'n Lewende hoop

Ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God. Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop. Rom. 5:2-4

Maar dít sal ek ter harte neem en om díe rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot. Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom. Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra.

Klaagliedere 3:21-25

 Ons leef tans in die sesde maand van grendeltyd en al is die maatreëls in so ‘n mate verslap dat ons in vlak een is, hoor mens van ander wêrelddele waar daar na strenger vlakke terugbeweeg is omdat die virus weer opgevlam het – die sogenaamde “second wave”.   Kenners waarsku dat dit hier moontlik ook die geval kan wees sodra mense vryer begin beweeg en meer met mekaar meng. Almal is dit eens dat Die Pes gekom het om te bly: ons sal maar net moet leer en aanvaar dat ‘n lewe soos ons dit tot verlede jaar geken het, iets van die verlede is, altans totdat daar ‘n entstof ontwikkel, in groot maat vervaardig en wêreldwyd versprei is.

Die absolute onsekerheid oor ‘n vreemde toekoms veroorsaak al meer dat daar ‘n gees van moedeloosheid, selfs hooploosheid heers. Hoe gaan ons lééf? Dis duidelik dat daar oral ‘n oorweldigende behoefte aan hoop is.

       Oor hoop is daar al dikwels geskryf. Milanie Vosloo sê in “Simfonie van Seën” met verwysing na Psalm 42:6B, Hoekom so hewig ontsteld? Nee, ek plaas my hoop op God! die volgende: Hoop is so ‘n swaargewig-woord. Want hoop is soveel meer as positief of optimisties wees. Dis anders as om te dink dat die wêreld ‘n feëverhaal is. Dis om te besef en te beleef dat die lewe moeilik is, maar steeds diep binne-in te glo dat dit môre beter sal gaan, dat daar ‘n toekoms is...dat daar iewers ‘n klein vuurtjie brand wat groot lig kan gee. Hoop is om tydens die slegste tye van jou lewe moed te hou omdat jy vas glo dat daar ‘n antwoord sal kom, dinge sal kan verbeter en jy die krag sal kry om selfs in die donkerste ure lig te ervaar.

Hoop is nie ‘n vlietende emosie of oormatige naïwiteit nie. Veel eerder is dit om te kiés om vorentoe te beur selfs as die stormwinde jou wil laat retireer, om aan te hou as jy glad nie meer krag het nie, om te bly glo in die goeie en mooie ondanks die harde, negatiewe feite op die tafel.

Hoop, sê Desmond Tutu, is die geloof dat niks ooit so sleg is dat dit nie kan verander nie. Dit is amper onaantasbaar in jou innerlike wese. ‘n Diep wete dat, ongeag die feite in jou kop, daar iewers ‘n lig sál wees, ‘n antwoord sál kom, dinge weer beter sál gaan.

Verder, aan die hand van Psalm 43:5, Hoekom is ek so neerslagtig? Ek sal op God vertrou! Ek sal Hom weer prys, Hy is my redder en my God! skryf Milanie Om te hoop is om bang te wees, maar steeds ‘n uitdaging aan te pak. Om onseker te voel, maar tog vorentoe te beweeg. Om eensaam te wees, maar dan alleen die pad aan te durf. Om antwoordloos in ‘n situasie in te gaan en te wéét: Jy sál sy wysheid ontvang.

Hoop is om wel moedeloos te raak oor al die negatiewe nuus wat ons hoor, maar dan te kies om die positiewe en mooi wat daar steeds is, raak te sien en daarop te fokus. Ons weet mos almal dat negatiewe en skokkende stories die nuus haal terwyl die baie wonderlike dinge wat mense elke dag doen, sommer net terloops verbygaan. Dit terwyl daar daagliks helde en engele om ons is wat sonder groot vertoon ‘n onskatbare verskil maak, mense in hul diepste nood bystaan en bydra tot wonderwerke wat voorheen onmoontlik gelyk het.

Dalk voel jy vandag totaal moedeloos en vuisvoos oor die lewe. Weet dan dat dit normaal is, maar weet ook dat jy kan kies om vasgevang te bly in die dinge waaroor jy nie beheer het nie en jou onderkry, of dat jy die keuse kan maak om, ondanks alles, met hoop en verwagting te leef. Meer nog: Om self ‘n hoop-uitdeler te wees.

Kies vandag hoop! Dis soveel makliker en kragtiger as om moedeloos te wees.

 In haar boek “‘n Keur van Wysheid” gebruik Nina Smit die volgende aanhaling van Lewis B. Smedes: Christelike hoop is nie om te glo in die moontlike nie, maar om sekerheid te hê. Christelike hoop is om seker te wees dat wat God belowe het, Hy ongetwyfeld sal gee. Dit is waarom Paulus sê: die hoop beskaam nie (vgl. Rom 5:5). Dit is waarom Christelike hoop in Hebreërs 6:19 beskryf word as ‘n “veilige en onbeweeglike lewensanker”. Twyfel is hier nie ‘n faktor nie, moontlikheid word sekerheid. Om hierdie rede is Christelike hoop ‘n gawe van genade. Ons is slim genoeg om ons geld op ‘n wenperd te sit.

Nina skryf o.a. verder onder die opskrif “Hoop”: Waarop hoop jy? Jy mag maar hoop op God se beloftes in sy Woord, want jy het reeds die vaste sekerheid dat hulle sal waar word. Die kern van God se beloftes het te make met ‘n nuwe en beter wêreld; ‘n wêreld wat jou eendag deelagtig sal word, ‘n wêreld waar daar nie meer trane of pyn, siekte of dood sal wees nie. Jy mag maar jou hoop vestig op hierdie nuwe hemel en die nuwe aarde van Openbaring 21 wat vir elke kind van God wag. Jou vlam van hoop kan, ongeag jou fisieke omstandighede, helder brand omdat jy seker is dat alles reg sal wees in God se nuwe wêreld.

Maar jou hoop strek nog verder as dít: jou hoop kan ook gevestig wees op die hier en die nou, want kinders van God kry reeds in hierdie lewe bevestiging van dít waarop hulle hoop. As jy soos Abraham daarin kan slaag om op God te bly hoop, al lyk jou omstandighede ook maar hopeloos, belowe God dat jy, soos Abraham, nou reeds die vervulling van sy beloftes sal beleef.

Soos in die inleiding gesê, besef ons almal teen hierdie tyd dat ons wêreld voortaan heeltemal anders daar gaan uitsien as wat tot in 2019 die geval was. In die gedrukte media en ook in gesprekke word verwys na die “nuwe normaal”. “Nuut” of “anders”, dit maak nou nie saak nie – dit sal nie soos die “oue” wees nie!

Dit laat my dink aan Jesus se gelykenis van die nuwe wyn in ou leersakke in Lukas 5:37-39:  En niemand gooi nuwe wyn in ou velsakke nie. As hy dit sou doen, sal die nuwe wyn die velsakke laat oopbars. Dan is die wyn vermors en die sakke daarme heen. Nee, nuwe wyn moet in nuwe velsakke gegooi word.

En niemand wat ou wyn gedrink het, wil nuwe wyn hê nie, want hy sê: Die oue is goed.”(Eie beklemtoning)

(Dit is interessant dat van die drie evangelieskrywers, Matteus 9:17, Markus 2:22 en Lukas, slegs laasgenoemde die laaste, beklemtoonde vers bevat.)

      Ons weet dat Jesus hier na die ou bedeling verwys, waar die Joodse volk die hele Mosaïese wet, soos deur die Fariseërs en Skrifgeleerdes afgedwing, tot op die laaste letter moes gehoorsaam. Die gelykenis was juis aan hulle adres gerig omdat Jesus se leringe oor ‘n nuwe bedeling hulle woedend gemaak het. Vir hulle was die ou manier van doen – om 631 wette te hê waarvan hulle almal moes nakom ten einde die Hiernamaals te bekom – beter.  Jesus het egter van ‘n nuwe bedeling wat met sy koms aangebreek het geleer, van ’n heel nuwe lewe waarin Hy, as ons Verlosser, wettiese godsdiens met genade, met Homself, vervang!   

 Ons kan egter die gelykenis van die nuwe wynsak ook van toepassing maak op die tyd waarin ons tans leef: Die oue is verby en die nuwe het aangebreek, maar wat gaan ons daarmee maak? Hoe gaan ons, as volgelinge van Jesus, ons vernaamste doel op aarde – om sy evangelie en die hoop wat dit bring, na die wêreld waarin ons leef, uit te dra – bereik?  

     Dis baie duidelik dat ons, as Christene, voortaan nog meer ingestel sal moet bly op die leiding van die Heilige Gees oor wat God vir ons in gedagte het. Dat Hy iets nuut vir sy kinders beplan, is verseker. Ons durf daarom nie hooploos rondtas nie; ons het ‘n lewende Hoop en sy naam is Jesus Christus!

 Ek sluit graag af met twee aanhalings. Die eerste is van Johan Cilliers: Blydskap, inskiklikheid, onbesorgdheid, vrede. Só lyk hoop. Só gaan ons die toekoms – die nabye Here – tegemoet. Meet jouself aan hierdie vier woorde. Sou iemand, as hy vandag na jou kyk, iets hiervan bespeur? Sou hy met ander woorde iets van die nabye Here in jou lewe bemerk? Dis ‘n verskriklik belangrike vraag! Dit lê jou hoop, of wanhoop, bloot.

Die laaste een kom van G. Beeken: Ander verwag ‘n hooplose einde, maar dié wat in God glo, het eindelose hoop.

 

 Bronne:

 Bybel in Afrikaans (1983)

 https://redeeminggod.com/sermons/luke/luke-5_33-39/

Mijnhardt, Felix A.: Bybelkonkordansie (Lux Verbi BM 2002, p. 1240)

 Smit, Nina: ‘n Keur van Wysheid. Woordskakels wat mense oor eeue heen bind (CUM 1996, pp. 190; 192; 193; 194)

 Vosloo, Milanie: Simfonie van Seën (CUM 2019, Dag 247; Dag 248)       

 


 

 

Covid-19, die bouer van mure

Let wel, die opskrif is “Covid-19, die bouer” en nie “die afbreker” nie, want laasgenoemde sou impliseer dat die virus God se werk doen, naamlik om mensgemaakte grense, of dan mure,   af te breek en dit is glad en geheel nie die geval nie. Veel eerder is die pes, wat maar net nog ‘n wapen in Satan se hand is, besig om juis mure tussen mense te bou; mure wat vir seker nie deur God gewil is nie!

Iets basies, soos handskud, is taboe. Die nuwerwetse elmboog- (of erger nog, enkel) stamp, is myns insiens absurd: waarom dan nie maar net ‘n hoflike kopknik om die ander persoon te erken nie? Die pes het daarin geslaag om die basiese aanraking van twee hande, met die gepaardgaande kyk in die oë en ‘n glimlag om die mond om te kenne te gee dat ek jou rááksien, te reduseer tot ‘n verspotte dansie wat absoluut niks beteken nie. (Kyk net hoe verleë die twee “groeters” lyk wanneer dit afgehandel is!)

Ek het nog nooit ‘n geheim daarvan  gemaak dat ek niks van soengroet hou nie, maar “I’m a great hugger!” Dit bly ook nie net by groet nie: ek sal enigiemand, ongeag geslag, kleur of agtergrond druk wanneer die Gees my daartoe aanspoor en ek het nog altyd ‘n beter mens daarná gevoel omdat ek duidelik ervaar het dat my arms op daardie oomblik eintlik Jesus s’n was. Die ander persoon se hele wese het op daardie stadium uitgeroep na iemand om sy of haar pyn, hartseer of bekommernis raak te sien en het gevolglik net ‘n aanraking, ‘n bietjie empatie, nodig gehad. ‘n Geval van “ek verstaan, en ek is hier vir jou..” 

Ons is dit wel eens dat die verpligte maskers mens in ‘n mate beskerm. Juis daarom was dit vir my so ontstellend toe ek gister ‘n foto sien waarop nie een van die besoekers aan ‘n eetplek ‘n masker dra nie: Is dit bloot traak-my-nie-agtigheid, of is dit ‘n geval van dat die groot getal pasiënte wat wel herstel, ‘n valse gevoel van gerustheid bring? Moontlik glo die mense dat, indien jy nie in die hoë risiko-groep val nie, jy veilig is – ek weet nie.

Die waarheid is dat hierdie pes gekom het om te bly en dit sal nié net so stil-stil soos dit gekom het, weer weggaan nie! Wetenskaplikes sal hoogstens ‘n entstof daarteen ontwikkel, maar dit lê nog ver in die toekoms: dit sal eers aan streng toetse onderwerp moet word om die veiligheid daarvan te bepaal, dan sal dit op groot skaal vervaardig moet word en dan eers wêreldwyd versprei kan word. Intussen sal ons almal moet leer om daarmee saam te leef! Natuurlik glo ons dat God ons sal beskerm en ons bid dit daagliks ernstig van Hom (en herinner Hom aan sy beloftes van bewaring soos in sy Woord vervat), veral wanneer ons dit buite, tussen vreemdes, moet waag.  Dan kom ds. Hannes se woorde van jare gelede egter weer by my op: die Here help diegene wat bereid is om hulle deel ook te doen – en dit beteken dat jy absoluut alles in jou vermoë sal doen om veilig te bly.

Die noodsaaklike maskers maak ons verder in ‘n mate gesigloos: al is die oë die spreekwoordelike vensters van die siel, kan mens nie daaraan alleen geëien word nie. Toe Anneli onlangs ‘n operasie moes ondergaan, het die spesialiste wat haar behandel het, sonder uitsondering gevra dat sy haar masker afhaal sodat “ek kan sien met wie ek te doene het.” Al is die dra van ‘n masker dus ononderhandelbaar, bou dit verder aan die figuurlike mure tussen mens en medemens.

Ons, as Jesus-volgelinge, sal net ekstra hard moet werk om dié mure – wat daar is om ons te beskerm, maar terselfdertyd noodsaaklike kontak tussen mense verhinder –  af te breek want die bestaan daarvan is vir seker nie wat die Here wil nie. Dit is sy opdrag dat ons die evangelie sal uitdra, dat ons sy boodskap van liefde sal versprei. Soveel te meer in hierdie dae waarin mens al meer hoor van familie en vriende wat stukkend is as gevolg van die dood van ‘n geliefde: ‘n geliefde wat alleen, sonder ‘n laaste groet, in die hospitaal gesterf het en diegene wat agterbly, verder met daardie wete en verwyt ook moet saamleef.

Dis egter nie net die dood van iemand naby aan ons wat die behoefte aan hulp, bemoediging en  vertroosting op die voorgrond bring nie. Die algemene omstandighede waarin mense hulself vandag bevind – toenemende armoede, die onsekerheid oor wat die toekoms vir hulself, hul kinders en ook ons land inhou, veroorsaak dat al meer aan depressie ly. Erge depressie, wat die selfdoodsyfer onder alle ouderdomme, selfs by kinders, die hoogte laat inskiet...   

Hoe gaan ons, wat onsself in die veilige kokon van ons huise bevind en geen persoonlike kontak met hulle het, selfs net ‘n bietjie van Jesus se liefde aan mense wat ‘n onmeetlike behoefte daaraan het, bring? Deur ons oë en ore oop te hou! Mens hoef nie iemand persoonlik te ken om vir hom of haar, hul gesin en familie te bid nie. Plaas jouself net vir ‘n oomblik in hul posisie en probeer jou indink wat hulle deurmaak... Ons Here ken elkeen van hulle; al wat Hy wil hê, is dat ons hulle in die gebed aan Hom sal opdra – Hý sal verder voorsien.

Ook, indien jy via ‘n gesamentlike vriend of selfs kennis, van iemand se hartseer of nood verneem, moenie huiwer om ‘n boodskap van bemoediging aan te stuur nie. Jy sal nooit besef hoeveel dít – en jou gebede – vir daardie persoon beteken nie.

 Laat ons dus daardie onsigbare mure wat die vyand tussen ons, as Jesus-volgelinge, oprig met ons Here se hulp en deur die influisteringe van die Heilige Gees, afbreek deur voorbidders te word!  

Bloemfontein.

23 Augustus 2020.


 

Genade

Vir maklik twee weke al loop ek met die dwingende behoefte om ‘n bietjie perspektief op die huidige posisie waarin ons ons bevind, te kry – waar die allesoorheersende onderwerp van bespreking Covid-19 of korona is. Skakel mens die televisie aan, luister jy na preke op video of selfs net in alledaagse gesprekke met familie en vriende – persoonlik of in die sosiale media – kom alles maar net weer neer op die virus of sy uitwerking op die ekonomie en gevolglik in die lewens van mense; nie net plaaslik nie, maar dwarsoor die wêreld.

Dis behoorlik asof ons aan niks anders kan dink of oor kan praat nie! Dit het vir my al hoe meer opvallend en gevolglik dringend geword om daaroor te skryf. ‘n Mens kan so-iets half in die sekulêre wêreld verwag, maar by ons as Christene wat Jesus se liefde en genade behoort te verkondig? Hoeveel keer op ‘n dag noem ons die woorde “Covid”, “korona” of “virus”, en hoeveel keer Jesus se kosbare naam (vir seker nie godslasterlik soos in die Amerikaanse films waar gereeld “oh my god” of selfs OMG gebruik word nie)!  

Dit is asof ons perspektief verloor het. Ek verstaan dat almal moeilike tye beleef met familie, vriende en bekendes wat siek word en soms selfs sterf, sakeondernemings hul deure moet sluit en derduisende mense hul werk verloor en daar gevolglik ‘n gees van desperaatheid en uitsigloosheid heers. Dis alles te verstane, maar nogtans nie vanselfsprekend nie. Allereers moet ons verstaan waar die hele boosheid vandaan kom – want dit is presies wat hierdie pandemie is: ‘n werktuig in Satan se hand. Daar is weliswaar mense, selfs gelowiges, wat bespiegel of God dit nie dalk gestuur het om ons te straf nie, maar niks kan tog verder van die waarheid verwyderd wees nie! Ons Here is ‘n God van liefde – Hy is immers Liefde self – en Hy het nog nooit vir sy geliefde kinders siekte of die dood begeer nie. Dit is alles deel van ons gebroke, sondige wêreld. Hy sal egter wel siektes en selfs die dood kan gebruik om ons nader aan Hom te bring, soos mens nou wêreldwyd sien gebeur. Ek glo nie daar was al ooit in die mens se geskiedenis so ‘n onbeskryflike terugkeer na God soos die afgelope jaar nie en daarvoor loof en dank ons Hom! Vorige herlewings was gewoonlik beperk tot ‘n bepaalde streek of selfs ‘n land, maar wat ons tans sien, gebeur wêreldwyd. Ook dit is net genade, omdat Hy nie wil hê dat selfs één siel verlore gaan nie. (Lees gerus weer die gelykenisse van die verlore skaap en die verlore muntstuk in Luk. 15: 3-10.)

 

Daar sal wel mense wees wat sê die Ou Testament is vol voorbeelde waar Hy siektes en die dood gestuur het om die Israeliete te straf. Dis waar, maar dan moet ons onthou dat die Ou Testament betrekking het op die Jode en hul geskiedenis. Vir ons as Christene het alles aan die kruis verander toe Jesus sy onskuldige bloed gestort het om ons van dit alles los te koop: die Wette van Moses en die gevolglike straf omdat geen mens dit alles kan nakom nie. Onthou, as jy selfs die geringste wet oortree, het jy reeds almal oortree! Jesus het vir ons daardie wette volbring en vir ons ‘n nuwe een in hul plek gegee, naamlik om God bo alles lief te hê en ons medemens soos onsself.

 

Dit bring my terug by die huidige pandemie: Ek persoonlik weier om die virus op sy naam te noem – dit gee hom net te veel mag. Vir my is dit Die Pes, want dit is ‘n baie goeie beskrywing: die moderne pes wat verwoes en dood so ver as wat hy gaan. Ons as God se geliefdes moet egter verby hom kyk en vir Jesus bo-oor hom sien toring. HY is eindeloos groter en magtiger; Hy alleen is álmagtig en geen siekte of dood kan Hom onkant betrap nie! Dit is dus uiters belangrik dat ons nooit van ons Here sal wegkyk na die bekommernis en verwarring om ons heen nie. Bid, smeek en vertrou op Hom alleen al mag dit dalk lyk asof daar geen uitkoms is nie. Hy is reeds aan die werk om ‘n oplossing ook vir jou te bewerkstellig. Onthou net ons hulp en krag kom slegs van Hom wat eindeloos genadig is! En mag julle .... bemoedig en gesterk word deur ons Here Jesus Christus en God ons Vader. Hy het aan ons sy liefde bewys en aan ons deur sy genade ‘n blywende troos en goeie hoop gegee. 2 Tess. 2:16-17.

 

Bloemfontein.

5 Augustus 2020.

 


 

Grendeltyd

Die nasionale inperking het sy eie, unieke uitdagings waarvan verveling sekerlik een van die ergste is. Dit is natuurlik net soveel erger wanneer daar klein, en 'n bietjie groter kinders betrokke is. Watter ma ken nie die temerige “Ma, ek’s verveeld!” nie (Eldaleen, met haar natuurlike geneigdheid om woorde op die onmoontlikste plekke te gebruik – ‘ablusieblok’ is byvoorbeeld ‘ambisieblok’, want jy het die ambisie om ook ‘n beurt te kry; ‘lugleegte’ is ‘lugleemte’, want daar’s mos nie lug nie, en so kan ek aangaan – het altyd gesê “Ma, ek’s vervelig!”, waarop ek gereeld geantwoord het “Verseker vir my wat dit moet aanhoor, ja!”). Hoe dit ookal sy, dié ingeperk-wees is nie altyd maklik nie...

Ons vier het genadiglik nie daardie probleem nie; elkeen het sy/haar eie manier om die dae en weke om te kry: At stap twee maal per dag deur die tuin om te sien wat daar gebeur, sny die dooie rose af en kyk verder na die TV-programme wat oor wilde diere en hul versorging handel.

 Anneli bly besig met haar studente op hul WhatsApp-groep: aangesien die meeste van hulle nie internettoegang het nie, het sy hul lesings en aanbevole leeswerk opgesom en dit vir hulle aangestuur. Soos sy sê: “Ons moet leer om low tech te dink. Afrika bly derde wêreld waar wi-fi nie vanselfsprekend is nie, maar almal hét selfone!”

Uit die studente se boodskappe van waardering aan haar kan ek aflei dat die dosent-studentverhouding sonder twyfel hierby baat.

Eldaleen se behoeftes is soos gewoonlik maar min: solank sy haar TV en X-Box in haar (donker)kamer het, is sy gelukkiger as ‘n hond met sewe sterte! Geen wonder dat haar gunsteling T-hemp die een is met I went outside once. The graphics weren’t that good op nie...

 My eie “inperking” het vroeër as die res van die land s’n begin, en wel op 26 Februarie met die aanvang van Lent 2020. Ek het naamlik vanjaar my sosiale media – wat net uit WhatsApp bestaan; ek is nie op Facebook nie – prysgegee. Om te voorkom dat ek dalk na my WhatsApp-boodskappe loer, het ek my voorkeurtaal na Arabies verander wat genoeg was om my van my foon weg te hou!           

My idee was om die tyd wat ek gewoonlik aan boodskappe-lees en -stuur spandeer, te gebruik om Bybelstudie te doen. Daarvoor het ek ‘n boekie gebruik wat ds. Hannes jare gelede vir my gegee het, Die Eerste brief aan die Korinthiërs deur dr. E.P. Groenewald (N.G. Kerk-Uitgewers, 1967). Dit het sy eie uitdaging meegebring omdat dit nog die 1953-vertaling van die Bybel as bron het. Ek het dus die betrokke gedeelte eers in die 1983-vertaling (wat ek persoonlik verkies) gelees en daarna die ou weergawe met die skrywer se verklaring. ‘n Bietjie tydrowend, maar dit het vir seker nie oor “tyd” gegaan nie!

Toe Goeie Vrydag aanbreek en ek weer my WhatsApp aanskakel, het ek ‘n vreemde teësin in my foon gehad – ek en my foon was beslis nie “op ‘n goeie plek” nie. Dis nou al weke later en ek is nog steeds nie gemaklik met hom nie.

 Die tyd van afsondering met die Bybel het my opnuut ‘n waardering vir dié kosbaarste van alle boeke gegee. Nie net was Psalm 91 nog altyd my gunsteling nie, maar in hierdie Covid 19-tyd het dit vir my ‘n nog meer spesiale betekenis gekry:

                                            Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind  

 1. Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind

en die beskerming van die Almagtige geniet,

2. hy sê vir die Here:

“U is my toevlug en my veilige vesting,

my God op wie ek vertrou.”

3. Dit is Hy wat jou

uit die voëlvanger se wip hou

en jou bewaar van dodelike siekte.*

4. Hy beskut jou onder sy vleuels

en is vir jou ‘n veilige skuilplek.

Sy trou beskerm jou aan alle kante.

5. Jy hoef nie bang te wees

vir gevaar in die nag

of vir aanvalle oordag,

6. vir pes wat in die donker toeslaan

of vir siekte wat helder oordag

verwoesting saai nie.

7. Al val daar duisende langs jou,

tienduisende by jou,

vir jou sal niks tref nie.*

8. Met jou eie oë sal jy sien

hoe die goddelose gestraf word.

9. Omdat jy die Here as skuilplek

geneem het,

die Allerhoogste as jou beskermer,

10. sal geen onheil jou tref

en geen plaag naby jou woonplek

kom nie.

11. Hy sal sy engele opdrag gee

om jou te beskerm waar jy ook al gaan.

12. Op hulle hande sal hulle jou dra,

sodat jy nie jou voet

teen ‘n klip sal stamp nie.*

13. Jy sal oor leeus en adders loop,

leeus en slange sal jy dood trap.

14. “Omdat hy My liefhet,

sal ek hom red,”

sê die Here,

“omdat hy My ken,

sal Ek hom beskerm.

15. Wanneer hy My aanroep,

sal Ek sy gebed verhoor;

in sy nood sal Ek by hom wees.

Ek sal hom red*

en hom in sy eer herstel.

16. ‘n Baie lang lewe sal Ek hom gee

en oor my hulp sal hy hom verbly.”*

(eie beklemtoning)

*God wil hê ons moet sy beloftes aan ons ken en Hom daaraan herinner, en dit is dan ook die rede waarom ek vers 11 en 12a telkens oor Anneli bid wanneer sy uitgaan om ons voorrade aan te vul.

 Ons almal het onderstreepte gedeeltes in ons Bybels. In hierdie grendeltyd is dit veral ‘n vreugde om deur myne te blaai en dit weer te lees. Soms is daar ‘n datum en ‘n opmerking bygeskryf, soms net ‘n datum en soms is dit net onderstreep. Dan probeer ek onthou wat op daardie stadium in my lewe gebeur het dat dié spesifieke vers(e) so duidelik met my gepraat het. Wat was die rede dat ek op 93-06-05 psalm 37: 23, 24 onderstreep het? Die Here bepaal die koers van die mens met wie se pad Hy tevrede is, en Hy ondersteun hom. As so iemand val, bly hy nie lê nie, want die Here help hom op. Of op 98-04-11 toe psalm 38:22, 23 namens my uitgeroep het: Moet my tog nie verlaat nie, Here, my God, moenie ver van my af bly nie! Maak tog gou om my te help, Here, my Redder! So is daar talle verse, soms hele gedeeltes (in die Nuwe Testament soveel meer as in die Ou Testament omdat ek dit meer lees) wat onderstreep is; heel dikwels Jesus se woorde, soos Lukas 22:31, 32: “Simon, Simon!” het Jesus gesê. “Luister! Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie...” Is dit nie verby kosbaar nie, dat Jesus vir Petrus gebid het? Hoe uiters bevoorreg is ons vandag dat ons sy Heilige Gees het om ons daarmee te help! Rom. 8:26-28: Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges. Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. (Nog ‘n onderstreepte gedeelte!)

Ek gaan sit graag op my gunstelingstoel met ‘n koppie koffie en my Bybel terwyl ek die gedeeltes lees en dan sommer net stil raak by ons Verlosser. Ek noem dit my “koffiedrink saam met Jesus” en ek verruil dié tydjies vir niks op aarde nie!

Wanneer jy dus in hierdie tyd van afsondering iets soek wat net weer vrede in jou lewe kan bring, neem gerus jou Bybel op en onthou weer die kere toe ons Here vir jou dáár was. Die Hebreërs-skrywer sê nie verniet in hoofstuk 1:12b Maar U, U bly dieselfde nie: ons God verander nooit en níks is vir Hom onmoontlik nie. Hy sál jou weer te hulp kom; maak nie saak wat jou hartseer, bekommernis of krisis is nie. Moet net nie twyfel nie!     

 Bloemfontein

25 April 2020.


 

Die eindtyd

Die Covid-19 virus het,  benewens siekte en dood, ‘n magdom ander probleme ook met hom saamgebring waarvan vrees, bekommernis en onsekerheid seker die ergste is. Voeg daarby die magteloosheid van ons mense wat tog so graag in volle beheer van ons lewens en toekoms wil wees en jy het die perfekte resep vir morbiditeit en depressie.

Ons is ingeperk; wie weet vir hoe lank regtig en dan? Wat wag daarna op ons? Kundiges en leke is dit eens dat ons lewens ná korona nooit weer dieselfde sal wees as voor die pandemie nie. Dit laat my baie dink aan films wat mens van tornado’s in Amerika sien: die gesin hoor die sirenes en vlug na hul skuiling toe waar mens en troeteldier wag totdat alles weer bedaar het. Dan kom hulle uit hul veilige skuilplek, net om deur die onbeskryflike verwoesting begroet te word: ‘n landskap wat hoegenaamd nie langer bekend is nie. Ek wonder telkens waar begin mens in sulke omstandighede orde skep: hoe maak jy sin uit die chaos wat jou omring, waar begin jy weer opbou – of gee jy jouself sommer net aan die moedeloosheid oor?

Anders as in die geval van ‘n tornado wat net ‘n dorp en sy omgewing tref, word die hele wêreld deur hierdie nuwe virus geraak – niemand gaan nie op die een of ander wyse negatief daardeur beïnvloed word nie. 

Soveel mense vra of dit God se straf is – ons weet tog hoe mense die wêreld oor besig is om te gronde te gaan – maar dan weet ons ook, as gelowiges, dat dit nie is hoe ons God werk nie. Hy sal egter omstandighede – al is dit hoe sleg – tot ons voordeel gebruik. Ons sien dit aan die geweldige hoeveelheid preke en korter boodskappe van predikers wat uitgaan: ek glo elke gemeente het ‘n platform gevind vanwaar hulle daagliks bemoedig kan word, iets wat nie voorheen bestaan het nie en waaraan mense ook nie regtig ‘n behoefte gehad het nie.

Saam met hierdie daaglikse geestelike voedsel verskyn daar ook ‘n magdom video’s wat mens herinner dat die eindtyd nou vinnig naderkom. Iets waaraan mense nie noodwendig herinner wil word nie, maar nogtans ‘n realiteit is...

Vir iemand wat in een van die sogenaamde hoofstroomkerke opgegroei het (en nog steeds ‘n lidmaat is), was die wegraping ‘n vreemde begrip; iets wat net in die charismatiese kerke gehoor is.  Aangesien dit nie pertinent in die Bybel genoem word nie, is daar nooit oor gepraat of gepreek nie. Sedert ek egter die eerste keer, baie jare gelede, daarvan gehoor het, was dit vir my iets waarvan ek net meer moes weet!

 Met die verskyning van Tim LaHaye en Jerry B. Jenkins se Left Behind-reeks in 1995, was ek dus spoedig net so haastig soos Eldaleen dat die volgende boek in die reeks moes verskyn. Met die lees daarvan, het ek al meer onder die besef gekom dat ek asseblief tog nie een van dié wat sou agterbly, wou wees nie!

Die reeks bestaan uit 13 boeke en die outeurs het dit werklik geskryf met die eindtyd- profesieë as verwysing. Chronologies is die titels soos volg:

1. Left Behind: A Novel of the Earth’s Last Days (1995)

2.  Tribulation Force: The Continuing Drama of Those Left Behind (1996)              

3. Nicolae: The Rise of Antichrist (1997)

4. Soul Harvest: The World Takes Sides (1998)

5. Apollyon: The Destroyer is Unleased (1999)

6. Assassins: Assignment: Jerusalem, Target: Antichrist (1999)

7. The Indwelling: The Beast Takes Possession (2000)

8. The Mark: The Beast Rules the World (2000)

9. Desecration: Antichrist Takes the Throne (2001)

10. The Remnant: On the Brink of Armageddon (2002)

11. Armageddon: The Cosmic Battle of the Ages (2003)

12. Glorious Appearing: The End of Days (2004)

13. Kingdom Come: The Final Victory (2007)

 Dit vertel die verhaal van Rayford Steele, ‘n vlieënier, sy dogter en dié se gesin ná die wegraping (waartydens sy vrou en hul seun na Jesus toe geneem is). Rayford en sy dogter, Chloe, het te laat besef dat wat hulle as Christen-wees verstaan het, hoegenaamd nie genoeg was om hulle te red nie. Nou het hulle agtergebly om die verdrukking te beleef terwyl hulle Jesus werklik leer ken. Die reeks word voorafgegaan deur The Rising: Antichrist is Born: Before They Were Left Behind, waarin mens die karakters ontmoet.

Die reeks is ook in Afrikaans vertaal as Die wat agterbly. Ek weet nie of dit nog by boekhandelaars beskikbaar is nie, maar ek het wel al gesien dat tweedehandse eksemplare op die internet te koop aangebied word. Daar is ook ‘n film, Left Behind, wat net ‘n samevatting van die reeks is, maar dit vertel hoegenaamd nie die hele verhaal nie!

 Ek is onlangs diep getref deur Danie Botha (in gesprek met Amanda Loftus) se Eindtyd-reeks, bestaande uit 5 video’s wat op YouTube beskikbaar is. Ek het onder die indruk gekom watter deeglike studie Danie gemaak het van al die profesieë oor die eindtyd, en daar het vir my ‘n nuwe wêreld oopgegaan: Ek is ongelukkig een van die Bybellesers wat daardie gedeeltes ook maar net so bolangs lees sonder om na die werklike betekenis te soek!

 Stephen Kühn van Kerk sonder Mure, George, (www.kruiskerk.org) is nog iemand na wie ek net nie genoeg kan luister nie. Nie alleen is sy boodskappe absoluut kosbaar nie; sy video’s die afgelope Pase was onbeskrylik geseënd. Daar is drie: Die foto-album (vir Goeie Vrydag) Die hofsaak (vir Stilsaterdag) en Opgestaan! (vir Paassondag) en dit is ook op YouTube beskikbaar.

Dan het hy ‘n verdere oudio-reeks (elkeen is kort, net so tussen sewe en tien minute lank) oor die wegraping wat alle moontlike vrae wat mens oor hierdie onderwerp mag hê, beantwoord. Indien jy dit graag wil bekom, stuur vir Heila Kühn ‘n WhatsApp na 072 158 5166 en vra om die Wegraping-reeks. Sy sal dit met liefde vir jou aanstuur.

Om mens net verder onder die indruk te bring hoe min tyd daar regtig dalk nog oor is, is daar 'n baie interessante video op Youtube beskikbaar: Is the End of Days Prophesied in the First Word of the Bible? wat handel oor die Berisheet Passover Prophesy. Dis lank; net so 'n paar minute langer as 'n uur, maar onbeskryflik interessant en dit skud mens behoorlik wakker! Kyk dit asseblief wanneer jy tyd het om alles rustig in te neem en dit sal sonder twyfel jou uitkyk versterk, of hopelik verander as jy tot dusver nog nie oortuig is nie.     

Al die voorafgaande het my opnuut onder die indruk gebring dat die genadetyd inderdaad besig is om uit te loop en dat ons ons saak met God moet regmaak terwyl daar nog ‘n kans is. Indien jy leiding in dié verband nodig het, praat met jou predikant, pastoor of geestelike leier om jou op die pad na volkome oorgawe te begelei. 

Indien jy dit reeds gedoen het maar nog steeds nie oortuig is dat jy gereed is om Jesus te ontmoet nie, vra die Here om, deur sy Heilige Gees, aan jou te wys wat nog tussen jou en Jesus staan. Bely dit, en gee jou lewe opnuut aan ons Verlosser oor. Moet asseblief nie uitstel nie!

 Bloemfontein.

21 April 2020.   

 


 

Virus

  C.S. Lewis het in 1942 die volgende geskryf:                             

                                                      Satan: “I will cause anxiety,

                                                      fear and panic.

                                                      I will shutdown

                                                      businesses, schools,

                                                      places of worship

                                                      and sports events.

                                                     I will cause economic turmoil.”

 

                                                    Jesus: “I will bring together neighbours,

                                                    restore the family unit,

                                                    I will bring dinner back

                                                    to the kitchen table.

                                                    I will help people slow down their lives

                                                    and appreciate what really matters.

                                                    I will teach my children to rely on me

                                                    and not the world.

                                                    I will teach my children to trust me

                                                    and not their money and material resources."                        

Gister was Palmsondag en ons is aan die begin van Heilige Week. Dat die komende Paasfees totaal ánders gaan wees as wat ons nog ooit tevore beleef het, is nou maar eenmaal waar: vir niemand gaan daar die keuse wees tussen ‘n donker nagmaal Donderdagaand, of die gewone Vrydagoggenddiens nie. Geen gelowige in ons land sal ons Here se kruisdood saam met hul gemeente kan herdenk nie, aangesien ons nou eers in die tweede week van die landwye inperking (lockdown) is – daar lê na dese nog ‘n week voor en ons weet nie eens regtig wanneer dit daarna sal eindig nie.

Tog het die hele Covid-19 pandemie ‘n opgewondenheid in my veroorsaak en ek glo nie ek is die enigste een nie. O, ek is deeglik bewus van die onsekerheid wat daar heers: wie gaan na dese nog ‘n werk hê; wie se besighede sal noodgedwonge hul deure moet sluit, wat nog meer werkloosheid gaan veroorsaak. Hoeveel mense is daar nie wat nie weet of hulle nog tot die einde van die maand kos op die tafel gaan hê nie, en wat daarna? Finansiële markte wêreldwyd het met meer as 30% getuimel, wat pensioentrekkers se beleggings bitter seergemaak het – wat wag daar vir ons? Hoe kan ek dan praat van ‘n gevoel van opgewonde afwagting; besef ek nie wat besig is om te gebeur nie?!

Stephen Kühn se boodskap gister (kyk gerus daarna op Youtube, dis werklik ‘n seëning)  het as tema gehad Is dit die end?, ‘n vraag wat daagliks gevra word. Nou, ís dit?

Ek het vir Lent 2020 my sosiale media (aangesien ek nie op Facebook is nie, is dit net WhatsApp) prysgegee en watter onbeskryflike ervaring is dit nie! Ek het my voorgeneem om die tyd wat ek gewoonlik daagliks aan boodskappe lees en stuur spandeer, aan Bybelstudie te wy en dit het algaande ‘n avontuur geword. Die wonderlikste was tot dusver – al was dit gister amptelik die einde van Lent, het ek my voorgeneem om vol te hou tot Goeie Vrydag – dat ek nie net soveel juweeltjies in die Bybel ontdek het nie, maar werklik Jesus se kosbare teenwoordigheid ervaar. O, ek mis my familie en vriende se boodskappe, glo my; veral in hierdie onseker tyd van Is hulle darem gesond en oor die algemeen oukei? Marilie en Marli het darem gebel om te verneem hoe dit met ons gaan en tussendeur het Marie, Annatjie, Frans, Lynette en Linda WhatsApp-boodskappe na Eldaleen toe gestuur om groete te laat weet. Verder laat ek al my geliefdes net in Vader se beskermende hand in die vaste geloof dat Hy hulle styf vashou! Tog is ek baie dankbaar dat al die negatiewe, donker boodskappe my gespaar bly; dit sal genoeg wees om mens heeltemal depressief te maak.

 

Dit bring my by my vorige vraag, dié een wat Stephen ook gevra het: Het die einde nou aangebreek? Die antwoord daarop kan ons maar net by Jesus gaan soek. Hy sê in Mat. 24:14 “En hierdie evangelie van die koninkryk sal in die hele wêreld verkondig word, sodat al die nasies die getuienis kan hoor. Eers dan sal die einde kom.” Wat mens by die vraag bring: Maar ís daar dan nog nasies waar die evangelie nog nie verkondig is nie, is daar ooit nog mense wat nie van Jesus gehoor, en die geleenthied gehad het om Hom as Verlosser aan te neem nie? In vers 9 van dieselfde hoofstuk sê Hy ook “Die mense sal julle oorlewer om mishandel te word, en hulle sal julle doodmaak. Julle sal deur al die nasies gehaat word omdat julle my Naam bely.” Hoor en lees ons nie gereeld hoe Christene al meer ter wille van hul geloof  vervolg en gedood, dikwels onthoof, word nie? Jesus sê ook in vers 6 “Julle sal die rumoer van oorloë en gerugte van oorloë hoor (is daar ‘n land op aarde waar daar nie onrus en bloedvergieting is nie?) en in die volgende vers, vers 7 “Die een nasie sal teen die ander te staan kom en die een koninkryk teen die ander; daar sal op baie plekke hongersnode en aardbewings (eie beklemtoning. Lees dit nie soos vandag se koerantberigte nie?) wees. Al hierdie dinge is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd.” En dan ook sy gerusstelling in vers 6b “Pas op, moenie verskrik word nie. Dit moet kom, maar dit is nog nie die einde nie.” (weer my eie beklemtoning.)

          Dan, in Mat. 24: 36 kom ons Here se uitspraak: “Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit.” Waarom dan onseker wees en allerlei bespiegelinge maak? Net ons Vader weet wanneer sy Seun sal terugkom! Jesus laat dit egter nie daar nie, want in vers 42-44 maan Hy ons “Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet watter dag julle Here kom nie.

   Onthou dit: as die huiseienaar geweet het watter tyd van die nag die dief kom, sou hy wag gehou het en nie toegelaat het dat daar in sy huis ingebreek word nie. Om dieselfde rede moet julle ook altyd gereed wees, want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie.”  

  Nou, as dit nie die einde is nie, waarom dan my gevoel van “opgewonde afwagting”? Suiwer oor alles wat tans in ons land – en oor die wêreld heen – gebeur. Sodra daar nood van die een of ander aard is, soek mense na ‘n anker. So noem Stephen in sy boodskap dat die Global Media Outreach, ‘n wêreldwye organisasie, berig dat hulle tans daagliks tot 500 000 navrae oor Jesus, die Bybel en geloof ontvang.

Mense wat hul lewens nog nie vir Jesus gegee het nie, of diegene wat wel het, maar daarna afvallig geword het, het ons, as gelowiges, se getuienis nou nodiger as ooit tevore. Dis nou die tyd om ons Verlosser se lig te laat skyn!

 Dit geld egter nie net vir die wêreld daarbuite nie: ook in ons huise, tussen ons eie mense, is dit dringend noodsaaklik dat ons mekaar bly bemoedig met die kosbare versekering dat God steeds in beheer is en dat Hy ons nóóit uit sy hand sal laat val nie!

 Dit bring ons dan ook by die komende Pase. Wat nog altyd vir die meeste mense ‘n lekker langnaweek van wegbreek – met Goeie Vrydag en Paassondag bloot toevallig deel daarvan – was, gaan vanjaar heeltemal anders verloop. Deur die inperkingsbevel is ons as gesinne op mekaar aangewese en het ons die geleentheid om opnuut onder die indruk te kom van ons Here Jesus Christus se onbeskryflike lyding ter wille van ons as mense. Laat ons die tyd saam gebruik om daaroor te lees en na te dink, sodat dit vir ons elkeen ‘n waarlik geseënde tyd sal wees!

Ons vier beplan om Donderdagaand ons eie “donker nagmaal” by kerslig te hou wanneer At, as hoof en priester van sy eie gesin, die brood sal breek en die beker sal aangee; en my innige gebed is dat ons ons Here en sy Heilige Gees se teenwoordigeid kennelik sal ervaar.

Ook kan ons nie nalaat om mekaar Sondagoggend met die eeue oue “Jesus het opgestaan; Hy het waarlik opgestaan!” te begroet nie.

God se vrede en seën vir jou wat nou hier lees!

Bloemfontein.

6 April 2020