Ons "Romeinse" avontuur 2 - 8 Maart 2010
Watter onvergeetlike ses dae was dit nie!!
Dit het alles begin toe Sussa ‘n uitnodiging gekry het om ‘n voorlegging te lewer tydens ‘n konferensie oor globale terreur wat by die Conzorzio per l’ Universita di Pomezia in Rome gehou sou word. Die datum: 4 tot 6 Maart 2010. Sy kom toe dadelik met die idee dat ek moes saamgaan, siende dat sy weet hoe groot my passie vir die Romeinse geskiedenis regtig is. Al my besware is getroef: Haar opgehoopte Voyagermyle sorg vir my vliegtuigkaartjie van Johannesburg tot Frankfurt, terwyl sy self vir die een vanaf Frankfurt tot Rome sou betaal. Sover dit huisvesting betref, bly ons in ‘n dubbelkamer op die kampus – sy het reeds met die organiseerders gereël dat haar ma saamkom, en verder willig ou Pa in om vir sakgeld te sorg.
Toe begin die groot geskarrel: Ek is die vorige week per bus stad toe om vir ‘n visa aansoek te doen, en aangesien Sussa op daardie stadium nog besig was met die aanbieding van ‘n kursus vir die polisie, sou Henk of Elma die dokument (in my paspoort aangebring) die volgende week afhaal. Maar toe begin die groot kopseer: wat van klere?... op die internet, om te sien wat die langtermynweervoorspelling vir Rome is – dit is darem al lente in die noordelike halfrond, nie waar nie? Skok op skok toe ons sien dat die gemiddelde temperatuur gedurende ons beplande kuier in die omgewing van twaalf, dertien grade Celcius sal wees! Sussa het oorgenoeg om aan te trek, maar moi se bosveld-winterklere sal nie naastenby voldoende wees vir ‘n Europese winter nie... Gelukkig het ek ‘n afspraak by ‘n ortopeed op die Donderdag voor ons vertrek, en ou Pa sê ons moet gaan kyk vir thermal underwear – hy is oortuig ‘n ordentlike long john plus bypassende langmoufrokkie sal die ding doen! Sussa weer, glo aan haar cargo pants wanneer sy vlieg: daar is oorgenoeg sakke vir jou paspoort, instapkaartjie, snesies vir ‘n moontlike loopneus en sommer ‘n bietjie geld ook vir die oorstaantye – en al is Ou Moeder hóé outyds, ek moet opsluit ook een kry. Ongelukkig het ons net die Maandagoggend voor ons vlug gehad om daarvoor te soek, met die gevolg dat ek in ‘n twee-nommers-te groot cargo pants (bo gehou deur ‘n gordel wat ek by Alice geleen het – nie dat dit al uit haar kas was nie: ‘n mus, serp, handskoene, sneeubaadjie en Hi-Tech-stewels, plus ‘n lekker ruim skouersak, was die uiteindelike somtotaal van die buit)en ‘n te groot hemp, die vlug aangepak het.
Verder het ek maar elke rolkraagtoppie, warm langbroek (eintlik maar net twee!) plus ‘n denim, moulose frokkies, twee fleece baadjies en al die warm wolsokkies op my naam, ingepak en gehoop op die beste.
Die afskeid Sondagmiddag ná middagete van Pa, Kleinsus en die honde was natúúrlik uiters tranerig – waarom moet mens tog so in twee geskeur word?! Maandag moes daar, buiten die klere, nog ‘n ordentlike voorraad medisyne aangekoop word: Iets vir verkoue, (ons was reeds gewapen met ‘n breëspektrum-antibiotika vir ons albei), my alewige sinus, hoofpyn, sooibrand en ons are wat so maklik boos word van lang sit...en toe kon ons begin pak.
Ons vlug met SAL na Frankfurt sou om 20:20 vertrek, dus het Sussa gereken ons sal veilig wees indien ons om 18:00 op die lughawe is. Met die inweeg was haar silwer Voyagerkaartjie nie eens nodig nie, aangesien ons bagasie presies 20kg elk geweeg het! Sy het ons sitplekke vooraf via internet bespreek en ons kon toe aan weerskante van ‘n vier-ry sit, met die twee sitplekke tussen-in (aangesien die vlug glad nie vol was nie) net ons s’n vir lekker slaap later.
Ons het ná ‘n 10-uurlange vlug om 06:15 op Frankfurt geland en siende dat ons bagasie aangestuur word, het ons ‘n hele vyf ure gehad om te verwyl.
Hier het ek besef dat dit ‘n baie goeie ding is om ‘n ervare reisiger saam met jou te hê: So met die aanstap na die doeane toe, hurk Sussa en begin haar stewels uittrek. “En nou, my kind?” wil ek weet. “Ons is mos nie oppad na ‘n moskee toe nie?!” “Trek Ma s’n asseblief ook uit – glo my, dit voorkom erge frustrasie!” Stewels in die hand stap ons in die ry aan en ek kon sien hóé van die ander reisigers ons aankyk. By die kontrolepunt aangekom, is die stewels saam met die ander handbagasie in ‘n houer deur die x-straalmasjien, en ons is op ons sokkies deur die skandeerder. Toe eers sou van die mense wat ons so skeef aangekyk het, sien waarom ons dit gedoen het: Al die stewels se metaalgespes laat daardie skandeerder skree asof dit betaal word, en toe moes hulle ook maar skoene uittrek, terwyl die mense agter hulle al hoe ongeduldiger word... (Dankie tog, my kind, het ek gedink – as dit my moes oorkom, sou ek teen hierdie tyd so verbouereerd gewees het dat hulle my sou moes weglei!)
Heel eerste het ons op ‘n kitsbank afgestorm om euro’s te trek sodat mens darem ‘n koffietjie kon koop. Daar het Ousa vir my ‘n belangrike les geleer: Moet net nooit die pryse terug na rand toe verwerk nie – veral nie euro of pond nie.. Mens sal jouself siek maak en naderhand weier om te eet omdat alles so duur is! Op daardie stadium was ‘n euro gelykstaande aan net meer as tien rand, wat beteken het dat ‘n lekker gesondheidsbroodjie van ses euro jou sestig rand kos; ‘n pizza soos ons op ‘n stadium in Rome geëet het (met ‘n dun kors – dis al manier wat die Italianers ken – en ‘n dun vulseltjie, nie naastenby soos ons s’n nie!, voldoende vir een persoon; dit lê jou bord vol en mens eet dit met ‘n mes en vurk) het ‘n koel R120 (ϵ12) vir elkeen gekos! Gelukkig het ons vooraf besluit om nie te gaan om te shop nie – dié keer kyk ons net...
‘n Taxi het ons ná ‘n vlug van net minder as twee ure op Rome se Fiumicino-lughawe ingewag om ons na die universiteitskampus toe te neem. Sussa het self nie geweet presies waar dit is nie, en ons het eers heelwat later ontdek dat dit in Pomezia, ongeveer vyf-en-twintig kilometer buite Rome, geleë is. Donatella Nobili, wat al die reëlings getref het, het ons daar ingewag en vertel dat al die ander afgevaardigdes eers die volgende aand verwag word. Ons het dus die vrymoedigheid gehad om haar te vertel dat ons graag die volgende dag, Woensdag, (die 3e Maart), ‘n besoek aan Pompeii sou wou bring. Sy het dadelik gereël dat ‘n taxi ons kom oplaai en tot by die Pomezia-stasie neem (regtig nie ver nie, maar het ons R500 elk vir ‘n retoerrit gekos). Vanaf Pomezia per metrotrein tot by Rome Termini (dit is klaarblyklik die meeste Italianers se vervoermiddel: mens betaal R40 en dan kan jy soveel keer – en waar jy wil – op ‘n dag op en afklim. Ons het wel deeglik daarvan in die dae wat kom, gebruik gemaak!). Vanaf Rome, deur die pragtige platteland, tot by Napels se stasie (‘n afstand van ongeveer 200 km) waar ‘n omie geklee in ‘n spoorweguniform hom oor ons ontferm het, en ons deur ‘n doolhof van gange, dosyne trappe en roltrappe gelei het tot waar ons ons kaartjies na Pompeii Scavi gekoop het, en daarna tot by die platform waar ons moes opklim. Toe eers sê hy dat sy hulp ons net 20 euro (dus R200) elk kos, maar ons was dit eens dat daardie geld goed gespandeer is; sonder sy hulp sou ons baie kosbare tyd vermors het. Die 24 km per luukse sneltrein het ons elk ϵ88 (dus R880) retoer gekos, maar daaroor het ons nie gekla nie aangesien ons Pomeii net eenvoudig moes sien.
En wat ‘n onvergeetlike ondervinding was dit nie!! Pompeii as stad het reeds tussen die 7e en 8e eeu v.C. tot stand gekom. Op 24 Augustus 79 n.C. was dit ‘n bedrywige en florerende hawestad toe die nabygeleë vulkaan Vesuvius sonder waarskuwing uitgebars, en in die loop van twee dae die hele stad onder twintig meter vulkaniese as begrawe het. Vir die volgende 1 600 jaar het dit in die vergetelheid verdwyn totdat dit per toeval in 1592 herontdek is. Sedertdien gaan die argeologiese opgrawings onverpoosd voort en is groot dele van die stad reeds blootgelê.
Ons twee het ons behoorlik vergaap aan die uitleg van die huise, die kunswerke teen die mure en mosaïek op die vloere wat pragtig behoue gebly het. (Dit was dan ook tydens ons ronddwaal deur die straatjies dat ek my eerste klippie as aandenking opgetel het). Ons het natuurlik nie naastenby alles gesien nie – daarvoor was ons tyd net te min – maar ons het deeglik onder die indruk van die menslike drama wat daar afgespeel het, gekom. Aangrypend was die figure wat blootgelê is en mens uit hul posisies kan sien hoe groot hul ontsetting oor hul onvermydelike einde was; en hoe ander, weer, duidelik vrede met hul lot gemaak het: nie probeer vlug het nie en soms net vir die oë gekeer het. In The Garden of the Fugitives is ‘n groep mense gevind wat voor die verwoesting uit probeer vlug het en net daar oorval is; roerend is die ma wat haar baba met haar liggaam probeer beskerm. By die Forum Olitorium het ek en Sussa ‘n figuurtjie gesien wat vir ons, as ware diereliefhebbers, baie ontstellend was: die hond wat voor sy eienaar se deur vasgemaak gevind is. Dis duidelik uit die manier waarop sy bene verwring is dat hy vergeefs alles moontlik probeer het om los te kom en te vlug voor die allesoorweldigende, verstikkende as.
The Muleteer is in ‘n sittende posisie gevind met die geraamte van sy donkie langs hom; hy was een van dié wat net vir sy oë geskerm het.
‘n Mens kom deeglik onder die indruk dat dit ‘n ramp was wat vandag nog steeds voorkom: of dit ‘n tsunami, aardbewing of modderstorting is, die impak, drama en trauma bly dieselfde.
Toe ons vroegaand by die kampus se hoofgebou aankom, was die hele voorportaal gevul met die res van die afgevaardigdes en dit was vir Sussa in ‘n hele paar gevalle ‘n blye weersiens. Of hulle vanaf Brittanje, die VSA, Spanje, Israel of Serbië kom (sy was die enigste uit Afrika), hulle deel dieselfde passie vir hulle (eensame) werk. Ek het haar net daar gelaat sodat hulle mekaar kon groet en nuus uitruil, en stilletjies na ons kamer toe weggeglip.
Die hele Pompeii-ervaring het in elk geval só ‘n indruk op my gelaat dat ek nie regtig vir vreemdes kans gesien het nie.
Die volgende dag was die eerste van die konferensie en ek het gesê Sussa moet haar tog nie oor my bekommer nie; ek gaan Rome so ‘n bietjie verken. Die weer was die vorige dag in Pompeii eintlik heerlik gematig, maar ek het ‘n bietjie vergeet dat dit baie meer suid geleë is. Geklee in net ‘n rolkraagtoppie, langbroek en Alice se baadjie en stewels, is ek na die Pomezia-stasie toe. Terwyl ek op die perron vir die volgende trein na Rome gestaan en wag het, het ek begin besef dat ek dalk ‘n fout gemaak het: Daar het naamlik ‘n reënbui begin uitsak en die wind het al ysiger begin waai. Ek het gelukkig my sambreel daar gehad, maar dit het nie veel gehelp nie – ek was spoedig sommer lekker nat en yskoud. In Rome aangekom, het ek vir my iets te ete by een van die vele eetplekke op die stasie gekry en daarna is ek buite toe: terug na die reën en die yskoue wind! Nadat ek vir my ‘n lipstiffie aangeskaf het (ek het my bruin een so goed gebêre dat ek dit nêrens kon kry nie), het ek besluit dat ek lank genoeg dapper was en die eerste trein terug na Pomezia gehaal.
Daar aangekom, het ek besef dat ek my tweede fout vir die dag gemaak het: ek het nie vooraf vir ‘n taxi gereël nie; gereken dat hulle sekerlik by die stasie vir passasiers wag. Ek het eers later besef dat taxi’s regtig die duurste vervoermiddel in Italië is en hulle beslis vooraf bestel moet word! Ek het ‘n hele ruk op die bankie gesit en wag en gehoop op ‘n wonderwerk – dit is, totdat dit weer in alle erns begin reën het en ek maar na die wagkamer toe geskuif het. Bykans twee ure later, met mense wat kom en gaan, kom daar toe ‘n ouerige man aan wat in gebroke Engels vra of ek vir ‘n bus wag. Nee, vir ‘n taxi om my universiteit toe te neem. Intussen gebruik ek Sussa se selfoon en skakel met gereelde tussenposes vir Donnatella en haar kollega, Franceska Centalo, om te vra dat hulle asseblief net ‘n taxi sal reël – maar hulle is besig met die konferensie en hul fone is afgeskakel!
Net daarna kom die hulpvaardige omie sê dat daar nou ‘n bus is wat my tot by die universteit sal neem (of so het ek aan sy gebroke Engels verstaan) en wat ‘n verligting was dit nie! Die roete wat die bus gevolg het, was heeltemal vreemd, maar ek het afgelei dat ons wel in Pomezia moes wees. Ná ‘n lang ruk van ry, stop, mense op-en aflaai, stop ons egter in die middel van die dorp (of so het dit gelyk), die busbestuurder wys na staanplekke oorkant die straat en sê “You taxi!” en hy maak die deur oop sodat ek kan afklim… en daar staan ek, by ‘n taxistaanplek sonder enige taxi’s, dis donker, niemand antwoord hul selfone nie en die ergste van alles: dit het weer liggies begin reën… Kort daarna begin Sussa se selfoon egter lui en was ek bly om haar stem te hoor! Sy was teen daardie tyd al erg bekommerd omdat ek nie uitkom nie, maar kon gelukkig vra dat Donnatella my kom haal – ek moes net mooi beduie waar presies ek staan en wag. Terug by die universiteit, het ek die uitnodiging om saam met die groep vir aandete uit te gaan, baie vriendelik van die hand gewys: ek was net te verkluim om aan kos te dink en het Sussa bly verseker dat ek wel genoeg deur die dag geëet het, en dat sy asseblief moes gaan; ek kon net aan ‘n warm bad en die bed dink!
Die volgende oggend het ek besluit om ‘n baie lae profiel te handhaaf en net in die kamer te bly. My keelseer, genies en aanhoudende hoofpyn het geen twyfel gelaat nie dat ek besig is om goed siek te word van die vorige dag se kort-kort natreën – en dit kon ek nie bekostig nie: Rome het vir ons gewag!
Ek en Sussa het die aand die ysige koue trotseer en gou uitgeglip en aandete in ‘n restaurant ‘n entjie weg van die hoofgebou af gaan nuttig, waar ons met die heerlike Italiaanse vino rosso kennis gemaak het. Hulle rooiwyn (veral die huiswyn, vino della casa) is baie ligter as ons s’n en word in halfliter- en eenliter-kraffies bedien.
Sussa se voorlegging sou die volgende oggend die voorlaaste van die konferensie wees en sy het gevra of ek wou kom luister – ek het lanklaas die geleentheid gehad. Ek het vir my ‘n sitplek in die heel agterste ry gekry en die teenwoordiges ongemerk beloer. Daar was net een persoon wat ek aan ‘n foto herken het: David Spencer van Amerika, wat ook op die konferensie in Colombia was. Sussa het begin deur die organiseerders te bedank vir die geleentheid om daar te wees en dit sluit haar ma in. Sy het in Engels voortgegaan om my te bedank vir die ondersteuning deur die jare, en toe kyk sy reguit vir my en voeg in Afrikaans by: “Baie dankie, Mamma– ek bedoel dit!”
Natuurlik moes ek baie hard aan die knop in my keel sluk.. Haar voorlegging was regtig interessant en onderhoudend en ek kon verstaan waarom sy so gewild as spreker is – sy doen geweldig moeite met haar aanbiedings. Toe sy ná afloop van haar voorlegging haar plek langs my inneem, leun ‘n waardige gryskopman wat twee rye voor haar gesit het om om iets in haar oor te fluister, waarop sy te oulik bloos. Op my vraag wat hy gesê het, antwoord sy : It’s not only your mom who is proud of you; we are too! Ek het skoon nagelaat om te vra watter instansie hy verteenwoordig, maar dis sulke dinge wat mens diep dankbaar laat.
Ons het die vorige aand vir Donatella gevra of sy afgehaal sou voel indien ons die volgende twee aande liewer vir ons plek in ‘n bed-en-ontbytplek (‘n pensione) in Rome sou kry. Ons tyd was uiters beperk en Pomezia was net té ver om regtig sight seeing te doen. Sy het glad nie omgegee nie en sommer dadelik op die internet beginrondsoek. “Yesrome” het heel goed gelyk en teen ϵ70 vir ons twee per nag, was dit ‘n winskoop siende dat ons baie meer as dit vir ons treinkaartjies Pompeii toe betaal het. Donatella sê dat sy vir David (Spencer) ook daar ‘n kamer vir Saterdagnag bespreek het, aangesien hy Sondagoggend sou terugvlieg VSA toe – die ander is almal in die loop van Saterdagmiddag en –aand terug na hul tuistes toe. Ons was aan die een kant bly oor manlike teenwoordigheid wanneer ons Rome se strate ná donker binnevaar, aangesien dit vir ons heeltemal vreemd sou wees. Hy was om nog ‘n rede welkom in ons geselskap: Hy en sy gesin was vir vyf jaar lank in Suid-Amerika woonagtig en hy kan vlot Spaans praat. (Die stam van die woorde in Spaans en Italiaans verskil so min dat hy laasgenoemde baie goed verstaan en homself verstaanbaar kan maak). My Italiaanse fraseboekie, gemeng met my verroeste matriek-Latyn, kon dus so ‘n bietjie rus!
Tussen ons gastehuis en die Termini was daar net een straat om oor te steek, dus was ons sentraal; die beste plek om te wees! Ons twee en David het ons bagasie in ons kamers gebêre en dadelik begin rondverneem na waar die Colosseum gevind kon word.
Die Colosseum is seker die bekendste landmerk in Rome. Keiser Vespasianus het met die bouwerk daaraan begin en dit is deur sy seun Titus voltooi. Die massiewe stadion is in 80 n.C. ingewy met ‘n spele wat ‘n honderd dae geduur het en waartydens 5 000 wilde diere gedood is. Benewens die dood van wilde diere swaardgevegte, is die Colosseum vir ons as Christene van die grootste belang omdat dit die plek is waar die vroeë martelare in die arena gelaat is om deur wilde diere verskeur te word, terwyl die bloeddorstige skare dit gillend aanmoedig. Die heel laaste spele (waartydens net wilde diere gedood is) is in 523 n.C. gehou.
Die hekke na die Colosseum was ongelukkig reeds gesluit, maar ons kon die nabygeleë indrukwekkende Triomfboog van Konstantyn wat uit 315 n.C. dateer, baie goed bekyk.
Ek was half jammer vir David, siende dat hy die volgende oggend vroeg sou vertrek en dus nie baie gou weer die geleentheid sou kry om die Colosseum te sien nie. Aan die ander kant was ek regtig bly, want toe kon ons rustig met die Via del Fori Imperiali langs stap en op ‘n afstand (aangesien die hele area as gevolg van restourasie-werk afgesper was) na die Forum, met sy rykdom van argeologiese skatte, en verderaan na oorblyfsels van verskeie antieke tempels kyk. So ook die indrukwekkende bronsstandbeelde van Trajanus, Julius Caesar en Augustus (27 v.C. – 14 n.C), wat keiser was tydens Jesus se geboorte.
Ons kon natuurlik nie naasteby by selfs die belangrikste plekke uitkom nie – ons tyd was daarvoor net heeltemal te min. (Soos Sussa op ‘n stadium sê: Die hele Rome is een groot besienswaardigheid; hier het mens regtig ‘n laaang vakansie nodig!) Hierná vra David (hy was ook nog nooit in Rome nie) of ons sou omgee om nog twee plekke te besoek: Die sogenaamde Spanish Steps en daarna Giolitti, die plek wat beroemd is daarvoor dat hulle roomys van die lekkerste in Rome is.
Gewapen met die Eyewitness Travel: Rome wat Sussa so twee weke tevore gekoop het en wat al die besienswaardighede en volledige straatkaarte bevat, is ons eers stasie toe vanwaar ons die trein na die Spagna-halte gehaal het, en vandaar was dit voetslaan verder. ‘
Die 138 trappe van die Scalinata della Trinitàdei Monti verbind die Piazza di Spagna sedert die 17e eeu met die Piazza Trinita dei Monti en is baie gewild by toeriste waar hulle graag op die trappe sit en uitrus of poskaarte skryf. Eet op die trappe is egter heeltemal verbode. Ek het teen dié tyd glad nie meer kans gesien vir soveel trappe nie, en het die twee jonges aangemoedig om gerus te gaan – ek sou net daar vir hulle wag.
Gewapen met die straatkaarte, het die groot soektog na die befaamde gelato Romano begin. David het so min of meer geweet (iemand wat Rome ken, moes hom sekerlik vooraf verduidelik het) in watter systraatjie die roomyswinkel (of gelateria) geleë is, maar ons het behoorlik straatop en straataf gesoek – en ek het so by myself gedink dat dit baie besonderse roomys sou moes wees om dít te regverdig... en glo my, dit wás!
Ek het nie eens probeer tel hoeveel soorte daar was nie, maar mens kon kies tussen medium en groot; in bakkies geskep of op ‘n sugar cone en selfs of dít in wit of donker sjokolade gedoop moes word, of nie. Dan kon jy drie geure roomys kies wat opmekaar gestapel word – en hulle is nie suinig nie! Ek het pistacchio, tiramisu en vanielje gekies en Sussa pistacchio en verder neutekombinasies. Daar het ons beleef dat mens maar roomys in die ysige koue kán eet – as jy in Rome is, maak jy soos die Romeine! Dit was R30 elk wat goed spandeer was, soos die tuisgemaakte apfelstrudel, (weliswaar tradisioneel Duits, en een van ons heel grootste gunstelinge) ook teen ϵ3 vir ‘n groterige blokkie, wat ons in Sussa se rugsak "vir later" (wat toe ontbyt die volgende oggend was) weggepak het.
Ons was dit eens dat ons met die roomys ons nagereg eerste geëet het, maar ons het aandete nogtans nodig gehad – dus het ons by die eerste die beste eetplek ingeval waar David ‘n pastagereg sonder wyn (hy is ‘n Mormoon en hulle geloof verbied dit) en ek en Sussa die heerlikste gnocchi, natuurlik afgespoel met ‘n Italiaanse rooietjie, bestel het.
Ek kon my opwinding die volgende oggend (Sondag) oor die vooruitsigte wat wag, skaars bedwing. Sedert my skooldae het ek altyd die versugting gehad: As ek net een maal met my eie voete op die Via Appia kon loop....!
Rome is meer as 2 700 jaar oud en die Via Appia is die hoofpad wat van die vroegste tye af mense en hul rytuie die stad binne- en uitgeneem het. Dit is die pad waarop Paulus en Petrus geloop het; ‘n entjie met die pad af staan die kerk van Quo vadis, Domine? (“Waar gaan U heen, Here?”) wat opgerig is op die plek waar Petrus, (volgens oorlewering) vlugtende uit die stad omdat hy gehoor het dat sy lewe in gevaar is, vir Jesus teëgekom en dié vraag aan Hom gestel het. Jesus het geantwoord dat Hy oppad Rome toe is om weer gekruisig te word, omdat Petrus nie die moed daarvoor gehad het nie...waarop Petrus dadelik omgedraai het en wel gekruisig is, maar onderstebo omdat hy gesê het dat hy nie werd is om soos sy Here te sterf nie.
Moderne padmakers kan maar by die ou Romeine leer hoe om paaie te bou wat eeue sal hou: Eers is twee paralelle slote gegrawe om die kante van die pad aan te dui (dit moes breed genoeg wees sodat twee waens bymekaar verby kon gaan). Die pad is daarna uitgegrawe en die fondasie van sand en kalk gelê. Dié is vir 1,5 meter opgevul met vier verskillende lae: ‘n bed van groot klippe (statumen), kleiner klippe en kalk (rudus), sand en gruis (nucleus) en daarna die netjiese oppervlak van gladde plaveiklip (summum dorsum).
Ek en Sussa het ‘n taxi gehaal om ons tot by die begin van die Via Appia Antica (die antieke Appiaweg) om dit te onderskei van die Via Appia Nuovo (die moderne Appiaweg), ‘n baie besige straat in die hartjie van Rome, te neem aangesien daar geen treine, en baie min busse, geloop het. Mens kon sien dit was Sondag, want ooral het gesinne gewandel, fiets gery of het mense hul honde aan leibande laat stap. Alhoewel dit ‘n pragtige sonskyndag was, was dit nogtans baie koud, maar dit het nie gelyk asof dit die ander mense pla nie; hulle was immers gewoond daaraan en vir hulle was dit maar net 'n heerlike lentedag..
Toe het my groot oomblik aangebreek: Ek het by my kind ingehaak en die eerste tree op die Via Appia Antica gegee ... en begin huil. Die oomblik was net té groot.
Wat die Via Appia so besonders maak, is die totale rustigheid van die omgewing: die ou sipresse en dennebome; die uitgestrekte, waterryke grasvelde besaai met die mooiste veldblommetjies wat aan die lug ‘n eie, skoon en vars geur besorg. Ek het op ‘n stadium hardop gewonder wat so na potpourri ruik (al asof ‘n nuwe lugverfrisser uitgetoets word)! ‘n Mens vergeet naderhand dat ‘n besige wêreldstad net agter die bult lê. Oral is privaat villas – massiewe landgoedere waarvan mens soms ‘n glimpsie deur stewige traliehekke kry: duidelik “ou geld”! Verder is daar die groot aantal eeue-oue graftombes weerskante van die pad. Die ou Romeine het nie hul gestorwenes ver weg in 'n begraafplaas gelaat nie - vir hulle moes hul geliefdes steeds deel van die lewe bly. Die graftombes was in eie reg kunswerke, soms versier met beeldhouwerke van die oorledene(s) se gesigte. Van die meeste het net 'n yslike hoop klip en stene oorgebly, alhoewel daar by sommige soms ‘n standbeeld of reliëf te sien was. Dan het Sus geroep “Kom, Ma – vertaal!” Ongelukkig was volledige woorde (vergeet van volsinne) die uitsondering, met die gevolg dat mens maar met hoogstens die strekking tevrede moes wees. Gelukkig het ons die Eyewitness Travel as gids gehad om meer agtergrond te gee!
Die skoon lug en goeie oefening het ons teen middagete goed honger gehad toe ons ‘n bord met Ristorante op, langs die pad sien. ‘n Stywe stappie met die uitdraaipaadjie langs bring ons by die tennisklub uit met ‘n restaurant wat nie net tot die lede beperk is nie en waar ‘n gesellige kaggelvuur brand. Hier het ons ons eerste tuisgemaakte pasta en tuisgebakte ligte rogbrood (hulle eet dit sonder botter, soos ek daarvan hou!), afgespoel met ‘n klein kraffie rooi wyn, geniet. Hmmm, heerlik! Dit was ook hier waar ek die skraal man met ‘n blas vel en spierwit-grys hare by die tafel langs ons s’n opgemerk het. Sy hele houding, kleredrag (wit rolkraagtrui, serp en lang swart woljas) en die manier waarop daar kort-kort iemand by hom was om duidelik te verneem of hy nog tevrede is, het op outoriteit gedui. ‘n Edelman, miskien? – maar my sin vir die dramatiese het die oorhand gekry en ek fluister vir Sussa: “Sien jy die man, direk langs jou aan jou regterkant?” en toe sy knik, “Mafioso!” Waar anders as Italië verwag mens ‘n mafiabaas in ‘n restaurant?!
Ons besluit om nie die tweede gedeelte van die Via Appia Antica te stap nie, want dit is al middag en ons wou nog die Vatikaan ook besoek. Vóór ons egter die groot soektog na ‘n vervoermiddel stad-toe begin (onthou, dit was Sondagmiddag), buk ek eers af en tel my tweede onthou-klippie op: een van basalt, soos die res van die antieke pad.
Ons het uiteindelik ‘n bus tot by Termini gehaal en vandaar die metro tot by die Vatikaan. Oppad na St Peter’s toe het ons eers ‘n paar aandenkings, wat Sussa se kredietkaart met ‘n hele R1 600 gelaai het, vir die mense tuis gekoop. Vandaar is ons na die ontsaglike Piazza San Pietro voor die katedraal en het skoon bewoë geword toe ons die bewoording op een van die sye van die obelisk lees. Wat ‘n onbeskryflike genade om te weet en bely dat Christus Koning is!:
Christus oorwin
Christus regeer
Christus heers
Christus beskerm sy volk teen alle kwaad
Dit was nog lig genoeg om die venster te sien vanwaar die pous die mensemassa gewoonlik seën, asook die Christus-figuur en dié van die apostels bo-op die ontsaglik-hoë voorste muur van die basilika.
Sussa het weereens ‘n menigte foto’s geneem, onder andere een van ‘n lid van die Pouslikewag in seremoniële drag wat met sy spies voor hom roerloos staan; so stil dat ek naderhand vir haar gevra het of sy dink hy lewe, of is dit dalk 'n standbeeld? Net toe het sy arm skaars merkbaar geroer en ek kon maar net my kop skud – ek wonder hoe lank oefen hulle om so stil te staan?!
Daarna is ons die enorme katedraal binne. Dis so ontsaglik groot en gevul met kunsskatte wat ek nie gedink het mens êrens buite ‘n museum te sien kon kry nie. Petrus (as die heel eerste verklaarde pous van die Rooms Katolieke kerk) en al die pouse na hom het hier hul laaste rusplek gevind; sommige in tombes en ander, gebalsem, in glassarkofae. By elkeen is ‘n altaar en bankies waar mense kan bid en kerse aansteek, maar veral is elke iedere een versier met enorme beelde van die ontslapene saam met ons Here Jesus, heiliges en/of engele.
Terwyl ons, soos honderde ander toeriste saam met ons in die katedraal, ons loop en verstom het, was daar ‘n diens voor by die pouslike altaar aan die gang. Die rye banke waar die kerkgangers gesit het, is afgesper deur Vatikaanwagte maar siende dat die akoestiek van die katedraal ongelooflik goed is, kon mens die priester duidelik hoor praat (natuurlik kon ons twee nie 'n woord verstaan nie). Ons was maar baie sinies oor hierdie vesting van die Rooms-Katolieke geloof en het elke kniebuiging en kruis wat geslaan word, half onderlangs dopgehou. Dit was die geval totdat die koor (net mansstemme en ‘n paar seunsoprane) begin sing het en dit klink asof elke hoekie van daardie manjifieke gebou daarmee gevul word, om dan nog verder, hoër op, tot in die hemel te styg. Ek kon maar net met toe oë my kop in eerbied buig, want in daardie gewyde oomblikke was ons Here Jesus amper tasbaar teenwoordig. Sjoe, ‘n onbeskryflike, onvergeetlike ervaring!
Ons het nog ‘n rukkie rondgekyk en net toe ons by die roerende Pietà van Michelangelo kom, sê een van die wagte dat ons moet uitbeweeg, hulle gaan nou sluit.
Dit was op daardie stadium al goed donker, maar ons besluit watwou, in hierdie strate van Rome voel ons veilig genoeg om na die beroemde Trevi-fontein te gaan soek. En wat ‘n soektog was dit nie! Vir die een keer (miskien was ons te haastig) het die boek nie gehelp nie en op elke “Buonasera! Mi scussi, dov’è il Fontana di Trevi?” van my het ons ‘n ander aanwysing gekry en telkens weer bedroë daarvan afgekom.
Dus, straat-op en straat-af, selfs twee keer af met die Spaanse trappe (gelukkig af en nie op nie!), maar die grootste en mooiste van al Rome se vele fonteine het ons bly ontwyk. Ek het naderhand vir Sussa gesê ek dink ons landgenote het ons voorgespring: Ek’s seker die Trevi is êrens in Suid-Afrika versteek – waarop sy ewe droog antwoord dat ek ‘n hoop het; teen daardie tyd is dit lankal opgekap en in die een of ander shack gebruik!
Hoe dit ookal sy, ons het toe maar besluit om ons soektog te staak want dit word regtig laat en ons wou die volgende oggend nog eers weer ‘n draai by die Colosseum maak voordat ons terugvlieg. Wat meer is, ons wou nog ‘n regte Italiaanse pizza ook gaan eet! Dit is waar die pizza teen R120 vir elk ingekom het. Ek en sy was albei maar ‘n bietjie teleurgesteld in dié "regte, egte Italiaanse pizza", siende dat ons albei van ‘n ordentlike dik basis hou. Op my vraag aan die kelner of hulle nie ook twee variasies vir die kors het nie, het hy my aangekyk asof ek heeltemal van lotjie getik is – ‘n dik kors? Ongehoord! Al het hy na sy kortaf "No!" niks verder gesê nie, het sy lyftaal "Regte pleb!” uitgeskreeu...
Ons is die volgende oggend lekker vroeg uit die vere en besluit om eers ons bagasie by die Termini te gaan bêre voor ons die metro na die Colosseo-halte haal.
By die Colosseum aangekom, het ‘n klomp “Romeinse soldate” op ons afgestorm en aangebied om saam met ons vir foto’s te poseer. Ons moes toe al lont geruik het, maar ons is ewe vertrouende toeriste – tot nadat die foto’s geneem is en elkeen aandring op net twintig euro elk! Sussa het amper ontplof en gesê twintig euro vir aldrie saam is reeds heeltemal te veel, maar ek het het nog euro’s oorgehad wat ek geweet het ek nie gaan gebruik nie en twintig opgedok. Ook dít is vandag deel van die mooi herinneringe...
Aangesien ons van die eerste besoekers was, kon ons rustig deur die Colosseum dwaal en die “gevoel” van die reusagtige plek kry.
Soos oral in Rome, is hier ook omvattende restourasiewerk aan die gang: Die helfte van die arena se houtvloer is reeds voltooi en die massiewe pilare kan ook gesien word waar dit wag om teruggeplaas te word. Ons kon ons verstom aan die presiese bouwerk en die ontsaglike boustene wat dikwels gebruik is.
Die Colosseum het ses-en-sestig genommerde ingange gehad wat na drie verdiepings gelei het: die eerste twee het sitplek gebied aan die keiser, konsuls en ander vername persone, terwyl die gewone volk (plebs) staanplek op die derde verdieping gehad het. Die arena kon 50 000 toeskouers met gemak huisves.
Onder die vloer van die Colosseum is ‘n doolhof van tonnels waar die dekor en hystoestelle gebêre is en wat die hokke van die wilde diere bevat het. Op grondvlak staan ‘n hoë metaal kruis op ‘n eenvoudige voetstuk, sonder enige aanduiding deur wie, wanneer of waarom dit opgerig is. Ons wil graag glo dat dit is om die menigte Christenmartelare wat hul lewens daar verloor het, te gedenk.
So met die deurstap, kom ons by ‘n area wat afgesper is en dis toe juis dáár waar my derde onthouklippie lê. Sussa het maar ewe gedwee haar arm deur die tralies gesteek en dit opgetel..
Ons terugvlug het sonder veel opwinding verloop, behalwe dat ons met die oorstaan op Frankfurt eenparig besluit het dat ons in Duitsland is, en vir seker soos die Duitsers moes maak: Ons het dus by een van die eetplekke ingeval en ‘n gesondheidsbroodjie en ‘n glas bier elk bestel. Die R350 wat dit ons uit die sak gejaag het, het ons hierdie keer ook nie juis ontstel nie – dit sou die laaste keer wees dat ons ‘n fortuin vir ‘n ligte etetjie betaal!
Wat is my indrukke van die Italianers? Ek sou baie graag langer in hul land wou vertoef, want daar is ontsaglik veel wat ek nog wou sien; maar oor die mense is ek nie so opgewonde nie. Ons het hulle regtig as bot en onvriendelik ervaar, nie net teenoor ons as vreemdelinge nie, maar ook mekaar. Ek het maar net opgelet na die houding van winkelassistente en kaartjieverkopers op die stasies – regtig sommer net goor! Gelukkig tog dat die meeste van die kaartjies by outomate gekoop word, anders glo ek sou die deursnee Italianer nóg onvriendeliker gewees het!
‘n Yslike pluspunt in hulle guns is hul houding teenoor hul kulturele erfenis: Ons het al gewoond geraak aan die verwoesting van soveel van ons goed wat van geskiedkundige belang is, maar dit is beslis nie die geval daar nie. Die mense is uiters bewaringsbewus en daar word hard aan restourasies gewerk: Dit kon ons veral by die Forum, die Pantheon en die Colosseum sien. Opmerklik was ook die talle Italianers (oud en jonk) wat ooral na hul kultuurskatte gaan kyk het – hulle staan beslis nie afsydig teenoor hul verlede nie!
Daar kan egter één ding van die Italianers – mans en vrouens, oud en jonk – gesê word: Hulle is uiters stylvol. Goed, ons het hoofsaaklik in die stad en op toeristeroetes beweeg, maar wat mens gesien het, is regtig modieus. Hulle is oorwegend aan die korterige kant en selde oorgewig – dít sien mens meer by middeljarige mans – gewoonlik skraal, en nêrens die tipiese “peer”-vorm van ons ou boerevolkie se vrouens nie.
Die dames het deur die bank noupassende langbroeke of dik lyfkouse met lang, knielengte stewels gedra. Daarby kom dan ‘n warm toppie (noupassend) en ‘n kort, weereens noupassende, baadjie en ‘n dik, gebreide (soms meer as een) serp. Toe ek teenoor Sussa opmerk dat hulle darem baie stylvol is, het sy ‘n waar ding gesê: “Ja, maar hulle lyk almal eenders – hier is geen plek vir individualisme nie!”
Ook by die Pomezia-studente kon mens dit opmerk: anders as studente soos ons hulle ken, kon daardie jong mense net sowel uit ‘n modeboek gestap het. Jeans word wel gedra, maar net ontwerpersnommertjies.
Die mans is baie lief vir goeie pakke, dasse, lang jasse, serpe en natuurlik die tipiese Italiaanse leerskoene met die skerp punte. Jonger mans sal wel jeans dra, gewoonlik met ‘n leerbaadjie daarby en serpe is deur die bank ‘n moet.
Dit het vir my gevoel asof die vrouens almal lang hare het – die kortste is skouerlengte – maar Sussa sê sy het tóg ‘n paar kort koppe gesien. Ek self onthou net een vrou met ‘n kort, blonde kapsel – en ja, sy hét Italiaans gepraat!
Ek het altyd die idee gehad dat Italianers donkerkoppe moes wees, maar ek het gou genoeg besef dat blonde hare en ligte oë regtig nie uitsonderlik is nie; dit het ook maar te doen met die streek vanwaar jy kom. So het Francesca, ‘n boorling van Napels, ‘n pragtige bos donkerblonde hare en groen oë.
Ek en Sussa het die ou spulletjie ook maar goed bespreek – hardop, natuurlik! (Ons was baie veilig, want ons het Afrikaans die eerste keer weer gehoor by ‘n SAL-lugwaardin net nadat ons finaal geland het, en daar-en-dan het ek opnuut besef dat dit darem maar die heel mooiste taal op aarde is).
Dit was minder as ‘n week in my lewe, maar dié paar dae het ‘n onvergeetlike impak op my gehad. Ek het só onder die indruk gekom van die mens se verganklikheid, veral in Pompeii waar mense soos ons, maar net besig was met hul dag-tot-dagbestaan toe alles finaal vernietig is.
In Rome, weer, was dit ‘n geval van die mense in antieke tye wat hard gebou het aan monumente vir ander; massiewe geboue wat vandag, ná eeue nog bestaan – maar van daardie bouers wat die fisieke arbeid verrig het, het nie eens ‘n naam oorgebly nie. (Soos die een tombe langs die Via Appia, met ‘n pragtige fries wat redelik behoue gebly het en waarvan die inskripsie lui: Sua se slaaf het dit gemaak. Die slaaf – en dus sy talent ook – was Sua besitting en sy was die belangrikste persoon; dus mag háár naam verewig bly, sonder enige erkenning aan die kunstenaar). Soos Prediker sê: Alles tevergeefs...
Vandag nog hier, en môre net weg; sonder enige aanduiding dat jy wel hier was.
Die hele “Romeinse Avontuur” het maar net ‘n paar dae geduur (nie soos Julius Ceasar se oorloë nie, wat dikwels jare geduur het – al wás hy die een wat gesê het Veni, vidi, vici: Ek het gekom, ek het gesien, ek het oorwin; so asof alles in ‘n oogwink afgehandel is). Gedurende die paar dae het ek egter so dikwels die Here se Teenwoordigheid ervaar; dat Hy duidelik vir my sê: “My kind, lank voor al hierdie dinge gebeur het, was Ek al daar, Ek is steeds hier by jou en Ek sal nóg daar wees lank nadat jou naam vergete is, soos dié van die naamloses wat by hierdie dinge betrokke was. Ek bly altyd dieselfde; in rampe soos by Pompeii, in die dood soos by die tombes langs die Via Appia en beslis ook wanneer my volgelinge hulle lewens ter wille van my Naam opoffer, soos in die Colosseum. Ek leef, soos jy in die Vatikaan ervaar het en Ek is regtig altyd by jou, by ál my kinders – al voel dit soms nie so nie. Hou net vas aan My, aan jou geloof in My – Ek sal sorg, want Ek verander nooit!”
Rome, die stad met meer kerke as wat daar dae in ‘n jaar is, was vir my en Sussa baie goed: In die uiters beperkte tyd tot ons beskikking, was sy nie suinig of skaam om van haar geheime met ons te deel nie.
Ons kan maar net vertrou dat ons (hopelik, DV) eendag die geleentheid mag hê om meer te sien.
Tot dan is dit egter Grazie, Roma! Arrivederci!!
Latest comments
Ek stem saam met jou, Jake, maar daar is baie mense wie se depressie as gevolg van 'n wanbalans in die brein is. Dis regtig 'n siekte!
Mensen die <a href="https://nl.formulaswiss.com/blogs/depressie">depressief</a> zijn, denken aan dingen die hen ongelukkig maken.
Ek waardeer jou kommentaar, Ansie!
Dankie vir jou kommentaar, Ansa!