anders as die ander dat ons net wil doodmaak? Heel eerste moet ons egter kyk na waarom daar iets soos geloof is:
Die vroegste mens het besef dat daar ‘n Hoër Mag moet wees: ‘n Iets of Iemand wat gee en onderhou. Selfs die hardnekkigste moderne ateïs sal erken dat IETS onverklaarbaar daar buite aan die werk is!
Vir vele millenia het dit so aangegaan; die eerste mense, soos die Khoi en San het hul gode gevind in groot, sigbare goed soos die son, die maan, reën, ens. Die eerste groot beskawing waarvan ons weet, die Egiptenare, (die eerste dinastie was tussen 3400 en 3000 v.C.) het benewens talle hoof- en mindere gode, net een hoofgod, Ra, (die son) gehad.
Dit bring ons by ongeveer die jaar 2 000 v.C., toe God die 75-jarige Abram uit Ur van die Galdeërs na Kanaän geroep het. Hy en sy vrou, Sarai, was kinderloos, al het die Here Abram in Gen. 13:16 beloof: “Ek sal jou nageslag so baie maak soos die stof van die aarde” en weer in Gen 15:5: Toe het die Here vir Abram buitentoe laat gaan en vir hom gesê: “Kyk op na die hemel en tel die sterre as jy kan.” Verder sê die Here vir hom: “So baie sal jou nageslag wees.”
Sarai het ‘n Egiptiese slavin, Hagar, gehad en sy gee dié toe vir Abram om te kyk of hy nie so die beloofde nageslag kan verwek nie. Sy het toe inderdaad ‘n seun, Ismael, wat gebore is toe Abram ses en tagtig jaar oud was. God het Abraham ook beveel dat alle seuntjies – ook dié van slawe – van sy nasie voortaan op die agtste dag besny moet word. Abraham was nege en negentig en Ismael dertien toe hulle besny is.
Die Here gee egter later aan ‘n honderdjarige Abram (wie se naam Hy verander na Abraham – vader van baie nasies) die versekering dat hy en Sara, (ook haar naam is verander) wat negentig was, wel ‘n jaar later ‘n eie seun sou hê en Isak word gebore. Toe Ismael ongeveer sestien jaar oud was, het hy Isak geweldig geterg en dit het Sara so ontstel dat sy vir Abraham gesê het hy moet Hagar en haar seun wegstuur. Abraham was baie ontsteld daaroor, maar die Here stel hom gerus: “Moenie sleg voel oor die kind en oor jou slavin nie. Luister na alles wat Sara vir jou sê, want uit Isak sal jou nageslag gebore word. Tog sal Ek die seun van die slavin ‘n nasie laat word, want hy is jou kind.” (Gen. 21:12,13) Abraham gee hulle water in ‘n velsak en kos, en die twee begin in die Bersebawoestyn rondswerf. Toe die water opraak, los Hagar haar kind onder ‘n doringbos en gaan ‘n ent weg sit omdat sy hom nie wou sien doodgaan nie. Ons lees verder in Gen. 21:16c – 21: Terwyl sy so daar sit, het sy begin huil. God het die kind hoor huil, en die Engel van God het uit die hemel na Hagar geroep en vir haar gesê: “Wat is dit, Hagar? Moenie bang wees nie, want God het die kind daar waar hy lê, gehoor. Staan op, tel die kind op en troos hom, want Ek sal hom ‘n groot nasie laat word.”
Toe het God haar oë oopgemaak en sy het ‘n put met water gesien. Sy het die velsak vol water gaan maak en vir die kind water gegee. God was by die kind en hy het groot geword. Hy het in die woestyn gewoon en het handig geword met die pyl en boog. Hy het in die Paranwoestyn gewoon, en sy ma het hom met ‘n vrou uit Egipte laat trou. (Hulle het twaalf seuns en een dogter gehad, en hy is die voorvader van die Arabies-sprekende volke van die Midde-Ooste.)
Die bostaande geskiedenis verskyn in ons Bybel, die Joodse Tanak (hulle Bybel, wat in Bybelse Hebreeus geskryf is, behalwe Daniël, Esra, en nog ‘n paar ander boeke wat in Bybelse Aramees verskyn. Dit bevat ons hele Ou Testament, opgedeel in 24 boeke in plaas van die 39 in ons Bybel) en die Moslems se Koran.
Die Koran – letterlik beteken dit “Voordrag” – is in Arabies geskryf, omdat dit die taal is waarin dit ontvang is en vertalings die inhoud kan verander. (Daar bestaan egter vertalings vir nie-Moslems). Ware Moslems moet dit egter in die oorspronklike taal kan lees en memoriseer. Dit is verdeel in hoofstukke en onderverdeel in verse; is nie chronologies nie, maar ingedeel volgens die lengte van die hoofstukke. Moslems glo dat dit ‘n openbaring van God (Allah) deur die engel Gabriël aan Mohammed, die laaste profeet, was. Dit het geskied oor ‘n tydperk van drie en twintig jaar (vanaf 609 n.C., toe Mohammed veertig jaar oud was, tot 632 n.C., sy sterfjaar) en bevat geweldig baie van die Bybel en die Tanak; net vanuit ‘n Moslem-perspektief. So vertel dit ook die verhaal van Ibrahim (Abraham) wat die opdrag van Allah kry om sy seun, Ismael, te gaan offer. Net soos by Isak, het hy ook ‘n bok agter hom in ‘n bos verstrengel gekry net voor hy die seun sou keel afsny.
Al is die besnydenis vir elke seuntjie nie verpligtend in die Koran nie, het Mohammed dit aanbeveel en die ritueel word gevolg, al is daar nie ‘n vasgestelde ouderdom waarop dit gedoen moet word nie.
Al 48 profete in die Judaïsme (met Adam as die eerste) en baie uit die Christelike tradisie word in die Koran genoem, maar net anders geskryf. Die Wet (Tora) wat aan Moses gegee is word die Tawrat genoem, Dawid (Dawud) se Psalms is Zabur en die Evangelie aan Jesus is Injil. Jesus is dan ook ‘n baie prominente profeet in die Koran en Hy word in nie minder nie as in 93 verse genoem. Hy is Isa ibn Maryam (Jesus seun van Maria) en is die Messias (al-Masih) wat gestuur is om aan die kinders van Israel die regte pad te wys. Hy “verdwyn” glo tussen 30 n.C. en 33 n.C. naby Jerusalem...
Vir Moslems (onthou, daar is nie iets soos "Mohammedane" nie!) is Mohammed egter die heel belangrikste profeet. In teenstelling met Jesus se prominente plek as profeet in die Koran, is Hy in die Judaïsme niks meer as ‘n historiese figuur nie.
Interessant is hoeveel die Christendom en die Islam ooreenstem wanneer dit by “binnegevegte” kom. Ons weet hoeveel bloed daar al deur die eeue tussen Protestante en Rooms-Katolieke gevloei het, al noem ons onsself Christene en dien ons dieselfde Drieënige God.
In Islam gebeur presies dieselfde tussen die twee vertakkings, naamlik die Sunni en die Shia. Anders as tussen Protestant en Katoliek het die stryd niks met geloof te doen nie, maar is dit suiwer polities. Na die profeet Mohammed se dood het daar ‘n stryd om ‘n opvolger te vind, ontstaan. Hy het naamlik net dogters gehad en nie ‘n seun wat kon oorneem as geestelike leier nie. Die Sunni het gevoel die mees geskikte leier moet verkies word, soos Abu Bakr, Mohammed se beste vriend en vertroueling wat die eerste Kalif (Opvolger van die Profeet) geword het. Die Sunni is die mees ortodokse groepering en maak tans ongeveer 85% van die Moslembevolking wêreldwyd uit.
Die Shia aan die anderkant het geglo die opvolger moet die naaste manlike familielid wees en daaropvolgende leiers moet direkte familie van die Profeet wees, soos sy neef en skoonseun, Ali bin Abu Talib. Deur al die eeue heen verwerp die Shiïte verkose leiers en kies om onder die gesag van ‘n lang reeks Imams te staan wat hulle glo deur God (Allah) self aangewys is. Hulle is meestal gekonsentreer in Iran, maar het ook lede in ander state in die Midde-Ooste soos Irak, Sirië en Yemen waar Sunni en Shia mekaar gereeld konfronteer.
Ons sien dus dat die oudste van die drie gelowe, die Joodse of Judaïsme, glo in die God (Yahwe) van hul voorvaderAbraham – hulle is afstammelinge van Isak. Jy kan slegs in die hemel kom deur die Wet van Moses (die Tora) tot die laaste letter te onderhou en hulle wag nog op die koms van die Messias. Hulle het verskeie religieuse geskrifte waarvan die Tanak die belangrikste is. Hulle vergader op die Sabbat (Saterdag) in ‘n sinagoge waar mans en vroue geskei is en die geestelike leier is ‘n rabbi. Babaseuntjies moet op die agtste dag besny word.
Die jongste van die drie gelowe is die Islam. Hulle glo in die God (Allah) van hul voorvader Ibrahim (Abraham) – hulle is afstammelinge van sy oudste seun, Ismael. Allah is volgens die Moslems net Een; Hy kan nie ‘n seun hê nie. Hulle kan in die Paradys kom slegs deur hul eie verdienste. Ook hulle het verskeie godsdienstige geskrifte, soos hadith (uitsprake of leringe van die Profeet), maar die vernaamste is die Koran. Hulle kom om 12:00 op ‘n Vrydag in ‘n moskee (waar mans en vroue geskei is) bymekaar vir gebede, alhoewel hulle daagliks vyf maal – op vasgestelde tye – opgeroep word om te bid. Die geestelike leier is ‘n imam. Besnydenis (op enige ouderdom) is nie verpligtend volgens die Koran nie, maar word verwag omdat die Profeet Mohammed dit aanbeveel het.
Vergelyk dit nou met ons eie Christelike geloof: Ons ken die God van Abraham, Isak en Jakob uit die Ou Testament van ons Bybel, en ons ken die Wet van Moses. Ons ken Hom ook uit die Nuwe Testament as die Vader van ons Here Jesus Christus; Jesus, die Messias wat reeds gekom het om sy lewe vir ons aan die kruis te gee en daardeur al die wette van die Ou Testament te vervul. Ons glo dus aan die enigste, Drieënige God en ons sien uit na die ewige lewe saam met Hom wat Hy net uit genade aan ons skenk omdat ons Jesus as ons persoonlike Saligmaker aangeneem het. Wanneer ons op ‘n Sondag in een van ons kerke vergader om na die leringe deur ‘n predikant te luister, sit hele gesinne saam in die kerkbanke...
Die heel belangrikste is om te verstaan dat ons nie regtig soveel verskil nie, en dat die Moslems regtig nie afgode aanbid nie. Die ontsettende dade van terreur waarvan ons gereeld hoor, word deur ‘n klein minderheid ekstremiste in die naam van Islam gepleeg omdat hulle ‘n versie uit die Koran (surah 9:5) totaal uit verband aanhaal om hul eie oogmerke te bereik... Soos Christene al te dikwels ook maar doen!
Bloemfontein
28 April 2019
Bronne:
answers.yahoo.com
learnreligions.com
The Jerusalem Post, 1 April 2015 (Artikel deur Stephen Gabriel Rosenberg)
Kritiek
Here, ons is so geneig om oral vir ons self notas te maak van ander mense se foute. Ons sien die foute in hulle leefwyse, in die manier waarop hulle hulle kinders grootmaak, ons sien foute in die manier waarop hulle aanbid, waarop hulle praat en nog vele ander foute. Maar U woord leer ons dat liefde nie rekord hou van mense se foute nie. Vader help ons om net die mooi in ander mense raak te sien. Dat ons na ander kyk soos U na hulle kyk. U kyk na ons deur die Bloed van U Seun, en met oë wat gevul is met liefde en genade; terwyl ons as mens net die foute en die tekortkominge raaksien. Vader, vandag bid ek dat ons nie brûe sal afbreek nie, maar dat ons brugbouers sal wees. Dat ons nie die woede sal aanjaag nie, maar dat ons vredemakers sal wees. Dat ons woorde nie skerp van kritiek sal wees nie, maar dat dit helend sal wees. Vader, ons skiet so ver tekort en daarom het ons U wysheid en leiding nodig. Laat ons skoon kanale wees waardeur U liefde kan vloei, dat ons lewens 'n weerspieëling sal wees van U gees.
Ek het gister die bostaande per vonkpos van Buks ontvang en dit het my werklik geroer. Dit is tog só waar dat ons altyd gereed is om te kritiseer! Ek weet dat elke mens geregtig is om ‘n eie mening oor sake te hê, maar beteken dit dan dat daardie opinie die enigste een is wat reg is? Dit wil voorkom asof die meeste mense so glo; want die oomblik dat iemand dit durf waag om anders na dinge te kyk, raak hulle aanvallend en aggressief.
Waar en wanneer het ons die vermoë verloor om ander ook ‘n plekkie in die son – al is dit dan net ‘n eie opinie – te gun? Van wanneer af is ons so arrogant om aan te neem dat net ek, o ja, en diegene wat soos ek dink, altyd reg is? Al is dit nie regtig ‘n kwessie van reg of verkeerd nie, keuses wat mens dalk mag maak tel ook hieronder. My gunstelingkleur is groen. Sou joune dalk rooi wees, kan ek mos nie sê jy moet jou kop laat lees nie? (Behalwe dalk as jy reken dat rooi die kleur van lewe is; dan sal ek jou baie gou vra hoe rooi gras, bome met rooi blare, ens. sou lyk..!) As jou droommotor ‘n Porsche is en myne ‘n Volvo, beteken dit dat een van ons twee ‘n wenner, en die ander ‘n verloorder is? Vir seker nie. Daar sal egter ‘n verloorder wees wanneer een van ons die ander een openlik kritiseer, veral ten aanhore van buitestaanders – en dit sal dié een wees wat kritiseer.
Ek is dol oor inbelprogramme oor die radio; nie oor die self praat nie (ek het nog nooit deelgeneem nie en ek glo ook nie ek sal in die toekoms nie; ek verkies maar om een van die stilswyende meerderheid te bly), maar oor my binnepret wanneer ek na die menings luister. Eerstens is daar diegene wat die besprekingspunt totaal ignoreer, net sodat hulle hul eie storie kan vertel. Dan moet die arme aanbieder erg wal gooi en bontstaan om die hele program net weer op die regte spoor te kry... Ek kan amper hoor hoe hulle op die tande kners! Volgende is die deurwinterde inbellers aan die beurt: Daar is weliswaar ‘n paar wie se name mens naderhand ken, wat werklik ‘n wye algemene kennis het sodat hulle met insig oor verskeie onderwerpe kan saampraat; hulle is ongelukkig maar in die minderheid. Die res is diegene wat glo dat net hulle mening tel en dit is veral duidelik wanneer ‘n onderwerp soos rugby onder bespreking is – dan spat die vonke behoorlik! Dis tydens sulke sessies dat mens besef dat provinsialisme nie in my leeftyd – en bepaald ook nie in my kinders s’n – uitgeroei sal word nie. Daar is sekerlik niks mee verkeerd om te glo dat alles in of van jou provinsie die beste in die land is nie; maar hou jou opinie asseblief tog net vir jouself. Dis baie erg om ‘n klomp volwassenes te hoor stry: jou span se slotte verdien nie hul plek in die Springbokspan nie, nie oor hulle spelpeil nie, maar omdat hulle in die verkeerde kleur trui speel. Dis sulke tye wanneer ek bitter hard met myself moet praat: Moenie veroordeel nie! Ek lees weer in die bostaande gebed: Vader, ons skiet so ver tekort en daarom het ons U wysheid en leiding nodig en ek besef dis net ek daardie...
Hoe kan ek en jy skoon kanale (wees) waardeur God se liefde na die wêreld toe vloei? Wat kan elkeen van ons in ons hoekie van die wêreld doen om die lewe vir ander (en daardeur ook vir onsself) beter te maak? Heel eerste moet ons onsself oopstel vir die influisteringe van die Heilige Gees; Hy sal dit sonder twyfel aan jou bekend maak wanneer jy iets teen sý wil sê of doen. Verder is dit ook elkeen van ons se plig om ons kinders, en almal wat na ons opkyk om leiding, te leer dat ongevraagde kritiek altyd onvanpas is. Mens hoor so dikwels dat daar van “opbouende” kritiek gepraat word. Glo my, wanneer jy nie om jou mening gevra word nie, is alle kritiek afbrekend! Wees bedag daarop om maar liewer twee maal te dink alvorens jy iets van, of teenoor ‘n ander kwytraak. My ma het altyd gepraat van so-en-so wat ‘n “vrye sê” het – dit is daardie maklike kritiseer wat heel dikwels onberekenbare skade berokken. Stel jouself net vir ‘n klein rukkie in die skoene van die persoon wat jy so maklik gekritiseer het – hoe sou jý gevoel het as jy aan die ontvangkant van daardie “goedbedoelde” kritiek was?
Laastens durf ons nooit ons Here se woorde in Matt.7:1-2 vergeet nie: “Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie; met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word.”
Kwaadpraat/Skinder
Kan jy raai wie ek is?
“Ek het geen respek vir geregtigheid en geen genade vir weerlose mense nie. Ek verwond sonder om te vermoor; ek verwoes huise; ek breek harte en ruïneer lewens.
Jy sal my in die kerkbanke van die gelowiges kry, asook in die lêplek van die onheiliges. Ek is geslepe, slim, geniepsig, en ek raak sterker hoe ouer ek word. Ek vergewe nooit nie en vergeet selde.
My naam? My naam is kwaadpraat!”
Uit: Die Groot storiesboek. Tydlose vertellings oor lewenswaardes en die waarde van die lewe, saamgestel deur Elzette Hansen en Estelle Steenkamp.
Lux Verbi.BM (Edms) Bpk.
2008.
My gunsteling Bybelboek bly maar Jakobus – juis omdat hy geen doekies omdraai wanneer hy die gelowiges aanspreek nie. Lees maar net wat sê die skrywer in hoofstuk 3:1-12:
My broers, julle moenie almal leermeesters wil wees nie, want julle moet weet dat ons wat leermeesters is, strenger as ander beoordeel sal word. Ons struikel almal in baie opsigte. As iemand nooit struikel in wat hy sê nie, is hy volmaak, by magte om ook sy liggaam in toom te hou. Vir perde sit ons ‘n stang in die bek, en dan gehoorsaam hulle ons en het ons hulle hele liggaam onder beheer. Dink ook maar aan skepe: al is hulle baie groot en al is die winde wat hulle aandryf, baie sterk, word hulle tog met ‘n baie klein roertjie gestuur net waarheen die stuurman wil. So is die tong ook maar ‘n klein liggaamsdeeltjie, en tog het dit groot mag.
‘n Klein vuurtjie kan ‘n groot bos aan die brand steek. Die tong is ook ‘n vuur, ‘n wêreld vol ongeregtigheid, die deel van die liggaam wat die hele mens besmet. Dit steek die hele lewe, van die geboorte af tot die dood toe, aan die brand, en self word dit uit die hel aan die brand gesteek. Alles wat loop, vlieg, kruip of swem, elke soort dier word en is deur die mens getem, maar geen mens kan die tong tem nie. Dit is ‘n rustelose kwaad, vol dodelike gif. Met die tong loof ons die Here en Vader, en met die tong vloek ons die mense wat as die beeld van God gemaak is. Uit dieselfde mond kom lof en vloek. My broers, so moet dit nie wees nie. ‘n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars en brak water opborrel nie. ‘n Vyeboom, my broers , kan tog nie olywe dra nie, of ‘n druiwestok vye nie. ‘n Brak fontein kan mos nie vars water gee nie!
Die Leefstyl-Bybel vir Vroue (Lux Verbi.BM 2003) bespreek die bostaande gedeelte onder die opskrif “‘n Mite oor vroue: Skinder is vroue se spesialiteit (3:1-12) soos volg:
Wanneer mense van “skinder” praat, dink baie van hulle in die eerste plek aan vroue: “Julle klomp dames sit natuurlik weer en skinder,” is die tipies spottende opmerking waar ‘n man ‘n klompie vroue saam sien sit en gesels. Dit was ook so in antieke tye. Daarom kom dit as ‘n verrassing dat Jacobus ‘n lang en intensiewe gedeelte oor ‘n giftige tong aan mans rig (vgl. “my broers” – 3:1) Jakobus is op geen manier seksisties as dit oor los tonge gaan nie. Vir hom is dit erg genoeg dat gelowiges wat God loof en prys, met dieselfde tong so skerp en veroordelend teenoor ander kan wees. Hy besef hoe menslik en feilbaar gelowiges ook maar is. “Ons struikel almal in baie opsigte,” skryf hy met groot lewenswysheid (3:2). ‘n Mens sou die Jakobus-skrywer selfs ‘n pessimis kon noem, want hy skryf in 3:8 dat geen mens die tong kan tem nie. Al lyk dit asof hy nie veel hoop het dat gelowiges hierdie mag kan beheer nie, skryf hy tog ook duidelik dat dit nie so behoort te wees nie (3:10) en troos hy dat sulke hardhede sagter gemaak kan word deur wysheid van Bo (3:17).
Terwyl dit ‘n mite is dat net vroue skinder, is dit ‘n waarheid dat alle mense geneig is om groot kwaad aan te rig deur wat hulle met hulle tong kwytraak. Vir gelowige vroue is dit nie ‘n verskoning om te sê: “Ag, almal, mans ook, skinder tog maar” nie. Ons oë moet oopgaan vir die skade wat ons almal met ons woorde aan ander aanrig, en hoe dit die kerk besmet en kragteloos maak. Ons kan ons voorneem om met die wysheid van Bo (3:17) in ons gesinskring en werkverband ‘n voorbeeld te stel van mense wat in hulle daaglikse gesprekke oor ander die Here dien met ‘n deernisvolle hart en ‘n genadige tong. (Eie beklemtoning.)
Die bekende Riekert Botha* neem as Skrifgedeelte 1 Petrus 4:7-11, met die klem op vers 8 (“Bo alles moet julle mekaar hartlik liefhê, want die liefde bedek baie sondes”) en skryf:
“..... Die direkte betekenis daarvan is om nie iemand se sondes aan ander oor te vertel nie. Dit het nie met die verdoeseling van sondes te doen nie, maar om ons daarvan te weerhou om met ander s’n te koop te loop om hulle seer te maak.
‘n Ander persoon se sondes het niks met ons te doen nie. Piet is kwaad vir Jan omdat Jan nie sy beloftes nakom nie. Wat het Piet en Jan se geskil met my en jou te doen? Hoekom wil ons dit vir ander mense vertel? In die afwesigheid van liefde loop Piet en Jan se storie rond maar waar liefde is, word hulle beskerm. Mense wat skinder, sondig teen God. Christene kan nogal fyn skinder as hulle wil. Hulle begin dikwels ‘n skinderstorie met: “Ons moet regtig vir Piet en Jan bid...” Wat daarna volg is dikwels ‘n suiwer liefdelose skinderstorie. Party mense is verslaaf aan skinder. Die Bybel noem hulle bemoeisiek. “Hulle is nie net ledig nie, maar ook bemoeisiek en praatsiek, en hulle praat oor dinge waaroor nie gepraat moet word nie.” (1 Tim. 5:13b).
As iemand teen jou gesondig het, gaan praat dit uit. Wees baie versigtig wanneer jy vir ander mense gaan “raad vra” oor die situasie. Mense se hart is bedrieglik! Baie sulke “raad vraery” is bedekte skinderstories. Ly liewer onreg as skinder (1 Kor. 6:7). Hoe is jy anders as jy van ander se onregte teen jou skinder? Dis ewe liefdeloos. Die persoon wat na skinderstories luister, is net so skuldig (eie beklemtoning). Om jou in skinder te verlustig is liefdeloos voor God – en dís wat saak maak. Hou jou rein!”
*Riekert Botha:
Voluit menswees
Naledi, 2010.
Ek lees in 1 Petrus 3:16 .... Sorg dat julle gewete skoon bly, sodat dié wat julle oor julle goeie lewenswandel in Christus belaster, daaroor skaam kan kry dat hulle kwaad van julle gepraat het. As dit die wil van God mag wees dat julle moet ly wanneer julle goed doen, is dit beter só as om te ly wanneer julle kwaad doen. En in die vorige hoofstuk, by 1 Petrus 2:12: Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening.
Waarom praat mense kwaad van ander? Wat beweeg hulle daartoe om (dikwels) onwaarhede oor hul medemens aan almal wat ‘n gewillige oor het, te verkondig; of - net so erg - 'n halwe waarheid so te plooi dat dit 'n sappige brokkie skindernuus word? Ek het myself dié vraag al dikwels afgevra. Is dit blote jaloesie, of dalk ‘n geval van minderwaardigheid? Hoop hulle om self beter te lyk in die oë van hul aanhoorders? Ek weet regtig nie; het trouens nog nooit die behoefte gehad om die kwaadprater te konfronteer ten einde sy of haar beweegredes uit te vind nie. Wat ek wel ervaar wanneer ek hiervan hoor – of self daaraan blootgestel word, want dit kom altyd by mens uit – is ‘n gevoel van ontsaglike jammerte teenoor die kwaadprater. Waar presies het dinge vir hom of haar so verkeerd geloop dat hy (ja, of sy) bereid is om ‘n ander persoon se lewe met kwaadpratery te verwoes? Die heel ergste is dat Petrus in die laaste van bostaande teksverse die gelowiges aanmoedig om hulle altyd goed onder die heidene te gedra; en wat nou as die kringe waarin jy beweeg, en die mense waarmee jy te doen het, almal gelowiges is – en daar nietemin van jou kwaadgepraat word?
In die geselskap van die kwaadprater kry mens dan uiteraard diegene wat luister – en ergste van alles, die stories en aantygings glo; gewoonlik sonder om eers ondersoek in te stel na die waarheid. Weer vra ek: waarom? Is dit dalk as gevolg van ‘n gebrek aan lewenservaring, wanneer die aanhoorder glo dat die veel ouer persoon wat aan die woord is, sonder voorbehoud geglo kan word? Ook hieroor het ek nog nooit my kop gebreek nie; dis nie vir my om daardie tipe vrae te vra nie. Al wat ek weet is dat kwaadpraat geen wenners het nie; net verloorders:
- Die kwaadprater self verloor, want op die ou einde sál sy of haar medemens besef waarmee die swartsmeerder besig is en hulle begin vermy. Dit sal vir hulle die ergste straf wees, want sodra daar nie meer iemand is wat luister nie, sal die opwinding ook uit hul lewens verdwyn. Dit mag dalk vir hulle na die ergste straf voel, maar dan moet hulle net nooit vergeet dat God van elke woord wat hulle teen ‘n ander gesê het, weet nie – en praat die bostaande vers nie van die dag van afrekening nie? (Ek het êrens gehoor dat klank nie ophou bestaan of tot niet gaan nie: elke woord wat elkeen van ons ooit gesê het, sweef vir altyd daar buite op die klankgolwe rond... Skrikwekkende gedagte, né! Mag dit ons aanspoor om twee keer te dink alvorens ons iets negatief sê.)
Jesus het Self in Matt.12: 34 gewaarsku: “Waar die hart van vol is, loop die mond van oor. Die goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die oorvloed goeie dinge in sy hart; die slegte mens bring die slegte te voorskyn uit die oorvloed slegte dinge in sy hart. Dit sê ek vir julle: Van elke ligsinnige woord wat die mense sê, sal hulle rekenskap moet gee op die oordeelsdag. Op grond van jou eie woorde sal jy vrygespreek of veroordeel word.”
- Tweedens is daar die aanhoorder wat nie slegs na die gewraakte woorde luister nie, maar dit ook glo en daardeur vergiftig word. Hulle is die grootste verloorders, want deur die onskuldige party nie die voordeel van die twyfel te gee nie, word dié nie in hul lewens toegelaat en verwelkom nie. Mense wat heel moontlik ‘n wonderlike, opbouende rol kon gespeel het, maar uitgesluit is bloot omdat die hoorder nie beter oordeel gehad het nie.
- Laastens is daar die persoon wat heel onskuldig eenkant staan terwyl daar lustig allerlei onwaarhede oor hom of haar verkondig word. Ook hulle verloor, omdat hulle vertroue in hul medemens daardeur geskok word. Aanvanklik onttrek hulle hulself; gewoonlik om eers die hele situasie te verwerk en daarna kom hulle terug as siniese, wantrouende mense wat by niemand verder betrokke wil raak nie. Ook vir hulle is daar ‘n trooswoord in die bostaande teksvers, wanneer Petrus sê dat dit veel beter is om te ly wanneer jy goed doen, as om te ly wanneer jy kwaad doen! Tog is dit baie belangrik om nie sake in eie hande te neem en allerlei wraakgedagtes te begin koester nie, al is dit ook hóé moeilik. Ons as mense wil dadelik instorm met ‘n yslike vergeldingsplan en “die hele ou spul regsien!” Maar nee, dan handel ons teen God se wil vir ons lewens. Paulus waarsku in Rom. 12:19: Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: “Dit is mý reg om te straf; Ék sal vergeld”, sê die Here. Watter wonderlike troos vir elkeen wat al te na gekom is!
Dit is egter nie waar kwaadpraat eindig nie, want kwaadpratery en veroordeling loop hand-aan-hand. Kyk maar net na die Oscar Pistorius-saak wat tans die land (trouens, die hele wêreld) op loop het. Daar kan geen twyfel bestaan nie dat hy wel die skote afgevuur het wat tot Reeva se dood gelei het; nou moet daar net vasgestel word wat daartoe aanleiding gegee het. ‘n Saak soos vele ander daarvóór, en wat meer is, vir seker nie die laaste een nie. Daar sal nog honderde soortgelyke sake in die toekoms volg, want sedert Kaïn sy broer in die vroegste tye doodgeslaan het, is dit maar net eenvoudig wat ons as mense doen...
Dis egter die wyse waarop die hofsaak in die media aangevuur word, wat my regtig naar maak. Goed, sensasie verkoop koerante en tydskrifte en jaag kykergetalle die hoogte in, maar is dít regtig nodig?! Ek en my sus Katryn gesels op ‘n dag oor dié mediasirkus, toe ek vir haar sê dat die hele besigheid my herinner aan die circus in die Romeinse tyd toe mense daar deur wilde diere verskeur is terwyl die skare, dronk van bloedlus, skreeu om nog meer. Wanneer Oscar tydens kruisondervraging emosioneel word, raak die kykers bykans beserk: “Ag siestog, die arme man; kyk net hoe breek hy...” maar terselfdertyd wil hulle net nog meer sien en hoor! (Nee, ek kyk nie na beriggewing oor die saak nie en ek lees ook nie daaroor in die pers nie. Dis Oscar se besigheid en ek is vir hom biter, bitter jammer; maar dis net nóg ‘n hofsaak.)
Waar gaan ons as mense tog heen?, wil ek vra en dan sommer self die antwoord gee: Ons loop dieselfde pad as die mense deur al die eeue heen tot nou: die pad van geen naasteliefde nie, en dit wys in elke aspek van ons lewe. Ons kan onsself wysmaak, en vir almal loop en vertel dat ons waarlik Christene is, maar die waarheid is dat daar weinig bewys daarvan in ons alledaagse lewe is. Dankie, baie dankie dat God ons nog steeds genadig is en nie vuur en swael uit die hemel laat reën om ons te vernietig nie – dit is presies wat ons verdien!
Skynheiligheid
Ons weet dat daar vir die Heilige God nie klein sondes of groot sondes is nie. Sonde is sonde! Vir ons as mense is die grootste sonde dalk om moord te pleeg, terwyl om elke nou en dan ‘n witleuentjie te vertel, nie regtig as sonde geklassifiseer kan word nie – jy doen tog niemand kwaad aan nie?! Nie vir Hom nie – albei is presies ewe erg.
Tog is daar een van die vele sondes waaraan ons as mense ons gereeld skuldig maak, wat die Here nog minder kan verdra: Skynheiligheid. So lees ons in Amos 5:21 – 23: Ek haat, Ek verafsku julle feeste, Ek het niks aan julle feestye nie. Al bring julle vir My brandoffers en graanoffers, dit is nie vir My aanneemlik nie, en Ek kyk nie eens na julle maaltydoffers van vetgevoerde kalwers nie. Gee pad voor My met die rumoer van jou gesing; Ek wil nie jou harpmusiek hoor nie! Maar laat die reg en die geregtigheid te voorskyn kom, laat dit aanrol soos watergolwe, soos ‘n standhoudende stroom.
Alvorens ons verder na ander teksverwysings kyk, laat ons net eers ‘n bietjie stilstaan en die bostaande gedeelte oordink; dit van toepassing maak op ons lewens vandag. In Bybelse tye was die Joodse feesdae soos onder andere die Paasfees (Pesach), die Fees van die Ongesuurde Brood (Mazzot) (dié twee feeste is later gekombineer in een groot fees), en die Fees van Tabernakels (Sukkoth) wat vir agt dae geduur het, groot geleenthede wanneer die volk in groot getalle na die tempel in Jerusalem gestroom het. (Soos ons vandag op Goeie Vrydag en Kersdag ook saam met ons uitgebreide gesinne kerk toe gaan.) Die weeklikse sabbat (Shabbat) wanneer die plaaslike sinagoge besoek is, was ook ‘n feesdag in die kleine – soos ons kerkbesoek op ‘n Sondag tot vandag toe nog is. Brandoffers, graanoffers en maaltydoffers is gebring soos ons vandag ook offergawes en dankoffers gee, terwyl musiek periodiek opgeklink het. Musiekinstrumente wat gebruik is, soos die ramshoring (shofar), trompet, harp, fluit en tromme verskil nie veel van die trompet, fluit, harp, tromme, klavier en orrel wat in hedendaagse eredienste gehoor word nie. Daar was uiteraard ook in Bybelse tye kore; soos vandag, terwyl al die teenwoordiges vandag in ons kerke deur gemeentelike sang die lof aan God bring.
Wat is die Here God se reaksie egter hierop? “Ek haat, Ek verafsku julle feeste. ....julle... offers .. is nie vir My aanneemlik nie, .. Ek kyk nie eens (daarna) nie. Gee pad voor My met die rumoer van jou gesing; Ek wil jou harpmusiek nie hoor nie!” Harde woorde van die Een aan Wie ons die lof, dank en eer bring; maar waarom dan? Omdat Hy, die Kenner van elkeen se hart, presies weet wat daar aangaan. Hy sien wat ons so hard probeer om vir ander weg te steek: Die onreg, leuens, bedrog, haat vir ons medemens, die skinderstories waarmee ons lewens en reputasies vernietig, ja selfs die minagting wat ons so dikwels vir Hom, die lewende God het en so hard probeer wegsteek! Vir Hom bly egter niks verborge nie – ons maskers van skynheiligheid mag heel moontlik ons medemens flous; nooit as te nimmer die Alsiende, Alwetende nie. Jakobus sê in hoofstuk 1:26 van sy algemene brief As iemand dink hy is godsdienstig, maar hy hou nie sy tong in toom nie, bedrieg hy homself. Sy godsdiens is waardeloos...en verder, in hoofstuk 3:9, Met die tong loof ons die Here en Vader, en met die(selfde) tong vloek ons die mense wat as die beeld van God gemaak is. Kan ons dan geskok wees wanneer God van ons lofsange sê “Gee pad voor My met die rumoer van jou gesing; Ek wil jou harpmusiek nie hoor nie!” ?
Dit bring ons by Jesus, wanneer hy die Fariseërs en skrifgeleerdes van sy dag berispe. (Nou durf ons nie sê dat dit net op ons hedendaagse predikante, pastore, priesters en evangeliste van toepassing is nie. Onthou dat slegs die genoemde geleerdes in Jesus se tyd toegang tot die Skrifte gehad het; hulle moes dit aan die gemeente voorlees en dan verduidelik. Vandag besit sekerlik elke gelowige ‘n Bybel (soms meer as een) wat die regte pad vir ons aandui. Verder het ons toegang tot soveel elektroniese hulpmiddels om ons te help om ‘n onduidelike gedeelte in die Skrif te verstaan dat die gemiddelde gelowige maklik as ‘n “Skrifgeleerde” kan deurgaan.) In Markus 7: 6-8 staan daar: Hy antwoord hulle: “Die profeet Jesaja het julle mooi opgesom. Julle is skynheiliges, soos daar geskrywe staan: Hierdie volk eer My met hulle mond, maar hulle hart is ver van My af. Dit help niks dat hulle My probeer dien deur leerstellings van mense as gebooie van God voor te hou nie. Julle laat die gebod van God los en hou aan die oorgelewerde gebruik van mense vas.”
Harde woorde, inderdaad. Wat presies is dan “die gebod van God” wat ons los? Jesus het dit Self in Matt. 22:35 – 40 duideliker as daglig vir ons gegee: ... en een van hulle, ‘n wetgeleerde, het Hom met ‘n vraag probeer vasterk. “Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?” Jesus antwoord hom: “’Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelykstaan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.” Wel, as iemand sê hy verstaan dit nie, weet ek regtig nie...
En “die leerstellings van mense wat as gebooie van God voor(ge) hou (word)”? Die “oorgelewerde gebruike” waaraan ons “vashou”? Dit is al die oorgelewerde gebruike en taboes waarvoor daar hoegenaamd geen skriftuurlike bewyse is nie en wat geslagte lank al met ons saamkom, tesame met ander nuwerwetses ook: Soos dat “goeie” vrouens nie langbroeke – veral nie kerk toe - dra nie en jeans, selfs net as ontspanningsdrag, na al die jare steeds uit die bose is; dat dans sonde is en gelowiges nooit op ‘n dansbaan gesien mag word nie... (Ergste van alles nog is wanneer veral ‘n man ‘n professionele danser word – dan word hy summier gebrandmerk as “skeef”). Voeg hierby neus- oogbank- ens. -ringe. (Kyk, ek self gril my morsdood daarvoor, dieselfde reaksie as wat ek het wanneer iemand vra waarom ek dan nog nooit gaatjies in my ore laat skiet het nie. Dit het egter niks met afkeur te doen nie!) Ek sal my verstout om hierby te voeg al die kerkstrukture, -wette en -reëls wat veroorsaak dat “my” kerk reg en “jou” kerk verkeerd is; oorgelewerde gebruike wat maak dat ons die liefdesgebod heeltemal miskyk.
Skynheiligheid is wanneer ons ‘n masker van heiligheid voorhou; net die skyn... Agter daardie masker word die regte ek vir almal behalwe God weggesteek, maar ek het geen hoop dat dit vir altyd so verberg sal kan bly nie. In Lukas 12:1b – 3 waarsku Jesus self: “Pas op vir die suurdeeg van die Fariseërs, dit is hulle huigelary. Daar is niks bedek wat nie onthul sal word nie, en niks geheim wat nie bekend sal word nie. Daarom, alles wat julle in die donker gesê het, sal in die daglig gehoor word; en wat julle agter geslote deure vir iemand in die oor gefluister het, sal van die dakke af uitgebasuin word.”
Dit vra dat ons elkeen eerlike selfondersoek sal moet doen om te sien waar ons skynheiligheid lê, sodat ons dit aan Jesus kan bely en Hom vra om ons die nodige krag en leiding te gee om dit uit ons lewens te verwyder. Die versoeking kan nou egter ontstaan om jou medemens se lewe nog meer onder ‘n vergrootglas te plaas sodat jy jouself kan verontskuldig dat jy darem nie so erg skynheilig soos dié of daardie is nie. Waak daarteen! Jesus se uitspraak hieroor is baie duidelik. In Matt. 7: 1- 5 waarsku Hy: “Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie; met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word. Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? Of hoe kan jy vir jou broer sê: ‘Wag, laat ek die splinter uit jou oog uithaal,’ en intussen is daar ‘n balk in jou eie oog? Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog uit te haal.”
Terwyl ons nou nog die geleentheid het om wat verkeerd in ons lewens – asook met ons gesindheid – is, reg te maak, moet ons nie huiwer om dit te doen nie. Of dit die harde wyse is waarop jy met jou man, vrou, kinders, ouers of selfs werksmense agter toe deure werk, en waarvan niemand weet nie; en of dit die onopsigtelike onderduimsheid in jou besigheid of werk is wat jy glo niemand ooit sal agterkom nie – elkeen van ons weet reeds wat ons swakplek is. Maar ergste nog: ons Here weet beslis álles daarvan en Hy haat dit! Alleen wanneer ons lewens van al dié skynheiligheid gereinig is, sal ons kan sien hoe die reg en geregtigheid te voorskyn kom, hoe dit aanrol soos watergolwe, soos ‘n standhoudende stroom (Amos 5:23)... en sal ons ook ons Here se stem kan hoor wanneer Hy soos in Lukas 6:35b sê, ”Dan sal daar vir julle ‘n groot beloning wees: julle sal kinders van die Allerhoogste wees...”
20 Mei 2014.
Die 'ek'
Dit was my jongste, Eldaleen, wat eendag – ná ‘n gesprek oor Satan se listigheid – my verras het met die opmerking dat sy nie glo hy die mens se grootste vyand is nie. Dat Satan dié “grootste vyand” baie goed in sy werkinge inspan en dat dit sekerlik een van sy vernaamste wapens is, is egter gewis. Vir haar is die mens se Grootste Vyand sy selfgesentreerdheid/egoïsme/ego/ek.
Hoe meer ek daaraan gedink het, hoe meer het dit sin gemaak. Wat lê aan die wortel van alle sonde?
- Waarom kan jy so ‘n pragvoertuig/huis/meubels bekostig en ek nie – wat is jy dan beter as ek? Al beteken dit dat ek geld by die werk moet verduister of ons laaste paar rand by die casino gaan uitdobbel, ek sal wel die geld, en alles wat dit kan koop, kry!
- Ek kan nie verstaan nie waarom jy so ‘n aantreklike, oulike man het, terwyl ek met so ‘n ou valetjie opgeskeep moet sit... Dit, terwyl dit so maklik is om joune te steel. Ons sal gou sien wie die een is wat sal spog!
- Of: waarom beklee jou seun so ‘n toppos, terwyl myne maar sukkel om ‘n werkie te kry... En wanneer hy wel iets kry, sukkel hy om dit te behou? Of, waarom het jou dogter die volmaakte huwelik, terwyl myne pas haar tweede egskeiding agter die rug het? Dan doen ek maar wat so maklik en selfs natuurlik is: Ek begin stories versprei, al is dit nie heeltemal die waarheid nie. Dis so maklik om te laat val dat “ek gehoor het” jou seun in die hoë pos het maar ‘n dwalende oog, of dat “die mense sê” jou dogter se man het haar al ‘n paar keer goed ge-panel beat... en net so vinnig word ‘n hoogsbegaafde, talentvolle, kunstige seun sommer gou gay, of ‘n meisie met ‘n veeleisende beroep wat nie kans sien vir ‘n huwelik wat in elke geval nie die druk sal kan verduur nie, summier as skeef gebrandmerk. Al is daar geen grond vir my verdagmakery nie, en al word die betrokke persone onberekenbare skade berokken – ek voel darem soveel beter!
Dit is egter nie waar dit eindig nie.
- Iemand – of dit ‘n familielid of ‘n bekende is, maak nie saak nie – het my gevoelens seergemaak, en ek sien regtig nie kans om hom/haar te vergewe nie. Ek wéét ons moet vergeef soos ons vergewe is, maar hierdie is regtig ‘n ander saak... Ek het hoegenaamd geen skuld hieraan nie, en as die ander persoon nie om verskoning gaan vra nie – ek ook nie! Al is die bitterheid en skuldgevoel oor my onvergewensgesindheid besig om my hele menswees te vergiftig, ek gaan nie die eerste tree op die versoeningspad gee nie. Hoekom moet ek myself verneder?
- Ek doen maar net my werk na die beste van my vermoë, en dan voel ‘n kollega om die een of ander rede bedreig daardeur. Ek word bewus daarvan dat mense by die werk in klein groepies staan en fluister – die betrokke kollega is altyd by – en wanneer ek naderkom, bly hulle stil of gaan uitmekaar. Ek weet daar word kwaadgesteek, maar ek is tog aan die ontvangkant en heeltemal onskuldig; waarom moet ek die lug probeer suiwer?
Ek hoor Leon Ferreira se stem oor die radio sing:
Stop die wêreld, ek het seergekry –
en alles, álles draai om my....
Om die een of ander onverklaarbare rede bly dié woorde deur my kop maal. Is dit dan regtig só verkeerd om te wens die wêreld kan stilstaan wanneer jy seergekry het – is dit werklik onvergeeflik selfsugtig? Natuurlik nie, hoor ek die bekende stem in my kop – maar dan praat ons van séérkry, soos in afskeid of verlies. Nie sommer net kleinserigheid nie!...en ek besef die tyd het aangebreek om die eerste tree na versoening te gee. Dus het ek vanaand vir Magda geskakel sodat die lug tussen ons behoorlik gesuiwer kan word. Terwyl ek ná ons gesprek (wat my oneindig ligter laat voel het) besig is met die voorbereiding van ons aandete, hoor ek weer die só bekende stem saggies sê: Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word. (Matt. 5:9)
Onverwacht
24 April 2014
Wie is jy?
Ek is lanklaas so deur ‘n e-posboodskap aangegryp soos dié wat ek die afgelope week van Jan Pretorius ontvang het:
EXCUSE ME, ARE YOU JESUS?
As you read this
think about what you would do!
"Excuse me, are you Jesus?" This is really powerful and makes one
think! A few years ago a group of salesmen went to a regional sales
convention in Chicago. They had assured their wives that they would be
home in plenty of time for Friday night's dinner. In their rush, with
tickets and briefcases, one of these salesmen inadvertently kicked over
a table that held a display of apples. Apples flew everywhere. Without
stopping or looking back,
they all managed to reach the plane in time
for their nearly missed boarding.
ALL BUT ONE! He paused, took a deep breath, got in touch with his
feelings, and experienced a twinge of compassion for the girl whose
apple stand had been
overturned.
He told his buddies to go on without him, waved good-bye, told one of
them to call his wife when they arrived at their home destination and
explain his taking a later flight. Then he returned to the terminal
where the
apples were all over the terminal floor.
He was glad he did.
The 16-year-old girl was totally blind! She was softly crying, tears
running down her cheeks in frustration, and at the same time helplessly
groping for her spilled
produce as the crowd swirled about her, no one
stopping and no one to care for her plight.
The salesman knelt on the floor with her, gathered up the apples, put
them back on the table and helped organize her display. As he did this,
he noticed that many of them had become battered and bruised; these he
set aside in another basket.
When he had finished, he pulled out his wallet and said to the girl,
"Here, please take this $40 for the damage we did. Are you okay?"
She
nodded through her tears. He continued on with, "I hope we didn't spoil
your day too badly."
As the salesman started to walk away, the bewildered blind girl called
out to him, "Mister...." He paused and turned to look back into
those
blind eyes. She continued, "Are you Jesus?"
He stopped in mid-stride, and he wondered. Then slowly he made his way
to catch the later flight with that question burning and bouncing about
in his soul: "Are you Jesus?" Do people
mistake you for Jesus? That's
our destiny, is it not? To be so much like Jesus that people cannot tell
the difference as we live and interact with a world that is blind to His
love, life and grace.
If we claim to know Him, we should
live, walk and act as He would.
Knowing Him is more than simply quoting Scripture and going to church.
It's actually living the Word as life unfolds day to day.
You are the apple of His eye even though we, too, have been bruised by a
fall. He stopped what He was doing and picked you and me up on a hill
called Calvary and paid in full for our damaged fruit.
Dit het onophoudelik by my bly spook: Gestel dit was ek wat daardie vrugtestalletjie omgestamp het – wat sou mý reaksie gewees het? Kliphard gekla het oor die “smouse” wat asseblief tog net hul ware op ‘n ander plek – nie hier waar almal haastig is nie – moet gaan verkwansel? Sou ék omgedraai het, wel wetende dat dit beteken dat ek die ongerief van ‘n later vlug moet verduur?
Dan besef ek dat hierdie toneeltjie hom feitlik daagliks voor my afspeel; weliswaar nie by ‘n lughawe nie, maar op soveel plekke en wyses:
- Die vroutjie wat, met haar baba in die stootwaentjie, te voet oppad is dorp toe en dit met die temperatuur wat raak aan die 40°C... Terwyl ek in my lugver-koelde motor by haar verbyblits, het ek soveel verskonings waarom ek haar nie ‘n geleentheid kan gee nie: (Ek is reeds laat vir my afspraak en ek kan on-moontlik nie nou onnodig stilhou nie; en wat van daardie stootwaentjie wat lyk of dit hopeloos te groot vir die bagasiebak is?)
- Dit geld ook vir die swart vrou wat met ‘n vrag op haar kop gebalanseer en albei hande vol bagasie, op die laaste Vrydag van die maand te voet na die terminus toe aanstryk..(Ek is seker ek sal nie plek vir al haar bagasie hê nie!)
- Wat van die vuil straatkind wat voor die supermark pleit vir ‘n “brrod, samblief, Magog?” terwyl ek tog besig is om my inkopies te doen? (Nee kyk, ek het al te veel stories van hulle ondankbaarheid gehoor: Gee jy wel die brood, vra hulle waar’s die melk/Coke ook)!
- Kom jy ‘n boemelaar teë wat met begerige oë na jou oorvol kruidenierswaentjie kyk, is jy oombliklik geïrriteerd: Waarom kan hy nie vir hom ‘n werk kry en vir homself kos koop nie?
Doen ek ooit iets wat hulle laat vra: Verskoon my, is jy Jesus? !
en ek besef dat ek dikwels genoeg met die mond bely dat ek ‘n Jesus-volgeling is...maar dat my handelinge, my dade, dit telkens weerspreek.
Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ‘n geloof mens red? Sê nou daar is ‘n broer of ‘n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.
– Jakobus 2:14-17
4 Februarie 2007.
Die ryk gesin in ons gemeente
My vriendin Rina en Buks het ‘n dag ná mekaar die onderstaande e-pos vir my aangestuur. Ek deel dit (vry uit die oorspronklike Engels vertaal) graag, siende dat dit werklik een van die mooistes is wat ek in ‘n lang tyd gelees het en ook omdat daar ‘n les vir elkeen van ons in is.
Die ryk gesin in ons gemeente
Ek sal 1946 se Paastyd nie vergeet nie. Ek was 14, Ocy 12 en Darlene 16. Ons drie het saam met Mamma gebly en het geweet wat dit beteken om sonder baie dinge klaar te kom. My pa is vyf jaar tevore dood en het my ma met sewe kinders, sonder enige geld, agtergelaat. Teen 1946 was die oudste vier kinders reeds uit die huis.
'n Maand voor Paasfees het die dominee aangekondig dat daar op Paasfees 'n spesiale kollekte opgeneem sou word om 'n arm gesin te help. Hy het almal gevra om geld te spaar, werklik 'n offer te bring en ruim
by te dra.
Terug by die huis het ons dadelik gesels oor wat ons kan doen. Ons het besluit om 50 pond (ongeveer 23kg) aartappels te koop en vir die hele maand daarop te lewe. Op dié manier kon ons R20 op ons kruideniersbegroting spaar om by
te dra. Ons het ook besluit om so min as moonlik elektrisiteit te gebruik om nog meer te spaar. Ons het mense se huise en agterplase skoongemaak en elke geleentheid om kinders op te pas, aangegryp. Met elke 15 sent wat ons gekry het, het ons genoeg wol gekoop
om drie vatlappe te brei wat ons dan weer vir R1 verkoop het. Op die manier het ons nóg R20 bymekaar gemaak.
Daardie maand was een van die bestes in ons lewe. Ons het elke dag die geld getel om te sien hoeveel ons al gespaar het. Saans het
ons in die donker gesit en gesels oor hoe die arm gesin die geld wat die kerk aan hulle gaan gee, sal geniet. Aangesien daar ongeveer 80 mense in die kerk was, het ons uitgewerk dat die gemeente ten minste 20 keer meer kan gee as wat ons eie bydrae is. Na
alles het die dominee die gemeente elke Sondag aan die spesiale bydrae herinner.
Die dag voor Paasfees het ek en my sussie na die kruidenierswinkel gegaan en al ons kleingeld omgeruil vir drie nuwe R20-note en een R10 noot. Ons het huis toe gehardloop
om vir Mamma en Darlene te gaan wys. Ons het nog nooit voorheen soveel geld gehad nie. Daardie nag kon ons byna nie slaap nie, so opgewonde was ons. Dit het ons nie gehinder dat ons nie nuwe klere vir Paasfees kon kry nie, want ons het R70 vir die spesiale
offergawe gehad. Ons kon nie wag om kerk toe te gaan nie.
Daardie Sondag het die behoorlik gereën. Ons het nie 'n sambreel besit nie, maar het ook nie omgegee hoe nat ons word nie. Selfs Darlene se voete het papnat geword omdat haar skoene
al stukkend was. Ons het trots in die kerk gesit. Ek het gehoor dat van die ander tieners iets fluister oor die Smith-dogters wat weer hul ou rokke aan het. Ek het na hulle in hulle nuwe rokke gekyk en baie ryk gevoel.
Toe die kollekte opgeneem
word, het Mamma die R10-noot ingegooi en ons kinders elkeen R20. Op pad huis toe het ons gesing. Met middagete het Mamma ons verras. Sy het 'n dosyn eiers gekoop en ons kon Paaseiers saam met ons aartappels eet.
Laat daardie middag het die dominee
voor ons huis gestop. Mamma het die deur oopgemaak, 'n oomblik met hom gepraat en toe teruggekom met 'n koevert in haar hand. Ons het gevra wat dit was, maar sy het niks gesê nie. Sy het die koevert oopgemaak. Toe val daar 'n klomp geld uit… drie
nuwe R20-note, een R10 en sewentien R1-stukke. Mamma het die geld teruggesit in die koevert en niemand het 'n woord gesê nie. Ons het almal net na die vloer gesit en staar. Waar ons 'n oomblik gelede nog soos miljoeners gevoel het, het ons nou arm en
waardeloos gevoel.
Ons het so 'n gelukkige lewe gehad dat ons almal jammer gekry het wat nie ons pa en ma gehad het nie, of 'n huis vol boeties, sussies en vriende wat gedurig kom kuier het nie. Ons het gedink dit is pret om eetgerei te deel en
altyd te wonder wat jy vanaand gaan kry: die vurk of die lepel? Ons het twee messe gehad wat ons rondgestuur het vir wie dit ook al nodig gehad het.
Ons het geweet dat ons baie van dit wat ander mense het, nie het nie, maar ons het nooit gedink
ons is arm nie. Maar daardie Paasfees het ons uitgevind dat ons wel arm is. Die dominee het immers die geld wat vir die arm gesin ingesamel is, vir ons gebring. So, ons moet dan arm wees! Ek het niks daarvan gehou om arm te wees nie. Ek het na my rok en verslete
skoene gekyk en was so skaam dat ek nie weer kerk toe wou gaan nie. Almal het blykbaar lankal geweet dat ons arm is. Op skool was ek in graad 9 en het eerste gestaan uit meer as 'n 100 kinders. Ek het gewonder of dié kinders ook weet dat ons arm is.
Ek het besluit om skool te los, aangesien ek reeds graad 8 geslaag het en dit was al wat die wet destyds vereis het.
Ons het lank in stilte gesit. Later het ons gaan slaap. Gedurende die week het ons min gepraat. Saterdag het Mamma die stilte verbreek
en gevra wat ons met die geld wil doen. Ons het gewonder. Wat doen arm mense met geld? Ons het nie geweet nie, want ons het nie geweet dat ons arm is nie. Ons wou nie Sondag teruggaan kerk toe nie, maar Mamma het gesê ons moet.
Al was dit
'n lekker sonskyndag, het niemand op pad kerk toe gepraat nie. Mamma het 'n lied begin sing, maar niemand het saamgesing nie. By die kerk het 'n sendeling gepraat. Hy het vertel hoe mense in Afrika kerke bou met songedroogde kleistene, maar dat hulle geld
benodig om die dakke op te sit. Hy het gesê dat R100 genoeg is vir een kerk se dak. Die dominee het gevra: Kan ons nie almal 'n offer bring om die arm mense te help nie?
Ons het na mekaar gekyk en vir die eerste keer daardie week
geglimlag. Mamma het haar hand in haar handsak gesteek en die koevert uitgehaal. Ons het dit aangestuur na Ocy en sy het dit in die kollektebordjie gegooi. Nadat die geld getel is, het die dominee aangekondig dat die bydrae net oor die R100 was. Die sendeling
was baie opgewonde. Hy het nie so 'n ruim bydrae van ons klein gemeentetjie verwag nie. Hy het gesê: Julle moet beslis ryk mense in julle gemeente hê.
Toe tref dit ons. Ons het R87 van die net meer as R100 gegee… so ons is die ryk familie in die gemeente. Het die sendeling nie self so gesê nie?
Van daardie dag af was ek nooit weer arm nie… en ek onthou altyd hoe ryk ek is omdat ek Jesus het.
As more my laaste dag moes wees
Ek het eenkeer van ‘n man gelees wat sê as hy nou moes weet dat môre sy laaste dag is, hy vandag ‘n vrugteboom sou plant. Dit het my laat dink... As ek vandag moes hoor dat ek môre-aand weg sal wees, wat sal ék doen? Sekerlik voor die rekenaar inskuif en doen wat ek die graagste doen: besig wees met woorde terwyl ek na my gunstelingmusiek luister!
Dit laat my dink aan die armbandjies (wat ‘n ruk lank baie gewild onder Christene was) met die letters W.S.J.D. (Wat Sou Jesus Doen) of W.W..J.D. (What Would Jesus Do) daarop. Wanneer mens dan voor ‘n situasie te staan kom en jy nie weet hoe om verder op te tree nie, is die gedagte dat jy jouself net opnuut herinner Wie jou Voorbeeld is, en dan doen wat Hy sou. Baie edel; maar ek het nooit oorweeg om vir my so ‘n armbandjie aan te skaf nie. Eerstens omdat dit vir my half na vertoon gelyk het (Die wêreld moet ons, as Jesus se volgelinge, herken aan ons lewens en nie aan armbandjies nie) en tweedens het Hy aan ons sy Gees gegee om ons te lei wanneer ons nie verder weet nie. Die armbandjies self het nie die een of ander magiese krag nie, soos duidelik uit ‘n telefoongesprek gister tussen my en Hanro blyk: Op my vraag hoe hy die nuwe skool ervaar, het hy dit onder andere gehad teen die stadskinders wat so “anders” is as waaraan hy hier gewoond was. Een van sy klasmaats is dan ook ‘n regte afknouer wat hóm, as nuweling, maar goed laat les opsê. “Weet Tannie wat is die ergste?” het hy verwonderd gevra “hy dra sommer ‘n paar armbandjies om hom die regte pad te wys – waarom gebruik hy dit dan nie?” wat my weer die geleentheid gegee het om ‘n prekie af te steek oor hoe ons dade, nie ons woorde of enigiets anders nie, duidelik wys Wie ons Koning is.
Jesus het geweet wanneer Hy sou sterf, en Hy het sý laaste ure saam met sy dissipels ten volle gebruik deur hulle toe te rus vir die groot taak wat op hulle gewag het. Ek maak my Bybel oop by Matteus 24:3-25:46 en lees die pragtige, dringende profetiese rede waarin Hy nie slegs na die eindtyd verwys nie, maar ook aan sy dissipels vir oulaas die nodige riglyne gee: Die gelykenis van die tien meisies; die gelykenis van die muntstukke...en net daarna, wás Hy, Koning en Heer, sy dissipels se voete (Johannes 13:1-17); woorde alleen was nie genoeg nie – in sy groot wysheid het Hy geweet dat dade veel harder as woorde spreek.
Dit word gevolg deur verdere leringe en vermaninge (Joh. 15:1-16:33) en daarna, mooiste van alles, bid Hy vir sy dissipels...
Miskien is dít wat ek vir my geliefdes sou doen: Heel eerste al die Skrifverwysings na ‘n Christelike lewenswandel opsoek en dit vir hulle netjies op skrif sit, en daarna ernstig vir hulle in gebed intree. En dan? Moontlik na ‘n winkel gaan soek waar ek vir elkeen ‘n armbandjie kan koop....
Onverwacht.
21 Januarie 2007
Latest comments
Ek stem saam met jou, Jake, maar daar is baie mense wie se depressie as gevolg van 'n wanbalans in die brein is. Dis regtig 'n siekte!
Mensen die <a href="https://nl.formulaswiss.com/blogs/depressie">depressief</a> zijn, denken aan dingen die hen ongelukkig maken.
Ek waardeer jou kommentaar, Ansie!
Dankie vir jou kommentaar, Ansa!