17. Nov, 2014

Text

Ek stem eenhonderdpersent saam dat God, wat vir ons net die beste wil, ons nooit sou wou belas met siekte,hartseer of dood nie. Ek stem ook saam dat dit alles die gevolg is van die gebroke wereld waarin ons leef. Al kan Hy al die ellendes waarmee ons gekonfronteer word, voorkom, laat Hy dit wel toe want dit is (hartseer, maar waar!) tog regtig die enigste manier waarop ons - veral in die geloof - kan groei. Die feit dat Hy dit wel in ons lewens toelaat, beteken egter nie dat Hy ons in die steek laat nie: net deur ons Here se krag en genade bly ons regop te midde van die pyn - soos sovele ouers wat al hul kinders aan die dood moes afstaan, kan getuig.

Ek glo ook dat God ons (die meeste mense, in elk geval) toerus met die wete van wat reg en wat verkeerd is, maar Hy sal nooit sy wil op sy kind afdwing nie. Hy sal egter wel sy koppige kind toelaat om soms die verkeerde besluit op sy lewensreis te neem; soos ons as ouers ook doen - maar anders as aardse ouers so dikwels doen, nie verklaar "Wel, jy het jou bed nou opgemaak; slaap maar self daar op!" nie. Vir Hom is dit maar net 'n ompad waarlangs Hy sy kind lei tot waar Hy in sy alwetendheid beskik het hy of sy moet wees... Daar waar die kind al sy gawes en talente die beste sal kan gebruik tot sy Skepper se eer!      

Comments

25.12.2014 15:35

Danie J v Vuuren

Ek glo ook dat God alle mense toerus het met die wete van wat reg en wat verkeerd is, maar dat die mens sy eie wil doen al is dit soms teen ons beterwete.

18.11.2014 13:02

Annatjie

Ds Hannes, baie dankie vir jou waardevolle insette - ek waardeer dit oneindig dat jy altyd bereid is om duidelikheid te gee!

18.11.2014 07:23

Hannes Janse van Rensburg

Nou raak ek persoonlik gemakliker met die formulering. Nou is die twee nature duidelik in wisselwerking. Nou bly die misterie van God en die verantwoordelikheid van die mens. Netjies gestel, dankie!

17. Nov, 2014

Text

Dankie, ds Hannes! Vir my gaan dit daaroor dat God - as die Groot Argitek - jare voor mens se geboorte reeds weet wat presies Hy met jou lewe beplan: hoe Hy wil dat jy sy doel met jou lewe sal bereik. Daardeur lei Hy mens (soms deur plekke en situasies wat jy op daardie stadium nie kan verstaan nie) op sy tyd tot op 'n punt in jou lewe waar jy kan herken (en erken!) dat alles tog deel van die Groot Plan was. Natuurlik het Hy vir elkeen 'n eie wil gegee om te besluit; maar dat Hy jou daarna (al is dit met 'n draai) by sy bedoelde bestemming sal laat eindig, ly vir my geen twyfel nie...    

 

  

Comments

17.11.2014 14:28

Hannes Janse van Rensburg

As God in 'n fyn uitgewerkte plan jare terug besluit het dat my pa op die plaas vermoor word, kan die moordenaar bloot sê ek is deel van God se fyn uitgewerkte plan.

17.11.2014 14:26

Hannes Janse van Rensburg

Ek dink nie God het besluit dat 'n jongkind op 20 aan Kanker sal doodgaan nie. Kanker is deel van ons gebroke en stukkende wêreld. God sal dit altyd ten goede laat werk.

17.11.2014 14:25

Hannes Janse van Rensburg

God se wil vir ons is 'N VERHOUDING MET HOM, redding en verlossing speel hier 'n baie belangrike rol. Tog is die fyn detail ook die verantwoordelikheid van God se kinders, om die regte keuses in die l

17.11.2014 14:23

Hannes Janse van Rensburg

Ek dink ons moet weer die tekste in die Skrif wat hierna verwys binne hulle konteks gaan lees. Die gevaar is dat ons dit fendamentalistie sal doen, maw buite konteks.

17.11.2014 14:22

Hannes Janse van Rensburg

Ek is baie jammer dat ons kommentaar in stukkies-stukkies moet plaas. Hierdie opsie gee ons net 'n paar woorde dan sny hy af. Moeilik om gedagtes so kort te plaas en skryf. Miskien moet ons dominees m

17. Nov, 2014

Hoe glo jy?

Ek het die afgelope tyd by 'n paar geleenthede gehoor en gelees hoe predikante en vooraanstaande akademici verklaar dat hulle nie glo God het 'n unieke plan met elkeen van ons se lewe nie.

Dit staan lynreg teenoor wat ek glo! Wat is jou siening hieroor?  

Comments

17.11.2014 13:37

Hannes Janse van Rensburg

Sê nou net ek pleeg moord en sê dan in die hof, dit is nie ek nie, ek is maar net so geprogrameer deur God se meesterplan.

17.11.2014 13:36

Hannes Janse van Rensburg

Ek dink ons is die kroon van God se skepping met die vermoë om 'n keuse te maak. Dit het verantwoordelikhede en gevolge.

17.11.2014 13:35

Hannes Janse van Rensburg

Ek dink nie ons is geprogrameerde robotte wat lank gelede deur God geprogrameer is nie.

17.11.2014 13:33

Hannes Janse van Rensburg

Ek kan geen kommentaar lewer op predikante en vooraanstaande akademici se opmerkings nie. Dit sou bitter "onwetenskaplik" wees om iets te sê as ek nie hulle KONTEKS ken nie.