Die evangelis Markus se verhaal

‘n Teksvers wat my vir lank gefassineer het, is Markus 14:51-52 : ‘n Sekere jongman is saam agter Jesus aan, met net ‘n doek om sy lyf. Die mense gryp hom toe, maar hy het die doek gelos en kaal weggehardloop. Hierdie stukkie geskiedenis kom net in die Markus-evangelie voor, wat my destyds vir ds Hannes Janse van Rensburg laat vra het waarom dit dan vir Markus so belangrik was. Hy het met die verduideliking gekom dat die bovertrek waar Jesus en sy dissipels die laaste paasmaaltyd geëet het, aan Markus se moeder behoort het, en dat die “sekere jongman” in die vertelling inderdaad Markus self was. Dit het my aangespoor om, met die Markus-evangelie as verwysing en deur nog ‘n bietjie inligting uit die ander evangelies by te voeg, “Markus se verhaal” te skryf: 

My naam is Johannes Markus.  Die gebeure waarvan ek nou gaan vertel, het in ongeveer 33 n.C. in Jerusalem  plaasgevind. Ek was sommer nog ‘n jong seun, seker so elf of twaalf jaar oud en ek het saam met my ouers, Johannes en Maria, my twee jonger boeties en een sussie in Jerusalem gewoon. Wat Vader se nering was, is nie van belang nie. Wat wel saak maak, is dat hy en Moeder lojale volgelinge van Jesus van Nasaret was. Ja, ék het die Markus-evangelie geskryf; en al was ek nie tydens al die gebeure self teenwoordig nie, het my geestelike vader, Simon Petrus, jare later al die ontbrekende inligting verskaf:  Hy was immers ‘n persoonlike getuie van alles wat met ons Here Jesus verband hou. Al het die ander Evangelieskrywers my weergawe as basis vir hul boeke gebruik, verskyn van hierdie gebeure slegs in my boek. Sien, dis mý skande en verraad waarvan ek vertel sodat dit vir altyd sal bly staan as ‘n aanklag teen my... en al het ek die Here se versekering  van sy vergifnis, kon ek myself ná al die jare nog nie vergewe nie.

 Dit was ‘n paar dae voor die Paasfees. Jesus se intog in Jerusalem het twee dae vroeër plaasgevind en die reiniging van die tempel die dag tevore. Jesus en sy twaalf dissipels het weer die nag in Betanië deurgebring en die volgende oggend na Jerusalem teruggekeer. Ons vind hulle op die tempelplein terwyl ‘n aantal priesterhoofde, skrifgeleerdes en familiehoofde na Jesus en sy geselskap aangestap kom:

 “Met watter gesag doen u hierdie dinge? Wie het u hierdie gesag gegee om dit te doen?”, het een van die skrifgeleerdes gevra, waarop Jesus gereageer het met “Ek gaan julle een ding vra, en as julle My daarop antwoord, sal ek vir julle sê met watter gesag Ek hierdie dinge doen. Die doop van Johannes, was dit van God of van mense afkomstig? Antwoord My.” 

Daarna het die skrifgeleerdes en priesterhoofde onder mekaar geredeneer: “As ons sê: ‘Van God af, sal hy sê: ‘Waarom het julle hom dan nie  geglo nie?’

“Maar moet ons dan sê: ‘Van mense af? Ons kan dit tog nie doen nie; julle weet tog die mense glo vas Johannes was ‘n profeet!” 

Die skrifgeleerde antwoord Hom : “Nee, Meneer, ons weet nie”

“Dan sê Ek ook nie vir julle met watter gesag ek hierdie dinge doen nie.” Hy sê verder:

“‘n Man het ‘n wingerd aangeplant en ‘n klipmuur daar rondom gebou. Hy het daarin ook ‘n parskuip uitgekap en ‘n wagtoring opgerig. Toe het hy dit aan boere verhuur en daarvandaan weggegaan. Op die vasgestelde tyd het hy ‘n slaaf na die boere toe gestuur om by hulle sy deel van die wingerd se opbrengs te kry. Hulle het hom egter gegryp en geslaan en met leë hande weggejaag. Daarna het  hy ‘n ander slaaf na hulle toe gestuur. Hulle het hom oor die kop geslaan en hom uitgeskel. Hy het nog ‘n ander een gestuur en vir hom het hulle doodgemaak. Later het hy nog baie ander gestuur; hulle het party geslaan en ander doodgemaak. Hy het nog net een oorgehad, sy geliefde seun. Heel laaste het hy hom na hulle toe gestuur met die gedagte: hulle sal tog my seun ontsien. Maar daardie boere het vir mekaar gesê: Dit is die erfgenaam dié. Kom ons maak hom dood; dan sal die erfenis on s’n wees.’ Hulle het hom toe gegryp en doodgemaak en hom uit die wingerd uitgegooi.

Wat dink julle sal die eienaar van die wingerd nou doen? Hy sal kom en die boere om die lewe bring en die wingerd vir ander mense gee. Julle het tog al in die Skrif gelees: Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword. Dit is deur die Here gedoen en is ‘n wonder in ons oë.”

 Die priesterhoofde het toe sag met mekaar begin praat: “Julle besef dat hy op ons sinspeel, nè? Só kan dit nie aangaan nie – hy is aanhoudend besig om ons gesag uit te daag! Ons sal net eenvoudig aan ‘n plan moet dink om Hom te laat vang.” Maar ‘n ander een antwoord:

"Ons moenie oorhaastig wees nie – die mense is nou heeltemal aan sy kant. Ons kans sál kom, daarvan is ek seker.”

Dit was egter nie die einde van ons leiers se slinksheid nie. Volgende het hulle ‘n paar van die Fariseërs en Herodiane na Jesus toe gestuur om Hom met ‘n vraag in ‘n strik te vang.

“Meneer, ons weet dat u iemand is wat u mening eerlik uitspreek sonder om mense in aanmerking te neem, want u let nie op die aansien van persone nie. U is getrou aan die waarheid en so maak u die wil van God bekend. Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal, of is dit nie? Moet ons betaal, of moet ons nie betaal nie?”

Jesus het egter geweet dat hulle huigel, en Hy het vir hulle gesê:

“Waarom stel julle vir My ‘n strik? Bring vir My ‘n muntstuk dat Ek sien.”

“Hier is ‘n muntstuk, Meneer.”

“Dankie. Wie se kop en naam is hierop?”

“Die keiser s’n.”

“Gee aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God  behoort.”

Die fariseër kon maar net aan sy vriende toegee: “Weet julle, ek moet erken dat dit ‘n goeie antwoord was.”

Daarna het ‘n paar Sadduseêrs na Jesus toe gekom. Dit is hulle wat beweer dat daar nie ‘n opstanding is nie.

“Meneer,” het die een gesê: “Moses het vir ons voorgeskrywe: ‘As iemand se broer sterwe en ‘n vrou agterlaat maar nie kinders nie, moet hy met die weduwee van sy broer trou en ‘n nageslag vir sy broer verwek.’ Nou was daar sewe broers. Die oudste het getrou en by sy sterwe geen kinders gehad nie. Die tweede het toe met die weduwee getrou, maar hy het ook gesterwe sonder om kinders agter te laat, en die derde net so. Nie een van die sewe het kinders by haar gehad nie. Heel laaste het die vrou toe ook gesterwe. Met die opstanding, wanneer hulle uit die dood opstaan, wie van hulle se vrou sal sy wees? Al sewe het haar mos as vrou gehad.”

Jesus antwoord hom: “Is die rede waarom julle dwaal, nie juis dat julle nie die Skrif ken nie en ook nie die krag van God nie? Ja, want wanneer die mense uit die dood opstaan, trou hulle nie meer nie, maar is hulle soos die engele in die hemel. En dat die dooies opgewek word, het julle dan nie in die boek van Moses, in die gedeelte oor die doringbos, gelees hoe God vir hom gesê het: ‘Ek is die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob’ nie? Hy is nie ‘n God van dooies nie maar van lewendes. Julle is dus heeltemal aan die dwaal!”

Een van die Fariseërs het daar naby gestaan en luister na wat alles gesê word. Mens kon sien dat hy beïndruk was met Jesus se antwoord en hy het besluit om sy eie vraag te stel.

“Wat is die heel grootste gebod?”

Jesus antwoord: “Die eerste gebod is: ‘Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here. Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.’ Die tweede is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Geen ander gebod is groter as dié twee nie.”

“Pragtig, Meneer!” het die fariseër uitgeroep. “Dit is waar wat u gesê het: ‘Die Here is die enigste God,’ en ‘daar is geen ander God as Hy nie.’ En ‘om Hom lief te hê met jou hele hart en met jou hele denke en met al jou krag’ en ‘om jou naaste lief te hê soos jouself’ is van meer belang as al die brandoffers en ander diereoffers.”

Jesus het hom stip aangekyk en gesê: “Jy het regtig verstandig geantwoord. Jy is nie ver van die koninkryk van God af nie.”

Daarna het niemand dit meer gewaag om Jesus ‘n vraag te stel nie, en Hy het regoor die offergawekis gaan sit en kyk hoe die mense geld daar ingooi. Baie ryk mense het baie geld ingegooi. Daar het toe ‘n arm weduwee gekom en twee muntstukkies ingegooi. Dit was baie min werd.

Jesus sê toe aan sy dissipels: “Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander mense wat iets in die offergawekis gegooi het. Hulle het almal uit hulle oorvloed iets ingegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe.”

Toe Jesus en sy dissipels buite die tempel kom, roep Petrus uit: “Here, kyk net hier rondom ons op die tempelplein; kyk watter geweldige klippe en watter geweldige geboue!”

“Petrus,” antwoord Jesus “sien jy hierdie groot geboue? Hier sal nie een klip op die ander bly nie; alles sal afgebreek word.”                       

Daarna is Jesus en sy dissipels na die Olyfberg toe waar Petrus, Jakobus, Johannes en Andreas vir Hom gevra het wat die teken sal wees wanneer alles voleindig sal word. Jesus het daarop aan hulle van dinge vertel  wat ver in die toekoms sal gebeur. Dit staan nou bekend as die profetiese rede. Hy het daarin aan hulle die versekering gegee dat die einde nie sal aanbreek alvorens die evangelie nie aan al die nasies verkondig is nie. Hy het ook gesê dat sy volgelinge vervolg sal word, maar die wonderlike versekering gegee:

 “Wanneer hulle julle gryp om julle oor te lewer, moet julle julle nie vooruit bekommer oor wat julle sal sê nie, maar julle moet praat soos wat dit op daardie oomblik aan julle gegee sal word, want dit is nie julle wat praat nie maar die Heilige Gees.” 

Daardie aand het Jesus en sy dissipels in die huis van Simon die melaatse in Betaniê oorgebly.Terwyl hulle aan tafel was, het Maria Magdalena ‘n albaste fles met egte, duur nardusolie oopgebreek en dit op Jesus se kop uitgegiet. Judas Iskariot was baie verontwaardig oor die “vermorsing”, soos hy dit genoem het. Hy het gereken dat die reukolie veel eerder vir meer as driehonderd silwermuntstukke verkoop, en die geld dan aan die armes gegee kon word.

Jesus het egter gesê: “Laat staan haar. Waarom maak julle dit vir haar moeilik? Sy het ‘n goeie daad aan My gedoen. Julle het tog altyd armes by julle, en wanneer julle wil, kan julle aan hulle goed doen, maar vir My het julle nie altyd by julle nie. Wat sy kon, het sy gedoen. Sy het vooruit al my liggaam gesalf as voorbereiding vir my begrafnis. Dit verseker ek julle: Oral waar die evangelie in die hele wêreld verkondig word, sal daar ook vertel word wat sy gedoen het, tot ‘n herinnering aan haar.” 

Dit was die laaste strooi vir Judas. Hy het die geldbeurs gedra en daar was toenemend die gevoel dat hy hy moontlik van dié geld vir eie gebruik geneem het, en dat hy oor die algemeen net té lief vir geld was. Hy het die tafel verlaat en is reguit na die priesterhoofde toe waar hy sy hulp aangebied het om Jesus in die hande te kry. Hulle was natuurlik baie bly daaroor en hulle het belowe om hom daarvoor te betaal. Van daardie oomblik af het Judas na ‘n plan gesoek om Jesus by ‘n geskikte geleentheid te verraai.

 Die volgende dag was die eerste dag van die fees van die ongesuurde brood, die dag waarop ons altyd die paaslam geslag het. Ons huis was in rep en roer; veel erger as gewoonlik voor die paasfees. Moeder het verduidelik dat ons daardie aand baie belangrike gaste sou ontvang. Die bovertrek veral, moes blinkskoon wees. Die kleintjies was naderhand ‘n handvol en Moeder het gevra dat ek hulle na die dorpsplein moes neem om saam met die ander kinders te speel. Op pad terug moes ek sommer ‘n laaste kruik water skep sodat daar genoeg water vir die twaalf gaste sou wees om hulle voor ete te was. Dit was nie vir my vreemd toe Petrus en Johannes by my aansluit en saam met my terugstap huistoe nie; Vader en Moeder het gereeld, soos baie ander inwoners van Jerusalem en groot menigtes uit Galilea, Dekapolis, Judea en van oorkant die Jordaan, lang afstande afgelê om na Jesus se leringe te gaan luister. Moeder was ook een van die vroue wat Jesus en sy dissipels versorg het wanneer hulle in ons omgewing was.

Ek onthou baie goed wat gebeur het om Vader-hulle te laat besef dat Jesus nie maar net ‘n profeet was nie: Vader se suster, tant Susanna, het in die dorpie Nain gewoon. Sy was getroud met oom Josef en hulle het net een seun, Simeon – wat net so oud soos ek is. Daar was groot ontsteltenis in ons familie toe oom Josef so twee jaar gelede siek word en sterf, veral omdat dit nou net hulle twee in die huis oor was. As die familie ontsteld was ná my oom se afsterwe, kan ek nie vertel hoe almal gevoel het toe ons in verlede jaar die tyding kry dat Simeon ook net skielik dood is nie. Ons is dadelik na Nain toe sodat Vader-hulle vir tant Susanna kon bystaan, maar sy was natuurlik ontroosbaar. Die dag met die begrafnis was omtrent al die inwoners van die dorpie in die begrafnisstoet en net toe ons by die dorp se ingang kom, kom Jesus en sy dissipels van voor af. Jesus het vir tant Susanna gekyk, gesien hoe gebroke sy is, en haar innig jammer gekry. Toe sê Hy vir haar: Moenie huil nie! Met dié stap Hy nader en vat aan die baar. Die draers het stil gaan staan, en toe sê Jesus helder en duidelik: Jongman, Ek sê vir jou, staan op! Simeon het dadelik regop gesit en vir tant Susanna gevra wat al die mense dan daar maak!  Almal  teenwoordig is met ontsag vervul en hulle het God geprys. Daarna het Vader en Moeder ook almeer gesê dat Jesus nie hier is om ‘n aardse koninkryk te vestig nie – Hy is veel, veel meer...

In elk geval, die twee dissipels is toe saam met my huistoe sonder om regtig met my te praat. Dit was egter toe hulle by ons aankoms tuis vir Vader sê: ‘Ons Leermeester vra: Waar is my kamer waar Ek die paasmaaltyd saam met my dissipels kan eet?’ dat alles vir my duidelik geword het: Jesus en sy dissipels was die belangrike gaste van wie Moeder gepraat het! Vader het vir hulle die bovertrek gaan wys waar die tafel klaar gedek en alles verder gereed was. Hulle kon dadelik begin om die paasmaaltyd voor te berei.

Ek weet nie hoe laat die aand Jesus en sy dissipels daar aangekom het nie; hulle is met die buitekantste trap op na die bovertrek toe. Omdat  dit ‘n soel aand was, het ek met net my lendedoek aan, op my bed gaan lê en baie gou aan die slaap geraak.

 

In die bovertrek, het Jesus intussen sy bokleed uitgetrek, ‘n handdoek om Hom vasgemaak, water in ‘n wasskottel gegooi en begin om sy dissipels se voete te was en dit dan afgedroog met die handdoek wat Hy om sy lyf gehad het.

Petrus het ontsteld gevra: “Here, gaan U mý voete was?”

“Wat Ek doen,” antwoord Jesus hom, “begryp jy nie noú nie, Simon Petrus, maar later sal jy dit verstaan.”

 "Nee, Here, U sal in alle ewigheid nooit my voete was nie!”  het Petrus volgehou.

“As Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie, Petrus” het Jesus verduidelik.

“Here, dan nie net my voete nie, maar ook my hande en my gesig.”

 Jesus het egter geantwoord: “Hy wat klaar gebad het, is heeltemal skoon; hy hoef later niks meer as sy voete te was nie. En julle is nou skoon, maar nie almal nie.”

Jesus het geweet wie Hom sou verraai; daarom het Hy gesê: ’Julle is nie almal skoon nie.’ 

 Nadat hulle hul plekke aan tafel ingeneem het, verduidelik Jesus: “Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het? Julle noem My julle Leermeester en Here, en julle is reg, want Ek is dit. As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. Ek het vir julle ‘n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen. Dit verseker Ek julle: ‘n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie, en ‘n gesant ook nie belangriker as die een wat hom gestuur het nie. Julle weet dit nou; gelukkig is julle as julle dit ook doen.” Jesus het toe aangedaan geraak en gesê: “Ek verseker julle:: Een van julle sal My verraai.”

Die dissipels was baie ontsteld oor wat Jesus gesê het en het onder mekaar geredeneer oor wie dit kon wees. Petrus het saggies vir die dissipel links van hom gesê: “Johannes, jy sit net langs Hom. Vra tog wie Hy bedoel?”

“Here, wie is dit?” vra Johannes.

Jesus antwoord: “Dit is die een vir wie Ek ‘n stukkie brood wat Ek in die sous ingesteek het, sal gee.....Hier, Judas, dis vir jou. Wat jy wil doen, moet jy baie gou doen!”

“Dankie” sê Judas amper onhoorbaar.

Jesus het voortgegaan: “Ek het baie daarna uitgesien om hierdie paasmaaltyd saam met julle te eet voordat Ek ly. Ek sê vir julle: Ek sal dit nie weer eet voordat dit in die koninkryk van God sy volle betekenis gekry het nie. Die brood wat Ek nou breek, is my liggaam wat vir julle gegee word. Gebruik dit tot my gedagtenis. Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur my bloed, wat vir julle vergiet word. Neem dit en gee dit vir mekaar aan. Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nie weer wyn drink voordat die koninkryk van God gekom het nie.”

“Verskoon my, asseblief,” het Judas gemompel en die tafel verlaat.

Die dissipels het onder mekaar geredeneer dat Judas mos die beursie dra en miskien moes hy nog iets vir die paasfees gaan koop, of dalk wou hy geld vir die armes gaan gee.

Simon, Simon! Luister!” het Jesus gesê, “die Satan het daarop aangedring om  julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk.”

Petrus het geantwoord: “Here, ek is bereid om saam met U selfs gevangenskap en die dood in te gaan.”

Maar Jesus het gesê: “Petrus, Ek sê vir jou: Die haan sal vannag nie kraai voordat jy My drie maal verloën het deur te sê dat jy My nie ken nie. Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle kan wees waar Ek is. En julle ken die weg na die plek waarheen Ek gaan.”

Thomas het daarop gesê dat hulle nie weet waarheen Jesus gaan nie; hoe kan hulle dan die weg daarheen ken?

“Ek is die weg en die waarheid en die lewe,” verduidelik Jesus. “Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie. As julle My ken, sal julle my Vader ook ken. En van nou af ken julle Hom en sien julle Hom. Laat ons die lofsang sing en so die maaltyd afsluit; ons moet na die Olyfberg toe gaan”.

Ek onthou dat ek êrens in die nag wakker geword het van diep mansstemme wat die vertroostende woorde van  Psalm 116 sing. Die bekende lofsang het my nog altyd gerus gestem en ek het sommer dadelik weer aan die slaap geraak.

Terwyl hulle oppad was na die Olyfberg, het Jesus vir die elf dissipels die volgende geleer en dit het deur die jare almeer die  riglyn vir my eie  lewe en geloof geword:

“Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer. Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra. Julle is alreeds reg gesnoei deur die woorde wat Ek vir julle gesê het. Julle moet in My bly en Ek in julle.   ‘n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie. Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie. As iemand nie in My bly nie, word hy weggegooi soos ‘n loot en hy verdroog. Die mense maak sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand. As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra  en my dissipels is.” 

Intussen is Judas Iskariot na die priesterhoofde toe om sy beloning  van dertig silwerstukke en  genoeg manskappe te kry om Jesus gevange te neem. Ek het wakker geword van die geraas van baie mense, met swaarde en stokke gewapen, wat Jesus by ons huis kom soek. Vader het uitgegaan om te sê dat Jesus en sy dissipels nie meer in ons huis was nie, terwyl ek met my oor teen die deur geluister het. Toe ek hoor dat hulle gekom het om Jesus gevange te neem,. het ek yskoud geword. Nee, nie Jesus nie! Die Man met die sagte stem, wat nietemin deur almal gehoor kon word; Hy, met net liefde in sy oë...! Ons kinders kon net nooit genoeg na Hom luister nie: Ons het aanvanklik maar nie  naby die skares grootmense gekom wat na Hom geluister het nie – dit was nie die kinders se plek nie. Ek het egter gou agtergekom dat die ander kinders, soos ons, al nader aan Hom ‘n sitplekkie op die grond gesoek het. Sy stories (die mense het dit gelykenisse genoem) was so anders as dié wat ons geken het en ons wou net meer en meer daarvan hoor. Op ‘n dag het Moeder ons, en van die ander ma’s hul kinders na Jesus toe gebring sodat Hy ons kon seên. Sy dissipels was baie kwaad en het ons verwilder, maar toe Jesus dit sien, was Hy baie verontwaardig en Hy het gesê: Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle. Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie. Toe het Hy sy arms om ons gesit, ons die hande opgelê en elkeen geseën. Daarna het ons net geweet dat Jesus ons Koning is; maak nie saak wat die grootmense gedink het nie!

Vader-hulle het aanvanklik geglo dat Jesus gekom het om ons land van die gehate Romeinse oorheersers te bevry. Die laaste tyd het hulle egter al minder oor ‘n gewapende opstand gepraat; ek dink dis omdat Jesus die mense van liefde vir mekaar en ons vyande geleer het. Hoe meer ek onthou het hoe Hy duisende mense met ‘n paar vissies en broodjies kos gegee het, hoe hy kreupeles en siekes gesond gemaak, blindes laat sien, dowes laat hoor en selfs dooies opgewek het – deur alles wat Hy gesê en gedoen het net liefde versprei het – hoe meer het ek besef dat iets gedoen moes word: Jesus kon nie gevange geneem en voor die Joodse Raad gebring word nie! Al Jesus se volgelinge het teen daardie tyd reeds besef dat ons leiers nie sou rus alvorens Jesus doodgemaak is nie...

Ek het nie tyd gemors deur eers klere aan te trek nie, maar ek is so, met net my lendekleed om, agter die rumoerige skare aan tot in die tuin van Getsemane. Ek was net betyds om te sien hoe Judas met die afgesproke teken – ‘n soen op die wang – vir Jesus verraai.

“Judas,” het Jesus gevra,  “verraai jy die Seun van die mens met ‘n  soen? En trek julle met swaarde en stokke uit soos teen ‘n rower? Dag vir dag  was Ek saam met julle in die tempel, en jullle het nie ‘n hand uitgesteek om My te vang nie. Maar nou dat die tyd vir die duistere magte daar is, het julle julle kans.”        

Dadelik het die klomp lede van die tempelwag nadergestorm en Jesus gevange geneem. En al sy dissipels, al sy volgelinge –  waaronder my eie vader – het Hom in die steek gelaat en weggehardloop... Ek óók – so vinnig soos ek kon, het ek omgespring en soos ‘n verskrikte haas weg...Ag, ekskuus, dis net dat... al is dit soveel jaar gelede...die skande...Die enigste Man sonder enige sonde, wat binne enkele ure sy lewe vir ons, sondige lafaards sou gee... en ons hardloop van Hom af weg...

 Ja, ek het gehardloop... en toe iemand my lendekleed van agter gryp, het ek die doek net daar laat val en... káál verder gehardloop..!   So vinnig soos my bene my kon dra, het ek gehardloop, tot by ons huis waar ek my op my bed opgekrul en gehuil het. Gehuil ja, oor my  skande; oor Jesus wat heeltemal alleen was. So onder die huil het ek aan die slaap geraak en eers wakker geword toe Moeder my saggies aan die skouer skud. Saggies, sodat die kleintjies nie wakker word nie, het sy gesê ek moet hulle in die huis hou en haar belowe dat ons die hele dag nie sou uitgaan nie. Sy en Vader was oppad na die huis van goewerneur Pontius Pilatus om uit te vind wat die leiers met Jesus gedoen het.  Ek het weer aan die slaap geraak tot ‘n hele ruk later, toe my boeties en sussie almal wakker was. Ek het hulle maar probeer besig hou en toe, skielik, het dit donker geword. Nagdonker, en dit in die middel van die dag! Die kleintjies het besef dat iets eienaardig aan die gang was, en hulle het styf teenaan my kom sit. Selfs nadat ek van die olielampe aangesteek het, wou nie een van ons regtig in die huis rondloop nie. Ons het dus maar so bymekaar gesit en ek het saggies vir hulle stories vertel: Al die ou verhale van Noag en die groot vloed, van Moses en hoe hy ons volk uit slawerny gelei het, van koning Dawid wat vir Goliat met sy slingervel en ‘n ronde klippie verslaan het.. Dit was altyd my boeties se gunsteling; en om my sussietjie nie af te skeep nie, het ek van die skone koningin Ester vertel. Ek was nog besig met die verhaal, toe ons huis deur ‘n geweldige aardbewing geskud is. Ons al vier het begin huil van die skok, maar die volgende oomblik het ons tjoepstil gebly en met groot oë na Ouma Salome gestaar. Ons geliefde ouma, wat ons net na die vorige winter begrawe het...en hier staan sy by ons!! “Ouma se kleingoed moenie bang wees nie, hoor! Alles, alles gaan nou regkom; julle sal net sien...” het sy in haar sagte stem gesê. Sy het vir ons geglimlag, omgedraai en verdwyn. Snaaks, ons was glad nie daarna meer bang nie en dit was ook nie lank daarna nie toe die son weer begin skyn het.

Vader en Moeder het ‘n rukkie later teruggekom, maar albei was baie, baie hartseer. Hulle het vir ons vertel dat Jesus dood is en dat hy in ‘n graf wat aan Josef van Arimatea – ‘n lid van die Joodse Raad, wat in die geheim ook een van Jesus se volgelinge was – behoort, begrawe is. Ek kon dit nie glo nie: Jesus was dan net die vorige aand hier by ons aan huis!

Ek het die aand vroeg gaan slaap en gedink dat dit seker die heel hartseerste Vrydag nog ooit was. Wat die sabbat sou oplewer, het ek nie geweet nie; ek het net besef dat ek skielik, oornag, grootgeword het. Die sabbat was soveel stiller as gewoonlik. Dit was ook die heel eerste keer wat ek kon onthou, dat Vader nie na die sinagoge toe gegaan het nie. Hy het net stil voor die venster gesit en na buite gestaar terwyl hy kort-kort sy kop skud. Moeder het stil deur die huis beweeg en sy het baie meer tyd as gewoonlik in die bovertrek deurgebring. Dan het sy gehuil asof haar hart wou breek en dit het ons kinders baie ontstel. Niks was meer lekker nie en ek kon nie dink hoe dit ooit weer beter sou word nie...

 Vroeg die Sondagoggend word ek wakker van iemand wat aan die voordeur hamer.

 "Johannes! Maria!”, het ek Petrus hoor roep. “Maak asseblief oop!”

 Vader het die deur oopgemaak, maar voordat hy nog kon praat, sê Petrus: “Julle sal nie glo wat ek julle gaan vertel nie!  Vroeg vanoggend – dit was nog donker – is Maria Magdalena na die graf toe en sien dat die klip voor die ingang weggerol is. Sy kom toe by my en Johannes aangehardloop en vertel dat iemand Jesus se liggaam uit die graf verwyder het. Ons drie het dadelik na die graf toe begin hardloop, maar Johannes was voor ons ander twee daar. Hy het by die graf ingekyk en die doeke sien lë, maar nie ingegaan nie. Toe ek daar kom, het ek by die graf ingegaan en die doeke sien lê; die een wat om Jesus se kop gedraai was, ook; maar dié het eenkant opgevou gelê. Opgevóú, sê ek vir julle, asof Hy rustig opgestaan, die doek netjies opgevou en eenkant neergesit het! Johannes het toe ook ingegaan en alles presies so aangetref. Al verstaan ons dit nog nie heeltemal nie; is die bewyse daar dat Jesus regtig uit die dood opgestaan het! Wat dink julle?!”

 Moeder het my ‘n kwaai kyk gegee wat beteken dat ek my uit die grootmense se geselskap moet skaars maak. Ek het wel so kort-kort ‘n grepie van hul gesprek gehoor; ook toe Vader vir Petrus sê hy en die ander tien dissipels (ons het die vorige dag verneem dat Judas Iskariot ook dood is) baie welkom is om die res van die dag en aand in ons bovertrek deur te bring. Ek het agtergekom dat Vader en Moeder half bang is vir almal wat nie volgelinge van Jesus is nie. Al die deure is dus dig gegrendel en die dissipels kon gevolglik veilig daar voel.

Ons kinders het ons in ‘n hoek van die vertrek kleingemaak en gehoop Moeder sien ons nie raak nie. Ons was dus getuies van Jesus se verskyning en hoe Hy së: “Vrede vir julle!”

Hy het elkeen in die vertrek – groot en klein – met ‘n sagte glimlag deurgekyk, totdat sy oë ook op my gerus het. Ek wou eers skaam wegkyk, maar iets in sy oë: begrip, vergifnis, liefde, het my gedwing om terug te kyk. In sy blik het ek gesien dat Hy weet van die skande van my naaktheid tydens my lafhartige vlug...Maar Hy het vir my geglimlag, geknik, en ek het net geweet alles is vergewe! 

Jesus het weer gesê: “Vrede vir julle!  Kyk na die merke in my hande en in my sy – dit is regtig Ek! Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook...”

Ja, ook vir my, ‘n lafhartige kind, het Hy gesterf en daarna uitgestuur om die evangelie te gaan verkondig! Ek kon nie wag om net ‘n bietjie ouer te word nie, glo my.  Gelukkig was Vader en Moeder ook daar in die bovertrek teenwoordig toe Jesus ons die opdrag gegee het. Hulle het dus verstaan toe ek die dag aankondig dat ek my by Petrus gaan aansluit. Oor wat alles daarna met my gebeur het tot hier, waar ek my nou in Antiogië bevind, wil ek nie uitwei nie. Dis voldoende om te sê dat ek my Here se sendingopdrag uitgevoer het! Die heel belangrikste is dat ek hier, onder die leiding van die Heilige Gees, dit wat later bekend sou  staan as Die Evangelie volgens Markus, kon skryf. Aan God alleen kom die eer daarvoor toe!

 


 

 

 

 

 

Comments

24.04.2014 12:39

Elma Koster

Jy is op jou stukke!! Geluk! Dit is pragtig!