"...moet net nie doodgaan nie!"

My skoonsus, Susan (wel tegnies was sy my man, At, se skoonsuster want sy was met sy broer getroud), is Vrydag oorlede ná ‘n beroerte-aanval.

 Soos ons gewoonte is, het ons vandag na ons Sondagmiddagete eers teruggesit en rustig gesels oor die komende week se doendinge. Uiteraard is haar herinneringsdiens wat vir Donderdag beplan word, ook bespreek: hoe gaan ons die 1330 km heen-en-weer aanpak, want ons kan regtig nie oorslaap nie: Pa en Kleinsus bly agter en albei het mos maar gesondheidsprobleme waarmee hulle enige oomblik hulp kan benodig. Gaan ek en Sussa per motor, of vlieg ons van Bloemfontein tot Johannesburg en huur daar ‘n motor, of vlieg van Johannesburg tot in Polokwane en huur dáár ‘n motor na Mokopane (vir ons sal dit altyd maar “Potties” wees) en dan terug? Een klein ‘probleempie’ is dat ons baie graag op pad terug by Ludwig se roosplaas wil aandoen en ‘n paar rose aankoop...

So tussendeur draai die gesprek onvermydelik na hoe ons ons laaste groet afgehandel wil hê. Ek vertel wat skoonsus Alma en Piet oor hul afskeidsgeleenthede besluit het: geen tee-en-verversings êrens in ‘n saal nie – nie eens ‘n voorafgaande kerkdiens nie. Die kinders kan maar na die tyd by een se huis bymekaarkom en daar kan hulle ‘n kort diens hou en herinneringe oor die ontslapene deel. Ek het haar summier meegedeel dat ons gesinnetjie – of selfs net ‘n verteenwoordiger – wel daarvoor Pretoria toe sal gaan. Nie om die oorledene se onthalwe nie, want dié gee dan gladnie meer om nie, maar wel vir diegene wat agterbly.  

So tussen die gesels deur bly my gedagtes maar kort-kort na Susan toe dwaal. As daar al ooit ‘n mens was wat werklik geliefd by almal was, is dit sy: vir haar man, drie kinders, klein- en agterkleinkinders was sy die gom wat almal bymekaar gehou het. Ook wyer, tussen haar eie en haar skoonfamilie, was sy die rustigheid vanself; nooit opvlieënd of in die een of ander rusie betrokke nie. Sy was werklik die lojaalste mens wat ek nog geken het. Ons almal sal mos maar die een of ander tyd kla oor ‘n eggenoot of kinders se hebbelikhede, maar nóóit het ek iets in daardie rigting uit haar mond gehoor nie.  ‘n Ware lig in ‘n wêreld wat soms (of liewer, gewoonlik!) maar bitter donker kan wees.

Haar klein- en agterkleinkinders was een en almal dol oor haar: vir hulle was daar maar net een Ouma San en sy was vir elkeen van hulle oneindig lief. In vele gesprekke tussen my en haar het sy telkens gesê dat sy gereed is om te gaan; haar saak met die Here is tog lankal reg! Verder het Bossie haar al meer as sestien jaar gelede ontval en sy mis hom; haar ou liggaam wou ook nie meer nie: haar hart was gedaan, haar bene wou nie verder nie en sy was net só moeg! Al wat haar nog teruggehou het, was haar kinders en dié se kinders. Hoe sou hulle sonder haar regkom? Sy het dan vertel hoe sy Monica se kleindogter, klein Luzé, al daarop probeer voorberei het dat sy op ‘n stadium sal moét gaan: sy het die kleinding op haar skoot getel en verduidelik dat sy “een van die dae in ‘n ander land, ver weg” sal moet gaan bly. Die klein mensie het stil gesit en luister en toe geantwoord: “Dis reg, Ouma San. Jy moet net nie doodgaan nie!”

Donderdag sal ons Susan se geliefdes dus in die oë kyk, wetend dat sy reeds in daardie “ander land, ver weg” aangekom het, en dan saam met hulle huil. Huil oor ‘n groot ou skaduryke boom waaronder soveel mense tuis gekom het, maar nou afgekap is...

 

Bloemfontrein

27 Oktober 2019.


  • My skoonouers, Tal en Ellie Botha

V.l.n.r. Basie, Ansie, Bossie, Kerneels, Susan, Petra, Rina, Ek, Alma, At en Piet. Afwesig: Andries. (Oktober 1996 met At se 50ste verjaardag).

Skoonfamilie

‘n Ewigheid gelede, toe ek nog met sterre in die oë op die drumpel van my getroude lewe gestaan het, kon ek nog vol bravade verklaar dat ek met my liefie trou en nie met sy familie nie. Nou, vyftig jaar later kan ek vir daardie meisietjie – en al die ander soos sy – sê dat niks verder van die waarheid verwyder is nie. Jou skoonfamilie gaan deel van jou lewe word soos jou eie! Die enigste manier om dit te voorkom is om in ‘n ander, ver land – te ver om by te gaan kuier – huis op te sit...

Natuurlik begin ons met die skoonouers, en hiermee kom ons by ‘n raaisel: dis my skoonpa en skoonma (of dan Pa Piet en Ma San) om hulle te onderskei van my eie pa en ma. Nou kry mens dames wat na al vier verwys as “my pa” en “my ma” wat vir my persoonlik ontsaglik verwarrend is: Sou daar tydens ‘n gesprek van “my ma” gepraat word, moet mens eers mooi luister om die konteks presies reg te kry of anders kan jy dalk in ‘n slagyster trap!

       Skoonpa’s is tradisioneel “makliker” as skoonma’s – geen wonder dat daar geen Skoonpa-grappies in omloop is nie. Myne was dan presies so: maklik om tevrede te stel en aangename geselskap; seker omdat hy in baie dinge belanggestel, en dus ‘n wye algemene kennis gehad het.

        Ek dink die skoonma is daar om die nuwe mamma te leer hoe om nie haar toekomstige skoonkinders te behandel nie (dis met die tong-in-die-kies).  Ernstig nou: ek glo dis omdat sy diep in haar hart voel dat geen vrou/man (want skoonseuns ly net so swaar soos skoondogters!) goed genoeg vir haar seun of dogter is nie. Al was daar aanvanklik maar wrywing tussen my en my skoonma, is dinge later jare uitgestryk en ons is nie as kwaaivriende uitmekaar nie. Hoe dit ookal sy, ek is vandag oneindig dankbaar dat ek nie ‘n skoonma is nie, want ek is bevrees dat ek die ultimate sou gewees het: die uwe sou sonder twyfel die ergste skoonma in die geskiedenis na Liewe Heksie laat lyk het!

 

Skoonfamilie sluit egter sibbe ook in, en dit is waar dinge regtig interessant word. Solank elkeen besef dat hy of sy self maar eienaardighede het en ander nie hulle s’n verkwalik nie, kan daar werklik kosbare verhoudings ontstaan. At is die jongste van ses kinders: twee susters en daarna drie broers (vier saam met hom), wat saam met hul onderskeie gades vandag vir my familie is, sonder die “skoon”:

 

Petra en Kerneels

 

Saam met hul drie kinders: Daleen, Daan en Hendrik, was hulle van die eerste dag dat ek hul ontmoet het, die toonbeeld van hoe ‘n gesin moet funksioneer. Wanneer ons daar gaan kuier het, het elke lid van die gesin – nadat die gaste gaan inkruip het – ingespring en alles opgeruim. Mens kon tot laat (en weer vroeg die volgende oggend) vir Kerneels en ou Peet in die kombuis of waskamer hoor woel en werskaf. Sodra hulle die volgende oggend bewus word dat ons begin roer, het Peet en Kerneels aan die kamerdeur geklop met ‘n skinkbord koffie en beskuit – ten volle geklee en gereed vir die dag. Hardwerkend en gasvry is die perfekte beskrywing vir daardie gesin!

         Vir ons twee meisiekinders was ‘n naweekkuier by die Venters ‘n vakansie in die kleine, want hulle kon na hartelus in die swembad baljaar en net uitklim wanneer Tannie Peet roep om verversings te kom geniet. En saans was daar TV met MNet (‘n onbekende luukse) terwyl die grootmense verder op die stoep kuier. Saligheid vir die twee!

          Petra het op ‘n stadium die mooiste truie met haar breimasjien gebrei en ons vier was van haar gereelde kliënte. Wanneer ek na foto’s van ons twee dogtertjies met hul eenderse Tannie Peet-truie kyk, word ek summier baie hartseer.

         Toe Anneli op universiteit was en aan die einde van elke akademiese jaar haar koshuiskamer moes ontruim, kon ons genadiglik die hele pakkaas in Kerneels-hulle se motorhuis berg tot die volgende jaar. (Om dit telkens Ellisras-toe en weer terug te piekel sou moordend wees.) Hulle het nooit iets laat val dat dit vir hulle ongerieflik was nie, maar ek kan my net indink hoe erg dit vir hulle moes gewees het!

          Peet (met Kerneels, haar stil en sterk steunpilaar by haar) het my regtig nooit soos ‘n indringer behandel nie; vir haar kon ek net sowel maar altyd deel van die familie gewees het – ‘n skoonsus duisend! Sy is nou al ‘n hele paar jaar by Jesus en ek mis haar soms soos my eie susters!  

 

Rina en Andries   

                

Ek het die jongste van die Botha-susters, haar man en drie kinders: Elna, Annemarie (Polla) en Christiaan Pretorius ontmoet toe ek nog in matriek was. At het my vroegtydig ingelig dat dié deel van sy familie “sommer báie ryk” is en ek moet erken dat ek bitter geïntimideer gevoel het. (Deur die jare het dit maar so gebly en ek glo nie Rien het my ooit régtig leer ken nie.) Die groot plaashuis met sy pragtige meubels (later, toe hulle daar verkoop en die nuwe plaas gekoop het, is dit deur ‘n binnenshuisversierder ingerig. Insgelyks is die uitgestrekte tuin deur ‘n landskapargitek aangelê) en oorgenoeg bediendes het my regtig keer op keer minderwaardig laat voel; die inwoners van die pragplek egter nie!   

          Rina het ‘n baie sagte plekkie vir haar kleinboet gehad: ek onthou so goed hoe sy in die vroeë jare van ons huwelik, wanneer ons gegroet het voor ons ry, gereeld ongemerk ‘n geldjie in At se hand gedruk het. Sy sou nooit kon weet hoe welkom dit elke keer was nie!      

          Vir ons twee kinders was ‘n kuier daar telkens ‘n fees: hulle kon nie uitgepraat raak oor die spens met die vragte lekkergoed en yskaste met koeldrank en sap te kies en keur nie!

Namate hulle opgegroei het, het oom Dries en tannie Rien al meer belangstelling in hul doen en late getoon. Ons moes altyd breedvoerig uitwei oor Anneli se studies en latere navorsing, asook Eldaleen se werk as verpleegster.

        Rina het die vermoë gehad om haar huishouding moeiteloos te bestuur, sonder om ooit opgewonde of kwaad te word. ‘n Eienskap van haar wat ek absoluut bewonder het, was dat sy nooit iets sleg van ‘n ander gesê het nie. Merkwaardig!  Ook sy is twee jaar gelede Huistoe en ek kan nie verhelp om te voel dat ek ‘n sinvolle verhouding misgeloop het nie...

 

Basie en Marie

 

Basie en Marie het ek eers ná ons troue regtig ontmoet. Alhoewel hulle die dag daar was, was hulle net nóg name van die uitgebreide familie en ek kon hulle nie onthou nie. Aangesien hulle in Potgietersrus gewoon het, het ons gewoonlik net daar aangedoen vir ‘n vinnige koffie op ons pad Pretoria of Brits toe. Hulle twee dogters, Elize en Madeleen, was ook meer ons twee se ouderdom, dus het hulle nie nodig gehad om te neul dat hulle verveeld was nie!

         Basie en Marie is later geskei, waarna sy regtig deur die familie verwerp is.  Ek en sy het egter ‘n besondere band wat gesmee is toe ek en At een naweek vir hulle gaan kuier het: ek was so drie maande swanger met Anneli en ons was regtig arm! My klerekas het uit drie DKW- (dans, kerk en werk) kraamrokkies bestaan. Basie-hulle sê toe dat hulle ons die Saterdagaand uitneem vir ete in ‘n nuwe spogrestaurant. Ek het niks gesê nie, maar Marie het intuïtief geweet wat my dilemma is: ek het nie klere vir so ‘n plek nie! Saterdagoggend het sy my saamgenooi dorp toe om die een en ander te gaan koop en toe ek my weer kom kry, staan ons in ‘n klerewinkel met die mooiste aanddrag! Ek protesteer dat ons nie geld vir sulke klere het nie – daar is ‘n baba op pad! – maar sy wil niks weet nie: ek moet uitsoek en aanpas; sy koop dit vir my... Ek is daar uit met ‘n pragtige, dog eenvoudige swart knielengte rokkie met ‘n wit kantbostuk en moue. Van daardie oomblik af sou sy my agting en liefde hê, ongeag wat mense sê, want niemand het nog nooit voorheen so-iets vir my gedoen nie!                 Marie  woon vandag by hulle jongste dogter, Madeleen, en haar gesin in Australië en ons behou kontak.

 

Basie en Ansie

 

Basie het ná hul egskeiding na Vereeniging verhuis waar hy vir Ansie, ‘n weduwee en ma van twee seuns, Danie en Coenie, ontmoet het. Hulle is vandag al dertig jaar gelukkig getroud.

        Dit was vir my aanvanklik vreemd om Basie saam met iemand anders te sien, maar Ansie is gou in die familie verwelkom. Sy is ‘n fyn, knap vrou wat net mooi alles kan doen: bak en kook, kleremaak, blomme rangskik – noem dit, en sy het ‘n sukses daarvan gemaak. Verder is sy baie betrokke by kerk- en liefdadigheidswerk waar Basie haar fluks bystaan. Dis net jammer dat ons mekaar selde sien, want sy sou my beslis positief kon beïnvloed!

 

Piet en Alma

 

Ek het Piet en Alma die dag met hul troue ontmoet, al is ek seker Alma sal dit nie onthou nie – nes ek met Basie en Marie op óns troue! Daarna moes ek eenmaal by hulle oornag toe my sus-hulle – by wie ek in my matriekjaar gewoon het – die Sondagaand nie betyds tuis kon wees nie. Ek het vreeslik skaam en selfbewus gevoel; jammer dat ek noodgedwonge van hul gasvryheid misbruik moes maak. Van gesels was daar toe nie veel sprake nie; dié het baie jare later eers gekom: Ons het ontdek dat ons dieselfde taal praat wanneer dit by kosmaak en veral geloofsake kom en ‘n uurlange telefoongesprek is vandag selde genoeg!

        Hulle is bevoorreg dat hul kinders, Hennie en Suzanne, nog altyd naby genoeg aan hulle woon om dikwels oor-en-weer te kuier.

 

Bossie en Susan

 

Ek het gou besef dat daar ‘n besondere hegte band tussen At en Bossie, die tweede jongste en vyf jaar ouer as my man, bestaan. Bossie het vir At werk by hulle in Phalaborwa gekry op ‘n stadium toe dit baie nodig was en hulle het vir hom huisvesting ook gegee. At het spoedig vir my ook werk daar gekry en ek moes toe noodgedwonge by hulle intrek aangesien losiesplek destyds maar skaars was. Om ‘n slaapkamer aan my af te staan was uiters ongerieflik vir Bossie, Susan, Tallie en Sybrand wat toe nie langer slaapplek vir kuiergaste gehad het nie. Dit was dan ook die rede waarom ek en At ons sommetjies gemaak en besluit het dat ons swaar gaan kry, maar saam sal ons dit wel regkry. Daarna is ons ma’s gebel en gevra of hulle vir ons ‘n troue binne ‘n maand kon reël, iets wat hulle albei uiters geskok gelaat het – maar Anneli is toe darem eers agtien maande later gebore!

        Hoe dit ookal sy, ons en Bossie-hulle het altyd maar naby mekaar gewoon: aanvanklik in Phalaborwa en daarna het eers ons en toe hulle, na Ellisras verhuis. Dié keer was dit At se beurt om vir Bossie werk te kry! Monica is net nege maande ouer as Anneli en dit het tot gevolg gehad dat ons twee en  hul niggie en twee nefies tot vandag veel nader aan mekaar is as bloot net niggies en nefies: Vir Anneli en Eldaleen is Tallie en Sybrand twee boeties, met Tallie sonder enige twyfel die Ouboet wat hulle nooit gehad het nie. (Hy voel presies dieselfde oor hulle, dié dat hy en Ronél sonder huiwering die pad tussen Zeerust en Bloemfontein aangepak het ten einde by te wees toe Anneli haar doktorsgraad gekry het.) Monica is hul sussie; soos hulle sê a sister from another mother!

          Susan was nog altyd vir my die ouer suster wat ek naby moes hê om raad by te vra. Met haar onuitputlike bron van boererate en kennis van die ou medisynes moes sy meer as eenkeer met my twee help toe hulle nog babas, en ook daarna, was. Kosmaak het vir haar natuurlik gekom en tot vandag sê Eldaleen dat niemand sulke lekker koeksisters soos haar Tannie San kan bak nie – ‘n sentiment wat vele “ou hande” by Ellisras se NHSV eggo.

         Verder is sy vir my die verpersoonliking van lojaliteit: ek het nog nooit in al die jare gehoor dat sy enige negatiewe aanmerking oor haar man of kinders maak nie.

          Bossie was die eerste van die Botha-kinders wat sestien jaar gelede by hul ouers in die hemel aangesluit het en hy word vandag nog steeds baie gemis.

 

Wanneer ek aan my skoonfamilie dink, is dit uiteraard die vroue wat voorop in my gedagtes staan; dit was immers hulle met wie ek die meeste te doen gehad het en nog steeds het. Dit is ontsaglik belangrik dat mens jou met ‘n oop gemoed in so ‘n verhouding begewe. Vergeet van vooroordele en moet jou veral nie steur aan stories wat aangedra word nie!

 

Ons is almal verskillend met uiteenlopende agtergronde. Net soos jy nie kan verwag dat almal met wie jy in aanraking kom, dol oor jou sal wees nie, kan jy ook nie verwag om eenhonderd persent met elke ander persoon wat jou pad kruis, klaar te kom nie. Probeer ten minste! Jou skoonfamilie is jou man of vrou se eie familie en gevolglik vir hom of haar net so kosbaar soos joune vir jou is.

       Dit is van die uiterste belang om te onthou dat jou houding die hele familie-dinamika kan beïnvloed en selfs ontwrig; nie net vir die huidige nie, maar ook die toekoms en dit is regtig nie die moeite werd nie. Probeer jou uiterste bes om jou kant werklik skoon te hou sodat niemand ooit ‘n vinger na jou kan wys nie – jy sal nie spyt wees nie!

 

Bloemfontein

25 Maart 2019.

 


 

Drie vroue

Elkeen het ‘n vrou iewers in sy/haar verlede wat ‘n vormende invloed op sy/haar lewe gehad het – gewoonlik ‘n ma of ouma. Ek is in die bevoorregte posisie dat ek nie een of twee nie, maar sommer drie vroue in my vormingsjare gehad het: Natuurlik my ma, Anna Freischlich Botes, gebore Kolver op 3 April 1906. Vir familie en vriende was sy Baby, maar vir my sus en vir my was sy Moekie (wat later in navolging van my kinders sommer “Oumoekie” geword het) ; maar as láátlam, was daar ook nog my twee (baie) ouer susters: Marie (Maria Elizabeth Cronjé, gebore Botes op 24 April 1931), 18 jaar ouer as ek. Vir my is sy tot vandag Ousus of Meraaitjie; en dan die tweede jongste van ons vyf kinders: Catherina Petronella Viljoen, voorheen Goosen, gebore Botes op 28 November 1933 en 16 jaar my senior. Nadat sy begin publiseer het, het sy “Cato” vir die buitewêreld geword, maar vir my sal sy altyd Kaai of Katryn wees. 

                                                  

                                                               Moekie

 

My ma het gelewe in die jare toe ‘n vrou “net huisvrou” was: altyd maar daar vir haar man en kinders en altyd sonder om te murmureer. Of sy enige onvervulde drome of ideale gehad het, weet ek nie – sy het net ‘n keer of wat laat val dat sy baie graag ‘n verpleegster sou wou word, maar Oupa Jan het sy voet vierkant neergesit: Sý dogter sal om die dood nie ander mense se bedpanne aandra nie! Ek glo dis een van die redes waarom sy so ‘n ywerige leser van liefdesverhale was – so kon sy ontvlug uit haar eie saai bestaan.

 Sy het my geleer dat mens maar min geld kan hê, selfs arm kon wees, maar jou selftrots boet jy nooit in nie – en daar is geen verskoning vir ‘n vuil woonplek nie. Jy maak jou plek mooi met die bietjie wat jy het (sy was ‘n doring met ‘n blik verf en verfkwas: “niks wat ‘n ou, verwaarloosde meubelstuk so vinnig nuwe lewe gee soos ‘n laag verf nie!”). Alles was netjies: ‘n Knoop word dadelik aangewerk, ‘n soom ingesit en ‘n naat toegewerk (nie mooi opgevou, wagtend op die feëtjies om die herstelwerk te doen vir haar nie!) Kouse en sokkies met gate in, is netjies gestop – daaroor was sy nie dol nie, maar dit móés gedoen word en daarom het sy dit gedoen. Ek moet dit ook seker doen, maar dis veel minder moeite – alhoewel sekerlik nie goedkoper nie – om die gewraakte kous/sokkie(s) in die asblik te gooi en nuwes te koop!

 Nog ‘n geliefkoosde sêding was: “wys my ‘n vrou se vadoeke en ek vertel jou watter tipe huisvrou sy is”.....vandaar my eie beheptheid met silwerskoon wasgoed (tot my huismense se ergernis wanneer hulle periodiek met die wasgoed wil help), nie net vadoeke nie (dié lê maklik drie dae of langer in die “skokbehandeling” – hoe lank dit ookal vir daardie vadoek(e) mag neem om sonder ‘n merkie of kolletjie op, in die laai gebêre te word.) Ek wonder egter wat sy vandag sou sê van my huismense se toringhoë stapels klaar gestrykte klere in die strykkamer wat week na week net hoër rys, sonder om weggepak te word....    

 Ek reken elke ma glo haar kind is die slimste, talentvolste, mooiste wat nog ooit die aarde bewandel het, maar dít het sy regtig van haar laatlam geglo. Sy kon so opgaan in die kleinste prestasietjie wat ek behaal het en ek weet vandag dat haar grootste hartseer moes gewees het dat sy, wat nie motor kon bestuur nie, nooit ‘n kunswedstryd of prysuitdeling van my kon bywoon nie. Ek, tipies selfgesentreerde tiener, het nooit aangebied om vir haar ‘n saamrygeleentheid met van my vriende se ouers te reël nie. Sy het dus maar wakker gebly tot ek terug in die huis is en dan vol afwagting gevra: “Vertel nou eers hoe dit gegaan het?!”en haar daarna verkneukel in die sertifikaat/diploma wat ek teruggebring het. In my st 9-jaar moes ek ‘n dramatiese monoloog vir die kunswedstryd in Pretoria instudeer. Dit was so ‘n oor-gedramatiseerde werk oor ‘n vrou in ‘n sielsieke-inrigting, en eers aan die einde van die stuk word dit duidelik dat sy daar (en in daardie toestand) is omdat sy haar baba per ongeluk doodgelê het. Vyftien jaar oud, het ek niks van moederliefde – of die wroeging van die arme, gefolterde siel – verstaan nie, maar die “Drama Queen” in my het gou oorgeneem en ek het my “pyn” hartverskeurend uitgesnik. Sy het telkens, wanneer ek – met haar as gehoor – gerepeteer het, aan die einde saamgehuil. So ‘n week voor my optrede, is ek die middag deur ‘n volwaardige “gehoor” verras: Sy het almal in die woonstelgebou, wat enigsins belanggestel het, na dié middag se repetisie in ons hopeloos te klein sitkamertjie genooi. Ag, hoe het sy nie die tannies se trane aan die einde van my “optrede” waardeer nie! Wat later op die werklike kunswedstryd (wat sy weereens nie kon bywoon nie) gebeur het, het nie regtig saakgemaak nie – “haar” mense se waardering vir haar laatlam se “talent” was vir haar genoeg.

 Sy het net nooit geïrriteerd geraak wanneer ek klavier geoefen het nie, selfs nie wanneer ek ‘n besonder moeilike frase oor en oor herhaal het totdat dit foutloos was nie. Vir haar was dit altyd baie, baie mooi en vandag besef ek dat ek haar geliefde “Largo” uit Xerxes van Händel, bitter selde vir haar gespeel het....   

 By haar het ek onder andere geleer om onvoorwaardelik in jou kind te glo en eenhonderd persent te ondersteun; iets wat ek later jare op my eie kinders probeer toepas het.

 Sy was hartstogtelik lief vir tuinmaak en kon eiehandig – met net die hulp van ‘n ou swartman – ‘n vaal koppie met baie meer klippe op as grond, in ‘n lushof van malse kleur omtower. Dáár het sy my by haar groot “geheim” ingelaat: Kyk maar net in die natuur rond waar die Groot Tuinier die beplanning en plantwerk Self doen...Jy sal nooit spesifieke kleure daar saamgegroepeer sien nie, met ‘n bedding asters hier en ‘n akkertjie leeubekkies daar....en daardie rytjie wat-ook-al wat “soos soldaatjies in ‘n ry” op aandag staan! Ondenkbaar vir haar. Nee, veel eerder moet mens telkens verras word deur ‘n klein, skaam plantjie of ‘n vergete iets anders wat êrens uitloer wanneer jy deur jou tuin stap.

 Moekie het my nooit ge-LEER van die Here nie: Dit was veel eerder ‘n rustige begeleiding na Hom toe. Hy was immers haar konstante Metgesel, en dit is hoe ek Hom ook leer ken het: die Een wat permanent by jou is en net wag dat jy al jou gewaarwordings en emosies, deurlopend deur elke dag, met Hom sal deel. Van al die dinge waarvoor ek aan haar positiewe leiding die nodige erkenning wil gee, is hierdie innige verbintenis met my Skepper die grootste.    

 Oumoekie maak nou al vir drie en twintig jaar in die hemel tuin, maar ek bly haar mis – veral wanneer ek deur hierdie Botha-oerwoud wat ons “tuin” noem, stap. Dis dan wanneer ek die Here opnuut dank vir die ma waarmee Hy my geseën het en by Hom pleit dat Hy aan my, terwyl ek nog die geleentheid het om ‘n impak op my eie kinders se lewens te maak, die insig en leiding te gee om dit soos sý te doen. 

                  

                                                                Ousus

Wanneer ons oor my kleintyd praat, vertel sy altyd van die “baie pakke slae” wat sy my gegee het omdat ek so onmoontlik was. Die waarheid is egter dat sy nie st. 9 voltooi het nie – in plaas daarvan het sy die skool verlaat om Moekie met hierdie nuwe, onbeplande baba te help. Arme Moekie het sekerlik hulp nodig gehad, want op 43 het sy al begin uitsien na haar kleinkinders –  die ouderdomsverskil tussen my en ouboet Blanche se eerste Lucretia was inderwaarheid slegs enkele maande. (Sy was, volgens foto’s van haar, ‘n regte klein engeltjie maar het voor die ouderdom van een jaar aan ernstige griep-komplikasies gesterf). 

Van daardie eerste jare onthou ek niks; my onthou begin eers op ongeveer vyf jaar, toe sy en Danie al getroud was. Hulle het nooit vir baie lank ver van ons af weggebly nie, met die gevolg dat ons hulle dikwels gesien het. Meraaitjie was nog altyd sentimenteel oor goed, maar anders as ek, het sy dit gebêre waar sy die briewe, kaartjies, ens. weer kon kry. As dit nie vir dié eienskap van haar was nie, was kleinode uit daardie dae nou vir altyd verlore.

So ontvang ek nou onlangs ‘n redelike lywige koevert van haar af met briewe, kaartjies en nota’tjies in. Aangesien sy nou in ‘n aftreeoord woon en nie naastenby genoeg bergplek het nie, moes sy maar noodgedwonge van haar kosbaarhede afskeid neem. Daar was onder andere ‘n brief van Moekie in wat sy in 1955, my graad 1-jaar (of sub A – ek was in ‘n Vrystaatse skool), aan die toe- pasgetroude Marie geskryf het.

Gelukkig tog dat Ousus toe maar die prentjies gestuur het wat ek “vemôre vir joffrou gegee het om vir my te berê.” Sy was egter teen daardie tyd so gewoond om te “help”dat sy nie juis anders kon nie!

 Ek onthou dat Ousus baie met haar longe gesukkel het, ‘n toestand wat sedert haar babadae bestaan en veroorsaak het dat sy dikwels bronchitis of longontsteking gehad het wat ons ouers erg bekommerd oor haar gemaak het.Moekie het egter by meer as een geleentheid na Meraai as ‘n “fighter”-tjie verwys en voorspel dat sy ons almal nog sal oorleef. Die longkwaal het veroorsaak dat sy in my st 5-jaar ‘n baie groot longoperasie moes ondergaan waartydens ongeveer die helfte van die een long verwyder sou word. Die eerste paar dae ná die operasie was kinders nie by haar toegelaat nie en ek het haar toe met die volgende briefie probeer moed inpraat: "As jy ooit gebuk gaan onder sorg en pyn/ As jou kruis te swaar word en jou krag te klein/ Tel jou seeninge dan vlug twyfel heen/En jy sien Gods goedheid laat jou nooit alleen." (Ek het ook maar net die Halleluja-boekie waaruit ons kinderkoor Sondae gesing het, as bron gehad! My Bybel het baie jare later eers die belangrikste geword.) 

 

Albei my sussies is uiters kreatief en lief vir handwerk. Ek kon my nog altyd vergaap aan hulle breiwerk: sowat van patrone, kabels en “Fair Isle”, is ek seker kry mens deesdae net in boeke. Wie hulle geleer het om te brei, weet ek nie – seker maar self geleer? Moekie was dit nie, want sy kon gladnie brei nie; hekel wel, ook self geleer. Siende dat hulle al uit die huis was toe ek op die ouderdom kom dat ek dié vaardighede sou wou aanleer, was daar niemand om my touwys te maak nie.....Dié dat ek vandag totaal onnosel is sover dit al hierdie fynere kunsies betref (Moekie het my wel ‘n paar keer probeer touwys maak wat die verskil tussen kort- en lang-beensteke in haar hekelwerk is, maar met my hotklou wat alles agterstevoor-om doen, was dit maar ‘n redelike fiasko!). Sover dit kleremaak en borduur betref, is ek ook maar ‘n nul op ‘n kontrak – maar nie my sussies nie!

Ousus se bedrewenheid met naald en gare het my deur die jare uit groot verknorsings gered. My eerste herinnering is aan ‘n serp wat ons in st. 4 moes brei. Ek het natuurlik niks van die hele ou bedryfie geweet nie; Moekie kon nie help nie en gevolglik moes Ousus maar die gemors regmaak....

In st. 6 moes ons ‘n wit bloesie met ‘n kraag, kort moue en knope van voor  in die naaldwerkklas maak,  maar dit saamneem huistoe was heeltemal verbode. Het ek periode na periode gesukkel!!  Knoopsgate, kraag wat perfek moet pas, ens., ens. Tot ek eendag, kort voor ‘n naweek, besluit dis nou tot hiertoe en nie verder nie en die ou kledingstukkie (waar omtrent nog niks aangegaan het nie) op ‘n manier in my tas uitsmokkel. Ousus het alles waaroor sy beskik uitgehaal en Maandag is my bloesie teruggesmokkel: heeltemal klaar, behalwe vir ‘n soompie hier en daar om my verder in die klas besig te hou – maklik genoeg, selfs vir my. Dit was egter nie die einde van die storie nie: Kort nadat ons st. Sessies se bloesies ingeneem is sodat die nodige punte toegeken kon word, is daar ‘n handwerktentoonstelling in die skoolsaal gehou. Was my verbasing groot toe ek my, of liewer Ousus se, bloesie uitgestal sien met ‘n goue diploma en “1e Prys” daarnaas!

In my matriekjaar het die meisies vroeg-vroeg begin prentjies en idees vir hul matriekafskeidrokke versamel. Goed, hulle het nie heeltemal so oorboord gegaan soos deesdae nie, maar die Pappies moes hul sakke maar goed skud.

(Ongelukkig was ek deel van die “in-crowd” waar geld nie juis ‘n kwessie was nie. My maats het my aanvaar vir wie ek was en het nooit neergesien op my klere, of ons woonstel nie. Die feit dat my pa ver weg gewerk en net een naweek per maand huis toe gekom het, het almal goed gepas: My ma was ‘n “sport” – wat hulle s’n ooglopend nie was nie – en hulle was almal baie tuis by ons, al was dit soveel eenvoudiger as by hulle ouerhuise).

Ek het maar geluister na al hulle idees en voorstellings en net stil gebly: Mý rok was ‘n geheim, en niemand moes probeer uitvis nie! (‘n Goeie verskoning, omdat my”skepping” vir seker nie uit ‘n bekende boetiek sou kom nie). Intussen het ek, Moekie en ou Meraaitjie koppe bymekaar gesit en planne gemaak....Die uiteinde van die saak was ‘n rokkie – so absoluut eenvoudig, dog treffend, dat ek op ons groot aand hoegenaamd nie minderwaardig gevoel het nie: ‘n spierwit, nousluitende (gelukkig het eksamenvrees en die mangelontsteking wat my vir die duur van die eindeksamen baie, baie siek gemaak het, veroorsaak dat enige onwelkome kilo’s sonder ophef weggesmelt het) dacron rok met ‘n effens swaarder voering wat net tot onder die knie gereik het. Vir die werklik besondere deel het Moekie gesorg: Lang gehekelde moue in dun gare en ‘n steek wat ek nie ken nie: yl en fyn, iets wat mens aan ‘n heuningkoek herinner. Die hals was redelik laag en dan is daardie gehekelde deel herhaal tot by die keel waar dit met ‘n smal, rooi fluweellint ingeryg is. Die moue was met dieselfde rooi fluweellint by die polsgewrigte ingeryg. Om die regte skoene te kry, het ‘n bietjie voetslaan in Pretoria se strate gekos, maar dit was die moeite werd: ‘n wit toongedeelte, met dieselfde skakering rooi (as die lint) enkelbandjie, oop hakgedeelte en medium-hoë hakkies.

My skouerlengte hare was, in ooreenstemming met die mode van daardie tyd, in ‘n massa los krulle bo-op my kop gestapel. Ek het vir ‘n kort rukkie daardie aand soos ‘n ware prinses gevoel – ook maar net tot die volgende koorsvlaag my beetgepak het! Wat van daardie pragstuk geword het, weet ek nie... ek wens net ek het dit beter opgepas!

 

 

                                                               Katryn 

Soos wat ‘n mens in ‘n ouerpaar altyd een kry wat streng is en dissiplineer, terwyl die ander ouer altyd maar ‘n bietjie toegee en bederf, het ek my twee sussies nog altyd gesien: Meraaitjie die oudste, alhoewel sy fisiek myle kleiner as ek is, is die een wat probeer het om my op die “regte” pad te hou – soms deur te raas, en soms deur die plathand in te lê. Dit verander egter niks aan my liefde en respek vir haar nie...ek het dit immers verdien! Namate ek ouer geword het, was sy maar altyd daar wanneer ek iets net eenvoudig met iemand moes deel. Veral nadat Moekie huis-toe is, is dit my dierbare sussies wat direk ná mekaar gebel word wanneer ek ‘n oor nodig het! 

 Kaai, aan die ander kant, was die een wat altyd bederf het. Goed, sy het haar lewe lank, totdat sy aftree-ouderdom bereik het, buitenshuis gewerk en gevolglik ‘n eie salaris verdien (al het haar eerste man, Hannes, erger as ‘n jaloerse minnaar oor haar salaris in hul gesamentlike bankrekening gewaak) en kon sy my elke nou en dan met ‘n bederfie verras.

 My eerste herinnering aan so ‘n geval, is my negende verjaardag toe my grootste wens een was vir ‘n pop-teestel...en my Sus is deeglik daaroor ingelig! My verjaardag het gekom en daarmee saam ‘n pakkie wat vir my by die poskantoor wag: My teestel, en nie van plastiek nie, nee – regte, egte porselein! Dit was ‘n kosbaarheid wat dosyne koppies tee aan my poppe voorsien het.

 Katryn het my aan die wêreld van die klassieke musiek bekendgestel – iets waarvoor ek haar, solank ek leef, dankbaar sal wees. Gedurende my st. 5 en 6 –jare het ons en hulle ‘n groot, outydse dubbelverdiepinghuis in Johannesburg gedeel. Aangesien haar gewese man en my pa saam weg gewerk het, het ons oorgenoeg tydjies gedeel. Dit was juis tydens een so ‘n geleentheid dat sy my saamgeneem het om na my eerste opera te kyk: Madame Butterfly, tot vandag nog my gunsteling.

 Nie lank daarna nie, het Kaai dan ook gesorg vir die grootste musikale belewenis van my hele lewe: Gedurende 1961 het die Russies-gebore Igor Strawinski, een van die grootste moderne komponiste, Suid-Afrika besoek. Ten spyte van sy diep-in-die tagtig jaar, het hy die Nasionale Simfonie-orkes gedirigeer in die uitvoering van een van sy eie werke (wat dit was, kan ek glad nie onthou nie). Alhoewel ek skaars twaalf was, het dit ‘n absoluut onuitwisbare indruk op my gemaak, en sal ek die hele ambience van daardie aand onthou solank ek leef. Katryn is self uiters knap met naald en gare, en sy het spesiaal vir daardie uitvoering vir my die mooiste rok gemaak: Koningsblou fluweel, met driekwartmoue en ‘n V-rug en voor, al om die hals en agter teen die V af, het sy spierwit gansdons (swan’s down) vasgewerk....So mooi!

Toe ek en At (ook die jongste, maar van ses kinders) besluit op ‘n troudatum, was daar groot opgewondenheid onder my sussies se dogters (hulle albei het, soos ek ook, later) net dogters: Meraai vyf en Kaai twee – want sien, hulle gaan almal “saam trou”!  Saam met skoonsusters Petra se een en Rina se twee, het ons agt konfettimeisies gehad; en was hulle pragtig met suurlemoengeel- en appelgroen-rokkies (natuurlik deur hul ma’s self gemaak) in dieselfde snit as Bets, my strooimeisie se, en my eie rok....Hulle “entrance” in die kerk, onder begeleiding van Liszt se “Liebestraume”, het ‘n beroering veroorsaak wat ek duidelik kon hoor waar ek, my pa en Bets net voor die kerkdeur staan en wag het.

Daar was nie sprake van ‘n wittebrood nie; eerstens omdat ons nie die geld daarvoor gehad het nie, en tweedens omdat ek nie verlof by my nuwe werk kon kry nie – dis nou afgesien van die Maandag en Dinsdag ná die groot dag. Gevolglik het At se swaer en suster, Kerneels en Petra goedgunstiglik hul huis in Pretoria vir die res van die naweek tot die beskikking van die “honeymooners” gestel. Vir dié geleentheid het Katryn my met die allerlieflikste sagte groen negligé-stelletjie bederf – en ek het regtig soos ‘n koningin gevoel met die sagte chiffon teen my lyf. Die nagkleertjies het ook hul eie storie gehad, want Kaai het dit oorspronklik vir haarself gekoop op ‘n tydstip toe sy seker was dat sy haar ware liefde gevind het – maar sy was weereens teleurgestel..

Sien, dit is een van die grootste verskille tussen my twee sussies (ons praat nie nou van persoonlikheidsverskille nie): Meraai en Danie was vir net ‘n raps langer as vyftig jaar getroud voor hy oorlede is, terwyl werklike huweliksgeluk my Katryn-sus bly ontwyk het. Vandag skryf sy die mooiste liefdesverhale, en ek is só bly om te lees hoe haar vroulike hoofkarakters telkens geluk by die man van haar drome vind!

Dit is dan die drie vroue wie se invloed tydens my vormingsjare grootliks bepaal het wie ek vandag is. Drie geestelik-sterk vroue, vir wie hul tuistes belangrik was, maar hul kinders se geluk nog belangriker! Vernaamste van alles is dat hulle reg deur hul lewens nooit hul oë van die Kruis weggeneem het nie; dat hulle altyd geweet het waar hul krag en hulp vandaan kom.

Al drie van hulle Spreuke 31 vroue, veral vers 30: “Uiterlike skoonheid hou nie, ‘n mooi voorkoms is nie alles nie; as sy die Here dien, dán verdien ‘n vrou om geprys te word” en ek dank die Heer dat Hy my lewe met hulle teenwoordigheid geseën het.....Ek kan my nie ‘n lewe sonder hulle daarin, indink nie!


 

Ek lees vandag die bostaande herinnering aan die drie kosbare vroue in my lewe en ek kan nie anders as om weemoedig te raak nie. Sien, hulle is nou al drie al by Jesus; saam met die drie manne wat ons gesin voltallig gemaak het: my pa, Wiets Jacobus Botes (vir ons almal Dad), my ouboet Johannes Jacobus Botes (ons het hom Blanche genoem) en die jongste seun, Richard Roper Botes (by almal bekend as Toy).

Ek het altyd geweet dat, as 'n laatlam, ek eendag alleen sou agterbly. Ek het egter nooit kon dink hoe onbeskryflik eensaam dit my sou laat nie! Ek mis hulle daar-wees in my lewe, maar ek dank die Here dat daar vir ons 'n weersien wag...

Bloemfontein.

10 Februarie 2019.