Om te "delete"...

Ek het baie vroeg reeds besluit dat daar nie plek vir die sosiale media in my lewe gaan wees nie. WhatsApp-boodskappe is die naaste wat ek daaraan kom! Goed, ek verstaan dat dit die ideale manier is om in kontak met geliefdes en vriende (veral oorsee) te bly en dat jy ver sal moet soek om nog so ‘n “soekenjin” na verlore vriende te kry. (Ag, ek sou darem bitter graag wou weet wat van Lysette en Rina geword het...!)

Hoe dit ookal sy, hoe meer ek hoor van mense wat deur wildvreemdes op Facebook uitmekaar geskeur en beledig word – alles natuurlik anoniem – hoe meer besef ek dat my besluit van destyds tog die regte een was.

 

Wat laat mense sulke dinge doen? vra ek myself af. Is dit bloot net ‘n drang om ook ‘n stuiwer in die armbeurs te gooi, ook ‘my sê te sê’ – maar waarom dit naamloos doen? Nog erger, waarom die persoon wat oorspronklik geskryf het, so slegsê? Anneli reken dis mense met ‘n swak selfbeeld wat so optree en ek is geneig om saam te stem, maar ek glo sielkundiges sal mens beter daaroor kan inlig!

 

Iemand neem op die eerste skooldag van die jaar ‘n onskuldige foto van ‘n graad een-klassie, stuur dit aan en dié foto maak wêreldwyd opslae oor die “rassistiese” aard daarvan; sonder dat enigiemand vooraf die moeite gedoen het om uit te vind wat die konteks daarvan was.

      Of iemand (‘n leerling?) neem ‘n foto van ‘n onderwyseres se “onbetaamlike kleredrag”, dit word op Twitter geplaas waar dit soos ‘n veldbrand versprei en elkeen wat dit sien, lê sy/haar eie, negatiewe eiertjie...

      Niemand dink vir ‘n oomblik na – of gee om? – wat die gevolge vir die persoon betrokke kan wees nie. Ek persoonlik sou graag wou sien dat diegene wat die foto oorspronklik  aangestuur het, tot verantwoording geroep word – al is dit deur siviele vervolging.

 Feit bly dat al hierdie plasings op sosiale media bitter na aan boeliegedrag grens – en dít deur volwassenes wat van veel beter moet weet. Dan kry mens ‘n goeie idee waar die kinders hul boeliegedrag aanleer!    

 

Op Facebook kan mens blykbaar wat geskryf is, like deur – net soos die Romeinse keisers van ouds – op die thumbs up-teken te klik en dan is jy sommer outomaties deel van die skrywer se “vriende”-kring. Klink vir my al te veel na goedkoop vriendskap, want raak jou nuwe vriend iets kwyt waarvan jy nie hou nie, unfriend jy hom sommer summier; jy draai jou rug  en vergeet van hom want hy tel nie meer nie...

Wat het van goeie, outydse vriendskap geword? Dié soort waar jou vriend/in in liefde vir jou sal sê dat waarmee jy nou besig is, nie reg is nie – en jy nie aanstoot neem nie, want jy weet die persoon dra net jou belange op die hart; daar is geen kwade bedoelings betrokke nie. Jy sal hom/haar nie unfriend of hul naam op jou selfoon delete nie, want julle kom al ‘n baie lang pad saam en die hartseer- en gelukkige dae wat julle gedeel het, kan deur geen geld gekoop word nie.

 

Ekself wis die naam – delete – van ‘n familielid of vriend op my foon se kontaklys net uit wanneer daardie persoon oorlede is en dan ook eers maande ná sy/haar afsterwe. Dis net so ontsettend finaal, dié wete dat jy daardie nommer nooit weer sal kan gebruik nie.

Hoe onbeskryflik kosbaar is die wete dan nie dat al kan ons na willekeur name delete (asof daardie persoon figuurlik vir jou “dood” is – en hom/haar moontlik deur jou aksie bitter seermaak), God ons, sy kinders, se name nooit uitwis nie: nie in hierdie lewe, of die Hiernamaals nie.* Maak nie saak hoe seer ons Hom deur ons woorde en dade maak nie, Hy bly die liefdevolle, vergewende Vader wat net wag dat ons na Hom toe terugkeer, alles bely en om sy vergifnis vra. Anders as mense, dink Hy dan nooit weer daaraan nie – dis verby, vergete, want Jesus het alles reeds deur sy bloed skoongewas!     

*Kan ‘n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie. Ek het jou naam in my handpalms gegraveer ...

                                                                          Jesaja 49:15, 16a.

 

Bloemfontein.

11 Februarie 2019.


 

"Die sorge van die lewe"

 Daarom sê Ek vir julle: hou op om julle te bekommer oor julle daaglikse lewe – wat julle sal eet of drink, of oor julle liggame – wat julle sal aantrek. Is die lewe nie baie belangriker as kos nie? En is ‘n mens se liggaam nie baie belangriker as klere nie? Hou die voëls wat daar vlieg dop. Hulle saai nie, hulle oes nie, en hulle maak nie in skure bymekaar nie. Dit is onnodig, want julle hemelse Vader gee aan hulle kos. Besef julle dan nie dat julle vir God nog kosbaarder as hulle is nie?

       “Kan al julle bekommernis julle lewe een sekonde langer rek?

        “En wat klere betref – wat bekommer julle julle daaroor? Leer hierdie les van die veldlelies wat so pragtig in die blom staan. Hulle sloof hulle nie af om vir hulleself klere te maak nie. En tog sê Ek vir julle, selfs Salomo in al sy glorie was nie so pragtig aangetrek soos een van hulle nie.

         “As God dan die veldplante wat vandag daar is en môre verbrand word, so mooi aantrek, hoeveel meer sal Hy nie vir julle sorg nie? Is julle geloof dan so klein?

          “Moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat sal ons tog eet?’ of ‘Wat sal ons drink?’ of ‘Wat sal ons aantrek?’ nie. Dit is die ongelowiges wat oor hierdie dinge begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het.

           “Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle prioriteit, dan sal God vir julle al hierdie ander dinge byvoeg.

            “Moet julle daarom nie oor môre bekommer nie. Môre sal sy eie bekommernisse bring. Vandag se moeilikhede is vir een dag heeltemal genoeg.”

                                                                                                                       Matt. 6:25-34 (NLV)

 

Jesus se kosbare, vetroostende woorde tydens die bergrede is vir ons oorbekend, maar tog bring dit telkens weer kalmte en gemoedsrus wanneer bekommernis ons sielevrede bedreig: “Julle hemelse Vader weet tog....” Waarom kan ons dan nie heeltemal daarin berus nie?

 

Wie weet nie wat bekommernis is nie? Dis iets wat aan elkeen maar net (in mindere of meerdere mate) té bekend is:

      Jou dogter was vasbeslote om ná matriek ook – soos vele ander – ‘n gap-jaar te neem sodat sy seker kan maak wat sy regtig met haar lewe vorentoe wil doen. Nou is sy, wat so ‘n veilige, beskutte lewe gelei het, op pad die wye wêreld in. Jy weet sy moet grootword en dat jy haar nie vir altyd kan beskerm nie, maar as jy jou self kan kry, is jou gedagtes weer by haar en al die gevare wat moontlik op haar wag. Jy weet jou bekommernis kan haar nie veilig hou nie, maar jy kan jouself net nie sover bring om haar aan die Here se sorg toe te vertrou en verder te glo dat Hy, die enigste Een wat haar wel kan beskerm, dit sál doen nie! 

      Jy weet nou al geruime tyd dat jou man nie wil of sal saamwerk om jul huwelik te red nie. Julle het wel “tot die dood ons skei” voor die preekstoel beloof, maar daar is ook die wete dat jy lankal nie meer die enigste in sy lewe is nie... In huweliksberading stel hy gladnie belang nie en jy besef dat jy nie so kan aangaan nie. Nou die bekommernis: hoe sal jy op jou eie kan oorleef as jy uitstap? Jou salaris is maar klein; hoe gemaak met huisvesting en al die ander uitgawes? Jy dink en probeer planne maak, maar niks werk op papier uit nie. Wat staan jou te doen: maar so aanploeter en elke dag net ongelukkiger word? As jy tog net êrens hulp en leiding kon kry!

          Jou vrou se gesondheid word ‘n al groter bron van kommer. Dis net asof die dokters met al hul medikasie en prosedures nie ‘n antwoord kan vind nie – in elk geval nie een wat ‘n einde aan al die slaaplose nagte sal bring nie. Dan is daar nog al die gepaardgaande uitgawes: jou mediese fonds is uitgeput en al die motiverings deur spesialiste kon hulle nie beweeg om enige verdere rekenings te betaal nie. Julle spaargeldjies is so-te-sê opgebruik en jy het nou al na alle kante toe gedink en planne probeer maak, maar jy kan nie uitkoms sien nie...

           Of jy is nou vir maande lank al werkloos – en dit terwyl jy in ‘n rigting gekwalifiseerd is waar almal geglo het jy altyd werk sal hê. Daar was nou wel al ‘n keer of wat ‘n onderhoud, maar die waarheid is dat jou kwalifikasies en ondervinding nie opweeg teen jou velkleur nie. Jy bekommer jou moeg oor jou finansiële verpligtinge: gesinslede help waar hulle kan, maar die betaling bly jóú verantwoordelikheid en jy besef dit kan nie onbepaald so aangaan nie...     

 

Ag, die scenario’s is eindeloos! Ons almal het sy of haar eie kommer-storie en geen twee is presies dieselfde nie. Of jy nóú met een worstel en of jy duidelik een of meer uit jou verlede kan onthou, elkeen het iets om te vertel. As joune in die verlede lê, kan jy gerus terugdink hoe dit alles toe op die ou einde uitgespeel het. Wanneer en hoe het daar vir jou ‘n oplossing gekom? Hoe lank het jy getob en hoeveel planne het jy gemaak om daarby uit te kom – en het enige daarvan gewerk? Wat het jy oorgehou van al die slaaplose nagte en planne maak? Heel moontlik ‘n erge hoofpyn die volgende oggend en dikwels depressie daarby! Die kanse is baie goed dat jou eie idees toe gladnie die antwoord was nie, maar dit was tog nie heeltemal verniet nie: Ons ds Hannes het ‘n kosbare sêding wat my nog al die jare bybly: God kan nie niks seën nie! Hy verwag van ons om Hom heel eerste om sy hulp te vra en dan ons deel, waar nodig, ook te doen – maar dit sluit verseker nie bekommernis tot die dood toe in nie.

  

 Ek weet dit klink net te maklik om te sê jy moet jou nie bekommer nie (ek hoor nou nog my Moekie se stem: Ja, Pa kan maklik praat; Pa het met Ma getrou en ek moet met ‘n vreemde meisie trou!) want vir elkeen is sy of haar situasie op daardie oomblik die heel ergste wat daar kan wees. Jy wil asseblief tog nie hoor van ander mense wie se probleme en bekommernisse veel groter is nie; joune ís die ergste en daar is net nêrens uitkoms nie!

        Wanneer jy dan later daaraan terugdink, is dit opvallend hoe die oplossing “heel toevallig” en sommer “uit die bloute” gekom het. Vir ons as gelowige kinders van God bestaan daar natuurlik nie iets soos “toeval” nie – dit is sonder twyfel ons Here wat alles net op die regte tyd (alles behalwe “uit die bloute”!) vir ons in plek laat val het sonder dat dit iets van ons geverg het, behalwe natuurlik net die geloof in sy almag en liefde.

 

As jy op hierdie oomblik desperaat is omdat  jy ‘n groot bekommernis in jou lewe het, onthou asseblief Salomo se woorde in Spreuke 3:5: Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie. Onthou verder dat voordurende bekommernis eintlik niks anders as ‘n mosie van wantroue in God is nie! Gee jou bekommernis sonder verwyl vir Jesus en weier om jou verder daaroor moeg te maak. Wat kan al jou kommer in elk geval daaraan doen? Glo net en vertrou op Hom, van Wie Psalm 46:2 sê God is vir ons ‘n toevlug en ‘n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood. Begin Hom dan sommer dadelik dank vir die antwoord of uitkoms wat jy gevra het, want dit ís op pad – Hy sal jou nie in die steek laat nie!

 

 

Bloemfontein

24 April 2019.

 


 

Alles tevergeefs...?

Alles tevergeefs, sê die Prediker, alles tevergeefs, dit is alles tevergeefs!

Watter voordeel het die mens van al sy moeite waarmee hy hom vermoei onder die son?

 Toe het ek gekyk na al my werke wat my hande tot stand gebring het, en al die moeitevolle arbeid wat ek verrig het – en kyk, dit was alles tevergeefs en ‘n gejaag na wind...

                                                                              Prediker 1:2,3  en 2:11 (Afr. 53)

 Dit is seker normaal en bloot menslik om op ‘n stadium tot stilstand te kom en te begin reflekteer oor jou lewe, veral wanneer mens jou “genadejare” bereik. Agter jou lê sewentig jaar se vroeg opstaan, gaan werk, kinders grootmaak, by ander mense betrokke wees, net om baie laat weer te gaan slaap. Met ander woorde, ‘n hele leeftyd se léwe – en wat kan jy daarvoor wys?

 Mense wat goed met hul hande maak, kan weliswaar iets vir die nageslag nalaat: My ouma het hierdie kwilt gemaak of Die bankie waarop jy nou sit, het jou oupagrootjie met sy eie hande gemaak. (Ongelukkig is ons almal nie so handvaardig nie!) My pa, wat gebou het, het telkemale gesê hy sal lankal vergaan wees, dan sal sy handewerk nog staan. Ek onthou hoe ons hom, nie lank voor sy dood nie, na die NG-kerkgebou in Ellisras geneem het sodat hy weer ‘n keer na sy handewerk kon gaan kyk. ‘n Pragtige, stewige gebou waaraan onder andere hy, my boet Blanche en swaer Hannes gewerk het – almal al weg. Wie van die kerkgangers dink egter ooit aan die hande wat daardie gebou opgerig het, of wie weet dat Wiets Jacobus Botes (1904 – 1985) die eienaar van Sasolburg Konstruksie – wat op die hoeksteen staan – was? Alles dus maar tevergeefs!

 Ons almal het foto-albums, of selfs bokse vol ou foto’s, met die gesigte van geliefdes en vriende op, maar geen name of datums agterop geskryf nie. Toe ons die groot inpak en skoonmaak voor ons trek Bloemfontein toe aanpak, het ek op ‘n klomp van my ma (oorlede op 79 jaar in 1985) se swart-en-wit foto’s afgekom. Van die gesigte het ek wel as haar broers en suster herken, maar die ander hoegenaamd nie. Mense wat vir haar so belangrik was dat sy hul foto’s met sorg gebêre het, maar helaas niks vir my – of nog erger, my kinders – beteken nie. Ek kon dit nie oor my hart kry om dit weg te gooi nie, dus is dit, en ‘n paar gehelde lappies, na Danny (my sus Marie se tweedejongste dogter) toe omdat sy niks van haar ouma gehad het nie.  

 Waarom dan tog die begeerte dat die geslagte wat kom ons moet onthou, of selfs net van ons moet weet? Is dit bloot eiewaan, of sodat ons kan weet ons nie tevergeefs gelewe het nie? Wat my bring by die allerbelangrike vraag: Waarom ís ek dan hier? Watter doel en betekenis het mý lewe in die groter bestel? Ontelbare mense – baie slimmer as ek – het deur die eeue heen al dieselfde vraag gevra en dan gepoog om dit te beantwoord. Ek het my antwoord in Hand. 17:26-28 gevind: “Hy (het) al die nasies gemaak. Hy het hulle gemaak om oor die hele aarde te woon. Hy het bepaal hoe lank hulle sal bestaan en waar hulle sal woon. God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind.” (My beklemtoning) Dan, wanneer jy God gevind het, sal Hy duidelik aan jou wys hoe jy sy lig moet uitstraal na die donker wêreld om jou. Jy sal nie eens nodig hê om te gaan soek na die mense wat die Here, deur jou, wil aanraak en seën nie; Hy sal hulle self oor jou pad stuur. Wees jy net die gewillige werktuig in sý hand! Met ander woorde, blom waar jy geplant is...

 In die November 2019-uitgawe van Juig! skryf dr. Elza Meyer: Daar is slegs een veilige plek op aarde en dit is waar God jou plaas. Daar is slegs een vreugdevolle posisie op aarde en dit is in God se konstante teenwoordigheid. Daar is slegs een verhouding wat jou in staat stel om opbouende verhoudings met ander mense te hê en dit is jou verhouding met ons Here. Al sou ons miljoene besit, al sou ons duisende vriende en wêreldwye invloed hê, sonder Hom is ons niks, het ons niks en is ons op pad na nêrens! Kies Hom bo alles!                                                                                            

 Bloemfontein

9 November 2019.

 

Wie is REGTIG in beheer?

As daar nou een gedeelte in die Bybel is waaroor ek al baie gewonder het, is dit die tweede versoeking van Jesus, soos dit in Lukas 4:5-8 opgeteken is: Daarna bring die duiwel Hom op ‘n hoogte en wys Hom in ‘n oogwink al die koninkryke van die wêreld. Toe sê die duiwel vir Hom: “Aan U sal ek al hierdie mag en majesteit gee, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil. Dit sal alles aan U behoort as U maar net voor my buig en my aanbid.”

 Daarop antwoord Jesus: “Daar staan geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.”

‘n Mens kan verwag dat Satan, die vader van die leuen, enige uitsprake – waar of onwaar – sal maak, maar die blote feit dat die Seun van God hom nie tereggewys het nie, het my nog altyd gepla: Beteken dit dan dat die duiwel se uitspraak dat “al die koninkryke van die wêreld” aan hom behoort, wel waar is? Dit kan tog nie! Die antwoord hierop vind ek toe in vyf opeenvolgende dagstukkies deur die bekende Riekert Botha in sy boek “Voluit menswees, ‘n Bybelse dagboek met ‘n pleister vir elke dag ” in 2010 deur Naledi uitgegee. (Titelblad hiernaas).                        

                                             Wie is régtig in beheer? (1)

Waarom laat God onskuldige mense ly?

Aan U sal ek al hierdie mag en majesteit gee, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil. Dit sal alles aan U behoort as U maar net voor my buig en my aanbid. (Luk. 4:6-7)

Waarom laat God onskuldige mense ly?Dis ‘n belangrike vraag, want dit soek na ‘n verklaring van God se karakter in ‘n  verdraaide wêreld. Kom ons stel die vraag anders: “Waarom ly onskuldige mense?” Dit gaan iets van Jesus uitlig wat ons moontlik nie verwag nie. In vandag se Skriflesing word Jesus deur die vSatan versoek – hy sal Jesus al die mag en heerlikheid gee, want aan hom is dit oorgegee en hy gee dit aan wie hy wil.

      Dis óf brawe liegstories wat die Satan teenoor Jesus hier uiter óf dit is die waarheid. As dit liegstories was, het hierdie aanslag van hom min krag, want hy weet goed met wie hy praat – Jesus Christus, die Seun van die Allerhoogste God (Mark. 5:7). As wat hy sê egter waar is, moet ons hierna kyk, want dit impliseer ernstige dinge. Eerstens, wie het aan die Satan al die mag en heerlikheid van die aarde gegee? God? Waarom sal God dít doen? Wat sê die Bybel? In Genesis 1 – 2 sien ons dat God die aarde onder die bestuur van die mens geplaas het en die mag en heerlikheid om daaroor te heers. God het dit aan die mens gegee, nie aan Satan nie. Hoe het hy dit dan by die mens gekry? Genesis 3 vertel die verhaal. Eeue later verduidelik Paulus dat as ons ons aan iemand onderwerp om hom as slawe te gehoorsaam is ons sy slawe. As dit sonde is, beteken dit die dood; as dit gehoorsaamheid aan God is, beteken dit vryspraak en lewe (Rom. 6:16). Dit begin lig werp op een van die knellendste vrae: Hoekom is die wêreld in hierdie toestand? Dít is egter slegs die begin....

 Riekert Botha.

                                              Wie is régtig in beheer? (2)

Die vloek van die sonde

Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het. (Rom. 5:12)

Die Bybel verduidelik dat die mens, met sy gehoorsaamheid aan die Satan in Genesis 3, die wêreld aan hom uitverkoop het (Rom. 5:12). Vandaar die duiwel se woorde aan Jesus in Lukas 4:6b ”..... want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil.” Só het die hele wêreld, nie net die menslike natuur nie, onder die vloek van die sonde gekom.

Soveel so dat die hele natuur ly. Paulus skryf in Romeine 8:19-21: Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God. Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe – nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het – in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God” (1953). Alles op aarde is besmet en die nuwe bestuurder saai dood en leuens sover hy gaan (Joh. 8:44). Is dit alles God se wil? Nee. Dus gebeur daar goed op aarde wat nie God se wil is nie? Ja. Is God in beheer? Ja. Nou hoekom gebeur hierdie dinge dan? God het die mag en heerlikheid aan die mens gegee om self te regeer, maar hy het hierdie godgegewe gesag aan die Satan oorhandig wat nou wettig op aarde heers. Hoe kan ons dan sê God is in beheer? God het die grense gestel waarbinne hierdie verwoesting mag plaasvind. Daar is grense wat selfs die Satan respekteer. Verder het God Jesus gestuur om die mens van hierdie verwoesting uit te koop. Dit was al die tyd sy plan.

 Riekert Botha.

                                                 Wie is régtig in beheer? (3)

 Wie ly almal in hierdie wêreld? 

Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van die HERE afwyk. En hy sal wees soos ‘n kaal bos in die wildernis, en hy sal nie sien as die goeie kom nie, maar dor plekke in die woestyn bewoon, ‘n brakkerige en onbewoonde land (Jer. 17:5-6, 1953).

Daar is drie kategorieë mense wat ly. In die eerste een ly alle mense, want almal woon in ‘n vervalle wêreld wat deurspek is met die aksies van die “god van hierdie wêreld” (2 Kor. 4:4). Behalwe dit ly die hele skepping en alles wat geskape is (Rom. 8:22). Onskuldige mense sterf langs skuldiges. Nagenoeg 155 000 mense sterf daagliks Dit gebeur nie omdat dit God se wil is nie, maar omdat dit die loop van hierdie wêreld is – uitverkoop aan die Satan. Die tweede kategorie mense wat ly is diegene wat aan God ongehoorsaam is (Rom. 2:9). In Jesaja 1:19-20 sê God: “As julle gewillig is en luister, sal julle die goeie van die land eet. Maar as julle weier en wederstrewig is, sal julle deur die swaard geëet word; want die mond van die HERE het dit gespreek” (1953). Jeremia skryf in vandag se Skriflesing die man wie se hart van die HERE afwyk, sal nie sien as die goeie kom nie (v 5-6). ‘n Derde kategorie mense wat ly is hulle wat aan Jesus behoort. Petrus skryf aan gelowiges en sê ons moet ons nie verbaas oor die vuurgloed van vervolging onder ons... asof iets vreemds oor ons kom nie” (1 Pet. 4:12), en almal wat godvrugtig wil lewe sal vervolg word (2 Tim. 3:12).

Dis belangrik dat ons mense sien ly, nie omdat ons noodwendig ongehoorsaam is nie, maar omdat ons in ‘n wêreld bly wat aan lyding onderworpe is. Ongehoorsaamheid laat mense ook ly. Dis verder belangrik dat ons weet mense ly juis omdat hulle aan God gehoorsaam is.

 Riekert Botha.

                                                    Wie is régtig in beheer? (4)

 Waar pas God dan in hierdie prentjie?

...... elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit? (Joh. 11:26)

 Kan God keer dat mense ly? Ja, Hy kan en Hy doen dit. Ons groot genade is dat God ons nie aan alle lyding oorgee wat na ons kant toe kom nie – selfs al verdien ons dit.

Wanneer mense ly, wil hulle dinge graag anders hê. Ouers vermoei hulle siel met die gedagte: “Hoe kon ek verhoed dat my kind só gely het?” Dis ook die tyd wat mense wonder waar is God – hoekom het Hy nie verhoed dat ons ly nie? In die wanhoop van hierdie vraag besluit baie dan – waaronder ek ook getel het – dat God nie die moeite werd is nie, Hy bestaan nie of Hy is ‘n wreedaard.

Sommige probeer lyding verstaan deur te sê dit was God se wil en ons behoort daarby te berus. Dit is nie waar nie – dis op die meeste ‘n halwe waarheid. God het ons nie vir lyding geskep nie. Dit was die gevolg van sonde wat die mense betree het. Ons pyn is die tragedie en die werklikheid van hierdie feit. Waar pas God in? God is nie magteloos deur ons ellende gelaat nie. Hy is nie deur sonde gebind nie. Jesus se bediening het dit kragtig beklemtoon. God is by magte om ons op te tel en van verwoesting te red, selfs nadat alles om ons inmekaar gestort het.

Jesus het blindes genees, kreupeles laat loop, dooies opgewek, kinders aan hulle ouers teruggegee, besetenes verlos. Meer nog – Hy het in die lewe van elkeen wat voor Hom buig ‘n bonatuurlike vermoë geplaas om nie vernietig te word nie, al word hulle op die grond neergegooi (2 Kor. 4:9). God se primêre doel is om ons met die Seun te versoen sodat ons vir altyd die dood kan oorwin (Joh. 11:26).    

  Riekert Botha.

                                                     Wie is régtig in beheer? (5)

 Die uiteindelike verlossing

Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie (Op. 21:4a).

Nie net bedien God ons met lewe te midde van die dood om ons in hierdie wêreld nie, maar God beloof ‘n uiteindelike verlossing wat ons finaal van alle dood, lyding en sonde in ons lewe en liggaam sal bevry, soos ons in vandag se Bybelteks lees. God beloof selfs die totale verlossing van die natuur van die gevolge van sonde (Ps. 96:11-13). Te midde van hierdie belofte en bediening staan Jesus Christus – sentraal en volkome.

Geen belofte word buite Hom vervul en daar is geen lewe buite Hom nie (2 Kor. 1:21). Die dag toe ons wedergebore is, het Jesus ons van ons sondige natuur en verlede verlos. Hy doen dit steeds elke dag, maar daar is ‘n finale verlossing wat nog op ons wag waar ons heel en volledig in elke aspek van ons lewe voor God sal staan. Dit kom op twee maniere na ons toe. Die een manier is by die wederkoms van Jesus Christus (1 Tess. 5:23). Dis die finale uitspraak van God oor sonde en lyding. By Jesus se wederkoms sal God – wat tyd gemaak het – tyd laat stilstaan. Elke naam wat in die hemel en op aarde en onder die aarde is, sal voor God verskyn in sy finale regspraak oor die ganse mensdom (Matt. 25:32). God het nie sonde of lyding laat handuit ruk nie, selfs al voel dit so. God bepaal die tyd waarin hierdie tragedie afspeel. Die ander manier is wanneer ons sterwe – as ons in Jesus sterwe, sal ons God van aangesig tot aangesig sien en eerstehands die finale verlossing van God in ons gees, siel en liggaam beleef. Jesus waarborg dit (Ef. 1:14). Elkeen wat ín Jesus Christus sterf, het reeds hierdie lewe. Met ons sterwe sal dit tot volle verwerkliking kom.

Riekert Botha.

Uit: Voluit menswees – ‘n Bybelse dagboek met ‘n pleister vir elke dag.

Naledi, 2010.

 


 

Genadewater

Dié storie van dubbele genade in aksie speel af in 'n landelike gebied waar 'n gesin op 'n plaas woon. Die hele gebied loop erg deur onder 'n uitmergelende droogte. Sake word vererger deur 'n hittegolf wat hom in die gebied kom staan-maak het, wat lewe in die gebied amper ondraaglik maak.
Op die lande staan die gesaaides inmekaar gedraai van die hitte, die melkbeeste strompel moeg-moeg oor die dorre grasveld heen. Melkproduksie het feitlik tot stilstand gekom en die suipings is byna opgedroog. Die bietjie wild wat nog op die plaas voorkom kry ook bitter swaar en skuil bedags onder bome om van die ergste hitte weg te kom.

By die plaasopstal het 'n klein seuntjie 'n buitekraan oopgedraai om homself met die koel water uit die tuinslang af te koel. Toe sy pa dit sien, is hy ligweg berispe en is daar aan hom verduidelik dat die watervoorraad op die plaas bykans gedaan is en dat hulle onder geen omstandighede water mag mors nie. As dit nie nou binnekort reën nie, is dit verby met hulle, die diere én die gesaaides.
 
'n Dag of wat later staan die ma in die kombuis, besig om skottelgoed te was. Sweetdruppeltjies pêrel op haar bo-lip en kort-kort moet sy die sweet wat langs haar slape koers kry, afvee. Sy tuur deur die venster en in die verte sien sy haar klein seuntjie aan die rand van 'n digte bos, waar hy die bos in trapsuutjie. 'n Frons keep tussen haar oë. Voor sy nog verder daaroor kan wonder, kom die seuntjie uit die bos gedraf, huppelend oppad huis toe. Sy sien hom om die hoek van die huis verdwyn en sy gaan weer rustig aan met haar skottelgoedjies. Nie lank nie of sy sien hom weer in die verte oppad bos toe. Hy stap stadig en versigtig in die rigting van die bos, met sy handjies vreemd bakhand voor hom uitgehou.

Sy kan die kind se eienaardige optrede nie verstaan nie. Sy maak haar voorskoot los en glip by die agterdeur uit - oppad bos toe. Toe sy by die rand van die digte bos bome kom, hoor sy haar seuntjie tussen die bome aankom en sy kruip stilweg agter 'n paar bome weg. Hy draf by haar verby – weer oppad huistoe. Sy kan sien sy gesiggie is rooi gebrand en sy voorkop nat van die sweet. Tog, uit sy oë straal 'n vreemde gloed van genoegdoening. Sy bly in die bos skuil om te sien of hy gaan terugkom. Sy wil graag vasstel waarmee hy so intens doenig is. 'n Rukkie later kom hy skuifelend met bakhandjies in die bos in, sy oë gefokus op sy hande. Hy merk haar nie op nie. Hy verdwyn tussen die ruie bome deur. Dadelik volg sy hom gebukkend, versigtig om nie haar teenwoordigheid te verklap nie.
 
'n Paar treë verder kom sy tot stilstand. Wat sy sien, slaan haar stom. Sy kan haar hart hoor hamerslag in haar borskas en in haar ore 'n suising. Sy kan nie glo wat sy sien nie: In 'n natuurlike opening in die bos, staan 'n reuse blouwildebeesbul kop-omlaag en 'n entjie verder kring 'n paar wildebeeskoeie, koppe na binne. Haar seun skuifel steeds bakhand, sonder enige vrees nader aan die kring koeie wat 'n natuurlike pad vir hom oopmaak.

Sy wil gil van angs - hierdie diere het die vermoeë om hom in 'n oogwink te vermorsel; veral die bul. Tog is dit asof 'n stem haar weerhou om te gil. Haar lyf is lam, haar keel droog. Sy sien hoe die koeie effens padgee om die kring oop te maak. In die middel van die kring sien sy 'n jong wildebeeskalfie wat op die grond lê. Die versengende hitte het sy tol geëis en die kalfie lê verswak op die grond. Sy sien haar seuntjie naderloop en uit sy bakhandjies laat hy die laaste oorblywende druppels water in die kalfie se bek drup. Die bul en koeie laat hom begaan. Dan besef sy meteens dat hy die hele tyd probeer om met sy handjies water aan te dra vir die uitgeputte kalfie. Sy sien hoe hy opstaan en met mening weer die pad huistoe vat. Sy staan op vanwaar sy hom uit haar skuiling dopgehou het toe hy slegs 'n paar treë voor haar is.
 
Hy skrik hom boeglam toe hy haar sien. Die eerste gedagte waaraan hy op daardie oomblik dink is sy pa se strenge vermaning dat hulle onder geen omstandighede water mag vermors nie. Nog voor hy kan verduidelik neem sy ma hom aan die hand en sê "Kom ek help". Net dit. Terug by die huis haal sy 'n klein emmertjie uit, tap dit vol water en kies saam met haar seun die pad bos toe. Toe sy by die plek kom vanwaar sy hom 'n rukkie vantevore uit haar skuilplek dopgehou het, gaan sy staan. Sy gee vir hom die emmertjie water en beduie vir hom woordeloos om na die kalfie te gaan. Hierdie is amper 'n heilige oomblik vir haar. Hier bly sy uit, dis SY oomblik hierdie.

Wéér maak die koeie die kring oop en sien sy hom kniel by die kalfie wat homself stadig oplig en op sy wankelrige bene kom. Die kalfie begin suip.
 
Sy voel lou-warm trane in haar oë opwel en onbeskaamd langs haar wang afloop. Voor haar sien sy die mooiste daad van liefde en genade ontvou.
 
Dis liefde en genade in aksie - 'n eerste genade. Dis asof tyd gaan stilstaan het. Hoe lank sy so gestaan en kyk het na die toneel wat voor haar afspeel, weet sy nie. Dit kon 'n paar minute wees of dit kon 'n ewigheid wees. Sy word tot die werlikheid teruggeroep deur 'n klomp dinge wat tegelyk gebeur. Haar eerste gewaarwording is dat die son agter wolke in verdwyn. Waar dit vandaan kom, kan sy nie begryp nie.
 
Terselfdertyd staan haar seuntjie vanuit sy knielhouding af op en draai om na haar. Sy gesiggie is die ene vreugde wanneer hy die leë emmertjie optel en stadig na haar toe stap. Dan hoor sy die dreuning van die weer en die blare begin ritsel as die wind daardeur begin speel.
 
Trane van dankbaarheid vloei vryelik oor haar wange. Sy neem haar seuntjie se hand in hare en draai woordeloos om, oppad terug huistoe. Voor hulle die huis haal, plons vet druppels water uit die hemel neer – 'n tweede genade. Dis so asof die Vader sy seën wil uitstort omdat 'n klein seuntjie kom stilstaan het by nood.
 
Óm my en jou beweeg daar daagliks sovéél mense wat dors het; dors het vir 'n bietjie begrip, aandag en ontferming. Mense wat seer in hulle ronddra.
As ons tog net partykeer met 'n tikkie meer deernis die dag tegemoet wil gaan, om soms net by 'n kollega, 'n vriend of vriendin, selfs jou huweliksmaat of kind kan gaan stilstaan en luister wat hulle regtig vir jou sê (of nog beter – dit wat hulle nie sê nie). Dis dán wanneer ons genadewater begin uitdeel. Ons kan nie altyd in die behoeftes van ander voorsien nie, maar ons kan met 'n bietjie tyd wat ons kan afknyp, 'n oor wat hoor en 'n paar sagte woorde, 'n groot verskil daar buite maak.
 
Mag ons voetspore getuig van stilstaanplekke by dié wat ons paaie mee kruis. Mag dit getuig van deernis, liefde en begrip. Ralph Waldo Emmerson het eenkeer gesê: "Die grootste geskenk wat jy kan gee, is 'n stukkie van jouself". Dit kos niks nie.


 

My liefste Magriet

Nog ‘n juweeltjie wat ek per vonkpos ontvang het. Die outeur daarvan is ongelukkig onbekend.

My liefste Magriet,

Ek het toe die berader gaan sien, soos jy gevra het. ‘n Aangename man. Vreemde idees. Maar kom ons kyk of dit werk. Volgens hom gaan dit eers slegter word voor dit sal beter raak. Dis ‘n jammerte, nè? Ons het vandag oor al jou “swak punte” gepraat – al daardie klein goedjies oopgekloof wat gewoonlik tot die grootste gevegte lei. Dit voel darem nie reg om jou so met iemand anders te bespreek nie...

Daarna het hy gesê ek moet dit neerskryf. Hy sê dat mans oor die algemeen sukkel om hul emosies uit te druk, en hierdie skrywery gaan glo daarmee help. Dis hoekom ek nou besig is met hierdie brief. Vir jou. Dan voel dit nie so vreeslik agteraf nie. En, Magriet, ek dink hierdie goed irriteer alle mans grensloos, net soos wat alle vroue dit sekerlik doen!

‘n Jaloerse vrou is ‘n lelike ding. Jy is altyd my nommer een. So vergeet nou die buurvrou se mooi bene en jou vriendin se ongelooflike kookvermoë. Fokus eerder op jouself. Ek is lief vir jóú.

Mans sê aanvanklik: “Ek het my hele lewe lank gewag vir ‘n vrou soos jy.” Nou het ek jou, en ek is moeg gewag. Vyftien minute tops! ‘n Uur is onvergeeflik – ek kan nie so lank wag vir jou om “klaar te maak” nie.

Net Harry Potter kan gedagtes lees. Vir my moet jy maar sê wat jy bedoel, in kort sinne, sonder pouses en woorde wat rym.

En jý kan ook nie gedagtes lees nie, al sou jy dalk graag wou. Moenie wilde aannames maak nie. Vra my liewer as jy iets wil weet. Ek sal jou vertel.

Het ek al gesê ek kan nie gedagtes lees nie? Dit is onbedagsaam om planne sonder my medewete te maak. Vra my eers; dalk het ek klaar iets anders aan. Ek het gewoonlik, veral as jy wil hê ek moet saam met jou ballet toe gaan... Wanneer ek my dan effens vervies, moet asseblief nie oorsensitief wees nie. Ek is nie kwaad vir jou nie, eintlik is ek kwaad vir die plan... of die inhoud van die plan.

Nog iets, as ek jou verjaardag vergeet, is ek nie minder lief vir jou nie. Inteendeel, jy is vir my veel meer as ‘n syfer en ‘n dag. Sit eerder ‘n reminder op my foon, asseblief?

As jy (soms) in uitsonderlike gevalle begryp hoekom ek ongelukkig is, sê net jammer en gee my ‘n soen. Nie, jammer maar ... en dan gee jy my weer van vooraf die skuld nie.

Ek waardeer dit baie wanneer jy wel (soms) my kant van die saak verstaan. Maar wanneer jy jou domastrant hou, sukkel ek om kalm te bly. Ek weet jy kan sekere dinge verstaan, maar kies om moeilik te wees. Onthou, ek is nie die vyand nie .... al dink jy partykeer so!

Ek sê soms niks nie, want soms praat jy te veel. Regtig.

En baie keer onderbreek jy my wanneer ek praat; ook wanneer ek besig is om iets te doen.

Wanneer jy my byvoorbeeld onderbreek om te vertel dat ek ‘n blerts verf gemors het en dat ek dit dalk gou moet opvee, wil ek ‘n aar bars. Ek hét gesien ek mors, ek gaan dit opvee voor dit droog word. Dis voor die hand liggend. Ek is net besig om die lappie op te tel...”Dankie dat jy die kombuis vir my uitverf” sal heelwat meer waardeer word.

Wanneer jy my soos ‘n juffrou oor die vingers tik, is dit amper so erg soos wanneer jy my oppiep. Jy is my vrou, nie my ma nie (dankie tog!) En ek is ‘n groot, sterk, geharde man.

Daarom weet ek ook nie watter klere en kleure pas bymekaar nie. Ek is té onverfynd. As ék jou moet aantrek, gaan jy soos ‘n huursoldaat lyk. Of niks aanhê nie!

Hoekom is jy in elk geval so besluiteloos? Is jy ooit seker oor my? Gaan kuier by jou ma of moenie. Eet die stuk koek of los dit. Dis nie so erg nie. En al tien rooi lipstiffies pas by jou. Koop enigeen... of almal. Besluit net!

Die meeste van die goed waaroor jy kla, bring jy oor jouself. Soos die simpel pan wat skeeftrek, want jy moes die ander een gevat het soos jy aanvanklik wou. Nou hoekom het jy nie? Is dit hoekom jy so baie oor my ook kla? Moes jy eerder die ander een gevat het? (Ek wil nie regtig weet nie!)

Lyk my al waaroor jy wel baie seker is, is die stories wat jy en jou vriendinne van mekaar vertel. Skinder is simpel. Glad nie sexy nie. Ek kan ook nooit onthou wat jy my van wie vertel nie... almal se aartappelslaai proe vir my oraait.

En ek sal die toiletsitplek vir jou neersit, as jy dit vir my sal optel!

Daar, nou is alles uit. Ek weet nie of ek regtig beter voel nie. Maar iets anders het wel gebeur. Ek het ‘n hele paar dinge onthou wat ek graag vir jou sal wil doen.

Ek wil saam met jou deur al jou familie-albums kyk, sonder om te kla. En my arms van agter af om jou middel vou, daar waar jy jou voor die stoof afsloof. Dan wil ek vir jou sê hoe lekker jou kos smaak. Elke keer. Ek wil ook Sondae vroeg opstaan om saam met jou kerk toe te gaan en my hand op jou been sit terwyl ek bestuur. Die terggees in my wil ek meermale snoer en minstens twee aande per week vir jou die televisie se afstandbeheer gee sodat jy vir ‘n slag kan kyk waarna jý wil. En ek wil graag begin draf, sodat my lyf goed kan lyk vir jou. Ek wil hê jy moet trots wees op my. En wanneer jy na ‘n lang dag doodmoeg is, wil ek jou voete vryf. Dan wil ek sagte musiek speel, en stadig in die sitkamer met jou dans.

My liefste Magriet, ek wil bitter graag al hierdie goed vir jou doen ... as jy maar net nog hier was.

Liefde

Dirk.

 

Ns. Dit sal ons eerste Kersfees sonder jou wees. Die kinders verlang nogal erg. Natalie het gister vir my ‘n engel gebring. Sy het dit self by die kleuterskool gemaak. Sy het gevra ek moet asseblief vir ouma-engel heel bo-op die Kersboom sit...


 

Elkeen uniek

So uniek soos elkeen van ons as mense is, waar niemand nog ooit dieselfde vingerafdrukke as ‘n ander gehad het nie, is ons as Christene se geloofsbelewenis ook. Geen twee mense (al het hulle dieselfde ouers en het hulle in dieselfde huis opgegroei) se geloofslewe kom presies ooreen nie.

Sommige mense word in ‘n n Christelike huis groot waar kategese, kerkbesoek en gemeentelike aktiwiteite vanselfsprekend is, terwyl ander op die een of ander stadium in hul lewens ‘n Damaskuspad-ervaring het waartydens hulle tot bekering kom.

Die “gevaar” wat myns insiens in die eerste scenario skuil, is dat dit later moontlik niks meer as gewoonte is nie. Kerkbesoek op ‘n Sondag is vanselfsprekend; jy luister na die preek en bespreek dit selfs met jou huismense na die tyd – maar môre, wanneer jy weer in die sekulêre wêreld kom, is dit alles vergete. In elk geval tot volgende Sondag. Jesus is vir jou Iemand wat jy ken, of so glo jy: jy weet  waar Hy gebore is; weet van sy wonderwerke, sy kruisdood, opstanding en hemelvaart – jy gedenk dit selfs elke keer wanneer jy Nagmaal gebruik. Jy weet Hy is by jou; en dit is na Hom wat jy jou wend wanneer jy in nood verkeer in die geloof dat Hy hoor wanneer jy bid – maar is daar werklik ‘n intieme verhouding tussen jou en jou Verlosser?    

Dan kan dit gebeur dat Hy jou êrens op jou geloofspad op só ‘n manier aanraak dat jy daarna besef dat jy nooit weer dieselfde mens sal wees nie; dat jou ervaring jou sal bybly solank jy leef en dat jy telkens, wanneer jy daaraan terugdink, versterk word deur die helder wete dat God ook met jóú bemoeienis maak.

Vertellings van bonatuurlike ingrypings is legio. Luister maar na inbelprogramme oor die radio wanneer luisteraars gevra word om hul ondervindings met ander te deel. Mens kan nie anders as om in totale verwondering te luister nie en telkens maar net die dank en lof aan God te bring omdat Hy altyd dáár is wanneer sy kinders Hom nodig het.  

                                                              1.

Ek het my ondervinding in Februarie 1992 gehad: Ek het my rug vroeg in 1974  beseer terwyl ek swanger met Eldaleen, my en At se jongste, was. Ek het vooroor gebuk om die stofsuier op te tel (het toe nog nie geweet dat mens se bene eerder as jou rug die hurk-, opstaan- en optelwerk moet doen nie!) toe ek net ‘n klapgeluid in my rug hoor – en daar staan ek. Kan nie regop kom nie en selfs vorentoe skuifel was ‘n marteling. Die dokter kon op daardie stadium nie veel doen nie en met verloop van jare raak mens mos maar “gewoond” aan rugpyn.  

Dit was in elk geval tot daardie Saterdagoggend aan die einde van Januarie 1992 toe ek nie uit die bed kon roer nie – my rugpyn was ondraaglik, en wat meer was, my linkerbeen wou net nie saamwerk nie.. Ek kon regtig nie een voet voor die ander sit nie! Drie dae in die plaaslike hospitaal waartydens ek vol spierverslappers gepomp is, maar dié keer wou dit nie help nie. Vandaar is dit toe maar Pretoria toe waar ek weer eens in die hospitaal opgeneem is sodat die slim mense die nodige toetse en skanderings kon doen. Vrydagmiddag wou die ortopediese chirurg vir my en At gelyktydig sien en hy lig ons in dat die besering van agttien jaar tevore deur die jare ‘n uitgroeisel tot gevolg gehad het wat my rugsenuwee vasknyp. ‘n Operasie om dit te herstel was al uitweg; hy het reeds die teater vir die Maandagoggend om 07:00 bespreek.

Watter skok was dit nie! Ek het vas geglo dat my probleem met intensiewe fisioterapie en moontlike manipulasie sou verbeter – die gedagte aan ‘n rugoperasie het nie eens by my opgekom nie. Wat van die huis en my werk? Volgens die ortopeed sou ek ‘n volle drie maande van die werk weg wees! At het al die reëlings begin tref terwyl ek, op my beurt, alles moontlik gedoen het om myself geestelik voor te berei op wat wag. Ek het net geweet dat dié ding te groot vir my was – ek het die Here se hulp nodig gehad soos selde tevore.

Terwyl ek Maandagoggend voor die teaterdeure gelê en wag het om ingestoot te word, het ek steeds ernstig bly bid om krag en hulp – so ook terwyl die narkotiseur besig was om die regte aar vir sy naald te soek. Ek onthou dat my laaste gedagte was “Here Jesus, ek kan nie alleen hierdeur nie! Hou asseblief my hand”  – en die volgende oomblik, net voordat ek wegraak, het ek duidelik gevoel hoe Iemand my hand druk. Nie die sagte aanraking van ‘n ma wat haar kind vertroos nie, nee – die ferm, stewige greep wat sê Ek is hier om jou te ondersteun; jou deur hierdie nagmerrie te dra! Ek het wakker geword uit my narkoseslaap met die herinnering aan die stewige vasvat van my hand helder in my gedagtes – en dit het my regtig deur die hele herstelproses bygebly om van alles ‘n verrykende ervaring te maak. Dié enkele insident het die hele trauma van die operasie laat vervaag totdat net die wete oorgebly het: Niks gaan my nou, of  ooit in die toekoms onderkry nie, want die Here Self stry die stryd vir my!   

                                                               2.

Eldaleen, my jongste, se ondervinding was net so wonderlik. Maar wag, laat ek haar self vertel:

Dit was so middel-Januarie 2005, en die voorafgaande paar maande was vir my een uitgerekte riller. Een van die susters wat in dieselfde afdeling as ek gewerk het, was ‘n uitgesproke satanis – het trouens na haarself as een van Satan se bruide verwys. Ek, aan die ander kant, het soos altyd my Christenskap uitgeleef wat tot gevolg gehad het dat ek myself midde-in ‘n geestelike oorlogvoering bevind het. Ek het duidelik ervaar hoe ek aangeval word: van onder andere ‘n hangende dissiplinêre klag teen my  wat deur haar aanhangig gemaak is tot my hoofpyne wat ondraaglik geword het en deur geen pynmedikasie verlig kon word nie.

Moeder het in dié tyd gevra dat ek een oggend ná werk (ek het toe, soos nou, permanent nagdiens gewerk) moes wag vir die bus wat tussen Ellisras en Pretoria loop om ‘n paar boeke wat ds Hannes by Tukkies se biblioteek geleen het, te ontvang en dit dan direk aan die bib terugbesorg.

Terwyl ek in my Golfie (met die deure gesluit en die vensters toegedraai – dit was darem spitstyd die oggend en ek het reg voor Sterland in Sunnyside parkeer) op die bus se koms wag, het ek rustig een van Rebecca Brown se boeke sit en lees. So met die opkyk na regs, het ek ‘n man gesien wat reguit na my toe aangestap kom. ‘n Doodgewone man, netjies aangetrek met ‘n voulêer onder sy arm. Toe hy by my venter kom, het ek dit so halfpad afgedraai sodat ek kon hoor wat hy sê, maar ek het sommer geweet die lêer beteken net een ding: Hy was aan die kollekteer vir die een of ander saak, en ek het regtig nie geld nie!

Hy vra belangstellend of ek klaar gewerk het en of ek oppad werk toe is (geen sprake van kollekteer nie), en ek antwoord dat ek net vir die bus wag om ‘n pakkie te ontvang; dan is dit nie lank nie alvorens ek kan gaan slaap. Sy volgende woorde het my heeltemal onkant betrap: “Ek stap nie gewoonlik hierlangs werktoe nie – ek werk by die patoloë in die volgende blok – maar vanoggend het die Here vir my ‘n boodskap gegee om vir jou te bring. Hy sê Hy gaan die bose voor jou uitkap, en Hy gaan hierdie jaar vir jou uitermate seën.” Hy het sy kop skuins gedraai asof hy luister, en toe bygevoeg “die Here sê ook jy sal binnekort weet wat die oorsaak van jou hoofpyn is.”

Ek kon hom net sprakeloos sit en aankyk. Toe hy my vra of hy vir my kan bid, het ek sonder om te aarsel, gesê “ja, asseblief!”. Hy sit sy een hand op my arm wat op die deur rus, en die ander hand op my kop – en hy begin bid in ‘n taal wat ek nog nooit tevore gehoor het nie. Selfs al verstaan mens nie ‘n taal nie, weet jy mos jy het dit al oor die radio, TV of wanneer mense met mekaar praat, gehoor. Ek weet vir seker dat ek daardie klanke wat hy gemaak het, nog nooit tevore gehoor het nie. Die volgende oomblik het dit gevoel asof ek brand: die eienaardigste was dat die brandgevoel nie ontstaan het waar sy hande op my gerus het nie, maar hier in my bors, in my hart....en dit versprei reg deur my hele liggaam. Ek weet net ek moet áf; met my gesig grond toe! Toe hy “Amen” sê, bevind ek my in daardie klein spasietjie onder die Golfie se stuurwiel en die vloer. Hy maak die deur oop, en help my uit sodat ek voor hom staan – maar toe huil ek onbedaarlik. Hy het my vasgehou en ek het my arms om die vreemde man geslaan en vir hom gesê: “Jy is my broer!” waarop hy geglimlag en geantwoord het: “Al sien ons mekaar nie weer op hierdie aarde nie, wees verseker dat ons in die hemel sal ontmoet.” Hy het omgedraai om te loop en ek het afgebuk om weer in my kar te klim, maar toe besluit om hom agterna te kyk – dit was ‘n kwessie van ‘n paar sekondes wat my aandag nie by hom was nie... maar daar was geen teken van die jong man nie.

Een van my kollegas se man het by dieselfde laboratorium gewerk en toe ek by die woonstel kom, het ek haar dadelik gebel, ‘n beskrywing van hom gegee (‘n skraal man van middelmatige lengte, in sy laat-twintigs, met ligbruin hare en blou oë) en gevra sy moet asseblief tog uitvind wat sy naam is. Die volgende dag het sy haar man se antwoord gebring: “Daar werk regtig nie so iemand by hulle nie....”

Wanneer ek vandag terugdink en probeer om sy gesig op te roep, kan ek gladnie onthou hoe hy gelyk het nie: waar sy gesig moet wees, is dit net ‘n ligkol; iets wat blink.

 Ek onthou dat sy my direk ná die betrokke insident gebel het, maar sy het só gehuil dat ek niks kon uitmaak van wat sy sê nie. Dit was eers veel later, nadat ek moes mooipraat (ek het reeds in my verbeelding gesien dat sy in ‘n ongeluk betrokke was of iets anders, vréésliks, met haar gebeur het) dat sy sodanig kalmeer het dat sy my alles kon vertel. Wie was die jongman – ‘n engel? Hoe sal ons ooit weet. Hy het vir haar ‘n boodskap van die Here gebring wat presies so gebeur het. Sy vertel verder:

Nog in daardie selfde week vertel die senior personeel dat die nuwe hospitaal wat in die oostelike deel van die stad gebou is, gereed is om personeel in diens te neem en aangesien hulle lid van dieselfde hospitaalgroep as ons is, kon ons gerus aansoek doen om oorgeplaas te word indien ons belangstel. Ek, wat bitter bang vir verandering is, sê dadelik ek wil graag gaan en vroeg die volgende week is ek deel van die groep verpleegpersoneel wat by die pragtige, nuutgeboude en moderne hospitaal  aanmeld vir oriëntering. Drie dae later vra die matrone om ons groepie, wat van dieselfde hospitaal oorgeplaas is, afsonderlik te spreek. Sy val dadelik met die deur in die huis en sê dat sy slegte nuus vir ons het: ‘n suster wat ons almal ken (en wat ons geweet het die satanis was), het die vorige aand haar eie lewe geneem. Dadelik het ek weer die jongman se woorde gehoor: “Die Here sê Hy gaan die bose voor jou uitkap....”

 

Ja, die res van 2005 wás vir my in elke opsig uitermate geseënd (van die “dissiplinêr” het niks verder gekom nie) en nie lank daarna nie is ek deur ‘n neuroloog met intrakraniale hipertensie (‘n toestand waar ‘n oormaat vog op die brein drukking veroorsaak) gediagnoseer. ‘n Lumbale punksie om van die vog te verwyder, het dramatiese verbetering van my hoofpyne gebring... Alles net soos die boodskap gelui het.

                                                               3.

Vriendin Ethné vertel dat haar ondervinding tot vandag nog dieselfde uitwerking as destyds het wanneer sy daaraan terugdink of daaroor praat. Sy raak heeltemal emosioneel en voel oneindig dankbaar, veilig en geborge:

 Sy het ná Jan se skielike dood in 2007 by hul jongste seun, sy vrou en hul seuntjie bly woon soos dit trouens die voorafgaande jaar die geval was. Sy en Jan het ‘n geruime tyd voor sy dood reeds daaraan gedink om weer vir hulle ‘n eie plekkie te kry, maar hulle kon nie regtig besluit waar nie: Moes hulle in ons dorp aanbly, naby twee van hulle seuns, of wegtrek – nader aan een van die ander kinders? Die massiewe trombose wat Jan onverwags weggeruk het, het egter ‘n einde aan dié onsekerheid gebring.

Nou was dit reeds Januarie 2013 en die oulike tuinwoonstel wat oor haar pad gekom het, was vir haar die antwoord: Sy het besef dat nie alleen die jong gesin hul eie spasie nodig het nie, sy – as ma en ouma – beslis ook. Die aand voor sy na haar eie plekkie sou trek, het sy met toe oë op haar bed gelê terwyl deurmekaar gedagtes, bekommernis oor die skuif en die onbekende toekoms die slaap weggehou het. Sy het skielik besef dat sy nie alleen is nie, en haar oë stadig oopgemaak.

By die voetenend het die figuur van ‘n Man gestaan: hy was skitterwit; tot sy skouerlengte hare was spierwit en Hy het net stil na haar bly kyk. Sy het eers gedink sy droom en haar oë geknip, maar Hy was steeds daar. Sy het bewegingloos na Hom bly staar terwyl sy oë met haar gepraat het, want helder en duidelik het sy die stem in haar hele wese ervaar wat sê: Moenie bang wees nie, Ek is by jou. Die volgende oomblik was Hy weg, maar daar het ‘n totale rustigheid en vrede van haar besit geneem.

Sy vertel dat sy altyd maar bang vir alles was, maar daarná was die vrees iets van die verlede – sy moet haarself gereeld vermaan om nie onverskillig met oop deure, ens. te wees nie!

                                                                4.

My sus Cato se ervaring kom nogal met Ethné s’n ooreen, hoewel dit tog geweldig verskil:

Sy was naamlik gedurende Mei 1994 by ‘n kerkkamp vir enkellopendes in die Potgietersrus-omgewing, toe die kursusleier aan hul groepie vra wat elkeen afsonderlik se grootste verlange is. Die meeste van die aanwesiges se antwoord was dat hulle tog maar net weer ‘n maat in hul lewens wil hê, maar haar versugting was dat sy (woordemens wat sy is) só graag een van die gawes van die Heilige Gees wil ontvang: die praat in tale. Die leier het haar daarop beveel om te praat, maar al wat uitgekom het, was onverstaanbare keelklanke. Hy het dit afgemaak as nie ‘n probleem nie, want dit kan “vreemde klanke of tale” wees – maar vir haar was die teleurstelling net te veel.

Sy het by die lokaal uitgestorm na haar chalet toe. Daar het sy plat op haar maag op die grond neergeval en bitterlik gehuil. “Ag, Here, ek het soveel sonde in my lewe gedoen dat daar vir my geen vergewing kan wees nie – ek verdien dit nie om verder te bly lewe nie! Ek wéét net dat ek te onwaardig is om U genade te verdien!  Oor en oor het die woorde, soms onsamehangend, oor haar lippe bly borrel terwyl sy – met haar gesig in die mat gedruk – onbedaarlik huil. Êrens tydens haar emosionele uitbarsting het sy, nog steeds op die vloer, op haar rug gedraai en na die plafon opgekyk. Die swaar, swart balke reg bo haar het ‘n kruis gevorm en terwyl sy stip daarna kyk, het ‘n duidelike wolk voor die kruis verskyn. Sy was nog steeds geweldig ontsteld, maar die trane het opgehou terwyl sy in verwondering na die wolkie reg bo haar staar. Die volgende oomblik val daar ‘n druppel bloed vanuit die wolk en drup op haar voorkop.... en terselfdertyd hoor sy ‘n stem duidelik in haar oor, in haar kop, sê: Jy is Mýne!

In ekstase is sy terug na haar groep toe waar sy oor haar wonderbaarlike ervaring getuig het. Tipies mens, het die twyfel later gekom: Het ek my dit nie maar verbeel nie? Waarom sou ék uitgesonder word om my Verlosser se bloed op my voorkop te voel?, want daar was by haar geen twyfel dat dit Jesus s’n was nie. Sy het ernstig gebid dat die Here asseblief vir haar die bevestiging sal gee dat haar ondervinding eg en waar was, en daarmee het sy haar Bybel geneem, haar oë toegemaak en die Boek self laat oopval. Voor haar was Jesaja 43, met die opskrif Jy is Myne en verderaan in vers 1: Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne....

Weg was alle twyfel! Haar sondes – al het sy gedink dis te veel – is deur Jesus se kosbare bloed afgewas; Hy dink nooit weer daaraan nie en daarom mag sy ook nie!  

 

Dit is opvallend dat elkeen van hierdie ervarings plaasgevind het op ‘n tydstip toe die betrokkenes geweldige spanning, bekommernis of twyfel ervaar het en Jesus Self ingegryp het om aan hulle die bevestiging te gee dat hulle nie alleen is nie.

Die gevaar kan nou ontstaan dat ander gelowiges by die aanhoor daarvan ontmoedig kan word en begin vra: Ek het ook tog al bekommernis, ensovoorts beleef, sonder dat ek enige bonatuurlike ondervinding gehad het – lê die fout dan by my; is my geloof nie sterk genoeg nie? Dit is waar die uniekheid van elke persoon ter sprake kom: Ons kan ons nooit met ander gelowiges vergelyk nie – nie ons geloof nie, en vir seker ook nie ons geloofservarings nie. Die waarheid is dat God gee aan wie Hy wil; wanneer Hy ookal in sy almag weet dat sy kind iets buitengewoon nodig het. Dít is dan ook die rede waarom diegene met wie dit al gebeur het, nooit daarmee te koop sal loop nie – net vir in geval dit na spog sal klink. Hulle besef dat hulle ‘n spesiale ondervinding gehad het wat God gewil het; om geen ander rede nie as om hulle in ‘n spesifieke situasie deur sy krag te versterk en hulle te verseker dat Hy elke tree van die pad – lank ná die krisis reeds verby is, by hulle is.

Dié versekering het elke gelowige kind van die lewende God (al het hy of sy geen buitengewone ervaring gehad nie) egter reeds: Hy het dit op sovele plekke in sy Woord aan ons gegee!

Onverwacht

15 Mei 2014.


 

Alles, álles net genade

Ek praat nie graag oor my kinders nie. Elke ma glo in elk geval dat haar spruit(e) die beste en oulikste is wat nog ooit geskape is, dus sal ek niemand kan oortuig dat myne ouliker is nie! Selfs wanneer ek uitgevra word oor een of albei se doen en late, bepaal ek my by die nodige inligting en weerhou my daarvan om uit te brei – te bang dat dit mag klink asof ek spog. Nou waarom wil ek dan nou oor hulle (of in hierdie geval, Anneli, ons oudste) praat? Om een rede: Om aan enigiemand wat voel dat hy of sy in ‘n werk vasgevang sit waaruit daar geen ontsnapkans is nie – dit voel naderhand of jy jou knieë deurbid , maar daar kom net geen antwoord nie! – die versekering te gee dat daar áltyd uitkoms is: Solank jy bly glo dat jou hele lewe deur God beheer word en dat Hy te alle tye vir jou net die heel beste wíl... Dit verg natuurlik geduld; soms vir baie jare – maar hou moed en klou vas aan die geloof dat die uiteinde vir jou veel, véél beter sal wees as waaroor jy ooit kon droom!

Gestel nou dat die jare aangestap het sonder dat daar ‘n uitkoms was? Ek wil met my hele hart glo dat jy teen dié tyd tot die besef gekom het dat jy teen die prikkels skop. Kyk weg van wat jý wil en sien in dat jy presies is waar God vir jou bedoel het om te wees. Stel jouself oop vir kollegas en hulle omstandighede en sien hulle probleme en behoeftes raak. Wees ‘n gewillige werktuig in ons Heer se hand om die wêreld vir húlle ‘n beter plek te maak. Jy sal weldra ondervind dat jy daardeur ‘n veel sinvoller lewe lei en terselfdertyd die geluk ervaar wat jy gedink het nooit vir jou beskore sal wees nie.

Anneli, ons oudste, was ‘n doodgemiddelde kind op skool: vreeslik stil (ek wonder hoeveel van haar skoolmaats haar werklik onthou) en het nooit juis uitgeblink nie; het trouens net een onderskeiding  (in Bedryfsekonomie) in matriek behaal.  Sy het egter van kleins af een besondere eienskap gehad: sy was – en is nog steeds – ‘n ontsettend harde werker, met onbeskryflike deursettingsvermoë. Van die vroegste standerds af het sy – sodra sy haar eksamenrooster gekry het – vir haar ‘n studierooster uitgewerk en daarby sou sy hou, maak nie saak wat gebeur nie. As sy ‘n betrokke hoeveelheid werk nie kon afhandel nie, het sy net eenvoudig deurnag sodat sy die volgende dag wel binne haar skedule kon bly. Haar pa het menige nag gaan dreig dat as sy nie nóú tot ruste kom nie, sal daar groot moeilikheid wees! Dit het egter nie veel gehelp nie... Ja-a-aa, Pa!  

Dié deursettingsvermoë het sy van haar pa, At, gekry. Hy was op ‘n hoër landbouskool waar die kinders (destyds was hulle net seuns) wat nie van plan was om universiteit toe te gaan nie, nie wiskunde as matriekvak geneem het nie – wetenskap, rekeningkunde en boerderygemikte vakke wel. Toe hy by Foskor in Phalaborwa as leerlingopmeter aangestel word, was wiskunde wel ‘n vereiste vir sy pos, maar die feit dat hy ‘n uitmuntende heelagter was (het selfs vir die destydse Verre-Noord uitgedraf) het almal daarvan laat vergeet. Dit is, totdat hy sy regterknie sodanig beseer het dat hy sy rugbystewels finaal moes ophang.... Toe het sy senior toesighouer (wat ook voorsitter van die plaaslike rugbyklub was) hom ingeroep en duidelik laat verstaan dat hy in sy pos gedra word en so spoedig moontlik matriekwiskunde moes slaag. Al genade was dat hy eers ‘n st.8-wiskundehandboek aangeskaf, en deur selfstudie die vak spoedig geskryf en geslaag het. Hy het besef dat wiskunde gladnie die nagmerrie was wat sy skoolmaats altyd te kenne gegee het nie en hy besluit om st.9- en matriek-wiskunde in een jaar af te handel – wat hy dan ook reggekry het en wat meer is, met ‘n onderskeiding  geslaag het.

 Op daardie stadium was klein Anneli so 2, 3 jaar oud en elke aand ná ete, wanneer Pa by die eetkamertafel gaan sit (ons was heeltemal te arm om ‘n studeerkamer, of selfs net ‘n lessenaar, te bekostig!) om te studeer, het sy op ‘n stoel geklouter en met haar eie lyntjiesboek en potlood voor haar, dadelik aan die “werk” gespring. Sou ek haar vra waarmee sy besig is, het sy telkens geantwoord: Ek stottedee! en op my weervraag wat sy dan “stottedee”, het sy altyd geantwoord: Ek stottedee wiskinne! Dié “studeerdery” saam met Pappa het ook nie net ‘n klein rukkie geduur nie – ek moes haar gereeld vermaan dat klein dogtertjies baie meer slaap as pappas nodig het! Ons glo tot vandag dat die wil en begeerte om getrou te studeer daar, saam met Pappa by die eetkamertafel, ontstaan het.

Pa het ook nie net by die matriekwiskunde gestop nie, maar voortgegaan om sy Sertifikaat van Bevoegdheid as Mynopmeter (waarna almal as ‘n “ticket”verwys) ná vele jare en geweldige opofferings verwerf. Vir ons gesin was daar byvoorbeeld nie, met enkele uitsonderings na, jaarlikse see- of wildtuinvakansies nie want Pa het sy verlof altyd gebruik om voor te berei vir 'n komende eksamen. Dié was destyds in ‘n A-, B- en C-gedeelte verdeel, waarvan laasgenoemde sekere praktiese komponente bevat het wat heel laaste ingehandig moes word. Die eerste twee gedeeltes het een uit vier, en die ander een uit drie vakke bestaan. Die kandidaat kon een of albei gedeeltes skryf, maar in albei gevalle was die reël dat al die vakke gelyktydig geslaag moes word. Indien hy byvoorbeeld twee van die vakke in ‘n afdeling slaag en een druip, druip hy en moes hy maar volgende keer weer probeer! Die eksamen is sesmaandeliks afgeneem, dus kon hy self besluit of hy ‘n jaar wou wag – wat hy nooit gedoen het nie. Ons het toe al in Ellisras gewoon, dus was dit maar vir hom elke ses maande vir ‘n week Pietersburg toe om voor die Mynkommissaris die eksamen af te lê. Uitputtend, uitmergelend en net die ouens met uithouvermoë het vasgebyt en deurgedruk. Nie een van sy kollegas wat destyds saam met hom begin swot het, het tot die einde volgehou nie; een na die ander het hulle net opgehou en besluit dat hulle tevrede sal wees om ‘n gewone opmeter te bly. Sy volharding het  egter die nodige vrugte afgewerp toe hy as Hoofmynopmeter aangestel is; ‘n pos wat hy vir ‘n hele aantal jaar tot met sy aftrede beklee het. Wanneer ons egter oor al hierdie dinge gesels, sê hy sonder uitsondering: Ek het werklik maar net my heel beste gedoen en verder was alles, alles net die Here se genade en seën. Ek het niks daarvan verdien nie...

Terug na Anneli toe. Wiskunde het toe nie haar beste vak geword nie, met die gevolg dat sy vir matriek al haar vakke op hoër graad moes neem ten einde universiteitstoelating te kry. Tipies plattelandse kind, was haar Engels alles behalwe goed en toe haar Engelsonderwyser in matriek aanbeveel dat sy die vak op standaardgraad moet neem omdat sy dit vir seker andersins nie sou slaag nie, was haar antwoord dat sy Engels op hoër graad nodig het, en sy sál dit slaag. Sy het ook; en sy is ook nie net-net deur nie!

Tukkies toe, want sy wou baie graag regte swot. Daar aangekom moes sy verneem dat haar simbool vir Engels nie goed genoeg vir daardie rigting was nie. Wat nou? In die oriënteringsweek hoor sy van Politieke Wetenskap (toevallig? – daar is nie so-iets nie!) en sy besluit dié vakke pas haar soos ‘n handskoen. Drie jaar graadkursus en toe ‘n honneurs in Internasionale Politiek – nog steeds die ou stilletjie wat net luister wanneer ander praat. Op ‘n stadium in haar honneursjaar moes hulle ‘n elkeen ‘n voorlegging vir die klas doen en sy vra haar dosent, mev Rentia  Pretorius, of sy nie asseblief daarvan verskoon mag word nie. Die antwoord wat sy gekry het, het nie op daardie stadium vir haar sin gemaak nie, maar vandag wel: Jammer, Anneli, ek is bevrees jy sal maar net móét praat. Jy sal my wel eendag hiervoor bedank! Profetiese woorde.

Sy sluit in 1993 by die destydse Polisiediens aan (Hoe sy daar beland het, is ook weer ‘n storie vir ‘n ander dag. Genoeg om te sê dat ook dit niks minder as ‘n wonderwerk was nie) nadat sy haar CV sonder enige sukses by elke moontlike instansie ingehandig het. Haar belangstelling het sedert skooldae al by terreur gelê, maar sy kon net nie wegkom van misdaad-intelligensie af nie. Daar moes sy ‘n volle tien jaar – die meeste daarvan met die rang van konstabel (ons het naderhand gespot dat sy die bes gekwalifiseerde konstabel in die land is, want sy het intussen met haar studie vir ‘n meestersgraad in religieuse ekstremisme begin. Sy word darem ‘n inspekteur alvorens sy haar MA voltooi en kort daarna – drie jaar voor sy die SAPD se diens verlaat, tot kaptein bevorder.

Tien jaar (tot op die dag!) is ‘n ontsettende lang tyd wanneer jy gefrustreerd en ongelukkig in jou werk is, maar dit was nodig sodat sy die polisieman se “taal” kon leer; eerstehands kon uitvind wat vir hom belangrik is. Daarna het sy by die Instituut vir Sekerheidsudies aangeluit as navorser, en later senior navorser in internasionale terrorisme. ‘n Pos waarvoor sy tien jaar lank voorberei is, want daar het sy die geleentheid gekry om ‘n kursus in die bekamping van terreur vir die polisiedienste van state wat deel is van SARPCCO asook Wes- en Oos-Afrika te ontwikkel. Volgens haar kon sy dit vir elkeen verstaanbaar maak, juis omdat sy soveel jaar nóú saam met lede van die SAPD gewerk het. Sy reis dan ook dikwels in die buiteland om die kursus aan te bied of om as spreker tydens konferensies of seminare toehoorders in te lig wat die bevindinge van haar navorsing was.

Ironies dat alles natuurlik in Engels is! Die skaam meisiekind van haar skool-en studentejare het ontpop in ‘n gerekende spreker, maak nie saak hoe groot of uitgelese haar gehoor is nie. Die rede? Sy erken sonder skroom dat sy sonder die Here se voortdurende hulp niks kan vermag nie. So is sy gedurende Mei 2008 deur die United States Special Operations Command na ‘n seminaar genooi wat deur die aanvoerders van spesmagte vanoor die hele wêreld bygewoon sou word. By dié geleentheid, gehou in Tampa, Florida, moes sy ook ‘n voorlegging lewer. Anneli was uiteraard ontsettend op haar senuwees, want sy het besef dat ‘n positiewe ontvangs vir haar sommer báie nuwe deure sou oopmaak.

Ons drie tuis het, indien moontlik, nog meer as gewoonlik voor ‘n optrede vir haar gebid – soos sy trouens self ook gedoen het. Sy raak tot vandag toe nog emosioneel wanneer sy vertel wat verder gebeur het: Toe sy op die verhoog stap met die yslike ouditorium vol mense – elkeen ‘n kundige in eie reg – voor haar, het sy nog erg gebewe. Om haarself net te kalmeer, het sy weer rustig haar rekenaar nagegaan en toe met haar aanbieding begin. Op daardie oomblik het dit vir haar gevoel asof daar ‘n onbeskryflike kalmte van haar besit neem en sy het in ‘n duidelike stem, met ‘n natuurlike ritme, begin praat. Nie een keer oor ‘n woord gestruikel of na ‘n uitdrukking gesoek nie en die hele voorlegging perfek afgehandel. Daarná het een van die tolke (wat vertaal terwyl sy praat en dit dan vir die luisteraar in sy oorfone tolk) na haar toe gekom en haar gelukgewens. Volgens hom het hy nog nooit tevore so-iets beleef nie: iets in haar stem en die ritme waarmee sy gepraat het, het dit vir hom moontlik gemaak om elke woord duidelik te hoor en hy kon dit oombliklik tolk. Toe sy ons later die aand bel om te vertel hoe dit gegaan het, was sy van een ding oortuig en seker: dit was haar stem, ja – maar nie syself wat gepraat het nie. Sy kon al die dank en eer weer eens net aan die Here bring wat haar net nog nooit in die steek gelaat het nie.

Sy het vroeg in haar loopbaan by die ISS reeds gevra dat, indien dit êrens in die toekoms sou lyk asof sy “grootkop” kry, ons haar dadelik moet terugbring aarde toe. Alles is net ons Heer se onverdiende genade en daarsonder sou sy niks kon regkry nie...

2 Kor.11:30-31  As daar dan geroem moet word, sal ek roem, maar dan net oor my swakhede. Die God en Vader van die Here Jesus weet dat ek nie lieg nie. Aan Hom kom die lof toe tot in ewigheid!   

 2 Mei 2014

Addendum 

Niks op aarde gee my groter vreugde as om oor God se liefde en genade met ‘n ander gelowige te praat nie; om te hoor hoe hy of sy ons liefdevolle Vader se werkinge in eie lewe ervaar het.

Dit gebeur so dikwels dat ons in die een of ander situasie verkeer waaruit daar oënskynlik geen ontsnapkans is nie. Jy dink alle kante toe, maar nêrens is daar eers ‘n skrefie lig nie – en jy bid, want jy weet dat die Here alleen jou sal kan help... En dan: op ‘n dag – op ‘n totaal menslik onverklaarbare wyse – is die uitkoms, die antwoord, daar.

Toe Henk en Elma ons so 'n bietjie meer as twee jaar gelede meedeel dat die ekonomie hulle in so ’n mate begin onderkry dat hulle hul meubels gaan berg, huis en voertuie gaan verkoop en kyk of hulle nie in Australië ‘n nuwe lewe kan begin nie, het ons maar in die stilligheid ons bekommernis gehad. Kat en Maryke (die oudste van hul twee dogters en haar man), tesame met hul twee dogtertjies, was reeds vir twee jaar in Perth woonagtig en daar was ‘n hele paar moontlikhede wat op Henk gewag het. Hulle het op 31 Mei 2012 op Australiese bodem geland, maar die volgende dag – 1 Junie – het wetgewing dermate verander dat om ‘n werkspermit te bekom, haas onmoontlik geword het.

Henk het die een werksonderhoud na die ander gehad en hulle was telkens hoopvol, net om weer teleurgestel te word. Die maande het verbygegaan sonder dat daar enigiets gerealiseer het en hulle het tot die besef gekom dat alhoewel die kinders nie daarvan wou hoor dat hulle tot die huishouding bydra nie, hulle tog besig was om al hul spaargeldjies uit te leef. Die enigste moontlikheid was om maar terug te kom Suid-Afrika toe en van voor af te begin. Die teleurstelling was onbeskryflik: Vóór hulle besluit het om te verhuis, het hulle lank en ernstig oor die saak gebid en vele aanduidings gekry dat dít die Here se wil is – en nou? Henk was wit, sewe en vyftig jaar oud en wat was die moontlikheid dat hy nou ewe skielik in Suid-Afrika geholpe sou raak, siende dat die onbeskikbaarheid van werk die rede was dat hulle jare tevore hul eie multimedia-onderneming begin het?

Terug in ons land het hy en Elma weer eens begin CV’s uitstuur terwyl hulle steeds aan die geloof vasklou dat Jesus besig was om met hulle ‘n pad te loop; hulle durf net nie moedeloos word nie! Altyd deur was die knaende vraag egter in die agterkop waarom die Here hulle dan Australië toe gelei het (met al die ontwrigting wat dit meegebring het), as dit op niks uitgeloop het nie?

 Hulle het egter intussen die drade van hul ou onderneming weer begin optel en hulle kon getuig dat hulle sodanig geseën word dat hulle stadigaan lig begin sien. Hulle het maar aanvaar dat Australië ‘n duur oefening was – al het hulle die verblyf by die kinders (en veral die kleinkinders!) as ‘n bonus gesien.

Dit was tot vandag. Toe Henk vanoggend sy rekenaar aanskakel, wag daar ‘n brief van die uitvoerende hoof van die een Australiese onderneming waaroor hy regtig positief gevoel het. (Die groot struikelblok was die streng nuwe immigrasiewet waarvolgens hulle nie vir hom ‘n werkspermit sou kon verseker nie). Die skrywe was om hom die betrekking as hoof van die Wes-Australiese been van die onderneming aan te bied, teen ‘n salaris wat sy stoutste verwagtings oortref. Aangesien dié salaris hom in die hoër inkomstegroep sou plaas, sal permanente verblyfspermitte onmiddellik aan hom en Elma uitgereik word. In die telefoongesprek wat volg, vertel die vriendelike man vir Henk dat hy hom destyds al in die onderneming wou aanstel, maar dit het twee Australiese burgers – wat nie die mas kon opkom nie – gekos om die aanstelling van ‘n Suid-Afrikaner te motiveer. Dit alles sonder dat Henk verder ‘n vinger verroer het!  

Henk en Elma móés twee jaar gelede Australië toe gaan sodat Henk die regte mense kon ontmoet en die nodige basis gelê kon word...en toe moes hulle maar net alles aan ons almagtige Heer oorlaat. Hý het geweet wanneer dit die regte tyd is dat alles net perfek in plek sal val, sodat hulle nie nodig het om iets van hulle kant af te doen nie! Dit is toe dat my en Henk se gesprek volg waartydens ons maar net in totale verwondering kon stil word: Alles is soveel beter as wat enigeen ooit sou kon droom! Soos Henk op ‘n stadium sê: hy betrap homself kort-kort dat hy vra Waarom ek, Jesus – waarom seën U mý so?! Waarop ek hom kon antwoord dat al verdien ons dit nie, Hy elkeen van sy kinders so liefhet asof ons sy enigste is. Dink net hoe ons uit ons pad sal gaan om dinge vir ons kinders so maklik en gemaklik moontlik te maak. Dink dan daaraan dat Hy, anders as ons, deur niks beperk word nie: nie deur tyd of afstand nie, nie deur ‘n geldtekort nie – daar staan hoegenaamd niks in sy pad wanneer hy die heel beste vir sy geliefde kind wil gee nie! Al wat dit van ons vra, is vertroue en geloof in Hom. Ook in tye wanneer mens neerslagtig wil raak en dit voel asof die twyfel jou wil oorval (dit is net menslik!), sê dit vir Hom en pleit om die nodige hulp om nooit die oog van Hom, ons liefdevolle, versorgende Vader weg te neem nie en steeds maar, soos die hulpelose kind wat elkeen van ons is, net sy hand stýf vas te hou.

Vandag, toe ek met Elma gesels oor alles wat nou besig is om in hul lewens te gebeur, het sy die wonderlikste getuienis gegee: Sy glo die afgelope twee jaar se onsekerheid was bitter nodig sodat hulle kon leer om alles net aan God oor te gee in die vertroue dat Hy altyd die beste weet. Saam kon sy en Henk in die Woord soek na bevestiging van beloftes wat hulle van tyd tot tyd ontvang het en daar het sy besef dat dit die beste plek is om te wees: Sy en Henk bymekaar, saam in ons versorgende Vader se teenwoordigheid... Daar is inderdaad niks beter nie!   

30 Mei 2014              

 


 

Ons kinders

Ek is nie ‘n sielkundige nie, nog minder ‘n modelma – glo my, ek sou boeke vol kon skryf oor die foute wat ek gemaak het tydens die opvoedingsproses van ons twee dogters! Die feit dat ons deur hulle storm-en-drangjare heen tot vandag, waar hulle albei reeds volwassenes is, ‘n wonderlike verhouding kon handhaaf, is eerstens te danke aan die Here se genade...en tweedens, aan wedersydse respek.

   Daarby kan mens sekerlik voeg dat ons al drie ook ‘n ontsaglik-wye musieksmaak deel.(So kan mens by die jongste se kamer verbyloop en die een oomblik Orff se Carmina Burana hoor, direk gevolg deur iets van Linkin Park of Metallica).  Ons het vroeg-vroeg geleer om mekaar se musiek te waardeer; veral deur aandagtig te luister na wat die musiek sê: in die besonder na die lirieke, maar ook na die musiek self. Toe Kleinsus my dus die afgelope week nooi om na ‘n “song” te kom luister, was die versoeking aanvanklik groot om my met ‘n verskoning uit die voete te maak – sowat van “heavy metal” het ek lanklaas gehoor! Gelukkig verduidelik sy toe aan die hand van die musiekvideo wat sy gesien het, dat dit handel oor ‘n tiener wat ervaar dat sy onsigbaar vir almal geword het: Ouers, vriende, almal, kyk reg deur haar, ignoreer haar asof sy nie daar is nie...en iets in die woorde spoor my toe aan om die blaadjie met lirieke op te neem en dit te volg. Ek moet erken dat ek nie soveel pyn, verwerping (dis tog wat nie-aanvaarding is?) en magteloosheid verwag het nie!

Nog veel ontstellender is die simboliek aan die einde van die musiekvideo: Die meisie hoor die musiek wat haar pyn verwoord en sy volg die klanke.. tot binne-in ‘n vervalle kerkie. Daar vind sy spinnerakke, gebreekte banke – en geen lewe nie...net die musikante en die klank wat hulle voortbring; m.a.w. die musiek wat vir haar ‘n antwoord, aanvaarding, kon wees..maar ook dít sterf stadig voor haar oë weg. Sy bly alleen agter met haar pyn, in ‘n kerk wat sonder lewe – dóód – is: uitsigloos, hooploos. 

NUMB (Linkin Park:Meteora)

I’m tired of being what you want me to be

Feeling so faithless

Lost under the surface

 

I don’t know what you’re expecting of me

Put under the pressure

if walking in your shoes               

...every step that I take is

another mistake to you

 

 I’ve

become so numb

I can’t feel you there

Become so tired

so much more aware

I’m becoming this

All I want to do

is be more like me

and be less like you

 

 Can’t you see that you’re smothering me

 Holding too tightly

afraid to loose control

‘cause everything that you thought I would be

 has fallen apart right in front of you

 

(Caught in the undertow/)

Every step that I take is

another mistake to you

...and every second I waste

 is more than I can take 

 

But I know

I may end up failing too

But I know

you were just like me

with someone disappointed in you

 

Almal is dit eens dat jongmense vandag baie meer moet verduur en verwerk as in die verlede, en daarby het hulle net nie meer hoop vir die toekoms nie. Wanneer hulle ouers, die mense naaste aan hulle na wie hulle vanselfsprekend sou kon draai vir hulp en leiding, nie kan –of wil – HOOR nie, kan mens maar net probleme verwag. Asof in aansluiting hierby, ontvang ek die volgende skrywe deur dr JFP Engelbrecht uit die Agenda van die Kommissie van die Algemene Diakensvergadering:

 

                       KINDER-DEPRESSIE EN SELFMOORD

 Die afgelope jare blyk dit vanuit die dienswerk van Die Ondersteuningsraad asook dié van die Direksie van die Kinderhuise dat depressie onder kinders ‘n sterk stygende tendens toon. Verder is depressie een van die groot bydraende faktore tot kinder-selfmoord. Uit die 8 000 Suid-Afrikaners wat jaarliks selfmoord pleeg, is 270 daarvan kinders waarvan meer as die helfte hulself ophang.

In onlangse verslae uit Amerika blyk dit dat sekere anti-depressantemiddels juis daartoe bydra dat jongmense selfmoord pleeg. Die middel Prozac blyk tans die mees geskikte vir jong mense te wees omdat dit nie selfmoord neigings stimuleer nie.

Om te keer dat jongmense selfmoord pleeg moet ons weet na watter simptome ons moet soek. Veral ouers is te onoplettend om hierdie simptome by hul kinders waar te neem:

  • Huilerigheid wat vroeër nie daar was nie
  • Gevoelens word opgekrop
  • Aggressiewe gedrag tree op die voorgrond
  • Isoleer of onttrek hulself
  • Kort van draad
  • Skoolprestasies verswak selfs drasties
  • Slaap- en eetversteurings
  • Veranderinge in gewig
  • Konsentreer moeilik
  • Abnormale glimlag wat eintlik as masker dien om ‘n ongelukkige siel te verberg

Omgewingsinvloede soos ouers en onderwysers se verwagtinge, groepsdruk, negatiewe gesinsverhoudinge en seksuele of liggaamlike mishandeling is dikwels redes vir kinders se depressie. Suid-Afrika met sy hoë vlakke van geweld, rassespanning, ekonomiese onstabiliteit, werkloosheid, armoede en vigs skep ook die ideale teelaarde vir spanning en depressie onder die jeug.

Die praktyk het bewys dat dit veral die maande Oktober, November en Desember is waarin kinders en volwassenes selfmoord pleeg. Prof. Lourens Schlebush het gevind dat tot 9,5% van alle onnatuurlike sterftes by kinders, aan selfmoord toe te skryf is. Kinders wat begrypende ondersteuning van hul ouers ontvang, is egter minder geneig om tot die drastiese stap van selfmoord oor te gaan. Dr Dora Wynchank sê kinders wil nie werklik doodgaan nie, dit is meer ‘n impulsiewe besluit as iets drasties gebeur het soos ‘n meisie wat ‘n seun los, of dalk die eksamen gedruip het.

Depressie is ‘n siekte, ‘n mediese toestand wat jou denke, gevoelens en liggaam aantas. Dit is ‘n wanbalans in die brein wanneer die persoon nie genoeg serotonien afskei nie. Serotonien is die chemiese stof wat jou lekker en gelukkig laat voel. ‘n Tekort hieraan laat jou in ‘n diep donker put beland.

Depressie is beheerbaar en/of behandelbaar. Daarom is die oplossing vir u as ouers om professionele hulp vir u kind te soek en sodoende ‘n groot tragedie vir u kind en uself te spaar.

Ongelukkig is dit alles die realiteit van vandag en om te verklaar dat jou kind nooit so-iets sal doen nie, is   kortsigtig en dwaas: nie een van ons het die versekering dat dit ons gespaar sal bly nie.

Soos ek dinge sien, bly daar nie veel vir ons as ouers oor om te doen nie behalwe om op ons kinders ingestel te bly, om nie net te hoor wanneer hulle praat nie, maar werklik te luister en, heel belangrikste: om sonder ophou op ons knieë vir ons geliefde kinders te bly. Die Here alleen kan hulle in die regte rigting stuur; en Hy wil so graag by elke aspek van ons lewens – baie beslis by die opvoeding van ons kinders ook – betrek word! Ons durf nooit vergeet dat, hoewel ons vir ons kinders lief is, hulle vir Hom eindeloos kosbaarder is...

30 April 2008. 


 

 Ek laai my kinders op u trein, Here

 

Ek is so moeg van wakker lê en wroeg....

My hart is vol kommer oor my kinders se toekoms.

Toe hulle klein was

kon ek hulle teen my vasdruk as hulle seerkry

en pleisters plak en spoeg aansmeer

totdat hulle weer lag.

 

Nou is hulle groot en hulle seerkry is anders.

Ek kan hulle nie meer vasdruk nie.

Ek voel so magteloos.

Ek kan niks meer vir hulle doen nie.

 

Ek kan maar net vir hulle bid en hulle aan U opdra,

U ONS GROOT KONDUKTEUR:

Ek laai hulle vanaand op U trein.

Neem hulle asseblief saam met U op reis.

 

Laat my rustig aanvaar dat ek nie meer kan saamgaan

en neem sommer my bagasie van skuldgevoelens,

waaraan ek so swaar dra, ook met U saam.

Skuldgevoelens omdat ek nie altyd vir hulle kon gee wat hul nodig gehad het nie..

Skuldgevoelens omdat ek nooit die perfekte ouer kon wees nie.

 

Ek dank u Vader want U het besluit dat ek die regte ouer vir

my kinders is, want U het ‘n doel met elkeen van ons.

Dankie dat U ook aan my die wysheid, insig, kalmte en geduld skenk om te kan weet, wat ook al gebeur,

alles ten goede sal uitwerk in U Heilsplan en dit ten spyte van al ons tekortkominge.

 

Ek dank U dat U hulle eintlike Vader is, hulle Bloedpa;

Dit, omdat U seun hulle met Sy bloed gekoop het.

Lig U hande seënend oor my kinders, Here

en laat hulle opkyk na die hande wat hulle seën.

 

Laat hulle hulle name onuitwisbaar gegraveer sien in U handpalms

en laat U bloed wat daaruit vloei hulle reinig van alle –

ja regtig, alle sonde.

 

Ek wuif vir hulle terwyl U met hulle verder

op hulle lewensreis vertrek.                                                           

Dankie tog Here, dat ek kan weet

U is hulle Redder – ek dank U daarvoor.

AMEN


  

Die storie van die slang

Dit was eers veel later dat ek besef het wat regtig my probleem was… Ek ken die tekens só goed; het soveel mense in die verlede daarmee sien worstel, dat ek dit dadelik moes herken het – maar ek het nie: (Moontlik dalk omdat ek gereken het dat ek heeltemal te nugter, klinies selfs, oor dinge is wat my direk raak en kan beïnvloed?). Die chroniese moegheid, die onvergenoegdheid met alles en almal, die allesoorheersende begeerte om net te slaap en slaap…Depressie: ék?! Tog moes ek erken dat daar seker genoeg redes was: Touch of Class se optrede wat net ‘n sukses moes wees; Mei se Krokkienuus wat ek bitter graag afgehandel wou sien voordat ons ry; Marie se kuier – so kort ná Danie se dood – en sy wat nog nie alles heeltemal verwerk het nie; en toe Toy wat sommer net skielik nie meer daar is nie…en deur dit alles heen moes ek regop bly – cope – want ek kan mos! Die voorbereidings vir die komende vakansie moes maar net eenvoudig agterweë bly; in so ‘n mate dat ek die aand voor ons vertrek nog die laaste beskuit gebak het…en vir iemand wie se dinge lank voor die tyd afgehandel moet wees, is dit op sigself genoeg rede vir stres!

Hoe dit ookal sy, ons is weg terwyl ek aanmekaar bly wens het dat ek net kon agterbly en slaap en slaap…Dit het my soos ‘n luis laat voel; want hoeveel mense is daar nie wat hul voortande sou gee vir so ‘n vakansie nie? My apatie het voortgeduur vir die eerste drie dae: Gepraat wanneer ek moes, myself gedwing om so normaal moontlik op te tree – en al meer skuldig gevoel: Hier is ek in die ongerepte natuur waar die mens die indringer is…Hierdie paradys was nog altyd vir my die naaste aan volmaak hier op aarde, die een plek waar ek nog altyd die naaste aan my Here voel…en ek is van niks anders bewus as net ‘n doodse moegheid nie.

So het die 10e Mei 2005 aangebreek: ‘n Dag soos die voriges; die dag voor Mierkind se 31e verjaardag en een wat ek , sonder om melodramaties te klink, as amper kataklismies kan beskryf…maar tog een, retrospektief beskou, wat moes plaasvind. Ek sit altyd agter, met Miera voor by Pa omdat ek so dikwels indut en dan nie goed genoeg kyk nie; maar op hierdie spesifieke dag het ek voor gesit met Miera op my gewone plek agter Pa. Dit was besonder warm, skuins voor twaalf die middag, waar ons stadig op die teerpad tussen Skukuza en Onder-Sabie gery het. Al die vensters was heeltemal afgedraai, met ons elmboë rustend op die deur-gedeelte en almal se oë links, soekend na die luiperd in een van die bome langs die rivier. Die volgende oomblik gil Eldaleen slang!! en raak heeltemal histeries. At kyk in die sy-spieëltjie en sien die yslike reptiel op die pad wriemel en hou stil sodat ons ons kind kan kalmeer en hoor war gebeur het: Sy vertel dat sy iets soos ‘n sweepslag gehoor het en toe sy na regs kyk, sien sy die yslike slang direk langs haar, ooghoogte, met sy pikswart bek oopgesper en reeds besig om vorentoe te pik… Die mense wat weet, vertel dat ‘n mamba nie mis pik nie – en haar arm was sentimeters van hom af! Wat volgende gebeur het, weet ons nie; die insittendes van die twee voertuie wat uit die teenoorgestelde rigting gekom het en alles gesien het, sou dalk kon vertel – maar ek onthou net die geskokte uitdrukkings op hul gesigte toe hulle by ons verbyry. Hoe dit ookal sy, vir ons was dit niks anders as ‘n wonderwerk nie: Miera vertel dat sy die slang se kop vorentoe sien beweeg het, en die volgende oomblik was dit asof ‘n onsigbare Hand hom wegruk en op die pad neergooi…Nee, jy mag nie!!!

Waarom glo ek dit moes gebeur?  Omdat dié een enkele gebeurtenis my uit my apatie geskok het, my laat besef het dat God steeds in beheer bly! Ek het besef dat wat ek beskou het as so na as moontlik aan die volmaakte omgewing hier op aarde, maar net so onvolmaak soos enige ander plek is omdat ons laaste vyand, die dood, ook daar vir ons wag. Tog laat dit mens nie swaarmoedig nie, want ons Here het daardie vyand reeds oorwin – en in die proses vir ons die weg gebaan het na die werklike volmaakte…Ons kan reeds daarna uitsien!

Ek is so bitter jammer vir my arme kind, dat sy die nagmerrie moes deurmaak…Maar ek het later al meer gewonder waarom sý juis op daardie plek moes sit: Met my onbeskryflike vrees vir slange, en die hart wat regtig maar probleme gee – wat sou gebeur het as ék die konfrontasie moes deurmaak? Ek glo nie iemand sal ooit weet nie.

Hoe meer ek alles oordink het, hoe duideliker het ek tot die besef gekom dat die Here die gebeure gebruik om met my praat: Waarom bekommer en vermoei ek my tot in ‘n staat van depressie oor dinge waaraan ekself tog niks kan verander nie? Is my perfeksionisme nie dalk ‘n vorm van selfverheerliking nie (ek doen nie ‘n ding half nie – daarvoor dryf ek myself heeltemal té genadeloos) in plaas van om alles in Sý hande te laat en net die beste te doen waartoe ek instaat is? Ek kon Hom amper hoor sê My kosbare kind, jy vermoei jou tog so onnodig! Wees rustig in die wete dat Ek in beheer is, en dat Ek vir jou net die beste wil…

Ek het verder besef dat ek my die tyd moet gun om dinge vir myself uit te werk, en indien nodig, myself daarmee te konfronteer – dit nie net iewers weg te bêre in die hoop dat dit vanself sal weggaan nie; want dit sal nie (weggaan nie), inteendeel… Dit word net meer en groter!

Die feit dat ek myself tot God se beskikking gestel het, beteken beslis nie dat ek daarmee skielik in ‘n superwese ontwikkel het nie; ek bly ‘n mens met al sy swakhede en tekortkomings -  en daarom mag ek ook maar moeg en soms moedeloos word. Die Here het ‘n pad met my geloop sodat ek my medemens kan bystaan wanneer hulle ookal dieselfde deurmaak; of dit nou ookal liggaamlik of geestelik is – dit weet ek… Maar nou weet ek ook dat ek self soms behoefte aan hulp (al is dit net ‘n simpatieke oor) het, en dit maak nie sondermeer van my ‘n mislukking nie!

Die res van ons vakansie was, met een woord, geseënd: Ons het werklik alles gesien waarvoor mens maar kan vra en verder was die verhouding tussen ons drie so ontspanne en rustig (ons het net vreeslik na Ousa verlang! Sy was op Mauritius weens werksverpligtinge en die kommunikasie tussen ons was beperk tot die heel noodsaaklikste). Die dag voor ons terugkeer het ons so in die ry alles wat gebeur het, bespreek en elkeen het sy/haar interpretasie gegee. Dit word toe duidelik dat die hele ondervinding vir elkeen iets beteken het: Miera se getuienis dat ook sý dit as ‘n Goddelike ingryping ervaar het, was vir my so roerend! Sy worstel al geruime tyd met die sin en doel van alles: werk, eet, slaap…Sy besef dat sy daagliks die Here se hande, ore en boodskapper deur haar werk is, maar dit verander nie daaraan dat haar lewe uitsigloos geword het nie. Direk ná die slang-episode (sy het in sy ogies gekyk en kan dit nie anders as boos beskryf nie – sy glo sy het die dood in die oë gestaar) het sy die wonderlike vreugde ervaar: EK LEEF!! – hoe kosbaar is die wete nie! Die Here waak oor haar omdat Hy nog werk vir haar hier op aarde het, en omdat Hy haar so oneindig liefhet…Wat is uitsigloos daaraan?!

Ons kan dus net Dankie sê vir ons Hemelse Vader: Dankie, nie alleen vir ‘n gesinsvakansie nie, maar ook – en veral – vir sy troue bewaring en die waarhede wat Hy aan ons geopenbaar het!                             

 

Nege jaar later......

Wie sal ooit die Here se weë verstaan? Op die oomblik wanneer iets met mens gebeur, probeer jy só hard om jou eie, menslike betekenis daaraan te gee: Ek verstáán wat die Here se bedoeling was! Dis egter baie jare later (en soms nooit) wat Hy die gordyn so effens lig sodat ons iets van sy groot plan vir ons lewens kan sien...

Ek het vir ‘n lang tyd voor die slangepisode ernstig vir my Mierkind, my Sonneblomkind wat haar gesig altyd maar na die Son gedraai hou, gebid: Sy was sielsongelukkig in die stad; het elke tweede week wanneer sy haar laaste nagdiensskof gewerk het, nie eens gedink om te gaan slaap nie – net haar klere ingegooi, gesorg dat haar blou Golfie genoeg “juice” in het en gemáák vir “die huis”. Die lag was weg uit haar lewe; die sonneblom se koppie het bly hang – daar was geen krag of lus om hom eers op te tel nie...

Ek het haar ten volle vir die Here gegee en gevra dat Hy asseblief haar omstandighede sal verander: Sy het soveel liefde en empatie om te gee, maar waar sy was, het daar niks van gekom nie. Toe, daardie ontsettende slangepisode wat uiteindelik daartoe gelei het dat sy gedurende Augustus van dieselfde jaar, haar eerste epileptiese aanval (in Diskem, Pta) gekry het. Sy kon nie meer haar ou Blouie bestuur nie, en Kloof-hospitaal waar sy gewerk het, was vér! Sy kon nie in Sussa se Sunnyside-woonstel wat sy en Alice gedeel het, aanbly nie – gestel sy kry ‘n aanval gedurende die dag (dalk terwyl sy slaap) wanneer Alice by die werk is? Al genade was dat sy uit haar werk moes bedank en terugkom Ellisras-toe... Sy het aanvanklik erg teen dié gedagte geskop, want sy het ‘n permanente aanstelling gehad en werk is skaars – op die platteland nog skaarser! Ek het haar egter aangemoedig dat elke mens op die een of ander tyd in sy of haar lewe ‘n geloofsprong (daardie leap of faith) moet waag wanneer jy eenvoudig jou hand in die Here s’n sit en glo dat Hy presies weet waarheen Hy met jou oppad is...

Die uiteinde was dat sy skaars twee weke by die huis was alvorens Marapong Privaathospitaal haar gevra het om te kom “moonlight”, wat spoedig in ‘n permanente pos verander het. Vandag werk sy permanent nagdiens by die splinternuwe Lephalale MediClinic, waar sy haar liefde vir haar medemens ten volle kan uitleef. Ná daardie eerste epileptiese aanval het nog twee (een in die matrone se kantoor terwyl hulle rustig aan die gesels was, en een tuis) gevolg en vir meer as ‘n jaar het ek en At haar maar werktoe en terug gekarwei, totdat almal seker was dat die epilepsie onder beheer is. Vandag bestuur sy self, en is my sonneblomkind se gesiggie waar dit hoort: Vreesloos na die Son gekeer. Soli Deo Gloria!    

Ellisras

22 Januarie 2014


 

Comments

06.05.2018 14:07

Annatjie Botha

Marie, stuur asseblief jou e-posadres aan my, dan antwoord ek jou. Jammer ek reageer nou eers!

05.09.2017 17:14

Marie Roux

is onnatuurlike dood God se will? Kan Satan die men's doodmaak?

06.08.2014 20:37

Elma Koster

Ag dis to lekker om jou gedagtes op te slurp! Genadewater en Liefste Magriet, so mooi!